Israel reeks: Omnibus 1. Marzanne Leroux-Van der Boon
by baie nie veel meer as ’n leë tradisie geword nie. Maar nou … met al die ellendes wat ons tref, gaan baie Pesach in ’n ander lig begin sien. Ek is seker daarvan.”
So mooi is sy dat sy vingers jeuk om haar te teken. Onder die stadsmuur wat oor haar toring, by die lig van die straatlamp. In die swart hare wat uit haar vlegsel losgekom het en om haar gesig krul, sien hy sy ma. Sy hart pyn daarvan.
“Vier jy dit nog op die tradisionele manier?”
Toe kyk sy op. “Ek is Ortodoks, Marc. Ek het met hierdie dinge grootgeword. Vir ons het Adonai se voorskrifte nie verander nie.”
“Adonai beteken Here?”
“Dis reg.”
“Dis ’n pragtige woord.”
Sy kyk hom bietjie verwonderd aan. “Is jy ’n gelowige?”
Hy maak ’n vae gebaar met sy hand en vra: “Jy sê jy is Ortodoks?”
“Sê maar eerder modern-Ortodoks. Nie ultra-Ortodoks nie. Dié is baie strenger en volg hoofsaaklik die reëls van die Talmoed. My pa is ’n rabbi en my broer is ’n argitek.”
“Later moet jy my sê wat die verskil is tussen die Tora en die Talmoed.”
“Later, baie later.” Sy lag. “Dis ’n lang storie.”
“Wonderlik,” sê hy sag.
Sy kyk verwonderd na hom. “Waarom is jy eintlik in Israel?”
’n Tipies ultra-Ortodokse gesin kom oor die keisteenstraat aangestap. Die pa stoot ’n kinderwaentjie, aan elke kant loop twee kleuters, sy vrou is hoogswanger. Sy hou aan sy arm vas. Hy buig af na haar om met haar te praat. Sy beduie na iets op die stadsmuur, hulle bly ’n oomblik staan om daarna te kyk. Toe kyk hulle na mekaar en lag.
“Waarom dra party sulke opgestopte jasse?”
“Hierdie kom uit Rusland.”
“Wonderlik,” sê hy weer sag.
“Ek het gevra wat jy eintlik hier kom maak het. Jy met jou baie vrae.”
“Dis ook ’n lang storie.”
“Te lank vir vanaand?”
“Ek dink so.”
“Jerusalem is ’n hemel vir kunstenaars.”
Hy knik. “Kan ’n modern-Ortodokse ook ’n soldaat wees?”
Sy kyk na hom. Haar mond blink van die granaatpitte wat sy geëet het.
“Vir seker. Veral die mans. Maar nie altyd in gevegseenhede nie en nie baie vroue nie. Hoewel party wel daarin dien.”
“En jy dan?”
Sy lag. “Ai, Marc, dis moeilik om dit alles vir ’n buitestander te verduidelik. Soos ek sê, ons is wat hulle noem modern-Ortodoks. Ons dra moderne klere, juwele, ensovoorts, maar ons onderhou die Tora en vier die Shabbat. Ons verdra die meeste ander vertakkings van Judaïsme, met die uitsondering van die Messiane. Ons is Sioniste, maar nie so geesdriftig soos die tradisioneel-Ortodokses nie. Hoewel ek moet sê ek voel persoonlik diep saam met hulle wat die settlements op die Judese heuwels betref, en ek dink sterk daaraan om, wanneer ek gekwalifiseer het, daar te gaan bly.”
“Settlement?” Marc voel soos die spreekwoordelike vreemdeling in Jerusalem.
“Die nedersettings in Samaria en Judea, die sogenaamde Wesoewer en Gasa. Jy sal nog baie daarvan hoor as jy ’n tydjie hier bly. In die begin is dit vreeslik verwarrend.”
“Maar ek het op televisie gesien dat die helpers gewoonlik lyk asof hulle Ortodokse Jode is waar daar selfmoordbomaanvalle was … ek bedoel met die swart kalotjies …”
“Kippah,” help sy.
Hy knik erkentlik, “… en baie keer baarde.”
“Hulle is ook ultra-Ortodoks. Ja,” sy sug effens, “hulle is die hedendaagse Fariseërs waarvan jy in jou B’rit Chadashah, jou Nuwe Testament, lees. Hulle beoefen Rabbynse Judaïsme, deurspek met Kabbalah, en leef volgens die strengste godsdienstige voorskrifte. Jy sal hulle gewoonlik herken aan hul swart hoede en jasse, vol baarde, peyot,” sy beduie, “sykrulle. Soos jy sien, lyk hulle letterlik asof hulle net so uit die Middeleeue gestap kom. Hulle versorg die … liggame. As dié wat gesterf het miskien ultra-Ortodoks sou wees, mag niemand anders aan hul liggame raak nie.”
“Dis verskriklik, dié soort aanvalle. Ek kan dit nie verstaan nie.”
Haar gesig verstil. “HaShem praat met Israel,” sê sy byna onhoorbaar sag.
Dit word stil tussen hulle. Die wind het koud geword en sy ril effens, trek die uniformkraag teen haar wang op.
“Rebecca … Rivkah,” sê hy ingedagte.
“Rivkah is beter,” sê sy en kyk op haar horlosie. “Re’uven sal nie weet waar ek is nie.”
“Re’uven?”
“My broer.”
“Is jy die hele naweek aan diens?”
Sy skud haar kop, keer die laaste pitte van die granaat uit haar bakhand in haar mond om. “Ek is eintlik nie aan diens nie, ek het net vanaand in ’n vriendin se plek gewerk. Haar broer is gister in die busbom ernstig beseer. Ek begin eers weer Sondagoggend tienuur.”
“O.”
Sy takseer hom vir ’n oomblik. “As jy wil, kan ek en Re’uven jou môreaand iewers kry, dan kan ons bietjie gesels en iets doen. Hy sal ook graag weer van Suid-Afrika wil hoor. Hy het ’n paar maal vir ons kom kuier toe ons daar was. So ná ses wanneer Shabbat verby is …?”
“Wanneer begin die Shabbat?”
’n Sagte trek kom om haar mond, haar stem kry ’n singerige toon. “Vrydagmiddag laat. Erev Shabbat. Dan lê jy jou pen neer, skakel jou rekenaar af, trek jou winkel op slot. Teen sesuur sê jy: Ribono Shel Olam, hier is ek, ek gaan u rus binne. Dan omvou Hy jou met die mantel van Shabbat-vrede en jy sing Shabbat shalom.”
Daar gaan ’n ligte bewing deur Marc. Hy dink aan die toneel vroeër die aand by die Klaagmuur en sy oë skiet magteloos vol trane. Sy sien dit. Hulle staan ’n paar oomblikke stil langs mekaar.
Toe vra sy sag. “Sal ons jou môreaand by jou hotel ontmoet?”
“Baie graag.”
“Sewe-uur?”
“Absoluut.”
Haar oë vertroebel effens. “Daar is dikwels aanvalle net ná Shabbat.”
“Ja?”
Sy knik. “As een van ons of ons albei dalk opgeroep word … hoe kan ek jou laat weet?”
Hy haal sy selfoon uit sy sak. “Ek het dié saamgebring.”
“Goed so. Laat ek die nommer afskryf.”
Sy maak so.
“Baie dankie dat jy my gehelp het met kos en om my geld om te ruil.”
“Plesier. Dankie vir die granaat. Sal jy jou hotel kry?”
“Ek is seker. Ek het ’n kaart hier.”
“Laat ek vir jou wys. Dis nie ver nie.”
Hy vou die kaart oop en sy teken met haar pen hoe hy moet loop.
“Oukei?”
“Ek sal dit kry.”
“Sien jou môreaand. Laila tov.”
“En dit is?”
“Goeienag.”
“Hier. Neem dié twee granate ook.”
“O, dankie!”
“Laila tov, Rivkah.”