Krisis op Keurboslaan #10. Theunis Krogh

Krisis op Keurboslaan #10 - Theunis Krogh


Скачать книгу
toelaat hier opgeneem,” sê die hoof met die bekende knal van ’n sweepslag in sy stem. “Daar word van jou verwag om die reëls te gehoorsaam, anders moet jy die skool verlaat.”

      Die arme kind gaan tot in die aarde verneder voel, dink almal simpatiek.

      Maar die helder stemmetjie wat so mooi kan sing, antwoord beslis en duidelik: “Ja, doktor. Ekskuus, doktor.”

      Sy seun se waagmoed doen iets aan die hoof se slegte bui. “Dis dan goed,” sê hy met groot selfbeheersing, terwyl sy lippe effens opkrul.

      Die personeel glimlag verlig en daarna verloop sake vlot.

      Die Serfontein-gesin woon Aandgodsdiens gewoonlik by. Maar vanaand het hulle gevoel dit sal ondraaglik wees om Lavrans, hulle baba, as ’n nuwe kosganger tussen die ander seuns te sien. Die hoof het hulle daarom verskoon, al was dit met merkbare ongeduld.

      Die afgelope twee maande was vir hom allesbehalwe ’n vakansie. Sy personeel bly maar uit sy pad toe hulle die verhoog verlaat. Hy sê net kortaf: “Goeienag” en gaan huis toe.

      Sy oudste seun wil hom spreek. Hierdie gesprek is reeds te lank uitgestel. En waar is Bertrand Spaulding en die ander twee afwesige seuns? Hy het gehoop om vannag aan sy boek te kan werk, maar hy sien al klaar daar gaan niks van kom nie.

      Intussen gesels Josef laggend met sy ma en suster. Sy groen oë kyk ondeund langs sy effens Romeinse neus af na hulle. Nes Berrie het hy ook bruin hare.

      “Ek moet seker nou eers met Pa gaan praat,” sê hy. “Hy hou niks daarvan dat ons soos rykmanskinders by die huis rondsit nie. Pa sal wil weet wat ek doen om werk te kry.”

      “Hy sal nie toelaat dat jy die rigting volg waarvan jy praat nie,” sê sy ma. “Hy weet wat dit aan my sal doen. Julle gesprek gaan net moeilikheid veroorsaak. Ek weet dit sommer.”

      “Ag, wat is dit nou weer met Mamma en die senuwees?”

      Dian streel haar ma se hand.

      “Dit het alles met Riekie begin,” kla mevrou Serfontein.

      “Omdat hy dadelik ná skool militêre diens gaan doen het?” vra Josef. “Dit was tog beter om dit eers agter die rug te kry en dan universiteit toe te gaan.”

      “Ja, maar hy het die Serfonteins se naam gebruik om hom en Ruyssenaer en Willemse vroeër te laat aansluit,” sê sy ma. “Dit het byna my lewe gekos. Pa het my soos altyd ondersteun, maar ek dink hy het nou genoeg daarvan gehad.”

      “Riek het veilig terug huis toe gekom, en Louis skryf vir my hy is briljant op universiteit. Om nie eens van rugby te praat nie. Die Engelse sportmense noem hom The young Olympian!”

      “Ja, hy is nou veilig, maar ek sal nooit weer so iets oorleef nie, en Pa weet dit.” Mevrou Serfontein wring haar hande. “Ek was net so bekommerd oor Tiesjie. Ek het in Dresden heeltemal ineengestort en was toe weer op jou pa aangewese.”

      “Dit was darem nie so erg nie,” troos Dian.

      “Mamma moes die kind nooit hier gelos het nie,” sê Josef.

      “Pa het ná ’n paar dae aangebied om haar te laat haal, maar toe ek haar bel, het sy botweg geweier.”

      “Sy het ’n goeie pak slae nodig, dis verseker … Maar as Mamma se senuwees so op hol is, gaan weer na oom Martin toe.”

      Voor sy kan antwoord, kom die hoof van die stoep af in.

      Hy groet sy vrou en dogter met ’n kopknik en sê dan: “Josef, ek kan nou ’n paar minute afstaan.”

      “Regtig? Ek weet Pa het allerhande probleme. Nog niks nuus oor die seuns nie?”

      “Nee, kom gerus in.”

      In die studeerkamer gaan staan die hoof langs die kaggel.

      “Sit, as jy wil … Rook?”

      “Nie nou nie, dankie Pa.”

      “Wil jy jou toekomsplanne bespreek? Wat dit ook al is, met jou graad lê die wêreld oop voor jou.”

      “Ek wou al vroeër met Pa daaroor praat, maar Pa is so besig dat daar nog nie kans was nie.”

      “Die afgelope tyd was buitengewoon besig. Wat het jy gedink om te doen?”

      “Ek wil by ons lugmag aansluit.”

      Josef praat verder toe sy pa nie antwoord nie.

      “Ek het op fisika gekonsentreer omdat ek ’n bydrae tot die ruimtevaart wou maak. Daarom wou ek liewer in Amerika klaar studeer. Maar ek het nou van mening verander. Daar gebeur oral lelike dinge, ook in ons eie land.”

      “Jy bedoel?”

      “Daar is genoeg vir my om hier te doen. Ek was net nie altyd bewus van die dreigende gevare nie. Ek kan myself nie nou al veilig in ’n lesinglokaal gaan toespyker nie.”

      Hy kry nog steeds nie ’n antwoord nie.

      “Hoekom kyk Pa my so verbaas aan? Dis tog hier op skool en by Pa self wat ons geleer het om soos ’n ware man op te tree.”

      “Jy wil dus lugmag toe gaan om in geval van ’n oorlog ook te kan veg?”

      “Ja, ek is ouer as die ouens wat gewoonlik opgeneem word, maar my fisika en toegepaste wiskunde tel in my guns. Verder het ek ’n vliegkursus in Arizona gedoen, en ek hanteer ’n vliegtuig byna so goed soos ou Bart. Ek is besig om alles te reël. Dis hoekom ek vroeër alleen huis toe gekom het.”

      Die hoof stap tot aan die ander kant van die groot vertrek, dan draai hy om en kom terug.

      “Jy kan dit nie doen nie,” sê hy.

      Josef frons. “Hoekom nie?”

      “Dink aan jou ma … Sy weier om dit te erken, maar sy ly erg aan haar senuwees. Sy sal die onsekerheid oor jou veiligheid nie kan verduur nie.”

      “Kom nou, Pa. Amper elke soldaat of matroos het ’n ma.”

      “Dis anders. Jou ma se toestand spruit voort uit ’n tragedie van jare gelede. Jy besef sy was vantevore getroud.”

      Josef weet hoe moeilik so ’n gesprek vir sy terughoudende pa is.

      “Ja, natuurlik,” antwoord hy vinnig.

      “Sy en Hans Bielefeld was baie jonk. Hulle het saam gestudeer en gewerk. Hulle lewe was volmaak.” Die hoof praat gevoelvol, heeltemal anders as gewoonlik. “Toe eensklaps is haar man en kind dood … Albei binne drie dae.”

      “Ja, ek weet. Pa hoef nie …”

      “Dis waarom sy die lewe nie vertrou nie. Sy het daardie tragedie nou nog nie ten volle verwerk nie.”

      “Dis verstaanbaar, maar …”

      Die hoof praat verder. Hy het nou een keer sover gekom om sy diepste gevoelens aan sy seun te openbaar. “Sy wou nooit weer trou nie. Sy wou haar nie weer aan sulke lyding blootstel nie. Uiteindelik het ek haar egter oortuig dit sou in ons albei se belang wees …”

      Josef kan hom daardie saaklike, delikate huweliksaanbod goed voorstel. Maar hy het sy pa nog nooit so openlik soos vanaand hoor praat nie.

      “Ek het haar my woord gegee dat sy nooit weer enige rede tot kommer sou hê nie …”

      “Hoe kon Pa so iets belowe het?” vra Josef vererg. “Wat van toe Berrie byna verongeluk het toe hy klein was? En die mense hier praat nou nog van die vreeslike tyd kort voor my geboorte toe een van oom Martin se dokters gedink het Pa ly aan ’n ongeneeslike siekte … Sulke dinge gebeur. Niemand kan dit keer nie!”

      “Ek het jou hierdie dinge vertel sodat jy kan verstaan waarom jy jou plan moet laat vaar. Dis nou genoeg daarvan.”

      Josef is skielik woedend. “Niemand kan my beveel om dit te los nie! Ek stel Pa net uit ordentlikheid daarvan in kennis. Ek gaan my nie deur Pa se simpel beloftes laat terughou nie.”

      Die


Скачать книгу