Gaan Suid-Afrika oukei wees?. Jan-Jan Joubert
met die belange van die arm, swart wyk wat gewoonlik deur die ANC verteenwoordig word.
Boonop sukkel die DA om met arm swart kiesers te kommunikeer op ’n wyse wat by hulle aanklank vind. Dit geld benewens DA-leiers uit minderheidsgroepe ook baie van die DA se swart leiersfigure op veral nasionale vlak, wat dikwels middelklas-sentiment eerder as township-sentiment of landelike sentiment verteenwoordig, en by voorkeur in die openbaar Engels praat – dikwels sonder ’n aksent van ’n inheemse taal. Baie van die jonger swart DA-leiers was in voormalige Model C-skole en het aan die land (of die buiteland) se beste universiteite studeer. Geeneen van daardie aspekte is sonder omvattende voordele nie, maar die nadeel is dat die terugvoer van arm swart Suid-Afrikaners dikwels is dat hulle sukkel om hulle met DA-leiers te vereenselwig, en ook glo dat DA-leiers nie werklik met hulle identifiseer in hul verarmde werklikheid nie. Die DA se dikwels lofwaardige klem op meriete, vaardigheid en kwalifikasies wanneer kandidate aangewys word, plaas ook onbedoeld ’n besliste hindernis en selfs plafon op die vordering van gemeenskapsleiers met lae onderrigvlakke en sonder kwalifikasies. Die punte uitgestippel in hierdie paragraaf is bitterlik moeilike kwessies om te takel, want dit dra soveel skadu’s en eggo’s van die Suid-Afrikaanse geskiedenis daarmee saam.
Ek wil nie te diep in hierdie aspek delf nie, maar iets wat baie vreemd oorkom, is hoe die DA by sy massa-saamtrekke mense het wat tydens toesprake op georganiseerde wyse oor die luidsprekerstelsel tussenwerpsels skree ter ondersteuning van die spreker. Uit die aard van my werk was ek seker al op honderde politieke saamtrekke van allerlei aard en van elke denkbare party op elke denkbare plek in hierdie land, maar ek het nog nooit die steurende, vervreemdende en eintlik nogal ongeskikte gebruik as aanvaarbare tradisie in enige gemeenskap teengekom nie. Mens wonder waar kom die DA daaraan.
’n Verdere uitdaging vir DA-groei onder swart kiesers is dat die DA nie meer die enigste groot landwye alternatief tot die ANC is nie. Die EFF het sodanig gegroei dat die DA nie meer die noodwendige vangnet vir onvergenoegde swart stemme is nie.
Laastens is die DA as party van streng regering meer geneig om regstreeks met arm kiesers te bots wanneer hulle sukkel om vir dienste soos elektrisiteit te betaal. In hierdie verband is die DA ongetwyfeld reg en is dit die ANC wat, benewens wanbestuur, korrupsie en die ontplooiing van ondergekwalifiseerde kaders, ook deur slap dissipline grootliks verantwoordelik is vir die ineenstorting en bankrotskap van munisipaliteite weens die kultuur van wanbetaling. Dat streng bestuur die DA steun kos in arm gebiede, is ongetwyfeld waar, al is dit ’n prys wat enige behoorlike regering bereid moet wees om te betaal.
Vir die DA om sy arm swart steun te laat groei, moet die party dus voluit teenwoordig en meelewend wees, arm swart gemeenskapsleiers trek en behou wat werklik die party se waardes en beleid verteenwoordig en populêre steun geniet en toesien dat hulle die welstand van daardie arm gemeenskappe prioritiseer. Die party moet miskien ook aanvaar dat sommige kiesers wat onverantwoordelike en populistiese vermorsing van openbare bates voorstaan, eintlik nie vir die DA behoort te stem nie. Die DA sal ook op ’n gemaklike, outentieke en vriendelike manier in die taal en taalvariant van die kieser se voorkeur moet kommunikeer om so ’n persoon se stem te wen en te behou.
Moeilik, ja, maar niemand het gesê dit gaan maklik wees nie!
’n Ewe belangrike taak vir die DA is om uit te werk wat met die party fout is dat sowat 250 000 van sy wit Afrikaanse kiesers in 2019 vir die VF Plus gestem het. Dit is waar die party se agteruitgang gelê het, en sonder ’n presiese, eerlike plan om spesifiek daardie tipe wit Afrikaanse kiesers ter wille te wees, gaan die verlies aan steun en setels nie omgekeer word nie. As ’n mens kyk na hierdie kiesers se stellings in die formele media en op sosiale media het die oorskakeling van die DA na die VF Plus dikwels met ’n mate van aggressie en bitterheid jeens die DA gepaardgegaan.
Dit is eerstens belangrik om te besef dat die oorgrote meerderheid wit Afrikaanse kiesers steeds vir die DA stem en dat die DA moet oppas om nie in sy terugwen van die verlore kiesers die baba met die badwater uit te gooi nie. Die DA moet altyd die party van rasseversoening wees. Dit help nie die DA probeer die VF Plus word nie – nie dat mens dink daar is veel gevaar daarvan nie. Die VF Plus het ’n harde kern regse kiesers, en hulle hoort nie by die DA tuis nie. Die fokus moet vir die DA val op daardie kiesers wat tevore DA-kiesers was en die ideale van versoening en nie-rassigheid onderskryf, maar hulself, hul aspirasies en hul vrese nie in die aanloop tot die 2019-verkiesing weerspieël gesien het in die DA se gedrag en veldtog nie.
Ons gaan in die hoofstuk oor waar die VF Plus se stemme vandaan kom in besonderhede verwys na hoe die DA se gedrag sommige kiesers na die VF Plus gedryf het. Kortom was dit veral rondom ses kwessies: die Nick Mallett/Ashwin Willemse-voorval, die Patricia de Lille-sage, die Gautengse DA se hantering van Panyaza Lesufi, die Hoërskool Overvaal-gebeure, die omstredenheid op Schweizer-Reneke en die petalje om Multichoice, Steve Hofmeyr en die Ghoema-musiektoekennings.
Wat al hierdie kwessies gemeen het, is dat die DA dit so swak, oorhaastig en ondeurdag hanteer het dat dit sommige wit Afrikaanse DA-ondersteuners vervreem het. Boonop was die negatiewe uitvloeisels in al die gevalle onnodig en vermybaar. ’n Paar pro-aktiewe stappe kan tot groot verbeterings lei.
Eerstens is taal vir Afrikaanse mense belangrik, en spesifiek om in Afrikaans aangespreek te word. Dit het oudpres. Nelson Mandela goed besef toe hy gesê het as jy met Afrikaanse mense in Afrikaans praat, praat jy met hul harte. As die DA sy verlore Afrikaanse kiesers wil terugkry, sal dit die party loon om sy verklarings ook in Afrikaans uit te stuur, sy openbare verteenwoordigers belangrike Afrikaanse kultuurgeleenthede te laat bywoon, en spesifiek sy Afrikaanssprekende openbare verteenwoordigers (maar ook ander, en by name die partyleier) gereeld, behoorlik en samehangend te laat Afrikaans praat, in openbare optredes en op sosiale media. En ek bedoel nie ’n groetwoordjie of ’n weggooisinnetjie hier en daar nie. Ek bedoel die behoorlike bewoording van ’n deurdagte argument. Openbare verteenwoordigers van die DA wat gemaklik in Afrikaans skryf, kan byvoorbeeld tweetalig op sosiale media kommunikeer met hul nie-rassige vriendekringe van wie baie dalk nie Afrikaans verstaan nie. Een van die DA se nasionale woordvoerders moet ook spesifiek puik in Afrikaans kan praat, en ’n Afrikaanse moedertaalspreker wees. Dis nou as die DA daardie verlore Afrikaanse stemme wil terugwen en wil keer dat hulle meer sulke stemme afstaan in die toekoms. Soos Onze Jan Hofmeyr kan mens vra: Is Afrikaans die DA se erns?
Tweedens, en dit geld wyer as hierdie kwessie, sal die DA ’n aangenamer beeld moet kry, en die maklikste manier om dit te doen is om ’n aangenamer party te word – ’n groep wat gemoedelik optree teenoor mekaar en ander. Tans is die beeld van die DA die beeld van ’n spietkop. ’n Mens weet hulle pas die wet toe, hulle is nodig en hulle voorkom sterftes en beserings, maar jy is nooit bly om ’n spietkop te sien nie, en min mense wil ’n spietkop wees. Dit strek die DA tot eer dat hy die enigste politieke party is wat ANC-korrupsie effektief takel, en die party het baie ander positiewe aspekte, soos ons netnou sal sien. Maar iets van die spietkop-ingesteldheid teenoor die ANC het afgegee op sy algemene ingesteldheid en interne dinamika. Dit is onaantreklik om met ’n politieke party gekonfronteer te word wat die hele tyd baklei, veral met homself. Dit skep die indruk van ’n gebrek aan opvoeding, gebrekkige agtergrond en bowenal ’n tekort aan gravitas. Ordentlikheid kos niks nie en die aantreklikheid van goeie maniere kom natuurlik vir enigeen wat behoorlik grootgemaak is. Afrikaanse kiesers van alle rasse het die behoefte om tuis te voel in hul party, onder meer deur trots te wees op die gedrag van hul politieke party – iets wat ek dink minder van ’n behoefte is by wit Engelssprekendes. As die DA die tuiste van die oorgrote meerderheid Afrikaanse mense wil bly, moet daar in die party ’n waarneembare strewe na ordentlikheid wees. Dit geld ook die hantering van die ses Afrikanerkwessies wat spesifiek kiesers na die VF Plus laat stroom het: Die DA kan sterk en deurdagte (eerder as oorhaastige) leiding bied met rustige, kundige advies en versoenende oplossings wat die party van die ANC, EFF en VF Plus kan onderskei.
Die spietkop-ingesteldheid by sommiges in die DA het sy laagtepunt bereik met die Patricia de Lille-debakel. Nou kyk, soos die meeste van ons is Antie Pat – voormalige Wes-Kaapse DA-leier en burgemeester van Kaapstad – nie ’n engel nie; sy is ’n mens. Maar daar is baie mense in die DA asook ondersteuners van die party, en hulle is dikwels Afrikaanse mense, wat meen daar is te streng teen haar opgetree. Uiteindelik, nadat allerlei openbare beskuldigings vanuit die DA dat sy korrup was en haarself verryk het op niks uitgeloop