Oepse Daisy. C. Johan Bakkes

Oepse Daisy - C. Johan Bakkes


Скачать книгу
soos gister. Arina de Witt se uitvoering van die Staccatos se “Cry to me” en Sinéad O’Connor se “Emma’s song” maak my en boesemvriend Kalie se rit tussen Kongola en Katima weer werklikheid. So het Ansa van Rensburg in my matriekjaar vir my, die verliefde, klassieke musiek help “verstaan”. Of is dit “waardeer”?

      Maar uiteindelik was dit “volksmusiek” – die musiek van die volk – wat my die meeste geroer het. Miskien omdat ek iets raak geluister het wat eg was, maar ook iets wat ek nie verstaan het nie. Iets wat ek egter wóú verstaan: “Hansie slim, berg wil klim, gaan die wye wêreld in.”

      Daai bank, my pa se draaitafel en die plate wat hy van vreemde plekke af saamgebring het, het die reislus wakker gemaak. Melina Mercouri se “Ta pedia tou pirea” (“Never on a Sunday”) na Griekeland. Die Clancy Brothers se “Seven drunken nights” na Ierland. Die Don Kosakkekoor se “Wolga-bootlied” na Rusland. En ek wou die wye wêreld gaan sien …

      Die nat winterkou van die Paarl druk my binnetoe. Ek weet as die reënslierte sou ophou, behoort ek sneeu op die Hawequas se Witteberg sien. Dis nou al drie weke lank aanmekaar so. Die Bolandse klamkoue is al in my skarniere in. In my stilligheid wens ek ek was nou op ’n ander plek – genoeg is genoeg. In my kroeg se kaggel pak ek vuur en gooi dan ’n bolglas vol merlot. Ek stap na my CD-versameling en my hand val op Monique Seka van die Ivoorkus.

      Die musiek vul die vertrek én my gedagtes. Ek onthou die musiekman van Bamako …

      Ek en Ferdi sit sweterig onder ’n dakwaaier wat moedig die bedompige lug probeer omroer. Die Phoenicia, ’n Libanese restaurant in Mali se hoofstad, Bamako, is sindelik vergeleke met ons ondervinding van eetplekke tot nou. Ons probeer herstel van ons reis vanaf Timboektoe tot hier. Die Flag-bier is darem koud.

      Deur die venster sien ek hom in die straat aangeskuifel kom. Letterlik aangeskuifel, want die mannetjie – ek skat hom so 18 jaar – is erg gebreklik. Hy loop so ruk-strek-ruk. Sy klere is vodde en hy’t so ’n seilrugsakkie op die rug. Maar opvallend is die stelletjie oorfone op die kop.

      Sy oog vang myne en hy pyl voordeur toe. Hy’t skaars aan die restaurant se deur gevat toe verjaag die Libanese bestuur hom. Verwese gaan sit hy op die sypaadjie. Uit sy rugsakkie haal hy ’n draagbare CD-spelertjie en ruil CD’s om. En voor my oë word hy heel. Dis asof die, vir my, onhoorbare musiek ’n sekere grasie gee aan die luisteraar wat hier op ’n modderige sypaadjie ritmies sit en wieg.

      In die snikheet gaan sit ek langs hom. Daai dag maak Amadou Coubaly Wes-Afrika se musiekskatkis vir my oop. Ons luister na Monique Seka se Adéba. En Ali Farka Toure se Talking Timbuktu verduidelik Mali aan my. So ook Salif Keita. Angelique Kidjo uit Benin en Ismaël Lo uit Senegal.

      Terug in die Paarl ruil ek CD-skywe om. Alpha Bondy reggae sy “Pappa Bakoye” in Wolof, die taal van die Sahel, en ek onthou …

      Ek en Christof Heyns stap deur die stofstrate van Ouagadougou. Die Sahara is besig om die hoofstad van Burkina Faso stuk-stuk op te slurp. Met die uitkap van bome vir brandstof en energie het die mens toegelaat dat die woestynsand treetjie vir treetjie hulle stad terugeis. Na niks.

      Ek en Christof, twee “hooggeleerde” professore uit Suid-Afrika, is by ’n konferensie wat deur die Instituut van Afrika-universiteite aangebied word. Dis logies dat die enigste twee Suid-Afrikaners, wat wil wegbreek van ’n Frans-Afrika akademiese getjommel, saam die doolhofstrate van ’n (vir ons) totaal vreemde stad sal vat. Skielik sien ons iets groen in die dorre woestynstad – ’n park! En jou wragtag, die klanke van Wes-Afrika-reggae. “Jy weet, my grootste droom en lekkerkry sou wees om eendag met ’n elektriese kitaar op ’n verhoog mense te kan vermaak,” sê die hooggeleerde uit Pretoria.

      Het ek hom vlak gekyk? wonder die hooggeleerde uit Wes-Kaapland.

      Ons koop ’n koue by ’n stalletjie en stap die park in. Dis ’n wye stuk groen. Pretoria se Fonteinedal word in herinnering geroep. Oral is mense besig om hulself besig te hou. Daar is braais met kebabs wat sissend deur kole vertroetel word. Kinders wat lustig met ’n sokkerbal speel. Die Afrika-nasiebeker is om die draai en Bafana Bafana slyp sy tanne. Maar opvallend, om elke hoek en draai is daar ’n orkessie wat elektronies luid sy eie verlang uitbasuin. Bob Marley se “No woman no cry” laat ons vassteek. Ons ken die liedjie en verstaan die versugting.

      Die hoofsanger is getooi in ’n rasta-kepsie met moddermeul-lokke. “You are from where?” vra hy sonder om ’n noot te mis en beduie na die enigste twee wittes in Ouagadougou se groot groen park.

      “South Africa. Bafana Bafana,” sê ons ingeval hulle nie verstaan nie.

      “Come sing us a song from your country,” nooi hy uit.

      Professor Heyns vat die kitaar en hy vra: “Watter liedjie se woorde ken jy enduit?”

      “‘Hansie slim’,” antwoord professor Bakkes.

      Daai nag sing en speel ek en Christo ’n FAK-liedjie in reggae-styl, reg in die harte van die Afrikane van Wes-Afrika in.

      Iewers in die Paarl kry Theodore Bikel, Rusland se Edith Piaf, ’n gleuf in my CD-spelertjie …

      Dis bitterder as bitterkoud. Selfs die Siberiese ysbere soek skuiling. Binne die Pechtopah, die restaurantwa van die Trans-Siberiese trein, is dit egter knus en warm. In die hoek brand daar wragtag ’n koolstoof. Die wa-moeder, Tatiana, stook hom so met die een hand terwyl sy flesse vodka voor ons neerprop. Die Toendra en Taiga flits stil-verys by die vensters verby. Dr Zhivago se gat, dink ek so by my innige. Dis toe dat sy instap … Sy’s lank, lenig, mooi. Iewers toor Nikolas Andrejevich ’n balalaika vandaan en sing die hartseer uit gister se seer uit.

      In ’n kroegie in die Paarl sing Nana Mouskouri vir my “The white rose of Athens” in Grieks.

      Skielik is ek op Mikonos. Die keldertaverne is woelig. By die tafel langsaan sit hulle. Ek ken dié soort van kyk vir mekaar. Dis ’n liefdeskyk. Ek verstaan nie die twee se gesprek nie – dis Grieks (so ook vir my). Maar dan staan hy op en spontaan begin hy dans. Die bouzoukispeler in die hoek tel die ritme op. Soos ’n trotse volstruismannetjie – arms uitgestrek – pronk Zorba om sy meisiekind. En hy dans en sy gryp ’n bord – kaplaks in skerwe – en hy dans en dans …

      Arm om die lyf is hulle daar uit. En Mikonos sal vir ewig in my brein geëts wees.

      Nou volg die CD’s mekaar die een ná die ander. Umm Kulsoum tot in Kaïro se buikdanshole in. Juan Luis Gerra vat my na Buenos Aires se La Bocca toe. Jacques Brel laat my in sy Vlakkeland verdwaal. John Citi roep ’n besoek aan Zambië se Barotseland in herinnering.

      Die vuur is koud uitgebrand. Buite waai die noordoos die reën in vlae oor Paarl se wingerde. Die merlot is op – so ook ek. Opgereis.

      Daai nag in Oporto het ek op die verhoog geklim. Ná ’n twee maande se reis per openbare vervoer deur Afrika. Vir die eerste keer in my lewe het ek fado in lewende lywe beleef. En ek’t vir die fadosangeres gesê: “Ek’t al die pad deur Afrika gereis nét om jou te hoor sing.”

      Of sy my geglo of verstaan het, weet ek nie – wat wel waar is, is dat ek mysélf geglo het.

      Hansie slim, berg wil klim,

      gaan die wye wêreld in.

      Stok en hoed pas hom goed,

      hy is vol van moed.

      Maar die moederhart is seer,

      Hans is in die huis nie meer …

      Oeps, die moeder het net haarself te blameer. Was die eerste onthou dan nie: “Doe-doe, my baba, buite loop die skapies” of so iets nie?

      Dís wat ek heel eerste gehoor het … musiek.

      Putsonderwater

pic25.jpg

      My ma het gesê:

      “As jy eendag hier

      verbykom waar ek lê,

      skop


Скачать книгу