Vertrou nie op prinse. Evelyn Wessels

Vertrou nie op prinse - Evelyn Wessels


Скачать книгу
“Ja, ek stel beslis belang in die pos. Om na so ’n versameling om te sien, is presies wat ek graag wil doen. Na wat ek verneem en gelees het, en selfs net die bietjie wat ek hier in die kantore kon waarneem, is dit ’n wonderlike versameling en sal dit ’n voorreg wees om met die werke om te gaan. Maar ek het ’n paar vrae, selfs voorwaardes – dit kan u verras, meneer Hofmeyr. Ten eerste het niemand nog na ’n salaris verwys nie. Ek sal eers ’n geskrewe aanbod met ’n goed uitgestipte pakket moet sien voordat ek finaal kan besluit. Ek weet dat geld nie vir u ’n probleem is nie, maar hier waar ek my eerste pennies self moet verdien, is dit vir my nogal ’n beduidende faktor. Ten tweede, James het gesê u wil hê ek moet op die plaas inwoon. Nou ja, dit is seker wel, soos u te kenne gee, dat duisende meisies vanoor Suid-Afrika – ag, wat praat ek, vanoor die hele wêreld – sal spring vir die geleentheid om by die ‘Prins van Schoongelegen’ in sy ‘paleis’ in te trek, maar ék het ernstige voorbehoude! U praat van commitment – ja, ek is gereed om ’n aantal jare aan hierdie projek te wy, moontlik selfs om dit my lewenstaak te maak, maar ek is nie gereed om my hele lewe, my privaat sowel as professionele lewe, deur Schoongelegen se mense en eise te laat insluk nie. Ek sou dus verkies om op lang termyn nié in te woon nie. Ek kan nie ontken dat dit my nou baie goed sal pas nie – dit sal uiteraard gerieflik wees en ek hoef my nie te bekommer oor verblyf in die Kaap nie. Maar ek wil dit duidelik maak dat die instemming om in te woon nie ’n langtermyn verbintenis is nie. Ten derde is ek nie ’n ‘juffoutjie’ nie. Ek vind die aanspreekvorm onaanvaarbaar hovaardig en meerderwaardig.”

      Sy is ’n bietjie geskok oor wat alles uitgekom het, maar besluit om haar man te staan. Sy sien dat Martin breed glimlag. Ryk Hofmeyr se gesig verraai geen uitdrukking afgesien van ’n baie beperkte belangstelling nie.

      “U sal nou maar moet besluit of u my nog wil aanstel,” sluit sy met beslistheid in haar stem af, terwyl haar hart in haar keel klop.

      “Wel,” antwoord Ryk Hofmeyr, klaarblyklik onverstoord, in ’n rustige stem, “u kwalifikasies, soos u self gemeld het, en u getuigskrifte is uitstekend. Veral aangesien een van hulle van James Hilton is, ’n persoon wie se oordeel ek absoluut vertrou, sal ek u wél graag wou aanstel. Natuurlik sal niemand verwag dat u sonder ’n geskrewe aanbod ’n finale yea of nay moet sê nie. Ek sal sorg dat u dit in die hand het voordat u môre op die vliegtuig klim. Wat die ‘juffroutjie’ betref – ek moet erken dat ek deur u klein postuur verlei is tot die aanspreekvorm.”

      “Klein maar giftig,” waarsku Louise, “soos ’n knopiespinnekop, het my nefies altyd gesê.”

      “Dit was – ’n onaanvaarbare, verstaan ek – toespeling op u voorkoms, eerder as u status,” vervolg Ryk Hofmeyr. “Dit sal nie weer gebeur nie.” Sy mondhoeke verraai geen glimlag nie en sy stem bly ernstig, maar sy is seker dat sy blou oë geamuseer blink. Martin draai sy kop heeltemal weg. Lag die twee mans nou saam vir haar? wonder Louise.

      “Die probleem sal natuurlik opgelos word as ons mekaar op die voornaam aanspreek,” sê Ryk Hofmeyr, “en ek sal probeer om geen verkleinvorme te gebruik nie. Ons gemeenskaplike vriend James sal in elk geval nooit sulke formaliteit tussen ons duld nie.” ’n Klein glimlaggie verskyn nou wel om sy mond.

      Louise glimlag verlig terug. Haar vermetelheid het beslis goeie vrugte afgewerp. Daar is nou groter gemaklikheid tussen hulle.

      Die interkom gons en mejuffrou Ismael kondig aan dat ene meneer Wilson opgedaag het om Martin te spreek. Martin verskoon hom en verlaat die vertrek. Louise staan verlig op. Sy lei af die ietwat onkonvensionele onderhoud is verby.

      Ryk staan ook op, maar voordat sy haar hand kan uitsteek, vra hy: “Het jy ’n afspraak vanaand en hou jy van opera?”

      Ietwat oorbluf, antwoord sy: “Nee, ek het niks anders gereël nie. Ek het nie geweet wat julle alles van my sou verwag nie. En ja, ek is mal oor opera!”

      “Ek het gedink dit kan nie anders met ’n goeie vriendin van James nie,” glimlag hy.

      “Ek voel verantwoordelik om seker te maak jy geniet jou verblyf hier, en ek het kaartjies vir Così fan tutte vanaand in die Kunstekaap. Kan ek jou kom oplaai?” vra hy.

      “Dit sal heerlik wees. Dit is een van my gunstelinge,” sê sy. “Maar ek het nie aandklere saamgebring nie.”

      “My gunsteling ook, en jy lyk baie deftig, jy hoef niks anders aan te trek nie. So halfagt? Die operahuis is baie na aan jou hotel.”

      “Dankie, ek sien baie daarna uit.”

      Hulle skud hand en sy draai om om by die deur uit te gaan. Met die deur oop in haar hand, hoor sy hom weer met haar praat. Sy draai terug. Hy kyk haar vraend maar tog geamuseer aan.

      “Ek is seker James het jou die hele storie van my oumagrootjie,” hy knik met sy kop na die skildery, “en Claude Becker vertel. Hy is te gefassineer daarmee om dit nie te gedoen het nie.”

      Louise voel hoe sy bloos. Sy moet seker maar eerlik wees. “Ja,” sê sy en trek haar mond selfbewus verskonend, “hy het. Maar ek het regtig ook die opmerking oor die skildery in Walters se boek gelees – dit was nie versinsel nie.”

      “Ek het geen oomblik daaraan getwyfel nie,” sê Ryk Hofmeyr en lag haar met sy blinkblou oë toe sodat sy skielik nie baie vas op haar voete voel nie.

      * * *

      Terug by die hotel verklee Louise haar in gemakliker klere en geniet ’n heerlike, ligte maaltyd by een van die hotel se restaurante. Met registrasie het die ontvangsdame aan haar verduidelik dat al haar etes by haar verblyf ingesluit is, solank sy dit in die hotel nuttig. Van der Byl-Hofmeyr sou alle rekeninge betaal.

      By die hotel se concierge verduidelik sy dat sy na winkels met ou juweliersware, estate jewellery, soek en vra of hulle iets kan aanbeveel. Sy soek iets om darem haar voorkoms vir die aand se uitgaan so ’n bietjie te verglinster. Die vrou beveel dadelik aan dat sy in Langstraat moet opstap. “Baie van die antiekwinkels daar hou ook juwele aan.”

      Sy bring ’n genotvolle middag deur. Afgesien van die antiekwinkels is daar ook heelwat tweedehandse boekwinkels en sy moet haar dwing om op haar horlosie te kyk om nie alle sin vir tyd te verloor nie. In ’n antiekwinkel met die reuk van vervloë tye en geparste roosblare vind sy presies wat sy soek: ’n pragtige ou halssnoer en oorkrabbertjies van markesiet wat amper soos diamantjies glinster.

      Terug by die hotel kan sy net ’n halfuur rus voordat sy moet bad en aantrek vir die aand. Sy is verplig om dieselfde grys boucléromp van die oggend weer aan te trek, maar die baadjie verruil sy vir ’n silwergrys syhemp wat sy as alternatief vir die onderhoud saamgebring het omdat die Kaapse weer so onvoorspelbaar is. Hierby sal sy haar grys kassemier serape-mantel dra. Dit was ’n verjaardagpresent van James in Engeland, “omdat dit so mooi by jou oë pas”. Sy kam haar goudblink hare op in ’n Franse rol wat haar altyd elegant laat voel. Die nuwe halssnoer en oorkrabbertjies het presies die gewenste effek – hulle verleen net die nodige tikkie glinstering aan haar hals en ore. Wanneer sy haar in die spieël bekyk, dink Louise taamlik ingenome dat selfs Ryk Hofmeyr nie skaam hoef te voel om vanaand saam met haar gesien te word nie.

      Sy gaan in die hysbak af en wag vir hom in die voorportaal. Dit is met iets soos kinderlike opgewondenheid dat sy deur die hotel se groot glasvensters die middernagblou Rolls-Royce sien wat in die hotel se aanrit opry. ’n Chauffeur klim uit en hou die deur oop vir Ryk Hofmeyr, deftig in ’n donker pak.

      Toe hy by haar kom, sê sy reguit: “Ek het nog nooit in ’n Rolls-Royce gery nie!”

      “Vanaand is die aand,” glimlag hy en vergesel haar na buite. Die chauffeur hou vir haar die deur oop en Ryk wag totdat sy haar in die luukse sitplekke tuismaak voordat hy omloop en aan die ander kant inklim. Hy stel haar aan Gerald, die chauffeur, voor.

      Voor die operahuis word hulle met groot grasie afgelaai en die Rolls-Royce vertrek weer.

      “Gaan Gerald nou al die pad terug na Schoongelegen en dan kom hy ons weer na die uitvoering haal?” vra Louise.

      “Nee, dit is nie regtig te ver om van Schoongelegen af te kom nie, maar ons het ook ’n huis in Oranjezicht vir geleenthede soos


Скачать книгу