Ek wens, ek wens. Zirk van den Berg
… Kan jy die Parmesaan aangee?”
Hulle eet onder begeleiding van stemme op TV uit die sitkamer. Eers toe sy afdek, praat sy weer. “Is dit nie bonusmaand nie?”
“Hulle het dit Desember toe geskuif.”
Haar lippe bly tien tellings lank opmekaar gepers. “Het jy al met meneer Abrie gepraat oor ’n verhoging? Julle beroep is mos resessiebestand.”
Hy skud sy kop. Hoe kan hy vir haar sê hy koester geen hoop nie? Hoe ouer hy word, hoe meer klou meneer Abrie aan sy geld vas. Verlede jaar het niemand ’n verhoging gekry nie. “Hy kom deesdae min kantoor toe. Maar ek sal sien of ek ’n tydjie by hom kan kry, hom vang as hy in ’n goeie bui is.”
“Ek het daai een al gehoor.”
“Ek sal dit doen, oukei?”
“Ons praat weer.” Sy glo hom nie.
Die aand gaan voor die TV verby, met die twee van hulle wat beurte maak om die kanale te verwissel, tot die ander een se irritasie. Hulle hoor vir Katrina boontoe kom om kos te kry. Sy wys haar gesig by die sitkamerdeur, met ’n bord in die hand, mompel iets wat veronderstel is om sinvol te wees, en verdwyn weer.
Hulle maak al gereed om te gaan slaap teen die tyd dat Josh eers huis toe kom. Hy loop met ’n swaar tred, iets wat hy dra stamp teen die mure. Dit klink soos ’n marsjerende slagorkes. Seb wil liefs nie gaan kyk of vrae vra nie. Dan speel die prosessie agteruit, weer voordeur toe, en vort. Al werk Josh Saterdae, bly hy Vrydagaande gewoonlik tot ounag uit.
Toe Seb klaar sy tande geborsel het en uit die badkamer kom, lê Helen in die bed met haar oë styf toe. Hy neem sy plek langs haar in en skakel die bedlamp af. Hulle lê en luister na mekaar se asemhaling. Seb onthou ’n tyd toe die blote gedagte aan haar genoeg was om sy koerasie op te jaag. Hier lê sy nou langs hom in haar nagrok, sonder onderklere, en hy kan homself nie sover bring om aan haar te raak nie. As hy die eerste stap neem en sy wil hom nie hê nie, dan kom dit daarop neer dat hy haar dwing, wat onaanvaarbaar sal wees. As sy hom wel wil hê en hy slaag nie daarin om haar te bevredig nie, sal dit ondraaglik wees. Die beste is dus om niks te doen nie.
Hy het haar toe nie van die siek seun in die kis vertel nie.
Uiteindelik red die slaap hulle albei.
In sy drome klou die asems van die verlede soos ’n grys baard aan Seb, af oor sy bors en tot onder by sy knieë. Die asems van die toekoms sweef bokant hom, engele wat op hete kole dans.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.