Kry styl - Jesus s'n. Stephan Joubert
International, het interessante ondersoeke hieroor gedoen.1 Hy haal onder andere vir Masashi Masuda, ’n dosent in teologie aan die Sophia Universiteit in Tokio, aan wat bevestig: “Listening to Bach’s Goldberg Variations first aroused my interest in Christianity.” Yuko Maruyama, ’n Japannese orrelis wat tans in Minneapolis woon, vertel dat sy ’n stoere Boeddhis was, maar nou ’n Christen geword het. Alles te danke aan Bach. “Bach introduced me to God, Jesus and Christianity.” Dalk is dit hoekom die Sweedse aartsbiskop Nathan Söderblom (1866-1931) Bach se kantates lank gelede reeds “die vyfde Evangelie” genoem het.
Simon-Netto vertel van ’n onderhoud wat hy 25 jaar gelede met die Leipzig Thomanerchor gevoer het, ’n koor waarvan Bach eeue gelede die leier was en waarvan die meeste lede uit ateïstiese huise afkomstig was. “Is it possible to sing Bach without faith?” het Simon-Netto hulle gevra. “Probably not,” het hulle gantwoord, “but we do have faith. Bach has worked as a missionary among all of us.”
Presies dit gebeur tans in Japan, oraloor bekend as een van die mees gesekulariseerde lande in die wêreld. Twee-derdes van Japan se bevolking is nie godsdienstig nie. Boeddhisme en Sjintoïsme hou geen bekoring meer vir moderne Japannese in nie. Hulle tempels is slegs besienswaardighede vir toeriste. Tog stel jonger Japannese al meer in Bach se musiek belang, asook in die Jesus oor wie hierdie musikale genie onder meer ’n aangrypende Matteus-passie en ’n Johannes-passie geskryf het.
“I fit into this category,” sê Azusa, ’n 25-jarige Japannese regstudent. Simon-Netto vertel hierdie jong vrou het dadelik vir hom gewys dat sy op haar selfoon na Bach se kantate “Vergnügte Ruh, beliebte Seelenlust” luister. Die woorde van hierdie lied gaan oor God se liefde en die rus wat Hy gee. Dit raak haar diep.
Masaaki Suzuki, die dirigent van die Bach Collegium Japan, is tans een van die groot kragte agter die Bach-renaissance in Japan. Hy vertel vir Simon-Netto: “Our language does not even have an appropriate word for hope. We either use ibo, meaning desire, or nozomi, which describes something unattainable.” Suzuki sê dat hy ná elke opvoering van Bach se musiek met ’n skare mense oor die inhoud daarvan moet gesels. “And then they inevitably ask me to explain to them what ‘hope’ means to Christians.”
Suzuki sien homself as ’n sendeling. “I am spreading Bach’s message, which is a biblical one.”
Met tot 200 Bach-kore in Japan en jaarlikse uitvoerings van die Matteus-passie op Goeie Vrydag wat deur duisende mense bygewoon word, is die Here daar met ’n belangrike gesonde infeksie besig. Geen wonder nie dat Yoshikazu Tokuzen, die rektor van Japan se Lutherse Seminarium, Johann Sebastian Bach “a vehicle of the Holy Spirit” noem. Hy vertel dat hy self die Bach-konsert op Goeie Vrydag roerend vind. “It is very moving to watch this enormous crowd follow the Japanese translation of the German lyrics word for word. Where else in the world do you find non-Christians so engrossed in biblical texts?”
Goeie tydlesers en goeie Jesus-lesers gevra
Gelowiges veroorsaak steeds goeie infeksies wêreldwyd, ten spyte van al die kerklike droogmakery en foute. Om slegte infeksies as die enigste leesbril te gebruik wanneer die kerk ter sprake is, is eensydig. Dit bied nie die volle prentjie nie. Dit is veel minder as die helfte van ’n skeefgetrekte waarheid. Nadia Bolz-Weber skryf tereg in Accidental Saints: Finding God in the Wrong People (2016):
There are many reasons to steer clear of Christianity. No question. I fully understand why people make that choice. Christianity has survived some unspeakable abominations: the Crusades, clergy sex scandals, papal corruption, televangelist scams, and clown ministry. But it will survive us, too. It will survive our mistakes and pride and exclusion of others. I believe that the power of Christianity – the thing that made the very first disciples drop their nets and walk away from everything they knew, the thing that caused Mary Magdalene to return to the tomb and then announce the resurrection of Christ, the thing that the early Christians martyred themselves for, and the thing that keeps me in the Jesus business – is something that cannot be killed. The power of unbounded mercy, of what we call The Gospel, cannot be destroyed by corruption and toothy TV preachers. Because in the end, there is still Jesus.
Ons uitdaging is om vars en nuut te dink oor hoe ons ons geloof stylvol kan naleef en uitleef. Maar denke alleen gaan ons nie daar kry nie. Nuwe inligting gaan ons ook nie genoeg verander nie. Ons kort ’n nuwe styl – Jesus se styl.
Maklik is hierdie pad vir seker nie. Ons leef immers in ’n ingewikkelde wêreld, een wat die sosioloog en filosoof Zygmunt Bauman in Culture in a Liquid, Modern World (2011) beskryf as “liquid modernity”:
What makes modernity “liquid”, and thus justifies the choice of name, is its self-propelling, self-intensifying, compulsive and obsessive “modernization”, as a result of which, like liquid, none of the consecutive forms of social life is able to maintain its shape for long.
Met ander woorde, alles smelt deesdae vinniger onder ons weg as die tyd wat dit ons kos om dit te ontwerp en te bou. Daarom dat ons nie meer die luukse het om maande en jare lank te tob oor ons planne om die wêreld vir Jesus om te keer nie. Ons moet beter maniere kry. Ons moet varser taal, metafore en simbole gebruik as dié wat ons tans het. Ons kort nuwe hartstaal, nuwe verlangens, nuwe gewoontes. Ons kort Jesus se hart, sy lewe.
Binne ons holderstebolder wêreld moet ons, soos die stam Issaskar in 1 Kronieke 12:32, goeie tydlesers wees. Ons moet weet wat om te doen en wanneer om dit te doen. Ons moet weet hoe om ander hartsroetes na te jaag, roetes wat die wêreld rondom ons se verbeelding opnuut sal aangryp.
Terselfdertyd moet ons nie net die tye waarin ons leef reg lees nie, maar ook die “tyd” van Jesus. In Lukas 12:54 sê Jesus vir die skare dat hulle sulke goeie lesers van die weer is, en tog kan hulle nie die tyd reg lees nie. Hulle weet presies watter wolke bring reën en watter winde bring hittegolwe. Maar hulle snap nie dat ’n radikaal nuwe tyd, die Jesus-tyd, aangebreek het nie. Die aard van hierdie nuwe tyd spel Jesus dan uit in Lukas 17:20-21 wanneer Hy reageer op ’n vraag van die Fariseërs oor wanneer die koninkryk van God gaan aanbreek. Jesus antwoord hulle dat dit reeds in hulle midde is.
Die nuwe tyd van God is reeds hier, want Jesus is hier. As ons ons geloof stylvol wil beleef en uitleef, moet ons meer as net goeie tydlesers wees. Ons moet Jesus-lesers wees, mense wat Jesus reg aanvoel en reg verstaan. Dan kan ons goeie infeksies veroorsaak. Dan kan ons ons geloof stylvol deel.
Kom reis asseblief saam met my op hierdie mooi roete.
Hoofstuk 1
Kry styl – Jesus se styl
Styl is ’n bewegende teiken
Style is the answer to everything
A fresh way to approach a dull or dangerous thing
To do a dull thing with style is preferable to doing a dangerous thing without it
To do a dangerous thing with style is what I call art …
Not many have style
Not many can keep style
I have seen dogs with more style than men,
although not many dogs have style.
Cats have it with abundance …
Só klink styl vir Charles Bukowski (1920-1994). Die Oxford Dictionary omskryf styl as “a particular procedure by which something is done; a way of using language; and a distinctive appearance”.
Almal het ’n sekere styl, al het nie almal styl nie. Of al het nie almal ewe veel styl nie. Dis nou te sê, as jy vir Bukowski sou glo.
Al is dit moeilik om styl in woorde vas te vang, sluit dit baie meer in as ons eerste assosiasies met hierdie woord. Styl gaan nie net oor kleredrag, geld, die nuutste modes of die regte tegnologie nie. Tom Hardy, die Engelse akteur, het die regte aanvoeling wanneer hy sê:
Style, I think, is panache. Who are you? What did you do today? And what are you worth to me? What do you have to offer the world? How did you spend your time today on this planet? How are you spending your time every second? What are you doing now? Are you alive, or are you somnambulant?
Styl