Bitter heuning. Hermione Suttner

Bitter heuning - Hermione Suttner


Скачать книгу
ma het nooit moeg geword om my van daardie aande om die klavier te vertel nie. Ouma het haar ook leer klavier speel – meesal psalms en gesange en Engelse liedere, waarvan ouma Sannie baie geken het.

      Ek het al baie daaraan gedink hoe treurig dit is dat einste die klavier die finale breekspul tussen my ouers en die familie op Oufontein veroorsaak het. Want sien, waar my ma uit die see gekom het, het Jakob Brandt, my pa, uit die aarde gekom. Hy het die krag van ’n bul gehad, en die geile vrugbaarheid van ’n plaaswerf was in hom. En wat Jakob Brandt wou hê, moes hy kry.

      Hy was die tweede seun van ’n Sandveldboer van die plaas De Heuwel aan die Bergrivier, verder weg van die see af. Die plaashuis van klip was ruim, met ’n stoep na die oostekant en ’n swaar houtvoordeur.

      Aangrensend aan hierdie plaas en Misverstand, die volgende plaas, was ’n vlei wat deur ’n syloop van die rivier gevoed is. In die winter het die vlei wyd uitgeswel, en ons moes heeltemal omloop; in die lang, droë Sandveldsomers was die vlei bedek met ’n glinsterende kors growwe sout wat jaar ná jaar opgebou het.

      Boere sou wel in die rivier visvang, maar hulle was nie lief om in die see te vang nie. Vader het net vir die tafel visgevang; hy het hom bo die gewone vissersmense gereken. Boere het ook nie vis getrek in die see nie – dit was die duidelike onderskeid tussen boere en vissermanne. Die boere het wel met die vissermanne te doen gekry by die riviermonding of as die vis die slag kwaai loop en almal vang, of by die kerk, maar die vissershuise besoek, dít het hulle nie. En hulle het ook selde met die dogters van vissermanne getrou.

      Ten spyte van Jakob Brandt se vooroordele teenoor vissersmense was hy aangetrokke tot Elna Pedersen, my ma se halfsuster. Hy het Elna party Sondae in die kerk op Velddrif gesien. Daar was min meisies in die Sandveld om uit te kies, en Elna was blond en sterk gebou soos die Deen. Boonop had sy haar pa se helderblou oë. Jakob het as ’t ware voorbrand begin maak deur langs Elna in die kerk te gaan sit.

      Die ding was so: hoewel hy op die vissersmense neergesien het, was Jakob Brandt heimlik afgunstig op hul skynbaar gemaklike manier van lewe. Aan die einde van elke jaar het hulle met al die geldjies tot hul beskikking op die strand gekampeer. As die nette klaar gebloed was – iets wat elke jaar gedoen moes word om die katoennette te kleur en te versterk, en soms meer kere as hulle nette verloor het of as groot lappe aan stukkende nette moes bykom – het hulle feesgevier op die strand.

      Jakob Brandt het presies geweet wanneer die nette gebloed word. Eers het hy van ver af die geratel gehoor van die waens wat van die slagpale af kom met die dromme vol bloed. Daarna het hy self die swaar vragte getrek deur muile sien aankom pont toe, want hy was ’n ruk lank pontwagter. Bowendien het die swaar bloedreuk dae lank in die lug gehang en elke boer langs die rivier het daarvan gewalg.

      Strandtyd was vir die vissersmense ’n ontvlugting uit die stank van verrotte bloed. ’n Verlossing om hul skuite los te maak, die rieme op te vat en oor te roei na ’n eiland in die rivier om daar wyn te drink op die sand en vis oor die kole te braai. Vader het hulle vure sien brand en die laggende stemme gehoor en sekerlik in sy binneste gewens dat hy deel kon wees van die vrolike klomp. Dit sal nie so sleg wees om deel te wees van so ’n gemeenskap nie, moet hy seker gedink het. Op die plaas het dinge al hoe slegter gegaan met hom; in die kring van sy eie familie was hy diep ongelukkig. Swartskaap van die Brandts, so het hy homself gesien.

      Hy was reeds drie en twintig en hy het dit moeilik gevind om ’n jong meisie uit die boeregemeenskap te bevriend. As hy op Misverstand, die buurplaas, gaan kuier het, met die hoop dat een van die twee susters, Hettie en Bessie van Tonder, saam met hom sou gaan perdry of gaan stap, het hy telkens ’n bloutjie geloop. Maar ’n vissersfamilie – húlle sou reken hy is van ’n beter klas, die seun van ’n boer wat sy eie plaas besit! Met so ’n meisie behoort hy te trou.

      Toe Vader die eerste keer besluit om vir Elna Pedersen te gaan kuier, was hy verlig om eindelik die ry huisies by Oufontein te bereik. Dit was ’n lang stap van De Heuwel af, en ’n nog langer wag by die pont om die rivier oor te steek, met oorgenoeg tyd om die saak te oordink. Die Pedersen-meisies is nie sommerso nie, het hy homself gemaan: hulle is van goeie stoffasie, en taai. Hy het hulle sien werk saam met die Deen in wind en weer, in kort moue, die rokke bo die knieë opgetrek soos hulle klei trap om die verkrummelende mure van hul huis mee te repareer.

      Dit was somertyd en die skulpgruis op die werf van die Pedersens het dik gelê. Vader, wat daardie dag voetgoed aangehad het, was bly dat daar musiek en ’n singery in die huis was. Dié het die knarsgeluide van sy voetstappe verdof, sodat hy nie aangekondig is nog voor hy kon praat nie. Hy was vasbeslote om daardie dag om Elna Pedersen se hand te vra.

      Ouma Sannie was aan ’t klavier speel, maar toe Vader inkom, het sy die deksel toegemaak en gesê sy gaan koffie maak. Oupa Knud het met Vader begin gesels oor visvang en toe oor die weer.

      Waaroor anders? moet Vader seker gedink het. Boere praat oor hul lusernoes en bereken hoeveel diere hulle hoe lank daarmee aan die lewe sal kan hou. Hulle hou die rivier dop en werk uit hoeveel grond hulle daarmee sal kan natlei. Hulle bekyk hul boontjieoes en raai hoeveel sak daaruit sal kom. Maar die vissermanne – as die vangs goed is, is dit ’n verrassing en ’n bonus; as die vangs sleg is, is dit maar net wat hulle buitendien verwag het.

      Oupa Knud het sy toestemming gegee vir die huwelik tussen die sestien jaar oue Elna en die onkantige Jakob Brandt.

      Oupa het glo sommer eietyd begin om goeie timmerhout bymekaar te soek om ’n katel te maak – sy oudste dogter se huweliksbed. “Die bed is heilig,” het hy gesê. “Dis die begin van ’n huwelik en dis die begin van die lewe, want babas word daarin gebore. Dis die hart van die huis. So sê hulle waar ek vandaan kom.”

      Bavaria het vir Elna help trousseau maak. Die hele Oufonteingemeenskap se vrouens het oorskietlappies van rokke en ander lapgoed gebring, en honderde klein driehoeke is daaruit geknip. Tant Lettie, hulle buurvrou, het ’n lappie rooi taffeta aangedra. “Rooi is vir liefde en vir warmte, my kind, en vir die vuur in jou bloed. Werk dit daar in die middel van jou lappieskombers vas.”

      Bavaria het die klaar lappieskombers mooi platgepres, lappie vir lappie. Sy was maar altyd soos ’n ma vir Elna, al was sy net vyf jaar ouer as haar halfsuster, want hulle ma had selde rus of duurte so besig soos sy met die jonger kinders was.

      Die ou stoorkamer langsaan die woonhuis sou Elna en Jakob se tuiste word. Toe Knud agterkom dat Jakob eerder op Oufontein wil bly as op De Heuwel, het hy na die stuk oop grond agter die huis gewys en gesê niemand sal omgee as Jakob daar wou boer en pampoen en patat plant nie. In die veld kon hy ’n paar bokke aanhou. Dat hy nie regtig welkom was by sy eie familie op hulle plaas nie, het die nuwe skoonseun vir homself gehou en sy aanstaande skoonpa se aanbod aanvaar.

      Die huweliksbed het omtrent die hele klein stoorkamer vol gestaan. Die raamwerk was van stewige hout, met ’n mat van gevlegte leerrieme. Aan die vier hoeke het die bedstyle uitgesteek sodat die katel maklik rondgedra kon word – asof Knud Pedersen ’n voorgevoel had oor wat sou kom.

      Op die riempiesmat was ’n growwe matras gestop met wildehawer, en bo-op het ouma Sannie ’n bulsak gesit – die geskenk wat sy vir elke kind sou maak wanneer hulle trou. Sy het dit met sagte wildegansvere gestop wat die gesin al langs die vlei bymekaargemaak het. Hier en daar tussen die wit vere was daar ook ’n rooi flaminkveertjie.

      Toe Bavaria die lappieskombers oor die bed gooi, het haar oë op die rooi lappie reg in die middel bly vassteek. Tant Lettie se woorde het by haar opgekom. Sou Elna enige vuur in Jakob se vryery bespeur het? het sy gewonder. Die opsitkers wat haar ma op die klavier in die voorkamer aangesteek het om Jakob se kuiertyd af te meet, het nooit eens tot in die blaker weggebrand nie. Daar was geen lig in Elna se oë nie, en dit het Bavaria bekommer. Vir haar jong sustertjie wou sy meer gehad het, ’n soetheid waaroor sy self, wat dourie jare al amper as oujongnooi beskou is, net kon droom.

      Dit was ’n klein troue in die kerkie op Totheuwel waarheen die vissersmense gewoonlik gegaan het. Net die Brandt-familie was daar, en natuurlik die Pedersens. Die skirt van Elna se wit rok, handgemaak deur Bavaria, het in die wind gelig en om die bruid gewarrel asof dit ’n bietjie lewe aan die dag wou gee. Elna het met neergeslane oë die seremonie aangehoor, en Bavaria het gewonder of haar suster


Скачать книгу