Die wêreld van Charlie Oeng. Etienne van Heerden
stuur Pa my partykeers om voor so ’n grot ’n slagyster te gaan stel. Dis ook wegsteekplek vir treinspringers se sakke buit wat hulle van die trein af gesteel het terwyl die stoomlokomotief by die siding teen die berg water suip.
Drosters skuil in daardie grotte, mense op die langpad tussen die noorde en die suide. Soms word hulle van die Angola-lyn wat van die Baai hier verby Slootplaas noord loop, afgegooi wanneer die spoorwegpolisie die lang treine fynkam. Dan lê hulle eers hier in die koelte oor voordat hulle die rivier deurstap en teen die teerpad anderkant Bobby Greenblatt se plaas gaan staan met die lang gesigte van kraaie en die bruin duime van ou kansvatters.
Bandiete kruip daar weg met hul kaalgeskeerde blink koppe en tatoeëermerke. Enige handige ding wat hy optel, kan so ’n bandiet slyp tot mes, oppas maar vir die Sloot, en Pa waarsku: moenie dat stukke afvalyster naby die Sloot rondlê nie, die bandiete aas dit en dit word arsenaal.
Op drie van die modderpilare staan perskebome wat in die lente pragtig in bloeisels uitbars en dis wanneer Ma vir my en Pa op ’n Saterdagmiddag afvat Sloot toe. Dan staan ons op die wal en kyk verwonderd na wat sy die drie bruide noem.
Nou, oor die Sloot se bedding, onverskrokke tussen die alleenstaande pilare met die hamerkopneste bo-op of ’n uil wat haar stilweg dophou, stryk ouma Ogies aan. En onopsigtelik sluip ek agterna. Dis ’n paadjie hierdie wat sy sedert kleintyd stap, so weet ons almal op Slootplaas. As kind kon sy nie saam met die ander werkerskinders speel nie. Sy’t nog altyd blindelings gelewe, Slootplaas se ouma Ogies.
Ouma Ogies het ’n geldjie in die bank gehad. Toe Ma se pa, die oupa wat ek nooit geken het nie, dood is, het hy iets vir haar nagelaat. Haar voorgeslagte het op die plaas gewoon en hard vir Ma se grootouers (en vir geslagte nog voor hulle ook) gewerk. Vir die blinde meidjie Ogies het Oupa se testament ’n mooi bedraggie nagelaat, met die opdrag dat sy lewensreg op die agterste struis sou hê, plus vleis van die slagpaal, water uit die kraan en groente uit die akker per maand.
Dis nou te laat om te vra, maar ek verbeel my ouma Ogies se pa was ’n ruk lank onderwyser by ’n plaasskooltjie verder op teen die spoor. Of hy was ’n posbode op die dorp, of so iets. Toe het hy weer, toe die skooltjie sluit (of dalk toe hy sy werk as posbode verloor het) op die plaas ingeval, maar self nooit ’n graaf hoef op te tel nie. Wat hiervan mite is en wat ware oorlewering weet ek nie. Ek weet net iewers is die naam Renosterveld maar altyd aanwesig wanneer oor ouma Ogies se pa gepraat word.
By haar huisie sit ouma Ogies onder die Katolieke portret van die Heilige Santa Lucia en maak waaiers uit vere. Sy sny ook soms lang riete uit die Sloot se onderlope en snoei hulle mooi skoon en maak die vere boaan vas. Dis mooi goed en mense gebruik dit as versiering in huise: “ouma Ogies se papegaaivere”. Dis te mooi om as verestoffers vir plafonne te gebruik. Of sy maak ’n waaier waarmee jy, as jy nou in ’n storieboek ’n prinses of ’n ding was, jou sou kon koel waai.
Vir die mense van ons dorpie of die treinreisigers wat op die siding naby ons plaas se perron by haar koop, is so ’n veerding bloot so mooi dat jy nie jou hande daarvan kan afhou nie. En soos baie mooi dinge, onprakties. Dalk is dit juis omdat dit geen funksie het nie dat die mense dit nie kan weerstaan nie.
Aan dié dinge loop ek so doekvoet ek kan en dink, toe sy skielik omdraai. Agter haar toring die modderpilare en bo-op, die drie bruide.
“Tian Kilian, jy loop nou al oneindig agter my aan. Ek dag eers dis die tokkelos se pootjies, nou ruik ek jou. Wat is jou storie?”
Sy haal vinnig asem en met haar twee hande versit sy die papegaaiveertjies, oor en weer. Hier is die blou nou, daar gaat die groen, omruil met die rooi. Oranje!
Ek skrik my kis. Ek dag sy’t geen idee ek het haar die Sloot in gevolg nie. Op so ’n warm dag is die Sloot ’n oond. Veral wanneer dit kort tevore gereën het. Dan is daar nog klam kolle en sleepsels van water en opdrifsels oor die bodem.
“Ek stel slagysters, ouma Ogies!”
“Vir wat, Tian Kilian?”
Ek is verbouereerd. Sy staan daar veertjies in die hand teen ’n slootwand wat erg uitgekalwe is. En sy weet nie van die uitkalwing nie. Enige oomblik kan dit (ek hoor Ma se stem in my ore), soos die wande van die Sloot dikwels doen, net val. Oop en bloot sien jy dan soms die ou fossielskulpe wat op party plekke in die wande ingeklip lê. Die hoop ingestorte grond sal met die volgende vloed als rivier toe spoel. Ma het al ’n keer aan my gesê: “Hierdie Sloot is soos ’n kanker, hy eet al dieper in ons landerye in. Eendag gaan hy nog hierdie hele plaas verteer. G’n wonder jou oupa het die plaas Slootplaas genoem nie.”
Nou ja. Ma.
Maar nou staan ek daar, en ouma Ogies is verontwaardig.
“Teen die muskeljaatkatte, ouma Ogies!”
Maar sy kyk my met ’n skeptiese trek om die mond aan.
“Teen die Skreeu, ouma Ogies!”
Want in die Sloot, net om die draai verby die drie bruide, woon die Skreeu. Op daardie plek kom die vloed vinnig af en by die draai het die water ’n draaipatroon in die sandbedding gelos en fossiele spoel soms daar uit, krappe en horings en die naels van pote in klip gestol. Die Skreeu kan jy maar gaan soek, maar hy gee nooit bes nie. Net soms klink hy aaklig op, op onvoorspelbare tye. Dan skrik als op Slootplaas tot stilstand. Die diere kyk op, die honde se hare staan op hul rûe orent.
“Sterwensangs,” sê sommige mense.
’n Xhosamaagd, daar geslag deur ’n sangoma ’n eeu gelede, glo party. Of ’n groepie Boesmans, vasgekeer tussen die modderpilare deur ’n wraakkommando boere in die tyd van die veediewery, glo ander.
Niemand weet nie, en dit kon ook ’n mesgeveg tussen treinspringers gewees het, maar die Skreeu lewe daar en hy is ’n lewende ding, en onvoorspelbaar. Dag of nag, skielik klink hy op.
Waaroor almal saamstem, is dat die Skreeu te doene het met die vreeslike dinge wat mense mekaar aandoen, met die onliefde, met die wreedheid, met hierdie plek waarin ons woon se verskriklike geskiedenis van bloed.
Jy kan maar ’n duiweluitdrywer Sloot toe stuur, of ’n predikant of speurder – en al hierdie dinge het al gebeur – maar niemand kan die Skreeu wegsweer nie.
Onsigbaar en stil is hy daar in die Sloot se Maldraai, want dis wat die plaaswerkers daardie plek noem, en normaalweg loop jy dwarsdeur sy tjoepstilte, en hy verklap nie dat hy vir jou staan en kyk nie.
“Die Skrou wag sy eie tyd af,” het ouma Ogies se pa glo altyd gesê, “en wanneer jy hom die minste verwag, dan dawer hy.”
Op ’n keer het ouma Ogies geheimsinnig laat val: “Die Skreeu is rooi.” Sy kan hom sien, het sy vertel. “Vir my wys hy sy lyf.”
Niemand wou verder aan haar torring om uit te vind wat dit beteken nie. Party mense het ’n ander naam vir hom. “Hoendervel is hom naam,” sê hulle. “Partys roep hom Gril.”
Maar vir ons, vir my en Pa en Ma, het hy die naam Skreeu gedra.
Sal ouma Ogies my glo? Sy kom nader. Sy staan voor my en vroetel met die vere in haar hande. Sy gee my ’n bloedrooi veer. “Tian, kan jy nie hoor dis tjoepstil vandag nie? Vat die veer. Loop saam met my na Bobby Greenblatt sodat die rivierwind die swawel uit jou hare kan waai.”
Ek vat selfbewus oor my hare. “Is reg, ouma Ogies.”
Ek volg haar asof ek die blinde is. Ons loop in die Sloot af. Die Sloot is nie sommer ’n donga nie. Ouma Ogies vertel altyd terwyl sy deur die Sloot stap, hou baie oë haar dop. Ligvoets sit ’n rooivalkie op ’n boom se hoogste tak en kyk af na haar. Iewers wag ’n afgedwaalde aap in ’n skeur se skaduwee behoedsaam dat sy verbykom, sy oë stip op haar.
Die tokkelos is ook hier, op soek na sy geliefkoosde kos: sprinkane. Hy hurk daar in die skaduwee. Sy voel sy teenwoordigheid aan en wanneer sy by hom verby is, is sy blik ’n koue hand op haar ruggraat. Dis nes die koue oog van ’n boomslang wat deur ’n kriedoring vleg.
Hier is die reuk van grond so sterk, dit is asof die hele wêreld net uit grond bestaan. Grond styg weerskante van jou uit. Grond