Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe

Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe


Скачать книгу

       “Komaan, sustertjies, nou julle beurt!”

      “Die uitdaging vir vroue in die joernalistiek is nie om elke soort koerantwerk net so goed soos mans te doen nie. Sy moet nou, met daardie ekstra chromosoom, ook ’n ekstra dimensie aan joernalistiek gee sodat ons professie verbreed kan word.”

      – Rykie van Reenen, 1979

      Hierdie publikasie word opgedra

       aan die onvergelyklike Rykie van Reenen.

       Mag sy onvergelyklik inspireer.

      Bedankings

      DANKIE AAN DIE voorsitter van Naspers, Ton Vosloo, vir durende ondersteuning, finansieel en moreel, wat hierdie navorsing moontlik gemaak het.

      Dankie aan elke bron, naby en ver, familie, vriende en kollegas van Rykie van Reenen, ín hierdie lewe en sedertdien nie meer nie, in wie se insig en kennis ek kon delf. Dankie aan almal wie se kosbare tyd ek kon gebruik en wat hul Rykie gedeel het. Dankie veral aan Van Reenen se tydgenote en kollegas wat hul insigte aan ’n joernalis van ’n jonger generasie toevertrou het. Tegelykertyd ook ’n apologie aan waardevolle bronne by wie nie aangedoen kon word op hierdie Rykie-reis nie.

      Geen navorsing kan op volledigheid aanspraak maak nie, en juis die enigmatiese onderwerp van hierdie studie sal nimmer volledig gedek kan wees. Daarmee saam die verootmoediging: De helft werd je niet verteld.

      Dankie aan die Universiteit van Stellenbosch (US) vir die navorsingsgeleentheid, asook die personeel in die J.S. Gericke-biblioteek: Marleen van Wyk, wat immer geduldig help soek het; en die hulpvaardige personeel in die Dokumentesentrum.

      Dankie aan Annatjie Louw, “peet” van Van Reenen, vir ’n onontbeerlike oor en oog in die finale persklaarmaak van hierdie studie.

      Dankie aan my huis, my geliefde eggenoot en ons geliefde kinders, my inspirasie.

      ‘Wat gebeur met jou werk as jy nie meer daar is nie?’ 1

      Voorwoord

      I

      DIE JOERNALIS RYKIE van Reenen, wat drie dae voor haar tagtigste verjaardag in Desember 2003 ná komplikasies weens veelvuldige sklerose (VS) gesterf het, het volgens aller getuienis ’n “afsku” van persoonlike eerbetoon gehad. Sy was ’n intens – pynlik so – private mens. Die joviale, lewensblye ekstrovert-persoonlikheid het ’n introvert-kern beskut, een wat teen die buitewêreld beskerm moes word.

      Hoe oortree ’n poging tot die boekstawing van ’n lewe en ’n loopbaan uitgesproke en onuitgesproke sentimente oor privaatheid? Hoe kan jy vermy om iemand te “vereer” deur ’n waardering oor lewe en loopbaan te skryf, al is die bedoeling nie “verering” nie, maar boekstawing? Hoe kan jy iemand wat só privaat is, se lewe openbaar maak, as ’t ware in die openbare domein “uitstal”, al is dit nie die bedoeling nie?

      Waar begin en eindig heilige grond?

      Hierdie vrae kan vermenigvuldig. En, as dit reeds moeilik is om die joernalis agter die persoonlikheid te peil, hoeveel moeiliker om die persoon self in woorde te kan verreken? Soos ’n tydgenoot van Van Reenen dit gestel het: so onmoontlik soos “to catch a moonbeam in your hands”, na aanleiding van die Sound of Music-liedjie.

      Só onmoontlik.

      Enigma is die woord wat by ’n mens opkom. Enigmaties, daardie eienskap en woord wat so dikwels verkeerd gebruik word. Die ekstrovert met die introvert-alter ego; ’n private lewe wat aan eensaamheid gegrens het; ’n persoonlikheid onpeilbaar, onvatbaar – soos om ’n maanstraal te probeer vang.

      Daarmee saam: Wat doen jy as jy weet in jou rekenaar-posbus is ’n e-pos van Maart 2003, van Rykie van Reenen, nege maande voor haar dood op 28 Desember daardie jaar. ’n E-pos wat amper soos ’n afsêbrief gekoester word. Die versoek tot inligting en samewerking vir hierdie projek word met ’n wedervraag geneutraliseer: “’n Asseblief so groot soos joune: los die ding, toe?”

      Hoe mag ’n mens iemand se wense, iemand wat dit nou nie meer kan teëgaan nie, verontagsaam? Hoe kan ’n mens dit regverdig om oor Rykie van Reenen te skryf terwyl jy weet hoe sy daaroor gevoel het? Almal wat haar geken het, weet immers van haar ongemak om die middelpunt van belangstelling te wees – laat staan “vereer” te word.

      Letterkundige en skrywer Hennie Aucamp skryf dat sy “wars van openbare vertoon en erkenning” was.2 Die rubriekskrywer Martie Retief Meiring stel dit só: “Rykie het ’n sterk afsku gehad van persoonlike eer.”3

      Van Reenen self beskou dit as “grillerig”, soos sy skryf in 1985 in die “Voorwoordjie” by ’n huldigingsboek oor Piet Cillié: Hoe swaar dit is om iemand in “sy lewende gesig” te prys. “Ek onthou ’n aand op Stellenbosch toe hy my, en dit deur sy eie toedoen, in die openbaar moes prys. Dit was vir die een, sweer ek, so grillerig soos vir die ander. Dis nou eenmaal nie die ou Naspers se manier van doen nie.”4

      Kan ’n mens hierdie boekstawing van haar lewe en loopbaan dan regverdig met die argument dat daar ’n oproep ná haar dood was dat iets saamgestel moet word om die nagedagtenis aan ’n unieke mens en joernalis in woorde te kan vaslê? Dat iemand soos ’n Aucamp in ’n koerant se brieweblad geskryf het die joernalistiek skuld Rykie ’n bundel?5

      Reeds in 1986 is gevra dat ’n bundel saamgestel word van Van Reenen se ernstiger werk. In sy motivering vir die eredoktorsgraad skryf Johannes Grosskopf, tydgenoot en toe hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Joernalistiekdepartement: “Die bundel Op die Randakker toon haar nie op haar sterkste nie, want die rubriek het haar nie ruimte gegun om ’n inval of insig tot aan sy uiterste grense te voer nie. ’n Bundel met langer essays is wenslik.”6

      In ’n huldeblyk bedoel vir Van Reenen se tagtigste verjaardag, het Grosskopf sy “hulde” gemotiveer: “As ek dus reguit met Rykie mag praat: ’n Mens kry so selde kans om sonder enige versweë voorbehoud ongeveinsde lof aan ’n goeie mens en ’n manjifieke vakman te bring – gun ons tog dié plesier!”7

      Hoe maak ’n mens dan – as verantwoordelike joernalis wat maar te bewus is van die intens private, en ook as gewone medemens – om te kan skryf, mág skryf, oor die joernalis en mens Rykie van der Byl van Reenen?

      Kan ’n mens sê dat die algemeen aanvaarde “legendariese status”8 van ’n baanbrekende vroulike joernalis dit regverdig dat die onderwerp van bespreking se eie wense misken word?

      Kan ’n mens sê dat haar tydgenote se verering in hul huldeblyke dit regverdig dat ’n joernalis van ’n later geslag hul kollega se lewe en loopbaan probeer verreken?

      En tereg, met al die vrae wat nou al gevra is: Hoekom moet ’n argument so ver gehaal word om hierdie boekstawing te regverdig?

      En is al hierdie vraagtekens nie al amper ’n parodie op daardie Van Reenen-handelsmerk om so dikwels ’n stuk met ’n vraagteken af te sluit nie? Met die aanmaning in die subteks: dink, deksels, man, dínk.

      Om voort te gaan met ’n vraagteken: Gaan dit nie gewoon om die boekstawing van ’n eenmalig legendariese lewe en loopbaan nie? Een waarin ’n vroulike joernalis, in ’n tyd toe vroulike joernaliste nie ernstig opgeneem is nie, ’n jong taal gevat het, en oor ’n paar dekades die wel en wee van ’n jong land in woorde neergepen het en ’n enorme invloedsfeer daardeur opgebou het?

      Die vraag is ook: Hoekom moet diegene wat “history in a hurry” pleeg, self onthou word?

      In The World of Nat Nakasa, ’n huldiging vir dié briljante maar te vroeg gestorwe joernalis, vra Nakasa self die vraag: Wat gebeur met jou werk as jy nie meer daar is nie?

      Die samesteller van die Nakasa-bundel, Essop Patel, skryf: “This collection was prompted by a brief meeting with the late Nat Nakasa in London. On a crisp morning over cups of coffee, he asked, ‘What happens to the writings of a man when he is dead and gone?’ In response to that question, I have compiled this book which reflects the world of Nat Nakasa.”9

      Daarom ook, om die woorde van Patel te gebruik: hierdie


Скачать книгу