Die ou vrou en die priester en ander verhale. Cecile Cilliers
klavierstukke vir vier hande, en ons drink flou tee saam met tante Adele, maar aan ’n gedekte tafel, met ’n tafeldoek, en kleinbordjies en -vurkies vir die apfelkuchen. Meneer Fichardt word mettertyd oom Helmuth.
Een agtermiddag, dit was teen die helfte van ons matriekjaar, en ek amper sewentien, stap ek en Wiesie en Irmgard by Herrnhut in, en ek bly skielik in die voorportaal staan. Wat klink so? vra ek. Dis ’n klank wat ’n vreemde verlange in my wakker maak, my tegelyk betower en melancholies laat, droefgeestig. My verbeelding gaan op loop: dit is die lied van ’n troebadoer onder ’n prinses se venster, dink ek. Hy sing en hy speel vir haar. Op ’n boepens-musiekinstrument.
Is dit ’n luit of ’n mandolien? vra ek.
Nee, sê Irmgard, dis ’n siter. Pappa het dit onlangs aangeskaf. Kom kyk.
Aan ’n tafeltjie in die sitkamer sit haar pa, en voor hom op die tafel lê ’n snaarinstrument. Dis van donker hout gemaak, en ingelê met ontwerpe van perlemoer – blomme, blare, wildsbokkies. Aan sy duim is daar ’n plaatjie waarmee hy die snare tokkel. Nee, tokkel is die verkeerde woord, want tokkel klink soos ’n kitaar wat geslaan word; uit hierdie plat snaarinstrument kom ’n klank soos geen ander wat ek al ooit gehoor het nie, bekoorlike, volronde klanke wat my na my asem laat snak. Presies so, dink ek, moes die lied van die troebadoer geklink het. Presies so.
Toe oom Helmuth ons sien, maak hy sy deuntjie klaar, staan dan op en groet ons. Soos altyd is sy gesig nie onvriendelik nie, ook nie strak nie, maar geslote. Die blou oë gee niks weg nie. Ek het hom natuurlik dikwels teëgekom in die jare wat verby is, maar ek sien nou eers hoe baie Irmgard op haar pa trek. Hy besit dieselfde aantreklikheid – charisma het meneer Basson dit genoem.
Voordat hy wegdraai, gooi hy ’n geweefde doek oor die siter, knik beleefd in ons rigting, en verdwyn in die gang af. En ek, bakvissie, staan versteen. Want in daardie oomblik raak ek vir die eerste keer verlief, onherroeplik verlief, op die romantiese klank van die siter, en die troebadoer wat die klanke daaruit laat vloei.
In ’n dwaal stap ek saam met Irmgard en Wiesie kombuis toe vir ons gewone Oros en Eno’s, in ’n dwaal loop ek huis toe, om laataand voor die donker venster sy naam vir die nagwind te fluister: Helmuth, Helmuth, Helmuth…
Vir die eerste keer in my hele hoërskoolloopbaan word ek deur meneer Basson van muisneste beskuldig, en dit met die rekordeksamen om die draai, raas hy.
Op my aandrang bring ek en Wiesie al hoe meer tyd by Irmgard se huis deur, kwansuis sodat ek na hulle twee op die klavier kan luister, maar my ore gedurig oop vir die geluid van die siter en die moontlike klank van sy stem. Selfs by die besef dat ek soms ’n oorlas is in die Fichardt-huis – tante Adele het my ’n paar keer amper ongeduldig aangekyk – kon ek myself nie keer nie. Ek was verlief op Irmgard se pa, op Helmuth Fichardt, en die wete het my die een oomblik bloedrooi laat bloos, die volgende hoendervleis oor my hele liggaam laat uitslaan. Ek het my huiswerk verwaarloos, smiddae op my bed romantiese poësie lê en lees: How do I love thee? Let me count the ways…En dan verlangend gestaar, my oë vol trane.
Dit was die gebruik op ons dorp dat die matrieks in hulle finale jaar op skool, gedurende die laaste kwartaal en voordat hersiening begin, geld insamel om vir die skool ’n geskikte geskenk te koop: boeke vir die biblioteek, ’n mooi afdruk, miskien teekoppies vir die personeelkamer. Dié jaar, het meneer Basson besluit, sou die fondsinsameling afgesluit word met ’n tiekieaand. Dit sou waarskynlik heelwat geld inbring en terselfdertyd ’n soort afsluitingsfees vir die matrieks wees. Party van die matriekseuns het gebrom daaroor, hulle moes immers van die onderskeie tafels beman, maar niemand was regtig ontevrede nie.
Onder die voorwendsel dat ek met fondsinsameling besig was, het ek tydig en ontydig die bank ingeloop, en vuurrooi gebloos as meneer Fichardt by sy kantoor uitkom. Ek het gekyk waar hy inkopies doen, en dieselfde winkels om bydraes gaan vra. En veral saans, met of sonder Wiesie, het ek gou by Irmgard ingeval, kamma sodat sy my met my Duits kon help, maar in die hoop dat hy al sal tuis wees en miskien op die siter sal speel.
Een agtermiddag stap ek die huis in, en hoor die geluid van die siter. Ek loer om die sitkamerdeur, en drink die musiek en die speler in. Meneer Fichardt moes my oë op sy rug gevoel het, want hy hou plotseling op met speel, draai om, en kyk my stip, ondersoekend aan, ’n effense frons tussen sy blou oë, asof hy my vir die heel eerste keer sien, nie as deel van die gewone driemanskap nie, maar vir my, Elsa van Wyk, as enkeling, individu. ’n Kort oomblik hou hy my blik gevange, drie, vier sekondes, dan draai hy met ’n sug om, gooi die doek oor die siter, sê oor sy skouer dat Adele en die dogters na ’n vriendin toe is, en loop die vertrek uit.
Dié nag het die toneel eindeloos deur my verbeelding gespeel, my uit die slaap gehou: Was dit ’n boodskap, die lang, intieme kýk? Was sy stelling dat die huis leeg was behalwe vir ons twee ’n uitnodiging? Het hy verwag dat ek hom moes volg? Om die beurt vuurwarm en yskoud, het ek eers teen die oggend ingesluimer.
Ten spyte van my ma se bedenkinge (en ek twyfel of die Fichardts dit goedgekeur het), het juffrou Engelbrecht voorgestel dat ek, Wiesie en Irmgard – die Drie Musketiers, het sy gelag – by die tiekieaand soene moet verkoop. Teen ’n tiekie stuk. Die seuns het die voorstel met ’n gejuig ontvang, selfs van die jonger onderwysers het geïnteresseerd gelyk. Wiesie en Irmgard was immers baie mooi en al agtien. Op sewentien was ek ’n kortkop agter hulle, ek het vroeër as hulle begin skoolgaan. Net julle drie, het juffrou Engelbrecht ons aangeprys, want net julle drie is volwasse genoeg om so ’n prettigheid te hanteer. En aan die seuns: Ek soek nie ’n onnodige gevattery nie. Ons praat net van soen!
Daar sit ons drie toe by die tiekieaand, op hoë kroegstoeltjies wat by die Royal Hotel geleen is. Die ekstra hoogte moes die seuns glo van ’n vryery weerhou.
Tot my verbasing (my pa het my niks gesê nie) sou die drie pa’s die ys breek. My pa sou vir Wiesie soen, oom Kerneels vir Irmgard en meneer Fichardt, Helmuth, vir my. Kortasem van opwinding en verwagting sien ek uit die hoek van my oog hoedat my pa ’n ligte soentjie op Wiesie se mond druk, en ’n tiekie in haar geldbussie gooi. Langs my hoor ek oom Kerneels se klapsoen en sy hartlike lag. En toe staan Helmuth voor my en my hart gaan byna staan. Hy vou sy hande om my gesig, lig my ken op, kyk ’n oomblik in my oë, en soen my toe in ’n kruisvorm: op die voorkop, op die ken, op die linker- en toe die regterwang. My mond, roep my hart, my mond. Maar hy soen nie my mond nie. Met my kop nog tussen sy hande, beveel hy saggies: Kommen Sie bitte nimmer wieder nach Herrnhut.
Toe haal hy ’n sjieling – vier soene, vier tiekies – uit sy sak, gooi dit in my bussie en stap weg.
Kom asseblief nooit weer na Herrnhut nie…
Ek het hom nooit weer gesien nie. Hy is kort daarna Natal toe verplaas, en die hele gesin is vort. Soos ’n hond het ek my wonde gelek, soos ’n hond snags sy naam na die maan toe getjank. Mettertyd is ek self weg, universiteit toe. Het akademikus geword, is nooit getroud nie, en het ná my aftrede see toe getrek. Toe ek na my tuisdorp terug is vir my pa se begrafnis, was die naam nog op die hekkie: Herrnhut. Die Fichardts het dit toe nooit saamgeneem nie.
En die huis, sien ek toe, lyk kompleet ’n hardebolkeiltjie.
Die fox fur
Waarom sy van al die dinge in die huis juis die fox fur geneem het, kon sy self nooit presies sê nie. Die ding was nie eers vir haar mooi nie. Maar die pels was om haar skouers van die eerste paragraaf wat sy getik het tot die laaste woord van haar roman. Op die buiteblad sal die titel staan, dink sy, Jakkalsbont. En dan: Elfriedá Louisa Gous.
*
Elfrieda en haar ma het nooit langs dieselfde vuur gesit nie, al het hulle dieselfde name gedra – name wat vier geslagte lank al aan die oudste dogter van die oudste dogter gegee word. Elfrieda Louisa, dink sy wrewelig. Hoekom kan kinders nie inspraak hê in hulle eie name nie? Self kies. Maar nee, die naam word seënend op jou kop gedrup, en dan is jy vir die res van jou lewe daarmee opgeskeep. Nie dat dit lelike name is nie. Haar pa het háár Elfrieda verkort na Elfie, haar vriende op skool en later aan die universiteit noem haar Frieda, maar haar ma noem haar Elfriedá, al drie die vokale hard en duidelik, en altyd met die aksent op die laaste vokaal, ’n woedende klank. Deur haar hele jong lewe was dit so,