Slagoffer. François Smuts
tion>
François Smuts
SLAGOFFER
Queillerie
Vir Emily en die manne
So shall you hear
Of carnal, bloody and unnatural acts,
Of accidental judgements, casual slaughters,
Of deaths put on by cunning and forced cause;
And in this upshot, purposes mistook
Fall’n on th’ investors’ heads.
– Hamlet, Shakespeare
SORTEO
Die menslike wese is die aarde wat ly.
– Heilige Barnabas
Uit die ewig sterwende Kaïro ry die taxi die tydlose woestyn in. Eers suidoos met die Kobri Al Ebageah-snelweg langs, wat ná ’n rukkie aansluit by die ringpad wat om die stad kronkel en ’n ent later afdraai op roete 75, die pad na Ain Sokhna, die vakansiedorp wat soos ’n goedkoop meisie aan die Rooisee lê. Kort na die aansluiting lig die stad se sluier en openbaar die woestyn sy naakte stilte.
Hy het die bot taxibestuurder met die inklimslag al gevra om die radio se geblêr af te sit, en die botheid het daarmee kil afsydigheid geword. Die motor se geronk raak ’n agtergrond vir die stilte wat saam met die aandskemering in sy gemoed neersif, om die vrae weer soos sterre te laat verskyn.
Kort voor lank skuif berge in die verte in sig, aan weerskante van die pad. Die pad word ’n stroompie waarop die voertuig willoos soos ’n blaar dryf. Dit slinger vir ’n anderhalf uur suidoos en draai dan net voor Ain Sokhna weg na die suide. Dit bly rofweg parallel met die Rooisee se kus, met die see nou op linkerhand en die berge regs. Dan swenk dit by Zaafarana weer suidwes en draai dan suid, om Deir Mar Antonios, die klooster van die Heilige Antonius, vader van die monastisisme, oor ’n plat klipbesaaide stuk aarde vanuit die noorde te benader.
Voor die klooster se hek stop die teerpad. Die taxi kom tot stilstand. Hy klim uit, haal sy rugsak uit en betaal die bestuurder, wat ’n u-draai maak en wegry met die musiek weer blêrend deur die oop venster.
Omtrent ’n uur later sit hy in die koel kantoortjie van die ab, wat die bekendstellingsbrief in sy beaarde hand hou.
“Dis ’n ongewone versoek. Baie ongewoon. Ek sal die biskop moet bel en dan ook moet hoor of abba Johannes bereid is om u te sien. Hoeveel tyd het u beskikbaar?” vra die ab in Oxford-Engels.
“So lank as wat nodig is.”
“Dan kan u hier tuisgaan tot ek vir u ’n antwoord het.”
Hy wag vir twee dae. Sit enigsins verdwaas in die sel wat aan hom toegeken is, oorweldig deur die stilte wat in die ruimte ingebid is. Dwaal deur die klooster, woon die dienste by. Klim die eenduisend-tweehonderd trappies na die grot in die berg waarin die Heilige Antonius jare lank gewoon het: ’n beknopte, heilige plekkie met demone in die mure. Hy besoek die verskillende kapelle en relieke van heiliges. Maak asof hy nie wag nie.
Op die derde oggend kom haal ’n monnik hom en neem hom weer na die ab se kantoortjie. Die oubaas glimlag in sy skik.
“Ek het vir u goeie nuus. U biskop het sy versoek bevestig, en ook dat hy bevriend is met abba Johannes. Die wêreld het klein geword. En ek het u versoek na abba Johannes gestuur saam met die monnik wat een keer per week vir hom kos neem.”
“Abba Johannes het die monnik ontmoet – iets wat hy omtrent nooit doen nie – en het gesê dat hy u verwag.”
“Maar hoe …?”
Die ab hou ’n hand in die lug.
“Moenie u kwel oor dinge wat nie verduideliking verg nie. Dis klaarblyklik nie hoekom u hier is nie.”
“So wanneer sal hy my sien?”
“As u gereed is, kan u nou vir broer Jacques vergesel na abba Johannes se grot.”
’n Rukkie later stap hy saam met ’n dun Belg met ’n vriendelike gesig, ’n yl baardjie en ’n haakneus weg van die klooster, in die rigting van die bergreeks wat aan die suidekant lê. Hulle loop eers op ’n grondpad verby ’n kerk en draai ’n entjie verder af op ’n voetpaadjie wat die voetheuwels van die berg bestyg. Dis warm en winderig en die Belg stap vinnig, klaarblyklik gewoond daaraan om opdraand te loop. Hy self is gou papnat gesweet en sy asem begin jaag. Hy wonder hoe die monnik voor hom dit hou, met sy swart monnikgewaad en kalotjie.
Ná ’n uur se stap kom hulle by ’n nek in die berg, waar ’n lang paal in die grond geplant is. Aan die paal hang ’n leersak. Die monnik gaan staan.
“Waarvoor is die paal?” vra hy.
“Ons sit die abba se kos hierin.”
“En waaruit bestaan dit, as ek mag vra?”
Die monnik huiwer en hy wonder of hy aanstoot gegee het.
“’n Brood, soms ’n vrug of twee. Soms groente.”
“En vleis?”
“Nee.”
Die monnik begin weer stap. Hoe hoër op, hoe steiler word dit. Die stap word ’n kloutery oor rotse. Ná ’n rukkie kom hulle voor ’n krans te staan, met ’n lysie wat die onderkant daarvan omsoom. Hierop begin hulle versigtig loop, met ’n steil skuinste aan hulle regterhand. Die lysie word nouer, sodat hulle later hand oor hand aan die rotswand moet vashou. Dan draai die krans aan hulle linkerkant weg en die skuinste aan hulle regterkant vorm ’n gelykte.
En aan die ander kant van die gelykte is daar ’n grotopening, en voor dit ’n ou man wat op ’n klip by ’n vuurtjie sit. In die kole staan ’n potjie en kook.
“Abba Yahya!”
Die monnik slaan ’n kruis terwyl hy vooroor buk en staan dan op met sy hande ’n bakkie voor hom.
Maar die ou man is eensklaps op, ignoreer die monnik se bakhande en omhels hom. Daarna soen hulle mekaar plegtig, links-regs-links op die wang.
Abba Johannes en die monnik praat kortliks met mekaar in Arabies. Dan groet die monnik, draai om, wuif vir oulaas in sy rigting en loop weg. Die ou man draai na hom en wat hy dadelik oplet, is die warm glimlag en glinsterende oë.
Die ou man neem hom aan die skouers, kyk hom in die oë en omhels hom net soos die monnik. Hy probeer om die abba se hand te soen soos die Koptiese gewoonte is, maar die ou man soen hom op die wange.
“Sit asseblief, my kind.” Dis in stadige, perfekte Engels, maar met ’n swaar Griekse aksent, terwyl hy beduie na ’n ander klip langs die vuurtjie. “Jy’s seker lus vir tee.”
“Dit sal lekker wees.”
Hulle gaan sit en die oubaas gaan die grot binne en keer terug met twee blikbekertjies.
“Dankie dat u … dankie dat u my kon sien.”
“Nee. Sit eers en drink jou tee. Laat jou siel tot rus kom.”
Die abba gooi die tee deur ’n lappie en oorhandig ’n koppie. Hy skink vir homself ook en gaan sit. In die skaduwee van die krans drink hulle die swart, bitter tee en kyk uit oor die woestyn. Die wind het gaan lê en daar is omtrent geen geluid nie, net die effense gesis van die vuurtjie.
Hy voel hoe die stilte stadig oor hom toesak – en die dringendheid van sy vrae. Hy wonder wat hy eerste moet vra en of hy alles gaan onthou. Hy moes notas gemaak het, besef hy nou.
Abba Johannes buk vooroor en sit sy koppie neer, tel sy dun gebedstou op en draai na hom toe. Kyk hom deurdringend maar steeds vriendelik aan.
“Jy is hier om te vra of ’n moordenaar ’n priester kan word.”
Hy voel asof sy asem uit hom gesuig word. Hy gaap die ou man oopmond aan.
“Jy wil weet of jy aan jou biskop se versoek moet voldoen. Jy het baie vrae oor die pad vorentoe. Jy voel verlore in die Ortodokse Kerk se kultuur en beskouing, selfs al het jy jou in beginsel daarmee versoen. Jy weet nie