Sophia se beskermengel. Malene Breytenbach
waar is dié samaritaan nou?” wil Lodewyk weet, sy stem laag en hees.
Sophia hou nie van sy stemtoon nie. “Hy is weer vort. Was dit nie vir daardie man nie het ons van honger omgekom.”
“Wat is die man se naam?” vra Lodewyk.
“Sy naam is Geoffrey Doubell en hy –” begin Sophia, maar hy val haar bars in die rede.
“’n Engelsman?”
Sophia voel meteens dat sy tot die uiterste gedryf is. Nou breek iets in haar en sy kan haar nie meer inhou nie. Haar stem rys histeries. “Ek het reeds gesê hy is ’n Kolonialer en hy het ons vertel sy moeder is Afrikaans. Moes ons sy hulp geweier het toe ons dit so nodig gehad het net omdat sy vader Engels is? Het Vader enige benul hoe swaar ons gekry het? Ons is soos diere weggejaag na ’n kamp waar baie mense van siekte en honger omgekom het. Ons tuiste is verwoes. Ons het honger gely en erger. Ons moes terugkom na niks. Dié vreemdeling het ons uit die goedheid van sy hart gehelp toe Vader en … en Lood … nie hier was om ons te beskerm nie. Wees dankbaar dat iemand bereid was om ons te help.”
Sy bars in trane uit.
“My man, moenie bevooroordeeld wees teenoor daardie samaritaan nie,” sê Esther. “Hy hét Maria se lewe gered en waarskynlik ons s’n ook.”
Lodewyk frons onseker. “Nou ja … dan moet ek seker maar dankbaar wees dat dié man hier aangekom het.”
4
Sophia loop rusteloos om die huis. Sy verlang. Na Lood? Sy wil nie aan haarself erken dat sy vir Geoffrey Doubell mis nie, maar eintlik, diep in haar hart, weet sy dit is so. Sy sien hom heeltyd voor haar, die sterk, skoongeskeerde gesig, hoe mooi hy lag met eweredige wit tande. Dit was ’n plesier om net na hom te kyk. Hy het so lekker gesels oor sy lewe as prospekteerder en oor Pretoria, hoe dit nou daar lyk onder die beheer van die Engelse. Sy lewe is so interessant en hy lyk na ’n intelligente, ontwikkelde mens.
Sy verlang ook na Pretoria waar sy skoolgegaan en veilig in haar oom-hulle se lekker huis gebly het. Hulle was vermoënde mense en daar was geen tekorte nie. Haar niggie Betsie was soos ’n suster vir haar. Hoe geskok sou Betsie tog wees om haar nou te sien! Sy lyk soos ’n arm bywonersvrou in haar gelapte ou rok en uitgetrapte velskoene. Eentyd kon sy klavier speel en mooi sing. Die musiek is nog iets wat sy geweldig mis.
Sy gaan staan voor die plaashuis. Dit lyk al heelwat beter. Dis nie meer ’n bouval nie. Gelukkig was dit ’n stewige sandsteenhuis en daarom het dit nie heeltemal afgebrand nie. Eers het Geoffrey en sy twee manne help regmaak en daarna kon haar skoonvader en Jakkie die mure verder heropbou en die dak met rivierriet dek. Hulle maak eenvoudige meubels van hout wat hulle ver weg gaan kap en met behulp van die arme oorwerkte perd huis toe sleep. Dit sal lank vat voordat mens en dier hulle toestand herwin.
Die oorlog het almal behalwe die verraaiers gestroop en uitgemergel. Niklaas het beslis goed gevoed gelyk en sy perd was sterk en gesond. As sy aan hom dink, word sy woedend maar tog ook bang. Gelukkig het hulle ’n geweer. Om iets vir die pot te skiet, is ’n hele sending. Een koeël moet iets doodskiet, sê haar skoonvader. Hulle mag niks mors nie. Die wild van weleer is weg. Alles is mos geskiet en weggejaag deur die Kakies in hulle kraaltrekke. Hulle moet velle in die hande kry om vir klere en matte en allerhande ander benodigdhede te brei.
Ver van die huis af het hy en Jakkie vanoggend vroeg op twee fisante afgekom wat hulle terstond geskiet het. Dit vat duidelik aan haar trotse skoonvader dat hy so min kos kan voorsien vir sy mense wat dit voor die oorlog geil gehad het. Hy voel ontman, maar hy hou hom sterk; almal maak op hom staat. Tot haar verbasing het haar skoonvader ’n handjievol goue ponde in die muurtjie van die begraafplasie ingemessel wat hy nou weer kon gaan uithaal.
Sophia loop na die stoep waar hy op die trappe sit en sy geweer skoonmaak.
“Die bittereinders moes hul vuurwapens inlewer, want die Engelse wil nie hê ons moet wapens besit nie,” sê Lodewyk. “Ons sou geen geweer gehad het as ek nie my jaggeweer en ammunisie langs die kraalmuur begrawe het nie. Ek en Jakkie sal moet afgaan Laeveld toe, en gaan jag. Ons moet biltong maak en velle kry om te brei. Anders weet ek nie hoe kom ons deur die winter nie. Ons moet ook ’n wa in die hande kry.”
Sy dink aan die groot troppe vee wat altyd by die blinkblou pan kom suip het. En wat nou weg is soos mis voor die son. “Vader sal seker weer skape moet kry.”
“Ja, ek sal bietjie vir bietjie vee moet aanskaf. Mense op die buurplase is meesal veel slegter af as ons. Wel, almal behalwe die verdomde Groblers, die hensoppers. Bittereinders probeer mekaar help.”
“Vader, Niklaas Grobler en hulle bywoner het onlangs hier aangekom,” vertel Sophia. “Die bywoner het ons potjie kos omgeskop.”
Lodewyk se gesig word soos donderweer. “Sulke bliksems.”
“Maar Jakkie het hulle weggejaag, Vader,” sê sy vinnig. “Niklaas het eintlik vir Vader kom soek. Hy het gedreig dat hy ons leed gaan aandoen.Waarom haat hy Vader so?”
Lodewyk word bleek. “So, die judasboertjie wil op my wraak neem.”
“Maar waarom? Omdat Vader ’n belangrike offisier was?”
“Ons kommando het ’n verrassingsaanval op ’n klomp Engelse troepe gedoen. Hulle was Australiërs. Ons moes wapens, ammunisie en ander voorrade buit, want ons het niks meer gehad nie. En wie sal ons uitvind het hulle na ons gelei en nogal op ons help skiet? ’n National Scout, Niklaas Grobler, van ons buurplaas Groukrans. Ons het die Australiërs wat oorleef het, uitgeskud en nakend in die vrieskoue veld ingejaag. Toe het ons Niklaas Grobler voor ’n krygsraad verhoor. Hy het mos as verkenner vir die Engelse opgetree. Die verraad wat toenemend kop uitgesteek het, van Boere wat oorloop na die Engelse, was ’n lem in Boererug. Ons het hom ter dood veroordeel, maar in die nag voor sy teregstelling het iemand hom vrygelaat en hy het verdwyn. Ons weet nie wie dit gedoen het nie.”
Sophia kyk hom met skok en afgryse aan. “Nou haat hy vir Vader en hy is gewapen. Ek is bang vir wat Niklaas Grobler aan ons kan doen.”
Hy kyk haar meewarig aan. “Daar loop nou baie bitter water tussen ons mense. Ons bittereinders kry swaar terwyl die judasboere wat grondeienaars is, eerste teruggestuur is na hulle plase met ’n paar stuks vee en selfs ’n paar pond. Hulle het gewere ook gekry. Van dié mense kry werk in die polisie en die Constabulary, of op die spoorweë. Die bittereinders sal nie onder hulle of saam met hulle werk nie. Daarvoor is ons haat vir hulle te groot.”
“En hulle haat ons omdat hulle weet ons verag hulle.”
“Juistemint.”
Hy begin weer hard vryf aan die geweerloop. “Kom hy weer op ons grond, sal ek daardie swerkater goed afransel. Hy het ontsnap aan ons straf, maar dis oor een van ons manne se verraad. Sy straf sal hy nog kry.”
Sophia kyk hoe ’n aartjie in haar skoonvader se voorkop spring. Dit is ’n teken dat hy homself met moeite bedwing.
Sophia sien Maria is ongelukkig en gefrustreerd.
“Ek voel amper net so vasgekeer soos in die kamp,” sê Maria vir haar. “Ons het nie vervoer en kan nie vir die bure kuier nie.”
“Wees maar geduldig, Vader sal ’n wa gaan koop,” troos Sophia. Sy voel self vasgekeer. Hier is ruimte, minder mense, en dit stink nie, maar hulle is so arm dat hulle tuisbly en hulle doodwerk, sonder die hulp van die bediendes wat hulle altyd gehad het. Die voorheen welgestelde Jouberts is so arm dat hulle klere oud en gelap is. Hulle maak stuk-stuk meubels bymekaar. Net haar skoonouers het al ’n behoorlike kooi. Sy, Maria en Jakkie slaap op grasmatrasse op die vloer.
“Voor die oorlog was ons gerespekteerde mense,” kla Maria. “Wanneer ons kerk en Nachtmaal toe gegaan het, was ons goed geklee, ons perde blink en ons rytuie ordentlik. Nou is dit verskriklik om so armlastig en hulpeloos te wees.”
“Kom ons stap na die pan,” stel Sophia voor. In die natuur soek sy verligting, daarom loop sy dikwels af na die pan met sy blink water. Tydens haar aaklige verblyf in die kamp het sy dikwels gedroom