Koukonap. Johann Botha
laat. Hy loop stilletjies agter Koenie aan. Hulle is ’n ent weg van die kinders by die balie.
“Hierso, Koenie,” sê hy. “Jy kan my toebroodjie kry.”
“Gaan kak,” sê Koenie.
7. Arnotstraat
Teen die tyd dat Lenie vir Theunie verwag het, was dit duidelik dat hul huurhuis te klein word. Lood het nagte wakker gelê van somme maak. ’n Groter huurhuis was natuurlik ’n opsie, maar Lood was besig met ’n kopskuif.
Tot dusver het hy sy verblyf op Koukonap nog steeds as tydelik beskou. Sy eintlike tuiste, waarheen hy mettertyd sou terugkeer, was die Oos-Vrystaat. Miskien eendag Bloemfontein. Dat hy nou besig was met planne om eiendom op Koukonap te bekom, was vroeër ondenkbaar. Sonder dat hy dit agterkom, het hy hom versoen met ’n nuwe werklikheid. Op ’n manier was dit ’n tuiskoms.
In sulke sake is vrouens meer prakties as mans. Lenie mag wel ’n gevoelsmens met ’n sterk streep romantiek in haar samestelling wees, maar waar dit om haar gesin se beswil gaan, oordeel sy met ’n genadelose nugterheid. Sy het lankal besef dat Lood se rol as posmeester op ’n klein dorp soos Koukonap hom baie goed pas. Hier is hy van aansien, die portuur van sakelui, boere en mense soos die predikant, die landdros en die sersant van polisie, die skoolhoof, die dokter en die dorp se twee prokureurs. Hier is hy baas van sy plaas; hy hoef by niemand te flikflooi ter wille van bevordering nie.
Al wat hy hoef te doen, is om sy ambisie te temper.
Ryk is die Fouries nie. Lood verdien ’n staatsdienssalaris waarmee hy verstandig te werk gaan. Hy weet hoe dit was om arm te wees. Dit het hom respek geleer vir geld, hom versigtig gemaak vir impulsiewe uitgawes en bang vir skuld. Hy verkies om binne sy vermoë te leef. Die beginsel is eenvoudig. As jy iets nie kan bekostig nie, moet dit nie koop nie.
Hoewel daar dus nie oordaad is nie, ly Lood se gesin nie gebrek nie. Hulle voer in alle opsigte ’n ordentlike bestaan. Hul huurhuis en tuin word behoorlik in stand gehou. Daar is ’n paar akkertjies vir groente. Lenie sorg dat dit binne blink. Hoewel nie van die duurste nie, getuig haar gordyne, linne en breekware van goeie oordeel. Daar is vars blomme in die huis. Daar is voedsame kos op die tafel. Klere word, volgens die beproefde beginsel van een in die was, een in die kas en een aan die bas, gereeld gewas, gestryk en herstel. Waar moontlik, word hemde, broeke en truie van seun tot seun aangegee. Waarmee hulle die huis verlaat, is altyd presentabel.
Waar dit om die aankoop van eiendom gaan, sou Lood uit die aard van die saak moes afwyk van sy konserwatiewe benadering. Daar was nie sprake van ’n kontantkoop nie. Spaargeld sou dalk kon sorg vir ’n klein deposito en die oordragkoste en verbandregistrasie kon dek, maar ’n verband sou daar moes wees.
Dit voel vir hom soos ’n sprong in die duister. Hy oorweeg en heroorweeg die voor- en nadele aan so ’n waagstuk verbonde. In beginsel is daar ’n verskil tussen skuld wat jy uitleef en skuld om ’n bate te finansier. Die belangrikste voorwaarde is bekostigbaarheid. Dit hang af van faktore soos leningsbedrag, rentekoers en termyn.
Dis die somme wat Lood saans aan die eetkamertafel sit en uitwerk en waarmee hy verder in die bed lê en rondrol. Volgens sy berekening sou hulle kon deurkom. Dalk die rieme ’n tyd lank bietjie dunner sny. Dalk Saterdagmiddag se tennis vir eers uitskakel. Liewer in die tuin werk. Sulke dingetjies.
Die grootste struikelblok was sy trots. Om ’n verband te kry, sou hy by die bank moes gaan aanklop. Hy sou moes gaan vra en verduidelik. Die bestuurder sou agter sy lessenaar sit en oordeel. Dit gaan teen Lood se grein. Nie dat hy iets persoonliks teen Stephen Saunders het nie. Hulle ken mekaar darem van groet op straat en ’n paar woorde wissel by die bank of die poskantoor. Hy was nog altyd heel aangenaam. Maar die beginsel. Daar sou iemand op die dorp wees wat rondloop met intieme kennis van Lood Fourie se sake.
Dit kan egter nie anders nie. Hy bel die bank en maak ’n afspraak om die bestuurder te kom spreek. Die aand voor die tyd is hy so knorrig soos ’n beer met ’n seer tand.
“Wat pla jou tog so?” vra Lenie naderhand.
“Ek sien net nie kans om te gaan gatlek nie.”
Agter sy woorde gewaar sy iets wat haar ontroer – die seuntjie wat Lood moes gewees het. Hy sal dit seker nooit erken nie, ook nie aan homself nie, maar soms haal die verlede hom in. Die knapie wat sy pa vroeg verloor het, moes homself leer om vrees en onsekerheid te beveg met ’n hardegat houding.
“Nee,” sê sy. “Gatlek is nie jou manier nie. Jy hoef ook nie. Meneer Saunders is mos darem nie ’n aap nie. Hy sal weet wat ’n kliënt soos Lood Fourie werd is.”
“Jy reken,” sê Lood.
“Hy kan my maar kom vra,” sê Lenie.
Toe lag hulle.
Later jare was hy trots daarop dat hulle astrant genoeg was om, soos hy dit gestel het, huis te bou sonder geld: “Die bank moes maar net hoes.” Heeltemal so maklik het dit nie gegaan nie. Hulle het die maksimum geleen waarvoor Lood gekwalifiseer het, en daarmee moes hulle uitkom. Dit het beplanning en dissipline gekos.
Op Koukonap is die tendens dat huise onderkant die Grootvoor, ten minste dié met leibeurte, meer gesog is as huise bokant die voor. Die laer grond is ook beter. Die Vaalrivier moes vroeër jare hierlangs breed geloop en ryk slik gedeponeer het. Daar is egter net sóveel ruimte tussen die Grootvoor en die rivier beskikbaar, sodat die dorp teen die bult moes begin uitbrei.
Skuldbult, spot die dorp se ou inwoners. Daardie spoggerige huise met uitsigte teen die hang behoort waarskynlik meer aan die bank as aan die mense. Dit geld ook maar meeste van die jonger gesinne wat bokant die Grootvoor koop of laat bou. Hulle doen dit op skuld, in die hoop dat die verband êrens in die toekoms afbetaal sal word.
Dis ook die roete wat die Fouries volg. Lood koop ’n erf in Arnotstraat wat dalk nie vir die gemiddelde koper besonder aanloklik sou wees nie. Nommer 13 is ’n erf soos die heelwat ander wat beskikbaar is, want Koukonap, en Skuldbult met hom saam, brei nie so vinnig uit dat kopers mekaar vertrap nie. Die erf lê teen ’n effense helling. Die grond lyk nie te sleg nie, hoewel klipperig en oortrek van doringstruike. Soos elders in dié omgewing is daar plek-plek ’n kalkbank onder die bolaag.
Vir Lood is dit ’n goeie ligging. Hoewel bokant die voor is dit redelik sentraal, binne gemaklike stapafstand van omtrent als, insluitende die skool. Die poskantoor, tesame met sy tegniese afdeling en telefoonsentrale, lê soos die kraai vlieg skaars meer as honderd tree van Arnotstraat. Tussenin is daar ’n strook onbenutte meentgrond. Van nommer 13 kan jy oor die straat loop, deur die draad klim, ’n voetpaadjie volg en binne vyf minute by die werk wees.
Sulke dinge is belangrik vir ’n man wat sy motor verkoop het toe sy vrou hul eersteling verwag en nou as pa van drie ’n huis wil bou. ’n Ryding sak al weer laer op sy lys van prioriteite.
Hy dink nog soms terug aan die eerste en tot dusver enigste ding in sy lewe wat hy op skuld gekoop het – ’n tweedehandse 1934 Buick Sport Coupe met sy twee deure en die dickey seat agter. Gou afbetaal, van skuldig en tog so trots voel. Oud maar nog lank nie koud nie was ou Appels, sy noemnaam vir dié bottelgroen agtsilinder met die whitewall-bande, linkerhandstuur en die ratstok met die wit knop onder die stuurwiel. Die kar waarmee hy Lenie die hof gemaak het. Die kar waaroor sy net so hartseer was toe die nuwe eienaar met hom wegry. Maar hul eersteling se koms het alles oorheers.
Nou sit hy en Lenie saans by die eetkamertafel en planne teken. Dan konsulteer hulle weer met Daan de Bruyn, wat glo die billikste bouwerk op die dorp doen. Lood is ’n genadelose onderhandelaar.
“Liewe dôner,” sê Daan naderhand. “Askies tog, mevrou.”
Lenie het al met Lood geraas oor sy manier met Daan.
“Hy is mooi groot,” sê Lood dan. “Hy het nie jou hulp nodig nie.”
Nou loop Lenie liewer kombuis toe as Lood weer redekawel oor elke besonderheid in Daan se kwotasie. Wat betaal jy vir sand en sement? Wat kos bakstene? Hoeveel werkers gaan jy gebruik? Kan hulle darem messel? Waar koop jy die krane? Hoe beplan jy die French drain? Wie doen jou