Slagoffer. François Smuts
een van die redes vir die steek van die bul en die banderillas: om die bul só te vermoei en te verswak dat die matador hom tydens die faena kan baasraak. Gebeur dit nie, sal die bul die meeste van die kere wen. Want mens moet onthou dat ’n toro bravo geweldig aggressief en rats is, en hoogs intelligent. Hulle leer besonder vinnig. Daarvoor word hulle die afgelope driehonderd jaar al geteel. Elke keer as hy by die matador verbygaan, kom die bul nader aan die punt waar hy besef dat dit makliker en meer effektief is om die man eerder as die mantel aan te val. Dit is wat met José Tomás gebeur het. Dis hoekom ’n bul meer onvoorspelbaar en gevaarlik raak hoe nader die geveg aan sy einde kom.
“So, aan die een kant het jy hierdie geweldig gevaarlike dier.” Juan se sigaar het saam beduie. “Aan die ander kant is ’n stiergeveg ’n ritueel met baie streng reëls en konvensies wat die matador presies moet nakom. Heelwat van hierdie konvensies is spesifiek daarop gerig dat die matador homself in die pad van lewensgevaar moet plaas – en dit moet doen op ’n manier wat esteties bevredigend en emosioneel aangrypend is, juis oor die gevaar waarin hy homself plaas. Die toeskouers duld nie ’n lafaard nie. Hemingway het ’n geval beskryf waar die skare ’n lafhartige matador aangeval en sy varkstertjie wat hom as matador uitken, afgesny het.
“Nou, die kuns lê daarin dat die matador namens die skare, namens ons álmal, die dood en die noodlot konfronteer en oorkom. Hy word ’n priester wat die bul na sy dood vergesel, maar naby genoeg kom dat die een wat die offer voltrek, enige oomblik self geoffer kan word. Dié spel tussen ’n man wat deur die reëls van die ritueel ingeperk word, en die instink en onvoorspelbaarheid van ’n bul wat geteel is om dood te maak, skep ’n enorme spanning, soms amper ondraaglik.
“En wanneer sowel die matador as die bul vreesloos en edel aan hierdie ritueel deelneem, ontstaan daar ’n dans van iets onsegbaars, met ’n verskriklike skoonheid. Die man en die bul vorm ’n eenheid wat kuns meebring op die rand van die dood. Dis soos … soos ’n flamencodanser wat dans met ’n dolk in haar buik. Of ’n operasanger wat jy vooraf wéét nie die vertoning gaan oorleef nie.”
Dawid het Eva se oog gevang waar sy oorkant hom aan tafel gesit het en gevra: “En het dit iets met die duende te make?”
Juan het verras gelyk.
“Ja, natuurlik. Alles. Dis een van die plekke waar mens die duende die duidelikste in die Spaanse kultuur sien. Maar waar het jy daarvan gehoor? Baie Spanjaarde weet nie eens daarvan nie.”
Eva het laggend onderbreek en gesê dat sy Dawid daaraan bekend gestel het en hom stadig maar seker daarvan aan die leer is.
“Ja. Jy kan natuurlik nie van die duende leer nie. Jy moet dit vóél.” Terwyl Juan half afkeurend met sy hand waai en sigaaras op die tafel mors. “Maar terug na die stiergeveg. Jy gaan vanmiddag ses bulle sien, en drie matadors. Elke matador veg teen twee bulle, in volgorde van die matadors se senioriteit.
“Elke geveg het drie hoofgedeeltes. Die eerste deel is die tercio de varas, die derde van die lanse. Hiertydens beoordeel die matador eers die bul, deur ’n reeks verbygange te doen met ’n groot magenta-en-geel mantel. Die bul word dan van ’n perd af met ’n lans gesteek, net agter die grootste spiermassa op sy skof. Die doel hiervan is om die nekspiere te verswak sodat die bul sy kop kan laat sak voor hy deur die matador gedood word. Maar die bul wys ook baie van homself deur die manier waarop hy die perd bestorm en die aggressie – of nie – waarmee hy die perd aanhou gaffel, selfs al word hy met die lans gesteek.
“Die tweede deel is die tercio de banderillas, die derde van die banderillas. Die banderillas word in die bul se skof geplaas om enige geneigdheid wat hy mag hê om na die een of ander kant te gaffel, reg te stel. Dit maak ook die bul meer aggressief ná die tercio de varas, wat hom gewoonlik uitgeput laat. Want jy kan jou indink dat om ’n perd met jou nek te probeer oplig, jou energie tap.
“Ten slotte volg die tercio de muerte, wat bestaan uit die faena, waartydens die stiervegter met sy rooi mantel ’n dans met die bul uitvoer. Dit bestaan uit ’n aantal reekse van verbygange deur die bul. Aan die einde van die faena word die bul met ’n swaard net agter sy skof deurboor. Dis die hoogtepunt van elke geveg en terselfdertyd die gevaarlikste oomblik vir die stiervegter, want hy kan sy swaard slegs op die regte plek plaas as hy óf bo-oor die horings óf net langs hulle verbygaan.”
“Jy het netnou gepraat van ‘godsdienstig’ en ‘ritueel’. Wat het ’n stiergeveg daarmee te make?”
“Mens moet dalk daaroor praat as ons klaar die geveg gesien het. Maar … waar sal ek begin? Julle wat woon in die Protestantse lande, met julle klem op individualiteit en vryheid, het die ritueel van godsdiens grootliks verloor. ’n Ritueel word dikwels as iets doods en betekenisloos beskou. Maar ’n ritueel is in sy wese enigiets wat volgens ’n voorgeskrewe orde gedoen word. As jy elke oggend opstaan en badkamer toe gaan en dan jou klere aantrek en dan ontbyt eet, volg jy ’n ritueel. As jy ’n nuwe persoon ontmoet, dan skud jy blad, of in die Latynse lande gee jy hom ’n soen op die wang. Dis ’n sosiale ritueel.
“Rituele is in hulle gewone betekenis iets formeels en godsdienstig. Dis iets wat ons in die Katolieke lande goed verstaan. Die vorm van ons kerke sê reeds vir jou iets van hulle funksie as godsdienstige geboue – en daar sit reeds iets van die rituele in. En die Katolieke liturgie het ’n bepaalde orde, wat die mens se poging is om struktuur te gee aan sy aanbidding van die Gans Andere, aan die Een wat nie begryp of omvat kan word nie. Dit aanvaar dat die mens nie op sy eie sy Skepper kan nader op sommer enige manier nie. Dit neem ook aan dat sy voorgangers meer as hy geweet het van hoe om te aanbid, en dat hy daarom ’n manier van doen moet volg wat oor eeue ontwikkel is.
“Enige godsdiens, in elk geval al die godsdienste van die Boek, het die offer van diere en van mense as ’n sentrale tema. Hierby sluit die stiergeveg aan. En dié godsdienste het in hulle oorspronklike vorms baie rituele – wat soms God se voorskrif aan die mens is en soms die mens se besluit deur die eeue oor hoe hy die aanbidding van God moet bedryf. Ek sou hierop kan uitbrei, maar ek het nog nie genoeg sjerrie in nie en ek wil jou nie verveel nie.”
Want dit was asof Juan aanvoel dat Dawid skepties staan teenoor sy verduideliking.
“Feit is dat as jy verstaan wat ek so pas vir jou gesê het, sal jy iets verstaan van die verband tussen ritueel en godsdiens en die stiergeveg. En dis nou genoeg gepraat. Kom ons gaan.”
Die Plaza de toros de la Real Maestranza de Caballería de Sevilla is van buite ’n helderwit-en-mosterdgeel gebou, met rooi en sandsteen aksente en ryk versierings. Aan die binnekant lyk dit na ’n ronde Romeinse amfiteater. ’n Gebou wat sigself ernstig opneem, was Dawid se stille mening. Hulle het hulle plekke net agter die donkerrooi barrera gaan inneem, reg langs die arena.
“Beste sitplekke,” het Eva in sy oor gefluister. “En die duurste.”
Hier begin die ritueel, het Dawid gedink toe drie stiervegters agter twee trippelende perde statig oor die okerkleurige namiddagsand van die bulplein begin stap, op maat van wat vir hom soos operamusiek geklink het.
Agter die stiervegters het die picadores gery, lywige manne op perde met hulle lanse onder die arm. En laastens die troppie muile wat die dooie bul uit die arena sou sleep, met die sandmanne agter hulle.
Juan het deurgaans verduidelik: “Die drie manne wat voor stap is die matadores, die stiervegters. Agter hulle stap hulle hulpe, die subalternos. Jy sal sien dat hulle kostuums nie so ryk en helder versier is soos die matadores se ‘uitrustings van lig’ nie. Agter hulle op die perde is die picadores wat die bulle gaan steek.”
Ná ’n buigery, pratery en poseerdery het almal posisie ingeneem en het die puerta de toriles, die bul se deur, oopgegaan. Vir ’n paar oomblikke was daar net die gapende donker gat. En toe is die ruimte gevul deur die vreesaanjaendste, pragtigste stormende bul wat Dawid nog gesien het. Wat onmiddellik aan die binnekant van die sirkel begin omhardloop het na waar ’n assistent ook al sy aandag getrek het, en woedend gekap het na die mantels wat in sy rigting geswaai is.
Die matador het agter die barrera uitgekom, sy magenta-en-geel mantel voor hom uitgehou en die bul geroep. Die bul het sonder huiwering nader gestorm, met so ’n vaart dat die mantel om die matador geswiep is. Die dier