Die heelal op my tong. Anoeschka von Meck
sodat ek uiteindelik meer as die swaarste rugbyvoorspeler weeg? Mens word tog nie net een oggend wakker en dan is jy so groot soos drie mense in een nie?
So sê almal.
As woorde soos sambokhoue op ’n lyf gewys het, sou dit lyk of ek lank op ’n rooster gelê het. Dit is hoekom dit makliker is om aan my lewe as een lang strokiesprent te dink.
Dis die eerste stuk wat ek dié keer op Amerikaanse grond skryf in die pienk notaboekie wat ek jare tevore by ’n marksmous iewers in Suid-Amerika gekoop het. Ek, wat die geklets oor ’n radio onuithoudbaar vind en nooit eens ’n televisie besit het nie, het ’n versameling musiek vir my rit aanmekaargesit. Dié reis het ’n klankbaan nodig. “Mustang Sally” speel kliphard.
Vandag is ek sý.
Parow haal mens soms op die onwaarskynlikste plekke in.
Dit is my tweede aantekening. Veral oorsee herinner my grappies my daaraan dat ek van ’n nasie kom wat eens bekend was vir hul hartlikheid en kapasiteit vir kuier en lág.
“Ons sal weer opstaan,” sê ek hardop.
Vir ’n oomblik oorweeg ek om iets te skryf oor seks in die koshuis van een van die vernaamste meisieskole in die Paarl. Nee, dis nie die regte tyd vir my amperse kopulasie met ’n leerkrag op ’n koshuisbedjie waarvan die matras soos ’n toebroodjie om ons gevou het nie. Ook nie vir die impak daarvan op my knit-one-slip-one-skoolloopbaan nie. Meneer het ’n tatoeëermerk op sy skouer gehad lank voor lyf-ink gewild geraak het.
Destyds was ek nog onnosel en diep, diep goedgelowig.
My pienk notaboekie is altyd by my. Soms gaan maande verby wat ek nie daarin blaai nie en dan op ’n goeie dag lees ek dit deur. Sekere dele laat my hart vinniger klop.
Soos daai een skemeraand in 2016 by Lekkersing.
Ander skryfwerk word in ’n trommel op my ma-hulle se solder gestoor. Klaswerkboeke, met die gekrabbel van ’n leeftyd, die ene sielswroeging oor wat op aarde mens doen terwyl jy op Aarde wag om deel van die lewe te word.
Die blote feit dat ek die boekie by my het, oortuig my dat ek werklik bestaan. Ek kan dit oopmaak en plekke onthou waar ek was en mense wat my pad gekruis het. Boonop is dit met die helder kleure van die mense van die Andes oorgetrek, nes my gehawende poncho met die pienk, turkoois en oranje strepe. Die kledingstuk met sy stukke gesmelte materiaal van toe ek te naby aan ’n vuurtjie gesit en bibber het, met onuitwisbare kolle van opgekrul slaap op die vloer van ’n openbare toilet in een of ander bedenklike land.
In Suid-Amerika het ek my notaboekie en ’n verlepte eksemplaar van Tintin in ’n waterdigte zipsak oral met my saamgedra.
Op ’n manier anker skryf my. Asof ek nie net aan haarslierte tussen kranse en ’n hemelse poort sweef nie, soos my suster graag sê. Die notaboekie laat my voel soos ’n mistieke reisiger wat eendag ’n skrywer gaan word. Van daardie items wat jy besit omdat dit jou aan die persoon herinner wat jy regtig graag wil wees.
Ek sukkel wel om op die klein bladsytjies te skryf. Niks van my is meer klein nie. Nie my handskrif en ook nie die rondomskrik van my lyf nie. Inderwaarheid is die notaboekie die grootmensweergawe van ’n geheime lys vloekwoorde wat ek as kind versamel het. Voorlopig teken ek dus met gewyde erns net bogenoemde lewensfeite in my bont boekie aan. In elk geval is hier nog net ’n paar skoon bladsytjies. En hoe kleiner ek probeer skryf, hoe morsiger my aantekeninge. Dit irriteer my, want enige wanorde stem my onrustig.
Buite leun ek teen die enjinkap van ’n 1975-Ford Highboy, ’n bielie van ’n trokbakkie wat ek in Las Vegas gehuur het. ’n Spontane tweede keuse, want die Mustang was toe net te ekstreem: ’n blinkswart spoegperd met rooi-oranje vlamme oor sy snoet. Ja, soms het mens iets met houding nodig, maar die hoë bakkie is ook g’n pushover nie. Dis belangrik om die regte voertuig vir elke reis te hê. Sal ek dít nou nie weet nie.
Wide Bertha is donkerblou met ’n silwer streep oor haar ruim heupe. Ek sal moet leer hoe om haar te parkeer, want sy pas ook nie oral in nie. By Area 51 het ek gas gegee net voor ek by die hekke gekom het sodat ek haar tamaai voorwiele met ’n stertswaai skuins kon pluk.
Vir effek.
Partykeert moet jy net op verbode terrein afjaag en stof opskop. Die ingang na Area 51 is immers onder streng bewaking. En dis die hele punt. Ek kan tog nie met ’n gepoer-poer stelling inneem nie.
In Bertha gaan ek aansienlik stadiger ry, maar dis nie ’n reis wat afgejaag kan word nie. Van Las Vegas tot in Sedona is net onder sewehonderd kilometer, maar ek gee nie om as Bertha my vertraag nie. Ek wil ry asof ek saam met Pa by ou plekke aandoen. Ons sal kyk, eet, drink en herinneringe deel.
Met die gerem het my notaboekie op die vloer beland. Dit het by ’n gesprek oopgeval waarvan ek net die laaste woorde neergeskryf het, maar elke keer dat ek dit weer lees, laat dit my voel asof dit pas gefluister is.
Ek was in die klipkoppies van Lekkersing om opnames te maak van die eiesoortige Afrikaans van die kontrei. Met my driepoot as kierie het ek teen ’n massiewe, geronde klipplaat opgeklouter. Toe ek tot stilstand kon kom sonder om my balans te verloor en tot onder in die dorp terug te rol, het ek my skoene uitgetrek. Ek gedra my dikwels soos iemand wat fiks en maer is. Slender Wonder.
Hoe lank ek daar gesit het, kan ek nie meer onthou nie, maar ek was kapoet van die inspanning en skrikkerig vir die afgaanslag, stellig op my sitvlak.
Net voor die skadu’s heel lank rek, gewaar ek onder in die veld ’n beweging. ’n Veewagter met sy klein kudde. Hulle loop in die rigting van die krale aan die buitekant van die dorp.
Met hierdie man wil ek gesels! ’n Laaste toevoeging tot my storie oor Lekkersing. Al is die lig reeds te swak vir foto’s, kan ek reël om hom die volgende oggend gou af te neem.
Die man het wit tekkies aan. In die naderende skemer help dit my om hom nie uit die oog te verloor nie. Kort-kort raak die twee bewegende wit kolle weg en kom ’n rukkie later weer te voorskyn.
Die veewagter gaan staan toe ek my arms soos reënveërs swaai. Hy fluit en sy skape rem ook en klomp saam.
Ek’s so uitasem, ek kry skaars geglimlag.
Die man het ’n skerp neus, blink, donker oë en ’n vel met ’n hier-en-daar-baard. Hy is langer as wat hy van ver af gelyk het en staan my rustig en inwag.
“Naand, Meneer! Askuus dat ek so vir jou waai en skree, maar jy stap so vinnig, ek was bang ek haal jou nie betyds in nie.”
Die uitdrukking in die man se oë laat my woorde na my toe terugkaats. Stil geskok staar ek hom openlik aan, maar kan hom nie peil nie.
Sy vingers is lank en sterk, het ek opgemerk toe ons gegroet en ek my bekendgestel het. Hy ruik na stof en veld en vuurtjie. “Stap saam, Willemien?” begin die wit tekkies weer ’n paadjie deur die bosklossies baan.
’n Salige, onverklaarbare bedeesdheid oorval my. Ek voel so vredig, ek wil niks sê nie. Ek dink niks. Ek vra niks.
Stilte.
Ek moet keer om my hand kinderlik in syne te sit.
Daar is iets baie eienaardigs omtrent dié mens. Ek bly kyk na sy gesig. Dis oneindig gerusstellend. Soos wanneer jy skielik onthou om tot in jou longkaste behoorlik asem te haal nadat jy lankal suurstofnood gehad het.
Ek’s nie onbekend met veewagters nie, maar hierdie man is anders. Hy’t niks van my nodig nie.
Is dit een van húlle?
Nouliks glo ek wat ek ervaar. Ons loop asof ons nog altyd saamstap. Ek is bewus daarvan dat hy nie sy naam gesê het toe ons gegroet het nie. As joernalis weet ek dat ek geen aanhalings van iemand mag publiseer van wie ek nie die volle naam weet nie.
Tog swyg ek.
Ongekende tevredenheid snoer my lippe. Môre sal ek in die daglig al sy besonderhede afskryf soos dit hoort.
Voorlopig net veldstilte om ons. Bossies wat kraak en klippertjies