Oepse Daisy. C. Johan Bakkes

Oepse Daisy - C. Johan Bakkes


Скачать книгу
en winkeltjie is vervalle, afgebreek. Die stasiegebou lê in puin. Die besoekers is stuk-stuk besig om Putsonderwater weg te dra. Ek ry met my bakkie tot op die perron. Al wat heel is, is die perronbordjie Putsonderwater (De Aar 299 km).

      Ek haal my stoel en ’n tafeltjie uit en plak dit onder die bordjie neer. Uit kom ’n yskoue rosé uit die Sederberge uit. En ek klink ’n glasie op die vrou wat my beslag gegee het. Sy wat my van Bartho Smit vertel het en ook van Putsonderwater …

      My ma het gesê:

      “As jy eendag hier

      verbykom waar ek lê,

      skop teen my graf

      en sê: ‘Hier lê

      ’n vrou begrawe.’”

      Ek skop.

      “Dag, Ma.

      Jy was ’n vrou;

      jy kon enige man

      vierkantig in die oë kyk,

      vir almal kos gee,

      slaapplek.

      Ek skop nog.

      Dag Ma.”

      Bron: “Huldeblyk” (aangepas) deur E.W.S. Hammond (Hamburgers en hotdogs, Tafelberg, 1979).

      O, die slaap – ’n wondersoete ding

pic24.jpg

      Slaap en slaapplekke was my hele lewe lank redelik laag op my prioriteitslys. Ek glo dat as ’n mens slaap, dan gaan die lewe ongemerk by jou verby. So ook was ek nog nooit bereid om gedurende ’n reis regtig geld op ’n lêplek uit te gee nie – ek sou eerder die geldjies op ander plesierigheidjies spandeer. Bygesê, my reisbegroting was nog nooit werklik wyd nie en die “oornagfunksie” moes tweede viool speel. Ek sal maar uitrus daar tussen die populiere en sipresse as ek eendag die ou kop vir oulaas neerplons, dís my filosofie.

      So het ek as dosent aan Unisa my slaapsak tussen bourommel in die ondergrondse parkeerarea van die Unisa-lokale te Durban uitgesprei, terwyl kollegas knus in hotelle hul goedgekeurde maar karige S&T (“subsistence & travel”) opgeslaap het. Myne sou ek in hawekafeetjies en hole ná klas benut. Moet sê dit was ’n nagmerrie-inlê, met drome van my baas, professor Botha van Rensburg, en die hele honneursklas wat my wakker skud met: “En wat nóú?”

      As kontrakouditeur vir Elwierda-busdienste op Stellenbosch het ek “ingeboek” in die stapelbed-lêplek van die deurnag-busdrywers. Dit was soos die nooit-rus van Basies gedurende weermagsdae. Voortdurende beweging van moeë drywers wat in die middel van die nag lywe kom neergooi en die nuwe skof wat donkeroggend stange gaan vat. Die besparing aan gastehuisakkommodasie is aangewend gedurende die skryf van vorderingsverslae in die Terrace-kroegie skuins af van Birdstraat.

      Daar is al menigmale sommerso in die kajuit van die bakkie op die pad na nêrens ingedut. Onder ’n lessenaar van ’n vooraanstaande besigheid waar ’n forensiese ondersoek gedoen is. Onder die bakkie daar by Bertie’s Landing in Windhoek. Die parkeerterrein van die Universiteit Stellenbosch se ou buitemuurse kampus. Enige plek, solank daar tog net nie geld vir slaap uitgeruk hoef te word nie. Dis ’n dooie belegging …

      Ek en Ferdi is op pad Europa toe – nog nie een van ons was al daar nie, maar so is dit ook nie belangrik om daar te gewees het nie. Ons het twee maande om met openbare padvervoer deur Wes-Afrika tot in Spanje te reis. Ons afspringplek is Abidjan aan die Ivoorkus. Die vliegtuigkaartjie Abidjan toe ruk ’n helse gat uit ons begroting – daar’s nie fondse vir slaap nie. Die beplande roete is deur die Ivoorkus tot in Mali (Timboektoe is ’n móét), dan via Senegal Mauritanië toe. Van daar deur die Sahara tot by Casablanca in Marokko en dan oor die Middellandse See na Spanje – dis die plan.

      Wes-Afrika is oorwegend Franssprekend en ná maande se luister na Franse taalbandjies was die somtotaal van ons kennis om vir ’n bier vir brekfis te kan vra – en dan dankie te sê. Ons kon nie die vir-slaapplek-vra-gedeelte onder die knie kry nie …

      Abidjan is bloedig warm. Die humiditeit skree ten helle. Dis al dikskemer as ons, swaar gelaai met pakkaas, die lughawegebou uitstrompel. Waar in hierdie grote stad (daar’s meer as vyfmiljoen mense) slaap ons vanaand? Ek en Ferdi kyk vir mekaar.

      Ons word oorval deur ’n swerm lede van die plaaslike bevolking. Dis taxibestuurders, snuisteryverkopers, voornemende gidse, ouens wat hulle susters verkwansel en macadamia – en grondboon-bedelaarsmouse. Almal brabbel in Frans. En ons kan nie vir hulle om slaapplek vra nie.

      Vir die rekord: Ons gooi ons slaapsakke oop op die wit sand van Cote D’Ivoire se Coppa Cabana-strand. Twee-uur die oggend begin dit reën en ons sleep sak en pak onder die strandkroegie se toonbank in – want die saamdra van tente was buite ons verwysingsraamwerk.

      Korogo in die noorde van die Ivoorkus is nou nie juis ’n plekkie om oor huis toe te skryf nie. Dis egter die deurgang Mali toe. Ons aankoms is weer eens nie ongemerk nie. ’n Witvel in Wes-Afrika beloof ewige welvaart aan die ou wat die vreemdeling, op watter manier ook al, kan inkatrol. Ek en Ferdi ingoreer enige toenadering in die trant van: “We’ll show you a hotel.” Maar ons eie poging tot lêplek soek lewer vrot matrasse en rondskarrelende rotte op.

      “You should ask the Mother for a place to sleep,” sê ’n verbyganger en beduie na die Katolieke sendingstasie. Op die gras agter die kerkie het die muskiete ons so stuk-stuk weggedra, terwyl die Moeder Owerste, seker uit medemensliefde vir armblankes, koue bier vir ons aangedra het.

      Mopti in Mali is die toeriste-afspringplek na die Dogon-mense van die Bandiagara-eskarp. Hulle bly so hangende teen die kranse. Oor hulle en hul leefwyse en kultuur is boeke vol geskryf. Gaan lees maar self of gaan kyk as jy self eendag in Mopti is.

      Ongelukkig sal jy in Mopti moet oornag. So 250 kilometer verder oos lê Timboektoe. Mopti is gelee by die samevloeiing van die Niger- en die Baniriviere en is ’n belangrike handelsentrum vir die Sahara-mense van Mali.

      Die dorp staan op ’n hoogliggende gedeelte, omring deur moeras en vleiland, en word met die land verbind deur middel van ’n twaalf kilometer lange dyk. Soos genoem kom hier af en toe toeriste. Hier en daar is ’n hotelletjie, maar daar’s geen lêplek vir ’n armgat-reisiger nie.

      Ons sprei ons slaapsakke oop op ’n stuk beton tussen die gemeenskaplike gemakshuisie en hut nommer 3 van die Le Campement-hotel. Dit het erge verduideliking aan bestuur gekos dat Le Campement in Afrikaans eintlik “die kampplek” beteken. Uit moedeloosheid het hulle seker maar ingestem. Drie nagte op beton raak egter dik vir ’n daalder, veral as die Harmattan-wind en gepaardgaande fyn woestynstof jou nooit met rus laat nie.

      Timboektoe! Ons was bevoorreg om in die enigste onbesette sel in die polisiestasie ons kooigoed oop te kon gooi. ’n Moedige kantoorwaaiertjie, met komplimente van die bevelvoerder, het wolke muskiete probeer verjaag. Maar ons was gelukkig, want ons was hiér.

      In Nouadibou, iewers op die grens tussen Mauritanië en Marokko, het die reiswiele tot stilstand geruk. Ons kon nie verder noord nie. Grensposte was gesluit. Vir tien dae het ons nes geskrop in die sand van Camping Baia Levrier, in die hoop dat die plaaslike onderwêreld ons sou deursmokkel Marokko toe …

      Casablanca in Marokko se oornagplek was ’n hasjisj-hool. In Meknes was ons slaapplek die busdepot se parkeerterrein, onder ’n spreilig, arms gehaak deur die bande van ons rugsakke, terwyl busse elke liewe minuut in- en uitgebrul het. Daardie nag het ek begin droom van slaap.

      Dis moeilik oorvertelbaar, maar glo my, die skeidslyn tussen derdewêreld-Afrika en eerstewêreld-Europa is nie twee verskillende kontinente en die Middellandse See nie. Dis bloot ’n eensame grenspos.

      In Noord-Afrika, reg oorkant die straat van Gilbraltar, is daar ’n stukkie Spanje. Die enklave heet Ceuta. Die aangrensende Morrokane noem die plek Septa.

      Vir ’n ou wat twee maande deur Afrika gebeur het – dít om sy Europese wortels te probeer verstaan – is die drie kilometer niemandsland tussen die Marokkaanse grenspos


Скачать книгу