Hoë hakke met hoogwater. Jacolet van den Berg

Hoë hakke met hoogwater - Jacolet van den Berg


Скачать книгу
en bleek, maar dis nie ’n delikate hand nie. Dis sterk.

      Sy bly staan net, ignoreer die aangebode hand. Hy moet besonder bekwaam wees. Haar pa sal nie sommer ’n thirty-something as vennoot werf as dit nie beduidende voordeel vir hom inhou nie.

      “Is dit hoe julle deesdae lyk?” Sy gee nie om wat hierdie hoofseun met die blou oë van haar dink nie. Prim en propper staan in hoofletters oor hom geskryf. Van die netjiese kort geknipte donker hare – gejel en met die kuif effens punt in die wind soos wanneer jy in die mode probeer wees – tot die donker stippels om sy ken. Net genoeg om te wys hy weet hóé en min genoeg om te wys hy is versorg.

      Hy laat hom nie van stryk bring nie en die glimlag om sy lippe bly. “Simoné. Bly te kenne.”

      “Ja, whatever.” Gewoonlik sal sy haar darem skaam om so met iemand te praat, maar sy is lus om te skok en dis nou maar jammer vir hom dat hy op die verkeerde tyd voor haar staan. Die feit dat hy haar pa se nuwe blue-eyed boy is en alles verteenwoordig wat sy nooit kan en wil wees nie, laat haar nog minder skuldig voel.

      Al wat sy nou wil doen, is by Zane kom. Sy moet met hom praat. Dalk het sy haar misgis of het hy ’n aanvaarbare verskoning. Vir al wat sy weet, deel hy geld onder die armes uit of betaal vir ’n straatkind om skool te gaan en leen dit net tot tyd en wyl by die winkel. Sy glo in sy goedheid. Hulle is al twee jaar saam.

      Sy moes beter kontrole uitgeoefen het, dan sou Zane dalk eerder met haar gepraat het. Maar sy doen net haar ding en steur haar nie altyd aan die administrasie van alles nie.

      Sy skud die sagte hand wat haar ma op haar arm lê af. Haar lip gaan weer bewe as iemand nou met haar sag is. Zane sal haar nou vashou en verseker sy het weer die dam onder die eend uitgeruk.

      Dante de la Harpe het sy hand laat sak en ’n frons keep tussen sy wenkbroue. Sy kan die irritasie in die trek om sy oë sien. Min mense is seker so ongeskik met hom soos sy pas was. Haar ma wens seker sy kan in die aarde wegsak oor haar kind se swak maniere.

      “Cheers.” Sy wuif voor haar ma iets kan sê. By die deur draai sy skuldig terug. Dis darem haar ma met wie sy praat. “Ek sal Ma sms oor môre.” Sy stap na waar haar kombi in die koelte geparkeer staan, slaan die deur met mening toe en kry haar sit. Verdomde cliché van ’n kar; surfer girl in ’n kombi. Wie sou dit kon raai? Sy het dit op Zane se aandrang en haar pa se afkeer gekoop. Anton Stander het iets Duits, duurs en betroubaars in gedagte gehad. Nou is sy ’n cliché op ’n slakkepas. Dit kom van voorspelbaar wees. As haar pa gesê het sy moet die kombi koop, het sy dalk nou in ’n silwer sedan met ’n dakrak rondgejaag. Maar nou ja, solank die kombi nie breek nie kan sy seker nie kla nie.

      Vir oulaas kyk sy na die Stellenbosse herehuis en dit voel asof sy stert tussen die bene wegry. Sy weet haar pa moes hard werk om te kom waar hy is, hy het niks op ’n skinkbord gekry nie en ook nie ondersteunende ouers gehad nie, maar hy kan darem meer simpatiek en ondersteunend teenoor sy kind wees.

      Haar rug is aan die kunsleersitplek vasgesweet toe sy by die parkeerarea voor haar winkel, Surf Hub, in die Strand indraai. Hulle is bevoorreg dat die winkel so goed geleë is. Dis reg op die strand, wat surflesse baie gerieflik maak. Die winkel is reeds gesluit, maar Zane se afgeleefde Nissan-bakkie staan nog op dieselfde plek as vanoggend. Hy sou laatmiddag ’n surfles aanbied en is seker nog besig.

      Sy sluit die winkel oop, maar die sand- en seereuk wat haar gewoonlik verwelkom, raak haar nie op die oomblik nie. Zane se klere hang in die aantrekhokkie. Hulle is dus nog in die water. By die kasregister huiwer sy skuldig, maar toe sluit sy dit oop. Dis Saterdag en daar is heelwat kontant in. Haar hart klop in haar keel toe sy die geld vinnig tel en die bedrag op ’n velletjie papier skryf en in haar sak druk. Sy voel soos iemand wat skelm iets uit die kollektebordjie haal, terwyl sy net moet ingooi. Hulle sal seker vanaand nog die misverstand uit die weg ruim. Daar sal ’n aanvaarbare verskoning vir die geld in sy bakkie wees.

      Sy stoot die register weer toe en loop soekend na buite terwyl sy haarself moed inpraat. Al wat sy moet doen, is om vir Zane te noem dat daar gereeld kontant wegraak. As dit swak bestuur is of hy het dit om een of ander rede geleen, behoort hy te weet dat sy dit agtergekom het en sal hy verstaan hulle moet dit regstel. Die winkel behoort vyftig-vyftig aan haar en Zane. Hulle deel hulle belange en verliese. Hulle is saam in die ding.

      Toe sy om die hoek van die winkel kom, besef sy hoe onplesierig die weer is. Die strand is feitlik leeg, maar na links en regs is daar nog ’n paar bittereinders. Hoewel sy vermoed met die ongure wind is die see nou vir die meeste mense te koud. Sy gaan staan om oor die see te tuur. Zane en sy student is nie agter die branders nie. Vreemd, want hy het nog nie gaan verklee nie. Miskien het die wind hulle gepla en is hulle vroeg klaar. Hulle soek dalk skuiling iewers.

      Haar lyf maak hoendervel toe die koue water oor die punte van haar plakkies spoel. Haar pienk toonnaels loer parmantig deur die skuim. ’n Paar keer asem sy die sout lug in en uit, trek die klam lug diep in terwyl sy na die geruis van die branders luister. Die stramheid in haar lyf gee effens skiet. Sy is so lief vir die see.

      ’n Onstuimige vlaag wind pluk aan haar hare en waai die blonde slierte oor haar gesig. Sy vang haar hare in een hand en draai terug. Miskien moet sy solank die winkel se boeke nadertrek en deur die uitgawes en inkomstes begin werk. Dis so ’n schlep. Sy lê eerder en bak in die son of dryf op ’n brander as om aan somme te begin karring wat eerder moes gebly het. Maar ledigheid is mos die duiwel se oorkussing. Eerder die boeke begin deurblaai as om nog draaitjies aan die storie te las omdat sy daaroor tob.

      Haar oog vang ’n beweging in die bosse regs van die winkel toe sy nadergestap kom. Eers steur sy haar nie daaraan nie, maar toe loer sy tog nuuskierig.

      Die paar wit boude wat uitsteek, laat haar ongemaklik wegkyk, maar toe steek sy in die sand vas. Sy ken mos daai boude! Met haar hart in haar ore loop sy ’n paar treë nader. Nie te naby nie, net genoeg dat sy kan seker maak sy misgis haar nie. Sien sy reg? Sy skrik so groot dat sy net daar omswaai om haar uit die voete te maak. Maar toe bal sy haar vuiste en draai terug.

      Sand glip tussen haar tone in toe sy met lang treë terugloop en op ’n veilige afstand vassteek.

      “Dis ’n openbare strand dié. Trek julle donnerse klere aan of ek bel die polisie.” Haar stem is onherkenbaar laag. Byna grof van skok.

      Zane kyk om. Die paar gespierde wit boude in die lug. Hy het ook geskrik, sy kan sy oë sien rek. Die vrou onder hom gryp vervaard na haar klere, maar dis te laat vir enige waardigheid. Haar bates is oopgevlek onder die stink bos en haar hare seker vol van die vuil sand. Die skrapse bikini is nou te min om enigiets te bedek.

      Zane het blykbaar sy tong weggeskrik en sy verwerdig haar nie om langer te bly staan nie. Sy wil nie een van die twee nou in die oë kyk nie. Wat Zane nou gaan sê, gaan haar net kwater maak.

      By die winkel loop sy reguit kasregister toe. Maak dit oop en haal al die kontant uit, anders is die helfte weer môre weg. Sy is so kwaad, sy is lus en volg haar pa se raad en bel die polisie. Wie is die vroumens by hom?

      Sy pluk die dagboek nader en soek met ’n bewende vinger na die naam by die laaste les van die dag. Sandra Hay. Sy soek verder. Die vorige inskrywings wys Sandra was al voorheen hier vir ’n les. Toe slaan sy die boek toe en gryp haar sak. Sy moet eerder hier wegkom, anders gaan sy haar nie soos die agt-en-twintig jaar wat sy is, gedra nie.

      In die kombi tref die werklikheid haar soos ’n skoot koue water in die gesig. Sy bewe van kop tot tone, so erg dat sy sukkel om die sleutel in die aansitter gesteek te kry.

      Zane kom om die hoek van die winkel, sien haar in die kombi en kom vinnig nader. Sy kry die sleutel in die aansitter, draai. Die enjin brul harder as wat sy wou.

      “Babe! Babe! Wag.” Hy slaan met sy hand teen die ruit.

      Maar sy trap die petrol en laat waai. Hoe het sy tot by dié punt gekom? Besteel en verneuk. Tragies maar waar. Die boggheroplewensverhaal van perfekte Simoné Stander. Die een wat altyd die regte ding doen. Die pleaser. Behalwe die dag toe sy besluit het om die surf shop oop te maak. Dit was die eerste besluit nét vir haar.

      “Dit was net die een keer, ek sweer!” Zane het bly staan, maar in die oomblik wat


Скачать книгу