Sophia se beskermengel. Malene Breytenbach
ek kom van Pretoria af. Lood het my daar gesien en by my begin vlerksleep. Toe trou ons en hy bring my hierheen.”
“O, is jy dan daar gebore?”
“Nee, in Barberton, maar my moeder is by my geboorte dood. My vader was ’n transportryer. Hy is dood toe ek drie jaar oud was. Toe moes ek by sy suster-hulle in Pretoria gaan bly en ek kon daar skoolgaan. Hulle is die Kemps en woon in Maréstraat. My oom het ’n algemene handelaarskap in Stasiestraat gehad en ek veronderstel hy het dit nog steeds. Ken jy hulle dalk?”
“Nee, ek ken hulle nie, maar ek weet wie meneer Kemp is. Hy koop steenkool vir huishoudelike gebruik by ons.”
“Ek weet nie hoe dit nou met hulle gesteld is nie. Ek het lanklaas iets van hulle gehoor of hulle van my.”
Na ’n ruk staan sy op. “Ons moet seker teruggaan.”
Sy kry meteens vreeslik skaam, en bloos pynlik. Haar vodderige ou rok kleef aan haar uitgeteerde lyf. Hier in die helder sonlig kan hy mos goed sien hoe sleg sy lyk. Hy kyk na haar soos ’n mens na ’n mishandelde dier kyk, met jammerte, en ’n begeerte om te help.
“Was dit vir jou lekker?” vra hy.
“Jy sal nooit weet hoe lekker nie. Ek het so vreeslik vuil gevoel. Ons sal klere moet was en met warm water skoon was, as dit moontlik is.”
Sy wring water uit haar hare en gee vir hom die seep.
“Hou dit,” sê hy. “Dis nie al seep wat ek het nie.”
Haar kop hang. “Ek lyk vreeslik.”
Hy skraap sy keel en kyk weg. “Ons sal vir julle water aandra en dit kook. Dan was julle julself en julle klere behoorlik. Ek het ’n groot wasskottel om vir julle te leen.”
“Ek dink ek kan die lewe weer vierkant in die oë kyk,” sê Sophia braaf vir hom. “Uiteindelik het ek die kamp van my afgewas.”
Geoffrey kan homself skop. Waarom het hy aangebied om haar op te pas terwyl sy swem? Haar slanke lyf met die nat klere wat so daaraan vaskleef, laat net die hitte in sy lyf uitslaan. Hy mag haar nie so begeer nie, maar sy lyf reageer.
Hou jou in, Geoffrey Doubell. Sy is in ’n haglike toestand en moet eers herstel.
Kyk hoe mooi is sy wanneer sy skoon is. Met ander klere en ’n bietjie meer vleis aan daardie lyfie, sal sy enige man se voete onder hom uitslaan. En sy is ’n vegter. Dapper, moedig. ’n Vrou wat deur diep waters gegaan het en weer regop sal staan. Hy bewonder iemand met so ’n sterk gees.
Geoffrey Doubell gee vir Jakkie ’n hemp. Dit is te groot, maar hy rol die moue op. Almal skrop hulself en was klere. Die water is donkerbruin van die vuiligheid. Sophia gaan was Maria van kop tot tone en laat haar onder die karos lê terwyl sy haar klere was en droogmaak.
Geoffrey en sy helpers bly byna ’n week lank by hulle. Hulle kap sandsteen en herbou mure, help Jakkie en Sophia om riete by die pan te gaan sny en skuiling te maak. Hulle maak vir hulle grasbeddens.
“Daar moet minstens een vertrek in die huis wees waar almal kan skuil en slaap voordat ek julle hier op julle eie agterlaat,” sê hy.
Geoffrey se werkers bou ook ’n kookskerm agter die huis waar hulle ’n vuurgat maak; daar is nie meer ’n stoof in die kombuis nie.
Van weer genoeg eet voel Sophia sommer sterker. Sy sien die ander sterk ook aan. Selfs Maria begin beter lyk. Sy sit nogtans heeltyd in die koelte, te swak om enigiets te doen. Sophia let op dat haar oë heeltyd die aantreklike Geoffrey Doubell volg. Soos ’n hondjie wat dankbaar is oor sy baas se sorg.
Jakkie het sy pa se jaggeweer, toegedraai in ’n springbokvel, by die ou kraal gaan uitgrawe en skoongemaak. Hy gaan soek heeltyd iets om vir die pot te skiet, om Geoffrey Doubell se voorrade, wat hulle stadigaan uitput, weer aan te vul.
Sophia en Esther grawe die breekgoed, messegoed en huisgoed op wat hulle in die stroombedding gaan begrawe het toe hulle gehoor het die Kakies is op pad. Hulle was dit en bêre dit in die huis wat weer vorm aanneem.
“Ons het darem nie niks nie,” sê Sophia gemaak vrolik. “Ons kan uit borde eet en uit koppies drink. Ons het kastrolle om in te kook en komme om in te was.”
“Met so min besittings is dit ’n powere soort lewe wat ons lei, maar dis oneindig beter as die kamp,” sê Esther wrang.
Aanvanklik het haar skoonmoeder hulle weldoener stuurs aangespreek, wat Sophia vreeslik gegrief het, al het sy besef dat die ouer vrou so verbitterd is en haar trots so geknou dat sy nie anders kon nie. Maar sedert Maria se herstel is Esther hom goedgesind. “Die man het ’n goeie hart,” sê sy. “Hy is ’n vrygewige Christenmens.”
“Hy is ’n engel wat vir ons in ons donker uur gestuur is,” sê Sophia. Sy voel vir hom ’n geneentheid wat met dankbaarheid deurspek is. Sy verskyning net toe hulle op hulle hulpbehoewendste was, is vir haar ’n wonderwerk. Haar gevoelens teenoor hom is so intens dat sy skuldig begin voel teenoor oorlede Lood. Tog gedra dié meneer Doubell hom uiters korrek en nooit vrypostig nie. Hy het net een keer gevra dat sy hom op sy voornaam aanspreek, en nooit weer nie.
Sy gedrag is vriendelik dog amper te korrek. Sy raak naderhand amper gegrief oor sy bykanse afsydigheid.
Daar kan tog niks tussen hulle gebeur nie, vertel sy haarself. Sy is te lelik en te bedremmeld om enige man in haar te laat belangstel. Hy is bloot ’n weldoener en hy kry hulle, een en almal, werklik jammer. Hy het toevallig op hulle afgekom oor hy steenkool op die plase soek. Hy kon verbygery en hulle nie gehelp het nie, maar hy was die goeie samaritaan.
Die dag breek dan ook aan dat hy aankondig dat hy, Amos en Rethabile weer moet vertrek. Maria is veral ontsteld om hom te sien gaan.
“Gaan ons meneer nooit weer sien nie?” wil sy tranerig weet.
Hy glimlag teer vir haar. “Nee, julle sal my weer sien. Ek kom weer hierlangs en dalk is kommandant Joubert dan terug. Ek wil hom graag ontmoet.”
“Die Here alleen weet wat ons sonder daardie man sou gedoen het,” prewel Sophia, toe die wa en ruiter weer vertrek. Die Here alleen weet wat hulle sonder hom gáán doen. Sy voel allesbehalwe veilig.
Sy voel van voor af verlate, so al asof sy weer haar man verloor het. Dit is verspot om so oor dié vreemde man te voel, maar sy is hartseer dat hy weggaan. Hy was so goed vir hulle dat hy in haar hart ingekruip het.
3
Niemand behalwe Sophia is by die huis nie. Die ander is uit op soek na kos en sy kook pap en uintjies vir middagete. Sy hoor ruiters aankom en haas haar na die stoep. Sy kan skaars glo wat sy sien. Niklaas Grobler van die buurplaas Groukrans is op ’n perd en hulle bywoner, Skeelkoos Raath, ry bloots op ’n muil. Niklaas se vader is ’n hensopper en Niklaas het in die oorlog ’n National Scout geword.
Niklaas ry tot voor die stoep. Die bywoner bly op ’n veilige afstand.
“So, julle is terug!” roep Niklaas. “Waar is oom Lodewyk?”
“Oom Lodewyk is nog nie terug nie, hensopper,” sê sy, vuiste op haar heupe, al is sy nogal bang. Wat doen die mans hier? Sy hou glad nie van die vrypostige manier waarop Niklaas na haar kyk nie.
Sy let op dat hy nie verflenter is nie. Hy lyk gesond en sterk, asof hy nooit honger gely het nie. Sy bruin perd is ook in ’n goeie toestand. Wrokkigheid stu suur in haar keel op.
“Wat wil jy hê?” vra sy bars.
Hy leun vorentoe, oor sy perd se nek. Sy gesig vertrek van haat. “Die verdomde ou kommandant is my grootste vyand. Nou het hy nie meer burgers wat onder hom veg en hom beskerm nie. Ons gaan nog met hom, met julle hele lot afreken.”
Sophia voel ’n lading van skok deur haar hele lyf trek.
“Wie is ‘ons’ nogal?” vra sy uitdagend. “Julle klomp papbroekige Groblers? Ons is nie bang vir julle nie.” Maar sy wens met haar hele hart dat Geoffrey Doubell nog hier