Die eks-noodgeval. Cecilia Steyn
skouers uitgetrek. “So … De Koker?” vra hy.
Sy het gewonder hoe lank dit hom gaan vat, maar antwoord hom nie. Hy weet hoekom sy haar nooiensvan teruggeneem het.
Sy torso is gespierd, nes sy onthou, die blokkies op sy maag steeds duidelik herkenbaar en die donker haartjies net onder sy naeltjie verdwyn nog in ’n aanloklike lyn by die band van sy onderklere in.
Alana sluk sag. “Watter skouer?” Sy is te bang om aan sy kaal bolyf te raak, want hoe sal haar hart nie dan reageer nie?
Hy draai skuins op die bed. Op sy breë rug begroet die getatoeëerde Star of Life haar soos ’n ou vriend. Haar vingers het al so baie daaroor gestreel, lank gelede.
“Linker,” sê hy.
Alana vat aan sy skouer. Sy lig sy arm op om dit te roteer, maar haar asem steek in haar keel vas.
Wat op aarde?
Op sy ribbes, oor sy hart, staan dit in vet, swart, kursiewe letters: Lana.
Sy vingers kry die stetoskoop beet wat steeds om haar nek hang. Sy duim gly na die plek waar haar voorletters gegraveer is. Toe hy dit kry, glimlag hy. Hy het vir haar dié stetoskoop present gegee toe sy graad gevang het: L.S. vir Lana Smit.
Dit was in gelukkiger dae.
Sy pluk die stetoskoop uit sy hand. Skielik is sy vies vir haarself omdat sy so sentimenteel is en nog elke dag die vervlakste ding gebruik.
“Wie sou kon raai dat ons mekaar weer sou raakloop?”
Alana hoor sy stem, maar besef sy kan nie ’n woord uitkry nie. Vir die eerste maal in jare het Braam haar weer sprakeloos gelaat. Dit is omdat die tatoeëermerk haar so onkant betrap het!
Wanneer het hy die tatoe gekry?
“Wat de hel, Braam?” kry sy uiteindelik die moed om te vra.
“Verrassing,” fluister hy.
Met verrassings is hy mos goed. Sal sy ooit kan vergeet?
Alana skryf vir hom ’n voorskrif vir antibiotika en ’n anti-inflammatoriese middel. Sy hand moet beslis nie infeksie kry nie, want dan gaan hy terugkom. Die pen in haar hand gly toe sy begin skryf, want haar palm is skoon natgesweet.
Naderende, loeiende sirene kan haar nie eens van die brandmerk op haar eksman se lyf laat vergeet nie.
“Hier is jou eerste behoorlike noodgeval, dokter De Koker.” Dit is professor Patterson se stem wat haar terugruk hede toe. Hy loer om die gordyn. “Abdominale skietwond.”
“Nee wat.” Braam draai sy skouers ’n paar maal in die rondte. “Dit was seker net my verbeelding. Ek is fine. Gáán,” sê hy hees, asof hy weet hoe graag sy eerder die volgende geval wil hanteer.
Alana voel hoe sy bloos toe Braam sy bekende glimlag vir haar flits: “Totsiens, Lana,” sê hy. “Dit was lekker om jou weer te sien.”
Sy knik net en hou die voorskrif na hom uit: “Vir jou hand en skouer.” Verlig vlug sy na die resussitasie-area. Net betyds om die paramedici die pasiënt te sien instoot.
“Kom, mense!” skree professor Patterson. “Dit is nie McDonald’s se drive-thru nie. Hier gaan ons vinnig te werk!”
Alana drafstap langs die bed. Sy fokus op die oorhandiging wat die paramedikus doen.
“Pasiënt is George Fraser. Ses-en-dertig. Dis ’n abdominale skietwond, vermoedelik deur ’n kleinkaliber-handgeweer toegedien. Bloeddruk is vyf-en-tagtig oor nege-en-sestig. Pols is honderd-nege-en-twintig. Saturasie is negentig persent. Asemhaling twaalf. Sy vel is koud en klam; hy is waarskynlik reeds in gekompenseerde skok. Bilaterale lyne klaar in. GCS is sewe.”
Haar pasiënt sal nou al haar aandag nodig hê. Met ’n telling van sewe uit vyftien vir bewussyn, besef Alana haar pasiënt se lewe is reeds in gevaar. Sy en hierdie span maak nou die verskil tussen sy lewe of dood.
2
Moeg trek Alana haar wit jas uit. Agter haar oë klop al heelmiddag ’n kopseer. Haar maag grom. Dat sy nie tyd gehad het om te eet nie, het ook nie eintlik gehelp nie. Maar die grootste oorsaak was nie die min eet of die stresvolle operasie wat sy moes doen nie, maar die herontmoeting met Braam. En dít hier in haar nuwe werksplek.
“Is dokter toe bly daar het ordentlike trauma ingekom?” vra Karen terwyl sy in haar sluitkas vroetel.
“As dit minute later was, was hy dood. Die meeste mense met ’n besering van die abdominale vena cava oorleef nie tot by die hospitaal nie,” sê Alana.
“Hoe het dit in teater gegaan?” vra Karen.
“My senuwees was klaar,” bieg sy.
“Hoekom?” vra Karen. “Het professor Patterson kwaai geraak?”
“Nee, dis nie dit nie,” sê Alana. “Hy moet buitendien kwaai wees. Dis net … almal se oë was op my. Seker om te sien of die nuwe chirurg darem ’n skietwond kan herstel.”
Haar vermoë is beslis vandag gemeet, en die een wat haar die meeste dopgehou het, is seker suster De Lange.
“Ek kon die ingangswond darem dadelik identifiseer deur die hematoom wat daar gevorm het. Die perforasie was net bo die renale arteries. Die koeël het die laterale afskeuring van die wand van die inferior vena cava veroorsaak. Gelukkig was daar nie ’n dubbele perforasie nie, anders sou die pasiënt dalk nie so gelukkig gewees het nie.”
“Dalk moet die pasiënt gaan Lotto speel,” sê Karen. Alana glimlag.
“Toe die klampe aan die miltarterie, die poortaar en die inferior vena cava nie die bloeding wou stop nie, het ek begin stres, maar professor Patterson het kalm met my gepraat. Hy kon seker my paniek aanvoel,” babbel Alana.
“Hy het kollaterale kompressie toegepas,” sê Reinette, die ander verpleegster. “En vir ’n wonder was hy nie ongeskik nie.”
“Dalk maak dokter sy hart sag,” reken Karen.
“Was jy daar?” vra Alana vir Reinette. In teater is dit moeilik om te weet wie is wie wanneer almal hul teatermaskers dra.
“Ja. En ek dink dokter het uitstekende werk gedoen. Nie eens suster De Lange kon fout vind nie,” sê Reinette.
Alana probeer om nie te lag toe sy aan suster De Lange se valkoë dink nie. “Ek weet nie wie is die kwaaiste nie, suster De Lange of professor Patterson.”
“Jip.” Karen lag. “Daai twee moet mekaar net warm vry en klaarkry.”
“Reinette, sjuut! As sy jou nou hoor, het jy groot moeilikheid.”
“Dokter Patterson was nog net ordentlik met my,” sê Alana.
“Dokter sal nog sien. Ons is almal so bang vir hom. Ons speel behoorlik ching-chong-cha om te besluit wie hom in die middel van die nag moet wakker bel.”
“As dit nie vir professor Patterson was nie, sou ek nie vandag my pasiënt kon red nie. Hy het die prosedure geduldig aan my verduidelik,” erken Alana. “Hy het beduie hulle druk die sponse naby die perforasie en dan kan ek dit toewerk.”
Sy was so vies vir haarself. Natuurlik moes sy dit geweet het. Sy is immers ’n chirurg. Sy moes haarself net herinner het sy is nog nie ’n trauma-chirurg nie. Dit is hoekom sy hier is. Aan suster De Lange se sug kon Alana aflei sy was op daardie oomblik minder beïndruk met haar.
Sy kon uiteindelik net agter haar teatermasker glimlag toe professor Patterson sê: “Uitstekende tegniek, dokter De Koker.”
“Hy is ook ’n uitstekende chirurg,” bieg Reinette. “Dit is omdat hy ’n perfeksionis is dat hy so onredelik kan raak.”
“Ja. As ek honderd rand gehad het vir elke keer wat hy my al gevra het of ek moontlik breindood is!” Karen skud haar kop.
“Ek is darem nie so ongeduldig nie. As ek