Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
nie … Ek het eintlik nooit gedink wat van die skildery sal word nie, maar ek is bly dis joune. In elk geval, as Tobias ’n skildery van my wil hê, kan hy mos nog een skilder.”

      Hy knik, maar is nie heeltemal met haar antwoord tevrede nie. Tydsaam steek hy sy pyp aan en blaas ’n blou bondel rook die lug in. Dan draai hy onseker na die stil Ilse oorkant hom. “Hou jy baie van oom Tobias, Ilse?” vra hy onverwags.

      Sy trek haar asem skerp in en speel senuweeagtig met die oor van haar koffiebeker. “Ja, Henk … Ek meen, dis tog nie verkeerd nie? Hy was van die eerste dag af baie gaaf teenoor my. Jy hou tog ook van hom?”

      “Ja, ounooi, maar ek is ’n man.” Hy swyg en trek aan sy pyp, sien die ergerlike fronsie tussen haar wenkbroue. “Ek wil jou nie omkrap nie, Ilse, maar miskien is ek tog ’n bietjie bekommerd oor jou. Tobias Meiring, hy is ’n groot man met ’n groot naam … en baie liefdes. Ek sal nie graag wil sien dat jy seerkry nie.”

      Sy kyk vinnig na hom, voel ’n redelose woede in haar opstuif, en voel skaam en betrap. “Nog ’n bekommerde man,” smaal sy. “Eers die liewe Bruce netnou, en nou weer jy. Is dit wat jý ook van my dink? Dat ek elke Saterdagoggend my minnaar in sy huis besoek? Is dit wat jy –”

      “Ilse, nee!” sweepklap sy stem. Hy spring op en kom tronend oor haar staan. Sy gesig is bleek en strak. “So ’n beskuldiging maak jy nooit weer nie. Nooit weer nie, ounooi, want jy weet ek dink nie so iets van jou nie.”

      Die stil sekerheid in sy stem troetel die seer en vernedering van Bruce se woorde weg, laat haar veilig en getroos voel. Sy glimlag deur die warm waas wat in haar oë kom en lê haar hand huiwerig op sy arm.

      “Ek’s sommer ’n baba, Henk, maar Bruce het my vanoggend meer ontstel as wat ek besef het,” sê sy verskonend.

      “Maar ek dag jy sien hom nie meer nie,” sê Henk verwonderd en neem weer oorkant haar op die leunstoel plaas.

      “Hy kuier nie meer hier nie, maar hy het my blykbaar ingewag, want net nadat ek by Tobias se tuin uitgestap het, het sy motor langs my stilgehou. Hy het eers baie onsmaaklike aantygings teenoor my gemaak, en toe weer van besluit verander en my gedreig as ek weer daarheen sou gaan.” Sy haal haar skouers op en probeer ongemerk die enkele trane van haar wange met haar hand wegvee. “Jy weet mos, die ou storie van dat ek aan hom behoort, en aan niemand anders nie. Ek het ’n bietjie geskrik, want hy het nogal ernstig geklink. Daarom wou ek jou vra of jy sal sorg dat jy my die volgende twee Saterdae daar kom haal. Ek weet dis baie moeite, Henk, maar …”

      “Ek doen dit graag, ounooi, moenie jou verder daaroor bekommer nie,” val hy haar gerusstellend in die rede. Hy kyk na sy leë koffiebeker. “Kry ek nog iets te drinke?”

      “As jy mooi vra,” terg sy en staan op om water in die ketel te tap. “Gaan jy vir my nog oor oom Tobias preek?” vra sy oor haar skouer van die wasbak af.

      Sy sien die kommer in sy oë en verwens haarself omdat sy weer die onderwerp aangeroer het. “Ek verkies om nie verder oor hom te praat nie, Henk,” sê sy pleitend.

      “Ek dink weer ons moet, Ilse, want dit kan jou dalk help,” sê hy gedemp, wag totdat sy weer teenoor hom sit en vervolg: “Ek sê nie jy is op hom verlief nie, ounooi, maar …”

      “En as ek was, is dit miskien ’n sonde om lief te hê?” vra sy spottend.

      Hy maak ’n ergerlike handgebaar. “Moenie kinderagtig wees nie, Ilse. Niemand praat van sonde of van reg of verkeerd nie. Ek praat van dwaasheid, ja.”

      “En ek sal dwaas wees as ek van Tobias hou?”

      “As jy van hom hou, het ek niks daarteen nie. Ek hou ook toevallig van hom. Ek praat van verlief wees, liefhê, noem dit wat jy wil. My pa en oom Tobias is baie jare lank al vriende, en as daar iemand is wat hom ken, is dit my pa. Ek het jou reeds vertel dat oom Tobias vroeër getroud was en dat sy huwelik op ’n egskeiding uitgeloop het. Het jy al van die toneelspeelster Ray Summers gehoor? Sy vertolk soms filmrolle ook.”

      Ilse knik instemmend.

      Hy vervolg: “Ek ken haar ook. Dis seker vyf-en-twintig jaar gelede dat hulle reeds geskei is, maar na al die jare is sy nog lief vir hom, en hy vir haar. Op sy manier natuurlik, want ek glo nie oom Tobias kan ooit net een vrou liefhê nie. Maar sy speel vandag nog die belangrikste rol in sy lewe, en ek dink as sy net ja sou sê, trou hy vandag weer met haar.”

      “Nou hoekom wil sy nie? Ek dag sy is nog altyd lief vir hom. Dis mos wat jy gesê het,” sê Ilse geïrriteerd en voel die jaloesie in ’n seer knop op haar maag saamtrek.

      “Omdat tannie Ray vir oom Tobias beter ken as enige ander vrou, en sy sien nie kans om maar net een van die talle vroue in sy lewe te wees nie. Verstaan jy?”

      Ilse knik weer en voel haar aarselende drome van gister soos ’n kaartehuis om haar inmekaartuimel. Dan gryp sy na ’n laaste strooihalmpie. “Maar is Ray Summers nie net ’n besitlike, jaloerse vrou nie, Henk? Tobias is ’n baie aantreklike man, en ek kan verstaan dat al wat vrou is hom wil hê, maar ek kan hom nie daarvoor blameer nie. Ek weet van minstens twee meisies wat op Kobus Krynauw verlief is, maar Sonja gaan beslis nie hulle oë uitkrap, of vir Kobus daaroor kwaad wees nie.”

      Henk sug en skud sy kop ongelowig. “My liewe mensie, jy het self gesê die meisies is op Kobus verlief, maar sover ek weet, stel Kobus nie in hulle belang nie. As hy skielik sou omdraai en hulle uitneem, sal Sonja dan nog die situasie houtgerus aanvaar?”

      “Nee, natuurlik nie,” antwoord sy, besef skielik wat Henk bedoel en skuif ongemaklik op die rusbank rond. “Jy bedoel Tobias Meiring …?” vra sy huiwerig.

      “Juis. Vir Tobias Meiring is daar net een mens wat saak maak, en dit is Tobias Meiring. Hy weet nie wat lojaliteit of liefde beteken nie, en ek glo nie jy sal dit vir hom kan leer nie. Meer hoef ek nie te sê nie, Ilse, maar ek dink ek het jou genoeg gewaarsku.”

      Sy antwoord nie, maar hy sien die opstand in haar oë, sien haar kennetjie uitdagend wip. Dan het Tobias Meiring reeds ’n sterker houvas op haar emosies as wat hy vermoed het, dink Henk bekommerd. Wat meer kan hy doen om te verhoed dat die meisie seerkry? Of het oom Tobias werklik ’n gevoel vir Ilse? Het hy vir die eerste keer ’n meisie opreg lief? Nee, nie dít nie! Onlangs het hy nog vir Sonja uitgelag omdat sy gemeen het hy is te gerus, maar nou? Tobias Meiring is ’n gevaarlike mededinger, iemand met wie hy rekening sal moet hou …

      “Ilse … ounooi, wil jy nie vanaand saam met my veldfliek toe gaan nie?” hoor hy homself hortend vra.

      Sy kyk verras op en glimlag kopskuddend. “Jy weet ek moet Saterdagaande studeer omdat ek soggens na Tobias toe gaan, Henk. Ek sou graag wou gaan, maar die eksamens is om die draai. Gaan jy dan nie vanaand saam met my studeer nie?”

      “Seker … seker. Ek was skielik net lus om ’n slaggie na ’n goeie rolprent te gaan kyk,” maak hy swakkies verskoning en neem die beker koffie wat sy na hom uithou.

      In die stil eetkamer peusel Ilse lusteloos aan haar middagete. Toe stap sy deur kombuis toe om die bord op die wasbak neer te sit. Ingedagte slenter sy op die agterstoep uit en neem op die stoepmuurtjie plaas. Haar oë rus op die groot bedding dahlias teen die wit ringmuur.

      Haar gesprek vroeër die middag met Henk maal steurend deur haar gedagtes. Hoeveel waarheid steek daar in wat hy gesê het? Dis tog wat tannie Nicky al ’n geruime tyd van Tobias sê: die ewige minnaar. En beide tannie Nicky en Henk ken die werklike Tobias – nie die man wat sy net Saterdagoggende sien, en wat so bedagsaam en teer teenoor haar optree nie. Henk dink Tobias is nog lief vir Ray Summers, maar as hy haar werklik liefhet, sal hy mos nie met ander meisies uitgaan nie. Moontlik voel hy oor Ray soos sy al die jare oor Bruce gevoel het. Hy was die man met wie sy moontlik sou trou, maar lief het sy hom nooit gehad nie. Daarom het dit haar nooit gepla dat Bruce met ander meisies uitgegaan het, of dat sy ander mans se geselskap geniet het nie.

      Verlig oor haar oplossing, draai sy om en begin stadig terugstap na die voordeur.

      Tog jammer dat Henk so heftig gekant is teen ’n verhouding tussen haar en Tobias, dink sy bekommerd.


Скачать книгу