Dwaalpoort. Alexander Strachan

Dwaalpoort - Alexander Strachan


Скачать книгу
die water is te seperig om die bodem te kan sien en sy begin haar hare was en spoel dit af. Dan skuif sy met ’n gesukkel teen die klip op deur met haar hande langs haar op die gladde rots te druk. Net haar voete hang in die water en teen haar gesig is haar lokke lang, nat slierte. Haar lyf is warm en koorsig, maar haar voorkop voel koud.

      Henriette kyk na haar vingerpunte, hulle is verrimpeld van die water. Maar sy voel steeds nie skoon nie. Daar is ’n kriewelrigheid oor haar hele lyf. Eers vryf sy oor haar skouers, dan begin sy krap – daar lê rooi hale oor haar maag. Langs die hale slaan haar vel lakenwit, amper deurskynend deur.

      Met die draai van die wind kan sy die ander vroue se stemme hoor. Hulle is op pad na die spruit toe om te kom was. ’n Paar oomblikke bly sy nog doodstil sit. Maar die stemme kom nader. Sy steek haar hand uit na die flennie-onderrok langs haar op die klip. Eers lig sy haar een been om die onderbroekie aan te trek. Dit is moeilik om te balanseer. Dan lig sy haar ander been. Sy kyk vinnig om, want sy wil nie hê hulle moet haar só sien nie.

      Die rek klap saggies teen haar vel en sy skud die druppels uit haar hare. Met die opstaan trek sy die onderrok klam oor haar lyf aan, dan die rok bo-oor. Sy loop stadig teen die opdraande uit terug na die tente toe.

      Tydens my kollege-vakansie was daar oral op Dwaalpoort beweging. Die werkers het met tange deur die geroeste draadheinings geknip. Daarna het hulle drie geslagte se doringdraad opgerol en in die erosieslote gegooi. Die plaas sou met wilddraad toegespan word. Maar nie een van ons het mooi besef waarvoor ons ons ingelaat het nie. Bedags het die son op ons neergeskroei en snags het ek lyfseer in my kamer op my bed gelê.

      Dit was soos om ’n lang teerpad te gery het. Nadat die rit oor was, het die pad se wit lyne steeds in flitse na jou toe bly terugkom.

      Hulle het die geroeste ysterpale waaraan die ou draad vasgemaak was, uit die grond begin loswikkel. Sweet het op hulle bolywe uitgeslaan. Maar die grond het vasgeklou. Phuma zinyo, uit met die tand! het hulle geroep en oor die blase op hul hande gespoeg en ondertoe vervat. Die ysterpaal het effens beweeg, hulle rûe het gebuig, stadig het die grond toegegee en hulle het die ysterpaal uit sy staanplek getrek.

      Van lig tot donker het die klank van yster oor die vlakte weerklink soos hulle die pale die een na die ander op ’n hoop gegooi het. Hulle het die ou ankerdrade, toegegroei onder die gras, uitgeruk. Die ysterpale het hulle laaste lêplek langs die opgerolde draad in die erosieslote gekry.

      Groot vragmotors het ingery gekom en lang, swartgeverfde ysterpale en rolle gladde draad op Dwaalpoort se grense afgelaai. Snags het ek op my bed omgerol. Die dowwe hamerslae wou nie ophou nie, in my agterkop het dit steeds oor die vlakte geëggo. Ek was vasgedraai in die laken, terwyl die swaar hamers die ysterpale in my lyf ingedryf het.

      Bedags het hulle gate gegrawe, beton gemeng vir die ankerpale en die nuwe drade styf getrek. Mafika het langs die heining gestaan, met sy hand opgevat en die hoogte getoets: 2,4 meter.

      Hy was tevrede – die bokke sou binne bly.

      Dit was tyd vir die wildtrokke. Op die vlakte het vrag na vrag wild agter uitgespring en met hul hoewe op die vreemde grond geland. Op die bed het ek die laken om my probeer loswikkel; oral op my lyf was bokhoewe.

      Weke lank het die bokke teen die grensdraad gemaal, die wildheining met kop en lyf bly aanvat, uitkomkans gesoek, later opgegee en in die skaduwee van die soetdorings tot rus gekom.

      By die boskamp het die werkers die steekvlieë wat by die fontein uitgebroei het teen hul nek doodgeklap. Hulle het die bloed met hul hande afgevee en die rooierigheid aan hul broeke afgesmeer.

      Op die grond het hulle die struike met pangas weggekap. Hulle het hul vingerpunte natgelek, langs hulle in die sand gespoeg, die gat vir die veldtoilet begin grawe, tente opgeslaan en die braaivleisplek uitgelê.

      Dit was ’n seisoen later.

      Deur Dwaalpoort se nuwe wildhek het die blink vier-by-viers ingery gekom – die eerste jagters het op die plaas opgedaag. Almal het asem opgehou. Die veewagters het hul swepe in hul hutte opgehang, die reuk van beesmis en dipstof vergeet en in spoorsnyers en gidse verander.

      Dit was koel onder die stoep se sinkdak. Ek het langs Bullet gesit wat my gewys het hoe om die wildpermitte uit te skryf. Op die stippellyn het rooibok Aepyceros melampus geword, blesbok Damalicus dorcas phillipsi, gemsbok Oryx gazella . . . op die papier het vleis en bloed met die skryf van my pen in saketransaksies verander. Eland was nie meer sy Zulunaam mpofu nie, hy het Taurotragus oryx geword, swartwildebees Connochaetes gnou, springbok Antidorcas marsupialis, koedoe Tragelaphus strepsiceros . . . Ek het die permitte gesorteer en die pak papier met ’n speld vasgesteek.

      Die bekende geluide op Dwaalpoort was weg – die geklap van swepe en trekkers wat soggens opwarm. Dit het plek gemaak vir die gedruis van die wildvanghelikopter wat heen en weer oor die bosse swiep. Dan verder, dan nader soos hy die bokke na die tregter toe aanjaag.

      Ek en Bullet het agter die struike met ons rûe na die aankomende wild toe gehurk en asem opgehou. Eers het ek net die hoefslae gehoor. Toe kom die lywe by ons verbygeflits. Party vinniger, ander struikelend, moeg gejaag deur die helikopter.

      Die voorste bokke het al klaar in die nette vasgehardloop toe die agterste bokke eers by die bek van die tregter inkom. Van die kante af het ons met seilgordyne na die middel van die opening gehardloop om hulle ontsnaproete af te sny. Mens en bok vir die eerste keer saam ingehok in die beperkte ruimte van die vang-boma.

      In ’n oogwink het alles na gebreekte gras, stof en geknakte struike geruik. Die son het op die bokke se velle geflits. Iewers het ek die dowwe geluid gehoor van ’n bok wat in ’n boom vashardloop. Ek het omgekyk; die lyf het lusteloos op die grond gelê. Hy het nog effens geskop, ’n laaste natrek.

      Maye! het die vangers meteens geroep.

      Ek het teruggekyk; ek kon nie verstaan hoekom hulle roep nie.

      Maye!

      Ek het weer ’n slag omgekyk. Die roep was dringender hierdie keer. Maar hoekom het hulle na mý gekyk?

      Druiwetrosse, dis waaraan ek gedink het. Oral in die vangnet het bokke gehang, geskop, probeer loskom. Soos trosse druiwe, het ek gedink. ’n Bewegende landskap van springende lywe – so onwerklik dat ek my oë moes knip.

      Ek het steeds nie geweet hoekom die vangers roep nie. Toe sien ek hom met die omkyk. In die deurmekaar hardlopery het ek hom nie dadelik tussen die ander bokke opgemerk nie. Maar die vangers se stokke het heeltyd na hom beduie. Daar was ’n wit hartbees saam met ons in die vangkraal! Die bokke het deur die neus gesnork, bolle skuim en bloed het op hul oopgesperde bekke gestaan. Hier en daar het een dit reggekry om uit die net los te wikkel. Hulle het al in die rondte in die boma begin hardloop. Soos hulle vastrap, kon ek die steungeluide uit hul mae hoor.

      Met die draai van sy lyf het die son op die wit hartbees se vel weerkaats en ek kon die rooi van sy oë sien. Hy het effens kruppel gelyk na die gejaag van die helikopter. Miskien het hy seergekry. Hy het oor ’n klip gestruikel, sy hoef gelig en reguit in die nette vasgehardloop. ’n Oomblik het dit gelyk of hy gaan deurbreek, toe sit sy horings in die toue vas.

      Isagila! Hulle het vir ’n knopkierie geroep. Dit het deur die lug aangeslinger gekom en hard teen sy blad geklap. Die hartbees het begin terugrem, hy kon nie sy horings loskry nie. Nog ’n kierie het deur die lug teen sy vel geklap. Hy het op sy knieë geval, maar weer regop gekom. ’n Ronde ysterklip het hom teen die kant van die kop getref, ’n skerper een het die vel op sy rug gekerf, toe was hy los. Daar was bloed op sy neus en hy het skuins gehardloop asof hy van balans was.

      Terwyl ek vir hom gekyk het, het ’n bok van agter af in my vasgespring en ek het op my knieë geval. My heupe het lam gevoel van die slag. Ek het my op my elmboë regop gedruk. Oral om my was horings en hoewe. Die stof het in my gesig opgeslaan en ek het die skerp sandkorrels onder my hande gevoel.

      Die wit hartbees het na die skeefhardlopery weer sy rigting in die boma gekry. Hy het nog een of twee maal in ’n struik vasgehardloop, maar sy balans was terug. Die kruppelloop was skielik weg en hy het nou stywebeen rondgedraf, sy stert ’n sekel. Sy kop was afwaarts gebuig, sy horings reguit vorentoe. Die vangers het uit sy pad gespring.


Скачать книгу