Slagoffer. François Smuts
ou meester van die kitaar hoor sê: “Die duende is nie in die keel nie; die duende klim op binne jou, van die sole van jou voete af.” Wat beteken: Dit gaan nie oor jou vermoë nie, maar oor ware, lewende styl, van bloed, van die mees antieke kultuur, van spontane kreatiwiteit.
Dawid kon daar nie kop of stert van uitmaak nie en sy ervaring tydens die stiergeveg, maak nie saak hoe intens emosioneel dit was nie, het hom ook nie gehelp om ’n greep daarop te kry nie. Buitendien, dit was alles goed en wel om ’n beter kunstenaar te probeer wees, maar moes jy soos ’n mal ding tekere gaan vir die res van jou lewe?
Hy het Eva weer uitgevra in ’n poging om nog ’n gesprek daaroor aan die gang te kry. Sy kon egter nie veel meer sê as wat sy hom reeds vertel het nie: dat dit ’n inspirasie is wat uit jou opwel en kuns oordra aan die toeskouer op ’n manier wat jou en sy siel met mekaar verbind. En, enigmaties: dat dit is hoekom die liefde hartseer is.
Toe het sy hom bevlieg met: “Hoekom wil jy weet? Is jy nie gelukkig nie?”
“Nee, nee, dis nie dit nie.” Want hy wás gelukkig, desperaat gelukkig. Dis net dat hy nie wou hê dat die voorwerp van sy geluk die hele res van sy lewe moet verongeluk nie.
Aan die ander kant moes hy, as hy eerlik was, erken dat die gevaar deel van die lekkerte was. Dit het hom aangetrek, soos dit hom aanvanklik na Ingrid toe aangetrek het. Maar was dit nie moontlik om die gevaar binne perke te hou nie?
Sy wou klaarblyklik nie, of dalk kón sy nie. Maar hy sou moes. Hy moes eenvoudig.
+ + +
Dit was ’n besige oggend, die een pasiënt ná die ander. Dawid het sy spreekkamer se deur oopgemaak en saam met ’n pasiënt by die wagkamer ingeloop. En daar, rustig blaaiend deur ’n tydskrif, was sy. Soos die eerste oggend. Hy het haar verbouereerd geïgnoreer en na mevrou Wilsnach toe gestap.
“Dié dame wil … móét u nou sien.” Met oë wat sê dat sy al krisisgevalle aanskou het, maar dat dié nie een is nie. En dat sy graag sou wil weet wat dit was indien dit nie ’n krisisgeval is nie.
Hy het verskonend na sy volgende pasiënt gedraai.
“Ek is nou by jou.”
Toe na Eva: “Kom maar deur.”
Met die opstaan en die swaai van haar sak oor haar skouer kon hy sien dat haar borste los beweeg onder haar ligte somerrokkie. Sy het na hom toe gestap, liggies teen hom verbygeskuur.
Hy kon dit nie verhelp om ’n tinteling in sy lende te voel nie. Maar, ewe onkeerbaar, ’n woede wat soos ’n gety in hom opstoot. Hy het by die kantoor ingestap, die deur agter hom toegemaak en na haar toe gedraai.
“My God, Eva, is jy fokken mal?”
Want sy het met die instap die rokkie saam met haar sak van haar skouers afgeglip en sonder ’n draad klere voor hom gestaan.
“Net vinnig.”
“Jy kan nie! Jy kan nie! Jy kan nie net by my praktyk opdaag en …”
Maar verder as dit het hy nie gekom nie. Sy het in een beweging haar hande om sy nek gehad, haar sagte, geurige lyf teen hom aangevly, haar lippe teen syne, haar heupe wat skuur teen syne.
Hy het sy kop weggeruk, haar arms hardhandig van sy nek afgehaal en teruggetree. Hy het haar aan haar skouers gegryp en geskud.
“Jy kan nie net … jy kan nie in my lewe kom indonner net wanneer jy wil nie! Jy gaan alles vir my opfok!”
Tepels wat wip soos hy haar skud.
Sy het hom ’n oomblik verskrik aangekyk. Hy kon sien hoe die spanning uit haar lyf syfer.
Toe, dodelik sag, met hande bo-oor syne en met haar naels wat in sy vel inbyt: “Jy hét my nie lief nie. Ek is net ’n gemák vir jou. Iets om te gebruik wanneer dit jóú pas.”
“Eva, maar jy weet mos dis nie waar nie.” Verward, onseker.
Sy het haar rok met een haal opgetel en oor haar kop gegooi. Dit reggetrek. Toe opgekyk terwyl sy haar sak optel.
“Fók jou, man! Jý kan in jou hele mílitêre móér in vlieg!”
Sy het die deur oopgemaak. Hy wou nog keer, maar sy het hom hardhandig uit die pad gestamp en uitgemarsjeer. Deur die spreekkamer, verby mevrou Wilsnach. Omgedraai en geskree: “Moerskont!”
En verder gemarsjeer, met haar linkerhand langs haar skouer en die middelvinger in die lug.
+ + +
Ek is na sy spreekkamer toe om hom te gaan aanval, om die vuur hoër te stook. En ek was jonk en vry en dringend in my begeerte.
Hy het daar aangekom en hy was sy professionele self, gemasker en gepantser, nes toe ek hom destyds ontmoet het. Die aanskoue van die masker het my nóg meer vasberade gemaak om dit af te ruk, die mens aan te gryp en hom met my passie te oorrompel. Ek was immers die een wat aanvanklik onder die pantser ingekom het. Ek het die ware Dawid gesien, in sy eensaamheid en sy begeerte. En sy begeerte was na my.
Maar dit was nie. Ek het nakend voor hom gestaan en hom omhels, hom gesoen. In antwoord het daar ’n dier in hom opgestaan en deur sy oë na my gekyk. Hy het my vasgegryp en woedend met my gepraat. My seergemaak of hy my wíl seermaak, my wil verdelg. Ek het hom met my eie woede geantwoord, om die geraas van die intuimel van my siel weg te steek.
En hier sit ek nou, stukkender as ooit. Meer verlate. Wetend dat die psigiater en sy huwelik gewen het.
+ + +
Hy is die aand na haar toe. Vir Ingrid ’n verskoning uitgedink oor Barnabas wat die een of ander krisis het. Dit sou hom nie verbaas het as iemand haar laat weet het van die petalje by die spreekkamer nie. Maar hy moes eers met Eva regmaak. Ander regmaakwerk kon wag.
Sy het die deur oopgemaak asof sy hom verwag het. Woordeloos teen hom kom staan en sy slape tussen haar hande geneem en sy kop na haar toe afgetrek. Sy het sy oë toe gesoen en toe liggies sy gesig begin lek. Fyn lekkies oor sy hele gesig. Stadig, sekuur, asof sy besig was om dit te verf. En hy met ingehoue asem soos ’n kind wat die eerste keer die see sien.
Toe het sy hom na die bed gelei en sy klere stadig en plegtig uitgetrek, hom platgedruk en haar vingerpunte oor sy hele lyf laat loop, versigtig, asof sy ’n blinde is en hy ’n boek. Halfpad deur het sy begin huil, geluidloos: net die trane wat aanhoudend oor haar wange loop, haar gesig wat vertrek en die diep, hortende asemhaling.
Eers toe sy weer halflyf op hom lê, het hy gewaag om te vra hoekom sy huil. Haar oë het gerek. Sy het haar kop opgelig. Hom lank aangekyk.
“Want ek het jou verloor. Nee. Nee. Ek dink nie ek het jou ooit gehad om te verloor nie. Jy sal my nooit verstaan nie en my nooit liefhê nie. Jy wíl my nie liefhê nie. Waarskynlik kán jy nie.”
“Maar ek hét jou lief, Eva. Ek hét jou lief.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.