Die ou vrou en die priester en ander verhale. Cecile Cilliers

Die ou vrou en die priester en ander verhale - Cecile Cilliers


Скачать книгу
ection>

      

      Die

      ou vrou

      en die

      priester

      en ander verhale

      Cecile Cilliers

      [no image in epub file]

      Human & Rousseau

      Herrnhut

      Dit beteken die man se hoed, verklaar ek, baie seker van my Duits ná twee weke in Herr Schultz se klas. Wiesie knik beamend. Herrnhut klink presies reg vir die huis met die koepeldak – kompleet ’n hardebolkeiltjie. Agter die laaggesnoeide privetheininkie en donkerhouthek lê die werf verlate in die son. Maar die gras is gesny en die heininkie gesnoei. My pa het gesê die dorpsraad het te veel respek vir ou dokter Paterson om sy tuin te laat verwaarloos. Oudokter het vir donkiesjare na die dorp se gesondheid omgesien, en toe’s hy hier in sy huis in sy slaap oorlede. Sy dogter woon in Johannesburg, en sy’t die huis in die mark gesit. Nou blink daar ’n nuwe koperplaatjie op die hek. Nie meer James Paterson MD nie, maar Herrnhut.

      Ons het nog nie veel van die nuwe intrekkers gesien nie. ’n Meubelwa het ’n paar dae gelede voor die huis gestaan. Bosmans Transport, het ons saam die naam gelees, ek en Wiesie. Sonder om te staar het ons in die verbygaan gesien hoedat meubels ingedra word, en nou is die nuwe naam op die hek vasgeskroef. Wie sou hier ingetrek het? wonder ons.

      Daar is min op ons dorp waarvan ek en Wiesie nie weet nie. Ek bly aan die bokant van Kerkstraat, die lang hoofstraat wat verby die kerk dwarsdeur die dorp loop, en my pa is die stadsklerk. Hy vertel graag vir my ma wat daar in die dorpsraad aan die gebeur is, en soms praat hy sy mond verby. Dan knik my ma liggies in my rigting, en dan staak hy sy relaas. Ek hou van die ritme van dié woorde en die klank daarvan: hy staak sy relaas…

      Ek voel gebelg as my pa so skielik van onderwerp verander. Ek is veertien, amper vyftien. Maar ek is ook die enigste kind en my ma kommer oor my, draai my in watte toe, hou my in die donker oor al die donker dinge – soos seks byvoorbeeld. En bloedskande – ek het net die woord gehoor, toe bly my pa stil. Ek moes dit in die woordeboek gaan naslaan. Maar dat ek lees, dit keur my ma goed, en met of sonder haar toestemming, lees ek alles wat ek in die hande kan kry, met ’n flits onder die kombers as dit moet. Al die boeke in ons huis, al die boeke in die skool se biblioteek, en stelselmatig al die boeke in die dorpsbiblioteek.

      Jy’s gelukkig, sê ek vir Wiesie. Sy het baie minder boekekennis as ek, maar in ander opsigte is sy baie meer ervare. Sy is die jongste van Drieka en Swart Kerneels se vier. Daar’s twee broers ouer as sy, en ’n suster, en hulle neem haar saam waarheen hulle ook al gaan – bioskoop toe, en selfs na die danse wat soms op ’n Saterdagaand in die Royal Hotel gehou word. Josua, haar oudste broer, werk al. In die landdroskantoor. Sy pa hoop hy sal eendag magistraat word. Swart Kerneels dra die bynaam omdat hy jare lank stoker op die treine was, die kolestof is in sy vel ingeïnk.

      Wiesie se huis staan aan die onderste punt van Kerkstraat, anderkant hulle huis is net die rugbyvelde en die pawiljoen. Ek kuier graag daar, al kyk my ma skuins. Sy voel Wiesie se mense is nie eintlik ónse mense nie. Maar ek en Wiesie is al vandat ons in sub A was beste maats. Saterdagagtermiddae gaan kyk ons hoedat die skool of die dorp rugby speel, en agterna gaan ons by haar huis koffie drink.

      In my eie huis kry ek nie koffie nie, dis sleg vir die vel, glo my ma. Kyk na jou pa en sy twee susters, sê sy, so soel van vel. Dis van al die koffie. Ek twyfel, maar is gesteld op my mooi vel, en dalk is sy reg…Maar aan Wiesie-hulle se kombuistafel steur ons ons nie aan soel velle nie. Ons sit sakkoffie en drink, met gekookte melk, en eet dik snye witbrood met plaasbotter en appelkooskonfyt. Oom Kerneels (ek mag nie Swart sê nie, maan my ma) het ’n swak maag oorgehou van al die jare as stoker, en daarom mag antie Drieka sif. Dis oorlogstyd, daar’s nie wit meel nie, en jy moet ’n doktersertifikaat kry om die growwigheid uit die meel te sif.

      As die koffie klaar is, hou Wiesie haar pa se hand op die tafel vas, druk sy cuticles met die growwe rand van ’n tweesjielingstuk terug. Sy wil eendag ’n beautician word. Sy’s nie so slim soos ek nie, maar sy kan goed klavier speel. Op die kerksaal se klavier oefen sy haar musiekstuk vir die musiekeksamen, Mozart se “Rondo alla Turca”, oor en oor. Ek staan stil en luister, adem die stof van die rooi fluweelgordyne van die verhoog in. Ek kan nie speel nie, die eindelose toonlere verveel my. Ek lees liewer. Dis vir my ma ’n teleurstelling, sy is self so ’n begaafde vrou. Sy sing in die kerkkoor, kan goed kook, en het baie goeie smaak. Tot my voordeel. Ek is nie die mooiste meisie in die skool nie, maar ek het die mooiste klere. My ma verstaan die mode.

      Ek en Wiesie sit al die jare al langs mekaar in die dubbele skoolbank, deel speeltye ons toebroodjies, doen smiddae ons huiswerk saam in my huis, ek gaan luister hoe sy oefen. Daagliks deurkruis ons twee die dorp. Saterdag is die hoogtepunt van ons week, dan stap ons saam na die kafee van die Griek op die hoek (meneer Papadopolous, maan my ma), sit op hoë stoeltjies teenoor die groot spieël agter die toonbank en drink milk shakes – strawberry vir Wiesie en sjokolade vir my. Ons knik laggend vir mekaar in die spieël.

      Wiesie is mooi – die seuns in ons klas is almal verlief op haar. Ek is te slim vir die seuns, dink ek, maar ek weet dis nie die eintlike rede nie. Dis Wiesie se mooi tieties wat maak dat hulle met skaapoë na haar kyk. Soms, met tiekieaande of volkspele, laat sy toe dat een van hulle haar soen. Maar nooit dieselfde een nie. As sy agterna vertel, gee ek nie om nie. Ek is nie jaloers nie.

      In die diens Sondagoggend verwelkom Dominee geen nuwelinge in die kerk nie, maar Maandagoggend is daar ’n nuwe meisiekind in ons klas. Haar naam, sê meneer Basson, is Irmgard Fichardt. Sy kom van die Kaap af; haar pa is die nuwe bankbestuurder. Juffrou Engelbrecht, ons registeronderwyser, laat haar reg agter my en Wiesie sit. En daarmee kry ons eerste reg om haar vir ons toe te eien toe die klok vir speeltyd lui.

      Ek het iewers gelees dat aantreklike mense juis so genoem word omdat hulle mense aantrek. En Irmgard was so. Aantreklik. Sy was baie mooier as ek, mooier selfs as Wiesie, maar daar het ook iets anders bygekom, iets waarvoor ek nie ’n woord gehad het. Sy’s mooi soos ’n filmster, het ek gedink. En almal wou graag naby haar wees, nie net die seuns nie. Maar sy het van die begin af vir my en Wiesie gekies, en toe was ons nie meer twee nie, maar drie. Drie sitplekke by die rugby, drie aan tafel met koffie en witbrood, drie milk shakes – strawberry, chocolate en lime. En haar huis, Herrnhut, gerieflik tussen my huis en Wiesie s’n.

      Net in die kerk is Irmgard nie by ons nie. Gaan julle dan nie kerk toe nie? vra ek toe daar twee Sondae verby is en die Fichardts nie hulle verskyning maak nie.

      Ons gaan nie NG Kerk toe nie, sê Irmgard, ons is Morawies. Sommige mense noem ons Herrnhutters, want ons glo ons is altyd in die Here se beskerming…

      Ek voel hoe my gesig warm word, wonder of Wiesie my vertaling van die woord onthou.

      Maar gaan julle dan glad nie kerk toe nie? vra ek.

      Sondae ry ons buurdorp toe – daar’s ’n Morawiese groep, sê Irmgard. My pa lei gewoonlik die sang. Ons sing graag.

      Ek wens ek kan vra om een Sondag saam te gaan, om te gaan kyk, te luister. Maar ek weet dit sal nie gebeur nie. Ek moet elke Sondag hier op ons dorp in die kerk sit. Die stadsklerk se gesin moet ’n voorbeeld stel, sê my pa.

      Die eerste keer dat ek en Wiesie by Irmgard aan huis kom, verwonder ek my aan al die mooi dinge wat ek nie ken nie: die gekerfde koekoekklok, die fyngeweefde doek op die klavier, die kandelaar op die tafel, en in vergulde rame teen die muur, twee tekste: Die Here is die Hoof van hierdie huis, en Ons rus in die beskerming van die Allerhoogste. Irmgard se suster, Annemarie, nooi ons kombuis toe, en sy skink vir ons lang glase Oros, roer dan in elke glas ’n teelepeltjie Eno’s by. Drink dit gou, sê sy, terwyl dit nog skuim…

      Ek voel hoe eers die borrels en toe die wind boontoe breek, glimlag verleë, en is verbaas dat mens só borrelkoeldrank kan maak. By ons staan die Eno’s in die badkamer, in die medisynekabinet. My pa het ’n soda siphon waarmee hy saans vir my ma soda maak. Dan sit sy met haar whiskey-soda, wat sy eers met haar silwer swizzle stick roer om van die ergste borrels ontslae te raak. Alhoewel ek nie Eno’s in koeldrank sal gooi nie, en my ma nooit ’n teks teen die muur sou duld nie, voel ek tuis in hierdie


Скачать книгу