Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan
hy lesinglokaal toe gaan.
“Jy hoef nie so vroeg te kom werk nie,” sê hy toe hy instap. “Jy het mos ’n kind om by die preprimêre skool te besorg.”
“Ag, ek neem hom vroeg skool toe. Wil Prof heerlike koffietjies hê? Dit perkoleer al lekker.”
“Nee dankie, ek het so pas koffie gehad.”
“Ag toe, ek het ’n nuwe soort gekoop wat baie lekker is.”
“Nou goed dan.”
Hy gaan na sy kantoor en haal die nodige lêers uit sy briewetas.
Sy kom in met die stomende koffie, melk en suiker op ’n skinkbord, loop om die lessenaar sodat sy langs hom staan en sit dit neer. Só naby is sy dat hy amper aan haar raak en die sieklike soet geur van haar goedkoop parfuum styg in sy neus op. Hy staan weg.
“Twee suikers?” vra sy met ’n stroperige stemmetjie en gooi sommer vir hom melk en suiker in asof hy dit nie self kan doen nie.
“Jy hoef my regtig nie op te piep nie, Riki,” betig hy haar. “Ek is nie ’n kleuter nie.”
Sy kyk half geskok na hom, haar blou oë groot tussen die wimpers wat van swart maskara gekoek is. “Maar ek doen dit graag! Jy is deesdae so … onder druk. Foei tog.”
Tot sy afgryse beweeg sy al nader, asof sy hom wil omhels. Liewe hemel, nou gaan sy darem te ver.
“Riki, jy verdring my,” sê hy streng. “Hou asseblief jou afstand. Ek is nie besig om in duie te stort nie.”
Sy vries en kyk hom verskrik aan. Dit lyk asof sy trane in haar oë kry. Toe draai sy om en loop uit.
Hy sug moedeloos. Hy sal die bul by die horings moet pak en die personeelmense moet vra om haar na ’n ander pos te skuif as dit moontlik is. Hy moet ’n ander sekretaresse kry. Een wat ouer en valer is, én getroud. Verkieslik iemand wat ’n ouma is.
Meteens hoor hy die geluide van ’n harde gesnuif. Ag nee! Sy is nou besig om langsaan te grens sodat hy dit moet hoor. Hy gaan nie uit om haar te troos nie, want sy moet die boodskap kry.
Hy doen wat hy moet doen, neem sy lêer en loop uit na haar kantoor op pad na die lesinglokaal. “En nou?” vra hy. “Huil jy?”
Haar oë is rooi en haar maskara gesmeer en sy vee met ’n patetiese uitdrukking op haar gesig met ’n snesie aan haar neus. “Dis niks. Ekskuus, Prof. Ek sal jou nie weer … verdring nie.”
“Dankie.”
Hy loop uit en weet hy doen die regte ding, maar hy voel nogtans soos ’n hond.
As vroumense huil, maak hulle hom hulpeloos. Monique se maklike trane het altyd die wind uit sy seile geneem. Ergerlik sug hy weer en loop vinnig die gang af.
Deesdae sug hy darem baie. Dit raak ’n slegte gewoonte.
Hy het ook nie die koffie gedrink nie. Dit sal Riki nog verder krenk.
9
“Monique se begrafnis gaan ’n aaklige affêre wees, maar ons kan nie juis wegbly nie,” kla Liana, wat stemmig in ’n koningsblou pakkie geklee is.
Kira trek haar romp reg en kyk in die portaalspieël of haar hare nog netjies is. “Ek wonder of die polisie en ons kaptein Lucille daar gaan wees?”
“Seer sekerlik. Dit sal ’n groot begrafnis wees, want as ’n vermoorde persoon begrawe word, is daar mos ’n hele skare nuuskieriges. Sy word nie veras nie, dus kan hulle enige tyd weer haar lyk opgrawe vir verdere forensiese ondersoek, indien nodig. Ag, wat praat ek nou? Dit klink so ghoulish. Geert sal ons by die Moederkerk kry. Ons moet maar solank stap.”
Heeltyd wat hulle onder die akkerbome deur die Laan in die rigting van die Teologiese Fakulteit en om die draai na die groot wit kerk met sy hoë toring stap, dink Kira met medelye aan Reinhard. Hoe aaklig moet dit nie vir hom en klein Riaan wees nie. Ook vir Dewald, al is hy so onaangenaam, en vir Reinhard se weduweema, tant Ursula.
Sover sy weet, het Monique nie ander naby familie nie, maar die hele dorp het haar seker geken, want sy was so opvallend – ryk en mooi. Hulle het ook ’n besige sosiale lewe gehad. Monique het baie onthaal, maar die Trollip-susters het sy nie uitgenooi nie.
Nou is dit vreeslik stil by Reinhard se huis. Mense kom wel, maar daar is min besoekers, asof hulle dink hy kan dalk aandadig wees aan sy vrou se dood. Haar hart krimp by dié gedagte.
“Daar is Geert by die hek,” sê Liana. “Kyk al die mense. Die lykswa het haar kis al afgelaai. Dis seker voor in die kerk. Ek hoop ons kry nog plek.”
Geert wink. “Maak gou, ons kan nog agter in die kerk plek kry,” roep hy.
Hulle haas hulle binnetoe en Kira sien dat die kerk stampvol is, tot bo in die galerye. Sy herken baie universiteitskollegas, die rektor van die universiteit ingesluit, en ook al Reinhard se kollegas. Riki sit daar in swart asof sy rou, haar gesig sedig.
Kira se oë soek na Reinhard en sy sien die breë skouers in ’n bank heel voor. Regs van hom is Riaan en links is sy ma. Langs haar sit Dewald Walters.
Sy wil vir Reinhard golwe van onderskraging aanstuur, en weet dat wat sy vir hom voel, nie blote jammerte is nie. Sy moet aan haarself erken dat sy hom nog steeds liefhet. Haar liefde het net gehiberneer in die ystydperk ná sy verraad, maar nou ontwaak dit uit die sluimerslaap om haar te treiter.
Sy voel iemand kyk na haar en toe sy haar kop draai, maak sy oogkontak met kaptein Lucille Wiid, wat netjies in ’n grys pakkie en wit bloesie geklee is. Sy het selfs pêrels aan haar hals en ore. Lucille knik en sy knik terug.
“Hallo, ek is bly ek kry plek langs jou,” hoor sy, en Deon Schoeman skuif langs haar in.
“Hallo. Ja, die kerk bars uit sy nate.”
Voor, onder die hoë, swierige preekstoel, staan Monique se kis versier met wit lelies. Sy sidder toe sy daarna kyk, want binne is die vrou met haar wonde, leweloos en gevries soos ’n winkelpop. Sy wil nie daaraan dink nie.
Sy kyk rond en sien Lettie en Jaco Peens, albei met somber gesigte en deftig geklee. Lettie vee kort-kort met ’n sakdoek aan haar oë, maar Jaco se gesig is strak en sy oë droog.
Waaraan sou hy dink? wonder Kira. Het hy Monique tog tot die einde liefgehad en nou treur hy van binne en probeer dit vir die res van die wêreld wegsteek? Of het hy haar in ’n vlaag van woede vermoor?
Die diens is vir Kira ’n marteling, want die predikant probeer hard om Monique te prys vir deugde wat sy nie in oorvloed gehad het nie. Op die pamflet met die gesange pryk ’n foto van ’n beeldskone, laggende Monique, haar blonde hare tot op haar skouers.
Die predikant simpatiseer met die familie – versigtig, asof hy slaggate probeer vermy. Hy konsentreer op die verlies wat dit vir klein Riaan is.
Kira kyk na Reinhard se agterkop en wens sy was in ’n posisie om hom werklik by te staan en te troos, al het wat ook al gebeur.
“Sal ons ná die begrafnis gaan tee drink?” vra Deon fluisterend en onderbreek haar gedagtegang.
“Ek weet nie … Ek het eintlik nie lus om begraafplaas toe te gaan nie, maar ons sal seker moet.”
“Kyk hoe jy voel as dit verby is.”
As die diens erg was, is die teraardebestelling nog erger, dink Kira.
Reinhard en sy swaer was die voorste draers en Riaan het langs hulle gestap, sy hand in sy ouma s’n, en hy het kort-kort sy oë met sy mou afgevee. Kira se hart het vir almal gebloei.
Sy hoor skaars die predikant se woorde “Stof tot stof …” want sy kyk hoe Monique se kis in die gat verdwyn en hoe Reinhard en Riaan die eerste hande vol grond ingooi.
“Sjym, daardie arme klein kannetjie,” hoor sy agter haar en draai om na Lucille Wiid, wat opreg simpatiek lyk.
“Ja, arme ou seuntjie. Hy gaan sy ma mis.”