Helena Hugo Eerste Keur. Helena Hugo

Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo


Скачать книгу

      

      Helena Hugo

      EERSTE KEUR

      Tot die dood ons skei

      Wilde rose

      Liefde is ’n Franse sprokie

      Jasmyn

Tot die dood ons skei

      Vooraf

      Die glas vonkelwyn in Marissa se hand kantel gevaarlik. Versigtig tog, nie stort nie! Sy kry die gevoel van opwinding onder beheer en glimlag. Kameras flits. Iemand neem die glas uit haar hand, skuif die kroon op haar kop reg.

      “Skies, die ding sit nie lekker nie. Hoog tyd dat hulle een van daai oulike tiaras vir ons kry.” Dis Bernice Fourie, verlede jaar se koningin, wat ’n paar minute gelede die kroon op haar kop gesit het en nou al om haar werskaf. “Beter?”

      “Ja, dankie.”

      Sy kry ’n soentjie op haar wang en die kroon kantel dadelik weer.

      “Geluk, baie geluk. Jy is ’n waardige opvolger.”

      Marissa druk die ellendige hooftooisel weer stewig op haar kop vas. Haar prinsesse omhels haar, vir die kameras wat steeds flits.

      “Congrats, you were my favourite,” fluister haar tweede prinses, liewe Caitlynne-Ann.

      Haar eerste prinses is minder gaaf. Sy glimlag suurderig vir die kameras.

      Die amptelike karnavalfotograaf tree tussenbeide. Hy rangskik die prinsesse aan weerskante van Marissa, druk ook aan die kroon. Met groot gebaar word bewonderaars en aanhangers weggewys. ’n Enorme ruiker land op Marissa se skoot.

      “Haal diep asem en – glimlag!”

      “Lig die ken, so ja.”

      “Smile! Mooi! Pragtig. Baie dankie.”

      Die amptelike fotograaf tree terug en die koerantfotograwe en joernaliste storm nader, die prinsesse word eenkant toe gesleep vir onderhoude. ’n Dik meisie met kortgeknipte hare en groot oorbelle val op haar knieë voor Marissa. “Ek is Lettie van Aswegen en jy is pragtig, baie geluk.” Sy klap haar boekie oop en skryf mompelend: Karnavalkonigin, Marissa du Plessis, BScAgric. “Waarom landbou?”

      Daar verskyn ’n stuk of agt arms met selfone oor Lettie se skouers. Sy wikkel haar ronde lyfie, kyk gesteurd agtertoe. Die selfooneienaars wyk nie. Hulle het hul eie metode en niemand sal hulle keer nie. Die “eksklusiewe” gesprek tussen Marissa en Lettie van Aswegen word dusdoende meer as tien keer oor opgeneem. Maak nie saak nie. Sy gee dieselfde antwoorde wat sy gister vir ’n ander joernalis ook gegee het. Sy is ’n plaaskind, sy wil eendag boer, sy verlang elke dag na Jakkalspoort in die Groot-Karoo. Ja, daar is ’n poort tussen die koppe deur en daar is jakkalse. Nee, hulle roei nie roofdiere uit nie, jakkalse het ook ’n plek in die voedselketting. Jammer, sy kan nie hier verduidelik nie, dit sal te lank neem. Ja, sy is ingeskryf vir haar honneurs en wil dit opvolg met ’n meestersgraad.

      Vraag en antwood volg op mekaar, Marissa praat en glimlag naderhand outomaties.

      Skielik en onverwags verlang sy na Dawie.

      Miskien sou dit goed kon wees as hy haar vanaand kon ondersteun. Maar dit wat tussen hulle was, is maande reeds verby. Heel aan die begin het sy elke dag daaraan geoefen om van hom af los te kom. Wanneer sy op plekke beland het waar hulle saam was en sy hom onthou, die kere wat sy haarself betrap dat sy vir hom wag, het sy dadelik op iets anders gekonsentreer. Maar so maklik vergeet jy nie ’n verhouding waarin jy grootgeword het nie en sy en Dawie was van kleuterdae af saam. Hy wil nog nie glo dat dit verby is nie en kom knaend kuier. Dan moet sy keer of sy gee hom weer ’n kans.

      “Boer jou ouers nog?”

      “Ja, Jakkalspoort is hulle lewe.”

      “Is hulle vanaand hier?”

      “Dis lamtyd, dan kan my pa nie wegkom nie.”

      “Broers en susters?”

      Marissa dink aan haar ouer boetie wat dood is toe hy nog klein was, maar sy hou hierdie seer vir haarself en vir haar goeie ouers. “Ek is ’n enigste kind.”

      Die hartseer kyk in haar oë ontgaan nie die skerpsinnige Lettie nie. “Maar jy sou graag ’n boetie of ’n sussie wou hê?

      Marissa glimlag geduldig. Dawie was vir haar soos ’n boetie.

      “Enige spesiale vriend?”

      “Nie op die oomblik nie.”

      “Jou metgesel vanaand? Wat van hom? Moenie stry nie, ons weet wie hy is.”

      “Simon de Villiers. Wynmaker van die Jaar!” gil een van die selfoonhanteerders.

      “Een van die tien mees gesogte vrygeselle in die land, en jy sê hy is nie spesiaal nie?”

      “Ons ken mekaar skaars twee maande. Hy is ’n spesiale mens, maar ons gaan nie vas uit nie.”

      “Te gou om te sê?”

      Marissa knik. “Dit lyk so.”

      Lettie tik met haar pen op die notaboekie. “Glo jy dan nie aan liefde met die eerste aanblik nie?”

      “Ek het dit nog nooit self ervaar nie. Dus kan ek nie sê nie.”

      “Jou raad aan ons meisies oor hierdie onderwerp?”

      “Jy moet iemand leer ken voordat jy kan seker wees of jy die res van jou lewe by hom wil bly.”

      Sy het gedink sy ken Dawie goed genoeg, maar hy het verander. Of is dit dalk sy?

      “Eerste indrukke. Maak dit glad nie saak nie?”

      “Dis nie dat dit nie saak maak nie …”

      “Maar dis nie deurslaggewend nie?”

      “Jy stel dit baie goed,” sê Marissa so liefies soos sy kan.

      Oor Lettie se skouers, deur ’n opening tussen twee selfone, sien sy Simon en ’n ander man nader kom. Hulle ken mekaar blykbaar goed, want hulle is vrolik aan die lag en gesels. Die man kyk skielik reguit na haar. Hy het die ongelooflikste heldergrys oë, omsoom met digte swart wimpers en hy kyk haar met onbeskroomde bewondering aan, glimlag dan asof hulle lankal ’n diep weggesteekte geheim deel. Het sy na haar asem gesnak? Warm gloede stroom soos golwe oor haar hals en nek, haar wange slaan aan die brand. Sy bloos asof ’n vuur in haar aangesteek is. Die eerste aanblik? Is dit hoe dit werk?

      Lettie som die situasie op met ’n aangebore aanvoeling vir iets nuuswaardigs. Van die kleinste verandering in die magneetvelde wat mense na mekaar toe aantrek of afstoot tot sluimerende storms, sy laat nie op haar wag nie. “Ek dag Simon is nie spesiaal nie,” sê sy en fluister nader aan Marissa. “Hy sal jou teen sy vriende moet beskerm.”

      Die selfoonbrigade swaai soos een man om. Simon en die vreemdeling groet hulle links en regs, en vorder tot voor Marissa. Lettie kom orent, blaai na ’n nuwe bladsy in haar notaboekie en wag.

      “Marissa, ek wil jou voorstel aan my vriend Theo Wessels, ons was soos broers op hoërskool. Ongelukkig gaan swot hy toe heeltyds in Amerika!”

      “Marissa,” sê Theo en kyk stip na haar. “Simon is ’n gelukkige man.”

      Lettie se pen kris-kras op die papier.

      Theo se helder oë, sy glimlag, die manier hoe hy sy kop skeef hou en haar aankyk, maak Marissa so senuweeagtig sy klou aan die ruiker op haar skoot. Aangename kennis, wil sy sê of net hallo, maar daar kom geen geluid uit haar mond nie.

      Hy buig galant. “Gee my jou hand, skone dame.”

      Sy kan nie anders nie, sy hou haar regterhand na hom toe uit.

      Hy neem dit, koester dit vir ’n oomblik teen sy lippe. Sy oë vang hare vas.

      “Eyes I dare not meet in dreams,” sê hy so gemaklik asof hy die tyd van die dag aankondig.

      Daar gaan ’n murmeling deur die omstanders. Iemand giggel.

      Haar hand glip uit syne, so liggies hou hy dit vas. Sonder dat sy dit


Скачать книгу