In my drome. Malene Breytenbach
Sy het maar net gedink hulle skaal af omdat hulle nou ouer word en rustiger raak.
Janus gaan dikwels, tot Chanelle se ergernis, alleen weg. Stella het veronderstel dat hy dit vir die besigheid doen en Chanelle, wat die soet vrugte van die Swift-inkomste proe, moenie kla dat haar man hard werk nie.
Die kos is net klaar toe sy die interkom by die hek hoor lui, en sy antwoord.
“Ek is hier,” sê Leonie.
“Ek maak oop.”
Die gedreun van Leonie se Honda word al harder en sy hou voor die kothuis stil.
Stella gaan maak die deur oop.
Leonie is in ’n kortbroek en T-hemp, met plakkies aan haar voete. “Haai, my maatjie.” Sy kyk Stella ondersoekend aan. “Ek kan sien jy het ’n skok gehad.”
“Dankie dat jy gekom het.” Stella besef sy moet traanspore oor haar gesig hê. Noudat sy Leonie sien, wat soos ’n suster is, wil sy sommer begin huil, maar sy beheer haar. Sy is darem al ’n vrou van agt en twintig en moet regtig nie vou soos ’n kind wat seergekry het nie.
Hulle gaan kombuis toe en Leonie sit by die toonbank waar Stella se pa vroeër gesit het. Stella skink vir Leonie ’n glas wyn en maak haar eie glas weer vol. Sy skep vir hulle op en sit langs Leonie, wat haar heeltyd besorg dophou.
“Daar is groot moeilikheid in Pappa se besigheid,” val sy met die deur in die huis. Sy kyk af na die stomende bord pasta, maar kan nie eet nie.
Leonie sit haar glas neer. “Is dit iets soos bankrotskap?” Haar oë is groot.
“Nog nie heeltemal nie, maar hy het winkels verkoop.” Sy vertel vir Leonie wat sy weet. Leonie eet tussenin en luister aandagtig, sonder om haar te onderbreek.
Stella se kos word later koud.
“Die ergste vir my is dat dit lyk asof daar ongerymdhede was. Asof daar geld gesteel is, om dit kras te stel. Ek weet nie hoe my ouers so ’n skande sal verwerk nie. Ek het altyd gedink Pappa is ’n onkreukbare sakeman. Natuurlik wil ek glo hy het daardie reputasie gehad.”
Leonie sluk van haar wyn. “Ek skat dinge het begin skeefloop toe jou broer saam met hom in die besigheid gegaan het.”
“Ja, ek dink ongelukkig ook so.”
Leonie vee haar mond met haar servet af en kyk nie na Stella nie. “Janus was nog altyd vrot bederf, moet ek ongelukkig sê. Deur hom so voor te trek het jou pa vir homself ’n lat gepluk wat nou seer slaan.” Sy kyk na Stella. “Die meeste van die kinders op skool kon Janus nie verdra nie, maar ryk outjies het mos hulle aanhangers. Boonop was hy nog ’n boelie ook. Jy en hy verskil soos dag en nag. Ek kon nooit glo hy is jou broer nie. Jou pa moet erg ontnugterd wees. Hy moet ook bang wees vir wat nou gaan gebeur.”
“Ek het hom nog nooit so verwese gesien nie.”
Leonie knik. “Ek kan dit goed begryp.”
“As daar nou allerhande lelike wurms uit die Swift-blik peul, sal jy nog kans sien om my vennoot te wees?”
Leonie kyk Stella geskok aan. “Dink jy tog nie ek sal jou dalk drop nie? Dis nie hoe ek grootgemaak is nie.”
“Sal dit nie ons praktyk benadeel nie, Leonie?” Sy knipper trane weg.
“Ons boot sal deur die storm vaar, moenie jy worry nie.”
Stella wonder of Tiaan nog in haar sal belangstel. Sal so ’n skande hom nie afsit nie?
Dit sou ten minste ’n oplossing vir dáárdie probleem wees.
Maar watter nare oplossing sal dit nie wees nie.
4
Die daaropvolgende dae ontaard vir Stella in ’n nagmerrie. In al die media verskyn berigte oor die moeilikheid by Swift Meubileerders, een van die grootste meubelhandelaars met verskeie takke. Sy spreek pasiënte en wonder heeltyd hoeveel hulle van haar familie se ondergang en skandes weet. Dit voel vir haar asof die hele wêreld oor niks anders praat nie en sy haar kop hoog moet hou, terwyl hulle agter haar rug skinder en hulle hul dalk verlekker, of vir haar en die familie jammer kry.
Haar pa probeer die skade beperk en skuldeisers betaal. Die huis op Plettenbergbaai is in die mark. Baie mense het hulle werk verloor, en daar is eise teen Swift Meubileerders.
Een aand bel Stella se ma en sê sy moet oorkom vir ete dat die familie kan praat.
Sy trek haar werkklere uit, stort en trek sommer ’n denimbroek en ’n T-hemp aan. Met beklemming in haar maag stap sy oor na die groot wit huis. Haar ma, pa, Janus en Chanelle sit met drankies op die breë stoep aan die berg se kant.
Leanne en ’n maatjie swem in die kinderpoel langs die groot swembad en hulle hoë, vrolike stemmetjies weerklink oor die werf.
Alles lyk so normaal, afgesien van die grootmense se somber gesigte.
“Hallo, julle,” sê Stella, en klim die trappe op na die stoep.
“Ek skink vir jou ’n dop.” Janus staan op. Hy en haar pa het nog hulle werkklere aan: pakke en dasse, maar Janus se das is losgetrek en hy sweet.
“Net ’n spritzer, asseblief,” sê sy. “Witwyn met baie soda. My dag was so besig dat ek skaars kans gekry het om te eet en my maag is teen dié tyd gevaarlik leeg.”
Sy gaan sit en kyk na haar ma. Sy het haar nog nooit so bleek van onsteltenis sien lyk nie. Sy is so pragtig soos altyd geklee, maar dra skaars enige juwele, wat vreemd is vir haar.
Chanelle sit daar in ’n verkreukelde blou rok wat lyk of sy daarin geslaap het. Haar oë is geswel en rooi, sonder grimering.
Stella se moed sak in haar skoene. Wat nou aangaan, het dié twee vroue sleg getref. Sy het darem nog haar beroep, maar hulle is twee afhanklikes vir wie hulle mans se rykdom belangrik is. Val die een, val die ander; val almal soos die spreekwoordelike domino’s wat mekaar stamp totdat almal tuimel.
Stella kry hulle jammer.
Janus sit haar spritzer voor haar neer, en sy neem een lang teug. Kom agter sy is nie net honger nie, maar dors ook.
Haar broer is rooi in die gesig, asof hy reeds te veel gedrink het.
“Het jy vandag se koerant gesien?” vra Chanelle in ’n skril stem.
Stella kyk fronsend na haar. “Nee, ek het nie tyd gehad nie …”
Chanelle gryp die koerant wat langs haar op die vloer lê en gooi dit voor Stella op die lae tafel neer sodat sy haar wynglas moet gryp of dit word omgestamp.
Sy kyk na die voorblad en trek haar asem hoorbaar in: “Die ander vrou in Janus Swift se lewe,” lees sy. Op die foto staan ’n sexy blonde vrou langs ’n Mercedes-sportmotor.
Haar rok is kort en haar bene pragtig.
Stella kyk op na haar broer, maar hy kyk weg, sy gesig stuurs. “Die pers kan ook so blerrie lieg,” brom hy. “Hulle is nou net besig om vuil goed oor ons uit te grawe. Jy skop mos die hond wat lê.”
“Jy hét my verneuk,” skree Chanelle so hard dat almal wip van die skrik en die kinders by die poel omkyk. “Jy’s nog heeltyd met dié tert deurmekaar. Dis waarom jy aanmekaar Pretoria toe gaan. Nie vir die besigheid nie, vir háár.”
Stella kyk met afgryse van Chanelle na Janus, wat haar oë vermy, na haar ma wat lyk asof sy wil huil, na haar pa wat so woedend is dat ’n spiertjie in sy voorkop spring.
“Is dit waar dat dié vrou jou … e …?”
“Skelmpie is? Lees wat in die koerant staan,” bars Chanelle los. “Hy het selfs daardie kar vir haar gegee.”
“Jy het ons behoorlik in die skande gesteek, Janus,” sê hulle pa bars. “Hoeveel geld hét jy op daardie vrou uitgegee?”
“Jissis, Pa,” in Janus se stem is ’n huilklank, “dis mos ’n boel leuens