Die grafte jubel. Esta Steyn
kind was in ’n koma.
Hy was aan masjiene gekoppel.
’n Maandagoggend het grys oor die Kaap toegesak. Die vrou het deur die groot hospitaal se gange gedwaal.
Hoeveel mense kom sterwend hier in en gaan gesond huis toe? Hoeveel mense kom sterwend hier in en gaan nooit weer huis toe nie?
Hoeveel stemme en gebede net al in hierdie gange opgegaan? Hoeveel hulpgeroep?
Here, waar is U? Ek bewe van binne. My liggaam is verlam van skok. My kind, Here, my kind.
Die vrou het probeer bid.
Haar woorde het teen die somber grys mure van die hospitaal vasgeslaan en teen die plafon bly sit.
Dit het gevoel soos ’n foonnommer wat aanhoudend die besettoon gee. Of soos ’n sekretaresse wat sê: Jammer, maar Meneer is nie nou beskikbaar nie. Hy is in ’n belangrike vergadering.
Of weet ek nie werklik hoe om te bid nie? Het my gebede net ’n nuttelose geprewel uit gewoonte geword om my beter oor my godsdiens te laat voel?
Waar is Jesus vandag? Die Jesus van die swart-rooi-wit harte?
Watse kleur is my hart nou eintlik?
Swart? Somber soos my verbysterende gedagte aan die dood?
Rooi? Was Jesus se bloed ooit oor my lewe?
Want dis waaragtig nie wit nie.
My hart is kleurlose karton, wat nou aan stukke skeur.
Hoofstuk 3
Die vrou wat groete gestuur het
Die vrou het by die hospitaalbed gestaan. Haar kind se oë was toe asof hy maar net rustig slaap onder sy blou duvet. Sy ooglede het nie geroer nie. Niks het geroer nie. Sy het hom op al sy name en troetelname geroep. Sy het gehoop haar stem sou hom dwarsdeur die diep koma bereik. Sy het na sy liggaam gekyk en na die pypies deur sy neus en die monitors langs die bed. Sy digte, bruin hare was netjies geknip. Sy was bly hy was so goed versorg.
Sien julle my kind? Ek is trots op hom.
Sy wou dit uitroep aan al die hospitaalpersoneel wat om die bed gemaal het. Daar was nie hoop in die oë van die dokters nie.
Die vrou se tweede kind het langs sy ouer broer se bed gestaan. Sy het gesien hoe hy breek oor sy broer. “My beste pêl,” het hy geprewel en hy was meteens nie meer sestien nie. Ek het Donderdag toe julle op die pad was, gebid dat die Here jóú moet spaar. Hoekom het ek nie vir jou broer ook gebid nie? Sou dit enigiets aan die saak verander het? Sou dit?
Tussen die twee broers het ’n leeftyd van saamwees gelê. Hulle het minder as ’n jaar verskil. Hulle het albei in Augustus verjaar. Hulle het amper soos ’n tweeling grootgeword. Die hele huis en werf was vol herinnering van kinderpartytjies toe hulle klein was, tafels vol lekkergoed en koek. Van Kersfeeste met groot, rooi sakke vol speelgoed, van groot kattekwaad en groot pakke slae, van saam seer wonde lek en saamstaan teen die buitewêreld.
Die vrou het na haar tweede seun gekyk wat by sy broer se bed staan met ’n onbegrypende seerkry in sy oë. Sy het hom bitterlik jammer gekry.
Teen die aand het die hospitaal ’n kamertjie ingeruim waar hulle kon slaap. Dit was ’n vreemde plekkie met beddens en matrasse. Die vrou kon nie slaap nie. Haar hart het by die gang afgeloop na die kamer waar haar kind lê.
Die volgende oggend het sy opgestaan en na haar slapende gesin gekyk. Hulle het uitgeput en verkreukeld gelyk. Die kleintjie het nog die klere aangehad waarmee hulle van hul dorp af weggery het. Hy het styf aan sy nannalappie vasgeklou. Sy het gewens hulle kon liewer almal bly slaap om nie die werklikheid van wakkerword te beleef nie.
Die vrou het in die gang afgeloop. Daar was personeel wat saggies om haar kind se bed beweeg het. Maar daar was ’n boodskap in hul bewegings en in hul oë. Die boodskap se naam was Breindood.
Teen elfuur die oggend is die masjiene wat die lewe gegee het, afgeskakel.
Die kind was dood.
Die kind wat die sagte mond gehad het.
Here, trek vir hom wit klere aan en ontvang hom in die hemel, waar U is.
As daar ooit ’n hemel is. En as U ooit daar is.
Die vrou se vriendin het Kaap toe gekom om saam met die gesin huis toe te ry. Die vriendin was een wat letsels aan haar lyf gehad het van ’n vreeslike ding wat lank gelede gebeur het. Sy het reeds die swaar kant van die lewe gesien. Die vrou het nou in die vriendin se oë gekyk en iets van haar eie hulpelose smart daarin sien lê.
Daar was ’n eerbiedige stilte tussen hulle.
“Waar’s Boetie?” het die laatlam gevra.
Die vrou het by hom gebuk. “Onthou jy die voëltjie wat ons in die tuin begrawe het? Die voëltjie wat dood was? Hy kon nie meer vlieg nie. Hy kon nie meer kossies eet nie.”
“Boetie is dood, dood,” het die kind dié woorde geuiter wat soos ’n doemrefrein deur die vrou se kop bly maal het. Boetie is dood, dood.
Die gesin het die lang pad teruggery huis toe. Toe hulle by die dorp inry, het die vrou geweet die bekende strate en winkels en geboue en motors en mense sal nooit weer vir haar dieselfde wees nie. Die vrou het in haar tuin gaan staan en na ’n sekere hoekie bly staar.
Onthou jy? Toe ons sewentien jaar gelede by hierdie huis ingetrek het, was jy vier maande oud. Jy was ’n mooi ou babatjie wat daardie dag in jou babastoeltjie hier gesit het, net hier. Jy het my verwonderd dopgehou terwyl ek met bondels goed verby jou geloop het. Heen en weer, verby jou en terug. Ek was toe reeds swanger met jou boetie. Onthou jy?
Die groot bougainvilleabos se takke het in helder trosse kleur by die stoep afgestort. Soos altyd. Op die hoogste top van die Norfolk-denneboom was ’n klein kruisie aan die groei.
Die vrou was in die seun se kamer. Sy het na die mat gestaar. Die mat wat in sy kleintyd altyd met boublokkies en speelgoed-soldaatjies besaai was. Die mat waar sy twee dae tevore nog bondels van sy klere bymekaargemaak het vir was. Die kamer was skemerstil.
Daar was intussen ’n huishulp wat kom stryk het. Die strykgoed het netjies uitgepak op haar oudste seun se bed gelê. Sy het rasend daarna gekyk.
Ek sal nie weer jou strykgoed kan bêre nie, want daar sal nie weer strykgoed wees nie.
Die vrou het die skoon goed met ’n heilige ontsag in die kind se kas gepak. Toe het sy die valhelm, wat hulle vir haar gebring het, op sy kussing neergesit. Die valhelm was koud en hard. Daar was ’n diep skraap op.
Die foon het begin lui.
Haar vriendin, die een met die letsels, was steeds daar. “Ons moet die oproepe neerskryf,” het sy gesê. “Jy sal later miskien wil weet wie . . .”
Die voordeurklokkie het begin lui.
Die mense het begin kom.
Die vrou het afgekyk na die donkerblou langmoutoppie wat sy al sedert die naweek aan het. Daar was nie tyd om te gaan bad nie. Die mense het gekom.
Hoe kan die mense nou kom? My huis is nie aan die kant nie. Daar is nie genoeg koffie in die blik nie. Die melk is op. Die vensters is vuil. My sitkamermat is nie gestofsuig nie. Die naweek se koerante lê nag rond. Die werf is vol blare. En ek is tot die dood toe moeg.
Maar die mense het gekom. Daar was ’n verskriklike ding in hul oë.
Die seun se drie maats het gekom. Hulle het radeloos in die seun se kamer op sy bed gaan sit. Twee van hulle was saam met hom die aand van die ongeluk. Hulle was geskok en verward.
“Ek kan nie verstaan nie, Tannie. Dit was nie ’n harde stamp nie.”
“Tannie, toe hy daar lê, het ons gedink hy maak sommer ’n grap. Ons wou hom skud om op te hou laf wees.”
“Ek weet net een ding, Tannie. Hy was die aand baie gelukkig.”
Sy