Hartepad. Gerrit Rautenbach
Hamerkoppe, hoep-hoepe en hadedas het om ons gehang. Later het ons aangeland op ’n kleiner eiland en voetpad gevat. ’n Trop rooibokke het snorkend gevlug, neusvleuels oop in die wind en horings agteroor gegooi.
“Nou kom ons leer van die rooibok,” begin System. As ’n ooi dragtig raak en die weer bly verkeerd, kan sy haar lam tot twee maande langer binnehou en wag totdat die veld reg is.”
’n Entjie verder kry ons seekoeie wat wegwaggel, maar gou weer gaan staan om te wei. Hulle pluk-pluk aan die groen en ek sien dis maar net ’n verwerkingseenheid. Soos die gras ingaan, so word dit verteer totdat ta dit in honderde klein bolletjies agter uitplop. Of liewer uitswiep, want hy wikkel daai verspotte stertjie heen en weer dat die drolletjies so spat.
“Nou kom ons leer van die seekoei,” gaan System voort. Lank-lank gelede was hy net ’n landdier en het baie, baie warm gekry. Toe gaan hy na die Groot Skepper en vra of hy nie maar water toe kan gaan nie. Die Groot Skepper wys dit uit dat hy groot is en dat hy baie poef maak en dat dit nie goed sal wees in die water nie. Seekoei gaan toe ’n ooreenkoms aan met die Groot Skepper dat hy nooit in die water sal poef nie, maar altyd op land. Maar hoe sal ek weet? vra die Skepper. Seekoei onderneem toe om sy poef so wild en woes met sy stert te sprei dat Skepper kan sien. En tot vandag kan hy nog steeds water toe, want hy het by sy belofte gehou.
Om die volgende draai steek System vas. Hy wys voor hom in die sand. Dis nie nodig dat hy iets sê nie. Voor hom is ’n leeuspoor so groot hy pas nie op ’n A4-fotostaat nie.
‘Nou kom ons leer van die leeu,’ sê System. ‘Die leeu is ’n hond. Sommer ’n brak. Hy hou hom groot, maar hy is lui. Hy hou nie van weerstand nie. As hy jou uitdaag, moenie hardloop nie. As hy storm en jy staan stil, weet die brak nie waarheen nie. Dan gaan staan hy sommer.’
Ek hoop van harte ek hoef nie sy lering te beproef nie.
So het ons verder geleer van die koedoe se horings wat gedraai is en waar die stink van die muishond vandaan kom en hoe die maanhaar van die blouwildebees hom help trou het. Laatmiddag roei ons terug Oddballs toe en skielik kyk ek na die houtbootjie waarin ek sit en wonder oor krokodille.
“System, sal ’n krokodil hierdie boot hap?”
“As hy honger is, sal hy hom knak, ja, soos ’n vuurhoutjie.”
“En dan? Wat doen ons dan?”
System het met so ’n hele paar hale die mokorro verder vorentoe gedruk, toe die paal opgetrek en daarop geleun terwyl die druppels daarvan af drup-drup. Die mokorro gly op daai punt geruisloos verby ’n groot, dooie boom wat geplant in die water staan. System het die boom so sistematies op en af bekyk en toe oopbek geglimlag dat jy net wit Afrika-tande in die namiddagson sien blink.
“Dan dink ek dis tyd dat ons leer boomklim!”
Ek het gelag en laer afgeskuif in my sitplek. Dinge diep in die Delta is diep spesiaal.
“Dink jy daai olifant van gister is oukei?” vra ek hom later.
“Ek dink nie so nie. Ons dink hy is so bedonnerd, want die poachers het hom gekwes. Maar ons weet nie. Hy kruip weg.”
Die volgende oggend vroeg het System weer vir my gewag. Daar was iets anders in sy oë toe ek by hom kom.
“Ons het die olifant gekry,” is al wat hy sê.
“Gaan wys my.”
Hy het besef ek is ernstig en heel waarskynlik teen regulasies in het hy my gevat. Halfpad op pad terug vliegveld toe het die grootvoet onder ’n paar mopanies gelê. Onder agter sy linkeroor was ’n koeëlwond wat nog dik, donker bloed gelek het waar die brommers gemaaier het. Sy oog het verstar in die niet in gekyk. Maar van die lid teen sy wang af het die traanspoor dik gestol.
Nou kom ons leer van die mens. Hy is die laagste skepsel in die skepping van die Groot Skepper.
Italiaans is nie ’n grap nie …
Benedetto D’Amatto sit en kyk voor hom uit met sy swartbruin oë sonder om regtig iets te sien. Of so wil dit voorkom. Hy skuif die moue van sy verslete woltrui op tot bokant sy knopperige elmboë. Die trui wat eens swart was, het nou al vergroen van die ouderdom. Sy seningrige, bruingebrande leervel-arms gaan rus dan weer op die growwe houtoppervlak van die kombuistoonbank. ’n Wysvingernael wat min geknip word en blougeslaan is deur ’n hamer, krap ingedagte aan ’n sonletsel op sy arm. Sy hande is verweerd gewerk.
Benedetto se dik slierthare is swart soos dit hoort, maar die grys slaan dik silwer deur langs die kante. Sy snor wat ewe dik bo-oor sy bolip dak maak, is heeltemal grys. Hy het ’n gewoonte om die snorbaarde met sy ondertande vas te byt-byt teen sy bolip. ’n Paar dae se stoppels blink in die vuur links agter hom in die herd. Sy gesig is donker en diep gekeep van jare se baie son vat. Hoë wangbene, oë diep in hul kasse, lang ore plat teen sy kop en ’n stel groot tande gevlek van sy ewige pruimpie, voltooi die prentjie. So sit hy daar woordeloos. Benedetto is stomgeslaan.
Benedetto D’Amatto is nie ’n karakter in ’n Federico Fellini-fliek nie; hy is Marco Paricelli se oom. En Marco is ’n grafiese ontwerper wat saam met my in Brussel werk. En my vriend. Hy het my saamgenooi om by sy oom en tannie in Gragnano in die suide van Italië te gaan kuier.
Dit is my vierde keer in Italië en ek is nog steeds teleurgesteld in een ding. Ek het nog nie ’n ordentlike, egte, regte pizza in die land van pizza geëet nie. Elke keer wat ek probeer het, het ek so ’n dikke amperse pasteibedryf gekry. Marco het net skalks gelag toe ek hom vertel het. Ek het later eers uitgevind dat hierdie pizza al taglio ook eg Italiaans en afkomstig is van die streek Lazio.
Vandat ek begin leer het van verskillende lande en nasies, het ek ’n lang lys dinge begin maak wat ek nog eendag moet doen. ’n Regte, egte pizza in Italië is al lankal op daai lys en die ander Italiaanse ding is ’n ware espresso-ervaring. Dit het ek darem al reggekry by Antico Caffé Greco in Via dei Condotti net onder die Spaanse Trap. Of so het ek gedink. Soos ek begin agterkom het wat om my aangaan, het ek besef dis ’n baie unieke ervaring, maar kosmopolitaans, nie Italiaans nie. Die trap is gebou om die Spaanse ambassade met die kerk te verbind, met geld wat gegee is deur die Franse regering, en Caffé Greco beteken letterlik die Griekse kafee (sien, dis nie net hier by ons waar die Grieke op elke straathoek ’n kafee oopgemaak het nie). Dié Griek in Italië was Nicola della Maddalena wat sy kafee in 1760 begin het. Vandag is dit een van die drie oudste kafees ter wêreld wat ononderbroke onder dieselfde naam smous. Die oudste is iewers in Irak en die ander een is sekerlik De Akker op Stellenbosch wat aan ’n Portugees behoort. Haai rêrig? Nee. Ek bedoel, nee, dis nie die derde oudste nie, maar ja, dit behoort aan ’n Portugees. Sedertdien het ’n paar mense al daar kom espresso drink. Dis nou in Antico Caffé Grecco. Soos Liszt, Stendhal, Wagner, Mark Twain, Gogol, D’Annunzio, John Keats, Rossini, Goethe en Valentino. Onder andere. Ek was ook daar. Ek was ook al in De Akker, maar dis ’n ander storie …
Om terug te kom na die regte storie. Ek en Marco het Napels toe gevlieg en ’n Fiat-karretjie gehuur waarmee ons om die Vesuvius-berg en -krater gery het voordat ons koers gekies het die berge in tot by oom Benedetto en tannie Lalea D’Amatto. Die ding is net, ’n mens kan haar nie ’n tannie noem nie. Sy is ’n Mama. Met haar gelukkige, diepdonker oë wat altyd lag uit haar volmaangesig met roosrooi bolwange omring deur gietswart hare vasgevat in ’n blombolla terwyl sy haar pofarmpies oophou om jou welkom te heet en styf vas te druk teen haar mollige ma-lyf. Sy ruik na roosmaryn, laventel en vars gebakte brood. Ek sien nog die pofvingertjies vol deeg terwyl sy die agterkant van haar hand gebruik om ’n sliert hare wat uit die bolla ontsnap het agter haar oor in te werk. Sy lewe net vir een ding: om almal met wie sy in aanraking kom gelukkig te hou. En hoe? Met kos. En liefde. ’n Mama, ja. Dis wat sy is …
Benedetto en Lalea boer op ’n kleinhoewe langs die grootpad naby Gragnano. Hulle verbou groente en kruie vir die mark. Hulle is opreggeteelde peasants wat ’n salige middelklas-bestaan in die suide van Italië voer.
Ons het so kort voor sononder opgery met die afdraaipad na die D’Amatto’s se kliphuisie. Nadat Mama ons warm verwelkom het, is ons