Skemeruur. Susanna M. Lingua
ion>
Skemeruur
Melodie
1
’n Neerdrukkende stilte hang in die huis sedert die drie en twintigjarige Lynne Steenberg die tyding ontvang het dat albei haar ouers tydens ’n sakebesoek in Kaapstad in ’n motorongeluk omgekom het.
Stella en Justin Steenberg is die vorige dag begrawe en vir Lynne, ’n nagraadse student in ’n wetenskaplike rigting en die enigste kind van haar ouers, voel dit nog steeds asof sy haar in ’n lugleegte bevind. Sy kan dit nog nie aanvaar dat sy haar ouers nooit weer sal sien nie. Hulle drie het so na aan mekaar gelewe, dit is net ondenkbaar dat sy hul stemme nooit weer sal hoor nie.
Dit voel vir Lynne asof sy nie meer ’n enkele traan het om te stort nie. Sy het twee uur gelede ontbyt genuttig, en waar sy nou deur die woonkamer se ruim venster na die kleurryke tuin staar, dink sy daaraan dat haar ouers se testament nog nie eens gelees is nie.
Die volgende oomblik sien sy hoe haar oom, Nico Steenberg, haar pa se enigste broer, se motor deur die groot hek ry en langs die huis stilhou. Hy is nie alleen nie. Sy vrou, Esther, en hul twee dogters, Janet en Marie, is by hom in die motor.
’n Oomblik lank wonder Lynne waarom die hele gesin hier is. Haar tante en Marie, wat saam met haar op die skoolbanke gesit het, was haar nog nooit juis goedgesind nie – nie dat sy weet waarom nie, want haar oom en die vyf en twintigjarige Janet was nog altyd baie vriendelik teenoor haar.
Lynne staan nog diep ingedagte voor die venster toe haar vier gaste die vertrek binnekom. Sy groet hulle afgetrokke, nooi hulle om te sit en neem self op die naaste stoel plaas.
“Het die prokureur jou al laat weet wanneer hy jou ouers se testament gaan lees, Lynne?” vra haar oom belangstellend.
Lynne skud haar kop en sê hartseer: “Ek het nog niks van meneer Yssel gehoor nie. Ek dink oom Nico moet hom bel en hoor of hy die testament hier in die huis of in sy kantoor wil lees.”
“Vra die prokureur sommer ook wie almal teenwoordig moet wees by die lees van die testament, Nico,” doen Esther aan die hand. Justin was skatryk en sy is daarvan oortuig dat haar twee dogters ook as erfgename in die testament benoem is, aangesien Nico en sy twee dogters die enigste bloedverwante is. Stella het lankal geen oorlewende familie meer gehad nie.
Nico keer na ’n rukkie terug na die woonkamer. Esther kyk hom vraend aan toe hy gaan sit.
“Meneer Yssel sal elfuur die testament kom lees,” stel Nico sy vrou in kennis. “Hy sê net ek en Lynne hoef teenwoordig te wees, aangesien ons die enigste erfgename is –”
“Jy bedoel . . . Marie en Janet is glad nie as erfgename benoem nie?” val Esther hom met ’n ergerlike frons in die rede.
“Jy het gehoor ek sê net ek en Lynne is as erfgename benoem, Esther,” herhaal Nico vererg. “Ek weet nie wat jou die gedagte gegee het dat my broer ons dogters in sy testament sou begunstig terwyl hulle self ’n dogter het vir wie hy voorsiening moes maak nie.”
Lynne wou net die woonkamer binnegaan toe haar tante hard en bitter uitroep: “Wat? Noem jy daardie . . . optelkind Justin en Stella se dogter? Ek dink dit is skandelik dat sy saam met jou moet erf, Nico. Jou broer se besittings kom jou en jou dogters toe, nie daardie vreemde optelkind wat hulle aangeneem en grootgemaak het nie.”
Janet en Marie is net so geskok soos Lynne, wat half in die deur bly staan toe sy Janet verontwaardig hoor sê: “Ma sal nog in die moeilikheid beland met sulke lasterlike aantygings. Ek weet Ma en Marie kon Lynne nog nooit verdra nie omdat sy op skool beter as Marie gepresteer het en omdat Carl Human – dié Carl Human – Lynne bo Marie verkies het en aan haar verloof is . . .”
“My aantygings was glad nie lasterlik nie,” bestraf Esther haar oudste spruit. “Jou oom en tante het Lynne aangeneem toe sy tien dae oud was. Haar regte ma was ’n ongehude meisie wat nie haar kind wou hê nie –”
“Wel, ek stem saam met Pappie,” val Janet haar ontstoke ma in die rede. “Elke mens het die reg om met sy geld en besittings te maak wat hy wil. Vir oom Justin en tant Stella was Lynne nie ’n aangenome kind nie; hulle het haar liefgehad soos ’n eie kind.”
“So, dan is Lynne glad nie eens ons niggie nie,” sê Marie snedig, maar ook met innerlike genoegdoening, want sy kan al raai wat die trotse en hooghartige Humans en hul ewe hooghartige vriende van hierdie nuwe verwikkelinge gaan sê.
Lynne is hartseer en diep geskok waar sy nog steeds onopgemerk half in die deur staan en alles hoor. Die wete dat sy ’n aangenome kind is, breek soos ’n verpletterende golf oor haar en laat haar wanhopig rondtas na vastigheid wat weer rigting aan haar denke kan gee. Maar al waaraan sy kan dink, is dat sy haar tante dadelik sal moet konfronteer as sy ooit die waarheid wil weet.
Marie is nog besig om haar in Lynne se diepste leed te verheug, toe sy haar pa bars hoor sê: “Genoeg! Ek wil nie weer ’n enkele verkleinerende woord van Lynne by een van julle hoor nie . . .”
Lynne se verskyning in die vertrek laat Nico meteens stilbly. Terwyl Marie en haar ma Lynne uitdagend aankyk, is Janet en haar pa se oë verontskuldigend en vol innerlike meegevoel. Hulle kan aan Lynne se gesig, aan die verdwaaldheid in haar mooi groen oë sien dat sy haar tante se neerhalende woorde gehoor het.
Lynne se gesig is wasbleek toe sy met ’n onvaste stem sê: “Is dit waar wat jy so pas gesê het, dat ek . . . dat ek nie my ouers se eie kind is nie, tannie Esther?”
“Moet jou nie aan jou tante steur nie, Lynne, kindjie,” gooi Nico dadelik wal, maar Esther is vasbeslote dat Lynne die waarheid moet weet.
“Natuurlik is dit waar,” sê sy snedig. “Stella en Justin kon nooit ’n eie kind gehad het nie. Jy was tien dae oud toe hulle jou aangeneem het.”
Lynne vra gespanne: “Weet jy wie my regte ouers is, tannie Esther?”
“Dit is nou genoeg, Esther. Jy het reeds te veel gesê,” lê Nico sy vrou verontwaardig die swye op.
Maar Esther laat haar nie keer nie en sê openlik aggressief en uitdagend: “In daardie geval kan sy maar ewe goed weet wie en wat haar ma is . . .”
Nico swyg etlike sekondes en sê dan met meegevoel: “Ek vrees ons ken jou ouers glad nie, Lynne. Al wat ons weet, is dat jou ma ’n ongehude meisie was en aan die vermaaklikheidswêreld verbonde is. Ek weet nie of sy ’n sangeres, ’n danseres of aktrise is nie, maar dit is iets in daardie rigting.”
“Het my aanneemouers my eie ouers geken, oom Nico?” Hartseer en verslaenheid spreek uit elke gebaar van Lynne. Dit ruk aan Nico se hart, want hy ken haar as ’n vriendelike en besadigde meisie, buitengewoon intelligent en ’n ywerige en toegewyde student. Inderdaad ’n dogter om op trots te wees!
Nico klink self neerslagtig toe hy sê: “Nee, ek glo nie hulle het jou ouers geken nie, Lynne. Ek weet hulle het jou ma een keer gesien toe sy die hospitaal verlaat het waar jy gebore is, maar sy het hulle nie ontmoet nie. Jy sien, jou aanneemouers het jou by die hospitaal gaan haal waar jy gebore is.”
“Dan weet jy in watter hospitaal ek gebore is, oom Nico?” Sy kyk hom met soveel hoop en afwagting aan dat Nico wens hy kon haar op elke vraag ’n positiewe antwoord gee wat al die raaisels oor haar herkoms vir haar sal opklaar. Maar hy weet in dié verband eintlik baie min.
“O, ja, ons weet waar jy gebore is, Lynne,” verseker Nico haar. “Jy is in die hospitaal op Katbos gebore. Katbos is ’n afgeleë dorpie in Wes-Kaapland wat nie juis deur vreemdes besoek word nie –”
“Wel, aangesien ek en my dogters nie by die lees van die testament teenwoordig hoef te wees nie,” val Esther haar wederhelf in die rede, “sal ons solank ’n paar inkopies gaan doen. Ek hoop jy gee nie om dat ons sommer van die stad af huis toe gaan nie, Nico. Ek is seker Janet sal jou motor vir jou terugbesorg.”
“Ek hoop jou . . . onbekende herkoms maak geen verskil aan jou en Carl se verlowing nie, Lynne,” laat Nico hoor nadat Esther-hulle vertrek het. “Dit sal natuurlik wensdenkery wees om te