Die grafte jubel. Esta Steyn

Die grafte jubel - Esta Steyn


Скачать книгу
Here, was dit nie een van hulle nie? Hoekom hy? Hoe bepaal U wie moet bly en wie moet gaan? Het U die doodsname iewers op ’n rekenaarprogram? Kyk U in die môre na die lys en stuur dan u doodsengele uit met die opdrag: Dis die name vir vandag. Gaan uit en gaan vang hulle?

      Het een van daardie engele Sondagaand in die pad gestaan met ’n stophorlosie en die sekondes afgetel: vier, drie, twee, een, zero . . . ek hét hom?

      U wat elkeen se hare tot in die fynste besonderheid tel, wie is U werklik?

      Die sitkamer was vol mense. Die ketel het aanhoudend gekook. Die foon het aanhoudend gelui. Nog vriendinne het gekom. “Kan ek die kleintjie vir jou bad?” het een gevra.

      Asseblief! Asseblief tog. Bad my kleintjie, want ek het nie krag om by die bad te buk nie. Ag Here, help my.

      Tussen die mense in haar huis, het die vrou haar man gesien. Hy het soos ’n vreemdeling gelyk. Sy gesig was verpletterd. Sy vriende het pas die tyding gebring dat sy beste vriend daardie oggend in dieselfde hospitaal as sy seun gesterf het. ’n Dubbele slag vir hom dus.

      Tussen die mense in haar huis het sy haar ander tienerseun gesien. Sy oë was strak en leweloos.

      Sy wou by hulle uitkom, maar sy kon nie. Want die foon het gelui, en die voordeurklokkie het gelui en mense het borde vol toebroodjies en potte vol blomme gebring.

      In die aand het sy dié seun van haar se snikke in sy kamertjie gehoor. Dit was nie snikke nie. Dit was rou krete van pyn wat uit sy jong lyf gebars het. Oor sy beste pêl.

      Here, ek moet op die een of ander manier staande bly ter wille van my ander kinders en my man.

      Laat in die nag het sy by die stil kamer ingegaan.

      Op die kassie voor sy bed het pakke skoolpapiere en wiskunde-vraestelle en kassette gelê. Sy het dit nie durf verskuif nie.

      Sy het voor sy bed by die blou duvet gaan kniel.

      Waar is U, Here!

      Grepe uit Bybelstudie- en troosboeke wat sy vroeër gelees het, het tot in haar verstand deurgedring. Sy het iets van lofprysing onthou. Dat, as jy die Here loof en prys in jou nood, en spesifiek vir die smart wat oor jou pad gekom het, Hy tot jou redding sal kom. So het mense in die boeke getuig. Lof in lyding? Dis maklik om die Here te prys vir ’n mooi dag, ja, vir kos op jou tafel, vir ’n veilige tuiskoms ná ’n reis, vir die son wat oor die see lê, vir genesing ná ’n siekte, vir ’n kind wat in die wêreld gekom het, vir ’n kind wat presteer.

      Maar hoe prys jy die Here vir ’n kind wat dood is?

      Ek kan nie, Here. My kind se valhelm lê hier, koud en hard. My kind lê op ’n nare koue plek in die Tygerberg-hospitaal. Hy hoort nie daar nie. Hy is sewentien. En dis vakansie.

      Hoekom, Here?

      En wat ek ook nie kan verstaan nie, Here, is dat U nie maar vir my gewaarsku het nie. U kon u engele na my toe gestuur het met ’n sagte fluistering in my oor. Dan sou ek geweet het om hom vir oulaas teen my hart te druk.

      Ek weet ek was nie altyd ’n wonderlike ma nie. Ek weet daar het letsels van my tong in sy oë gelê. Ek weet ek kon baie meer hier by sy bed saam met hom gebid het. Ek weet ek kon meer gesprekke oor U met hom gevoer het. Ek weet ek moes nie toegelaat het dat hy sy sin kry met die motorfiets nie. Maar nogtans, Here . . . ek het dan gedog u Naam is Liefde. Liefde en Hoop.

      Hoe kan ek U loof en prys? U sit in die hemel. Is daar dan nie genoeg engele wat vir U kan sing nie? Ek is hier op aarde en ek kry seer.

      En ek kan nie glo wat gebeur het nie. Die volle begrip is te groot vir my verstand. Al wat ek weet, is dat ek siek voel, siek, siek, Here. En ek is tot die dood toe moeg.

      Die vrou het die punt van die duvet in haar mond geprop, sodat die huismense nie kan hoor hoe haar hart skeur nie. Maar haar oë het droog gebly en sy het gewens sy kon huil, sodat die trane haar moeë, brandende oë kon lawe. Sy het meteens onthou hoedat haar kind se naam die Sondagoggend in goue letters in haar verstand verbygeflits het. Sy het regop gekom.

      Was dit U, Here? Wou U toe iets vir my sê? Was dit u manier met my? Hoe sal ek ooit weet? Al wat ek weet, is dat hy nou iewers is wat nie hier is nie. Ek weet nie hoe die hemel werk nie, Here. Ek weet nie waar die hemel is nie. Ek weet nie hoe my kind nou lyk nie. Is hy nou ’n soort hemelwese, met ’n paar verspotte wit vlerke? Of net ’n goue straal lig? Ek weet nie in watter vorm hy nou voortleef nie.

      Maar, Here . . . as daar miskien in die hemelse sfere direkte kontak tussen hom en U is, sê vir hom sy ma sê sy is jammer dat sy nie meermale vir hom sjokoladekoek gebak net nie.

      Sê vir hom sy stuur groete.

      Sê vir hom sy is verskriklik jammer dat sy been ook seergekry het. Almal het so gekonsentreer op sy brein dat almal van sy been vergeet het. Asseblief, Here.

      Die eerste vreemde dag by die huis sonder haar kind was verby.

      Hoofstuk 4

      Die vrou wat nie voorberei het nie

      Die hospitaal het die seun se klere in ’n plastieksak vir hulle teruggegee.

      Die vrou het die dik, donkerblou baadjie teen haar bors gedruk. Dit was uitgevoer met warm wol. Aan die buitekant het daar ’n wit skraapmerk gelê.

      Die broek was nog taamlik nuut. Hulle het die een pyp oopgeknip met ’n skêr. Sy T-hemp ook.

      Die vrou het die stukke klere gewas en gewas en gewas. Die bloed het uitgekom. Sy het dit op die wasgoeddraad gehang. Sy het gekyk hoe die stukkende repe in die wind wapper.

      Daar was ’n R50-noot in die seun se beursie. Die vrou het dit in ’n koevert gesit en na die Kersfonds gestuur. Sy het ’n briefie saamgestuur en gesê dit kom van ’n hartseer mamma.

      Die begrafnisondernemer het gebel en gevra dat sy klere vir die kind moet stuur. Klere?

      Die vrou het voor die kind se klerekas gaan staan.

      Wat dra ’n kind in ’n kis?

      Sy voorstellingspak? Dis nog te nuut!

      ’n Gemaklike sweetpak? Met tekkies by?

      Nee, hy gaan nie kerk toe nie, hy gaan nie draf nie.

      Die vrou het sy groen ski-pajamas uitgehaal.

      Die kind gaan slaap.

      Wat van sy voete? Sy pantoffels van handdoekstof? Of sokkies?

      Sy was bly oor sy toonnaels wat so netjies geknip was dat die begrafnisondernemer kan sien hoe goed versorg hy was.

      Die dominee en sy vrou het gekom. Hulle het die seun geken, want hy was soos ’n kind in hul huis. Hul jongste seun was sy vriend; hy was die aand van die ongeluk saam met hom.

      Die dominee se vrou, wat maklik klam oë gekry het, was in trane. Die vrou ken haar goed. Hulle het saam Kinderkrans gehou. Sy was al jare lank die vrou se Bybelstudie-leidster. Maar toe hulle saam om die tafel sit en die begrafnisreëlings tref, wou die vrou hardop uitroep: Dis maklik vir julle om te praat oor die Here se heerlikheid en sy wederkoms en dat ons tydjie op aarde maar net geleende tyd is. En dat dit die Here is wat die kind kom haal het.

      Dit was vir my ook voorheen maklik om só te praat. Maar nou is my kind dood. En nou is dit die uur waarin geloof gemaak of gebreek word.

      Dit was voorheen maklik om die onsienbare dinge te glo. Om die geloofsbelydenis af te lê: Ek glo in die opstanding van die vlees! Dit het alles so eenvoudig geklink.

      Maar nou word ek gedwing om vir myself uit te maak wat geloof is.

      Wat ís geloof? Net ’n vorm van troos vir hierdie troostelose aardse lewe?

      Om te glo is nie meer vir my genoeg nie. Ek wil voel ek wil sien ek wil hoor.

      Die Here van die leërskare en al sy engele en serafs en gesante sal self na my toe moet kom en ’n bietjie vir my moet kom sê hoe dit alles werk. Is ek iewers verneuk?

      Want


Скачать книгу