Vir mans. Johan Ferreira
wanneer hulle alleen is, kan hy net sowel nie bestaan nie. Sy dra niks tot die gesin by nie, nie in terme van energie, beplanning of ondersteuning nie. Wanneer hy met haar hieroor praat, ontken sy bloot sy siening en impliseer dat hy hom verbeel. Haar lewe draai om haar belange en sy fokus net op dít wat vir haar plesier verskaf.
Sy kuier gereeld saam met haar vriendinne, gaan verskeie kere per jaar op reis saam met vriende, sonder haar gesin. Sy oorreed Marius elke keer dat alle mense tyd alleen nodig het en dat dit nou haar beurt is. Sy beurt kom nooit.
Makeer ek dan iets?
Marius gaan klop weer eens by ’n sielkundige om hulp aan, hierdie keer alleen. Toe sy vrou te wete kom van sy sessies, is sy woedend. Sy wil saamgaan om haar kant van die verhaal te vertel. Hy verduidelik dat dit sý proses is, maar sy dring daarop aan om saam te gaan. Soos altyd gee hy in.
Tydens die terapeutiese proses word dit oor maande weer eens duidelik dat sy geen plan het om haar gedrag te verander nie. Telkemale verbind sy haar tot ’n aanpassing van gedrag, en dan gaan maande verby waarin sy Marius kaap met die hoop op verandering. Marius en sy terapeut werk daaraan om hom te help insien wat die dinamika van hulle verhouding is.
Dit was eintlik so van die begin af
Mettertyd sien Marius in dat die probleme met sy vrou se selfsugtige gedrag nog altyd so in hulle verhouding gewerk het. Haar oënskynlike onvermoë om sy behoeftes raak te sien en gehoor te gee daaraan was van die begin van hulle verhouding af so. Hy onthou die waarskuwing van haar ma en besef dat haar ouers en familie haar nog altyd so beleef het.
Wat hom die meeste pla, is dat hy meestal voel dit is hý wat verkeerd optree. Sy manipuleer hom al soveel jare dat hy skuldig voel oor sy gewone, normale verwagtings. In sy terapie ontdek Marius dat hy nie buitengewone behoeftes het nie. Hy wil graag ’n gewone, doodnormale, vervullende liefdesverhouding met sy vrou hê. Hy leer dat mense uiters manipulerend kan wees en oor ’n lang tyd hulle lewensmaat kan laat voel dat die fout eintlik by die ander party lê.
Hoe ver is té ver?
Marius begin evalueer hoe disfunksioneel sy huweliksverhouding is. Hy sien in dat hy werklik baie selde sy behoefte vervul kry. Hy evalueer hoeveel van haar behoeftes vervul word en sien dat hulle gesin se lewe werklik meestal gerig is op wat sy vrou om selfsugtige redes wil hê.
Hy besef deur gesprekke met sy sielkundige dat sy vrou onredelik kwaad word as hy sy behoeftes uitspreek en dat hy mettertyd geleer het om stil te bly om die vrede te bewaar. Sy dogters het nou ook hierdie gedrag teenoor hulle ma aangeleer.
Wanneer hy alleen met die kinders is, gesels hulle vrylik oor onderwerpe, verskil van mekaar, probeer mekaar oorreed en aanvaar soms die werklikheid van verskillende menings. Dit gebeur nooit in gesprekke met sy vrou nie. Sy is reg. Altyd. Oor alles. Einde van die gesprek.
Ek voed nie meer die monster nie
Marius besluit om die inhoud van hulle verhouding uit te daag. Hy is nie arrogant genoeg om te dink dat hy nie ook foute het nie, maar hy is nie meer bereid om met hierdie gedrag van sy vrou saam te leef nie. Hy word bewus van die feit dat sy ontplof elke keer dat hy die stelsel uitdaag. Hy bly nie meer stil nie en sy ontplof net meer. Die intensiteit van hulle gevegte raak al hoe groter. Hy rig redelike versoeke: kook asseblief vir ons soms kos, maak soms die huis aan die kant as die huishulpe af is, help die kinders met projekte en huiswerk, wees gaaf en vriendelik met jou man wanneer hy tuis kom. Hierdie versoeke word die snellers vir die bomme.
Uiteindelik besef Marius wat patologiese fokus op die self beteken. Dit blyk dat sy nie kan of wil probeer om die eie ek te laat vaar en soms te leef vir die geluk en vreugde van ander nie. Sy beleef dit as ’n persoonlike aanval op haar regte as mens. Sy gaan in ’n vreestoestand in dat sy nie haar behoeftes bevredig sal kry nie en tree dan met groot aggressie teenoor iemand op wat iets van háár vra.
Ná baie wroeging en selfondersoek verlaat Marius uiteindelik die verhouding. Die egskeidingsproses weerspieël die inhoud van die verhouding en ontaard in ’n lang regsproses waarin sy vrou alles na haar sin probeer skik. Sy veg nie vir die verhouding nie, sy veg vir haar posisie ná die egskeiding. Haar versoeke is gerig op die lewe wat sy ná die egskeiding wil voortsit. Sy laat die regspanne verslae oor haar eise. Marius voel skuldig wanneer hy die eise moet teëstaan, bloot omdat die werklikheid nie ingesien word nie. Sy sielkundige help hom om te sien dat dit bloot ’n verlenging van die verhouding is wat reeds lank so bestaan en onderhou is.
Indien jy vermoed dat hierdie patroon ook in jou lewe voorkom, vra jou gerus ’n paar vrae af:
1.Is daar tye dat my maat wel fokus op die behoeftes in my lewe?
2.Raak my maat voorspelbaar kwaad en moeilik as haar behoeftes nie onmiddellik bevredig word nie?
3.Het my maat empatie vir ander?
Daar is natuurlik grade van narsisme en nie almal se simptome is ewe intens of uitgebreid nie. Jy sal wel deeglik agterkom indien jou maat volgens hierdie patrone optree. Moenie sonder meer die etiket op iemand plak nie en gaan eerder na ’n professionele terapeut om jou met helderheid te help. ’n Verhouding het altyd meer as een perspektief en ’n terapeut kan jou help om te sien waar jy moontlik die gedrag van jou maat voed en onderhou. Daar bestaan altyd die hoop dat mense tot insig kan kom en dan wel hulle gedrag probeer verander. Insig in die probleemgedrag is die beginpunt van die oplossing.
Ek word afgepers ná ’n buite-egtelike kuberverhouding
Dirk kan sy geluk nie glo nie
Hy sit en werk laataand aan ’n projek wat hom hoofbrekens gee. Niks wil reg loop nie. Sy stresvlakke is hemelhoog en sy vrou slaap lankal. Die baba is genadiglik ook stil. Hy is so dankbaar vir die mooi vrou en die gesonde kind in die huis.
Sy gereelde besoek aan sy gunsteling-internettoepassing lei hom vanaand na ’n geselsie met ’n onbekende blonde vrou. Sy is openlik vriendelik en nooi hom om sommer oor sy werk te gesels. Hy sien op haar profiel dat sy ook van diere hou en dat sy gereeld fietsry. Hulle gesels sommer dadelik lekker. Aan die einde van die uur lange gesprek voel hy minder gestres en gaan stort. Hy klim in die bed en hoor hoe sy vrou diep slaap.
Die volgende paar weke gesels hy en die vreemdeling ongeveer elke dag, sommer oor die lewe en die min slaap van nuwe ouers. Maar hy kies om niks vir sy vrou te sê nie.
Vinnig verder
Die kubervrou stuur een middag ’n baie mooi foto van haarself in ’n swembroek.
“En hoe lyk jy in joune?” vra sy later in die gesprek.
Dirk soek vervaard na die foto van hom en sy seuntjie wat op die strand geneem is in Desember. Hy manipuleer die foto so effe met ’n filter. Hy kry die gewenste effek toe sy met ’n groot glimlag en ’n op-duimpie reageer.
Die gesprek vorder vinnig na die meer intieme. Sy wonder hoe sy stem klink en of hy dalk iets vir haar voel? Sy vra vir ’n stemboodskap oor hoe hy oor haar swembroekfoto voel. Hy voel hoe sy hart vinniger klop.
Wegholgedagtes
In die volgende paar weke vorder die inhoud van hulle gesprekke na die uitruil van liefdesverklarings en naakfoto’s. ’n Seksueel uitlokkende video-opname vanuit haar kombuis noop hom om te reageer met ’n opname van homself in sy slaapkamer. Hy reageer bloot op die opgewondenheid wat hy voel.
Êrens in die warboel van die weke wat volg, stuur sy ’n boodskap oor ’n onverwagse uitgawe wat sy moet aangaan en waarvoor sy tans nie geld het nie. Sy vra of Dirk sal kan instaan vir die bedrag. Dis nie buitensporig nie, maar Dirk en sy vrou se banksake is oop vir mekaar en albei het toegang tot hulle bankrekeninge. Hy verduidelik die situasie aan haar.
Hier kom sy eerste nare verrassing. Sy verduidelik dat sy reeds met sy vrou op die internettoepassing bevriend geraak het en indien hy nie aan haar eis toegee nie, sal sy van daardie foto’s van homself aan sy vrou openbaar maak.
Die skok van die wrede werklikheid
Dirk laat val die selfoon op die vloer van skok. Hy lees die boodskap oor en oor om seker te maak dat hy reg verstaan. Hy stuur ’n boodskap terug en