Onderwêreld. Fanie Viljoen
moet ons soek, meneer?” vra iemand.
Die antwoord is seker vanselfsprekend, maar dalk ook nie.
“Ons soek vir Eckardt Wilken. Of enigiets wat dalk vreemd lyk. Iets wat rondlê. Klere, byvoorbeeld.”
Daar is ’n oomblik stilte. Toe voeg Andersen by: “Doktor Pienaar is nie op kantoor nie, maar ek sal hom op hoogte hou van wat hier aangaan. Op sy versoek gaan die res van die skool aan soos normaalweg. Ek wil nie hê julle moet met die ander leerders hieroor praat nie, hoor julle vir my? Ek maak staat op julle integriteit.”
Boggom fluister iets in Andersen se oor. Andersen knik. “Nog iets. Moet ook nie julle ouers hiervan vertel nie. Nie nou nie. Ons wil eers uitklaring kry oor wat gebeur het. Onthou dat Lawson Kollege ’n trotse reputasie het. Dit is nie iets wat ons kan laat skade lei net omdat die een of ander …”
Boggom vat aan Andersen se skouer en hy hou in die middel van sy sin op met praat. Sy oë skuif van die een ou na die ander asof hy probeer om ons te lees. Dit rus ’n oomblik langer op my as waarmee ek gemaklik is. Toe sy laaste opdrag. “Gaan trek julle aan. Eet. Ek kry julle oor ’n uur op die plein.”
Dit is hoe die soektog na Eckardt begin. Waar die gerugte begin het, weet ek nie. Maar teen die tyd dat ons op die plein staan, in groepe opgedeel, praat almal van ’n brief wat gekry is. ’n Selfmoordbrief.
Ons begin loop. Ek is in ’n dwaal. Iemand probeer ’n gesprek met my aanknoop, maar ek antwoord hom nie, want ou, verborge gevoelens kom wys weer gesig. Spoke uit die verlede.
John Owen was my ouer broer. Die meisies was gek oor hom. Blonde hare en ’n vriendelike, skaam glimlag. Ons twee kon dik stukke gesels, partykeer tot laat in die nag. Sommer oor enige tjol. Hy het gehou van extreme sport. White water rafting, rotsklim, sulke goed. Ons het ’n paar keer saam gaan bungee jump. Die adrenaline rush het van my ook ’n danger junkie gemaak en later het ek al wat ’n gevaarlike ding was saam met hom gedoen.
Mens kry mos daardie tipe ouens wat goed is in alles wat hulle aanpak. John was so ’n ou. Skool, sport, noem dit maar. Ek dink hy was op ’n manier my hero, maar ook my beste buddy. Ek sou enigiets vir hom doen. Maar John het niks van my gevra nie. Ek het gedink dit was omdat hy alles gehad het wat hy nodig het. Maar ek was verkeerd. Iets was steeds missing.
En toe gaan doen hy so ’n stupid, stupid ding.
Gordyne diggetrek.
Pille op die bedkassie.
“My Here tog! John!” het my ma geskree.
Ambulansdeure wat stadig oopgemaak word by die hospitaal.
Nooddienspersoneel met geboë skouers.
Verby.
En nou is daar die rumours. Eckardt het selfmoord gepleeg. Dit voel soos ’n goor fliek wat jy alreeds gesien het. Hoekom sal dit weer gebeur? En hoekom met Eckardt? Die manier waarop hy na my gekyk het die aand met die Trappers-inisiasie … Dit was asof John na my gekyk het deur Eckardt se oë.
Die geskiedenis herhaal homself. Dis wat mense sê. Hulle sê ook jy is op hierdie aarde om lesse te leer. En as jy dit nie die eerste keer leer nie, kom dit weer oor jou pad. Jy kan dit nie systap soos in ’n rugby game nie.
Ek het nie gehuil toe John dood is nie.
“Jy sal nie!” het my pa beveel, sy hele houding afgetrokke asof dit iemand anders se kind was wat dood is. Nie sy eie nie. Nie die seun van wie hy soveel verwag het nie.
En nou, hier tussen die bome op die grens van die skoolterrein, wonder ek: is dít die les wat wag om geleer te word? Hoe om mens te wees en die lewe aan te durf sonder ’n bulletproof baadjie wat jou beskerm teen pyn en hartseer?
Ek probeer so ver as wat moontlik is van die ander ouens af loop. Ons oë vee oor die grond. Kyk op na die boomtakke. Soek vir ’n mens, soek vir ’n tou.
Die dag drup stadig verby. Teen die aand is daar steeds geen teken van Eckardt nie. Van die onderwysers is glo na die omliggende dorpe: Bergville, Winterton en Harrismith. Hulle het in die strate gaan soek.
Moeg stroop ek die aand my klere van my lyf af. Ek bind ’n skoon handdoek om my lyf. Voordat ek by my kamerdeur uitstap, lui my selfoon. Dis my ma. Ons praat oor nonsens, maar iewers in die gesprek hou sy net skielik op met gesels.
“Greg, wat is fout?” vra sy.
“Niks, Ma.”
“Ek kan aan jou stem hoor daar is iets …”
Ek kan haar nie sê nie.
“Greg? Wat?” hou sy aan.
Ek sug. “Ek het vandag aan John gedink.”
<h6>Log File: Lux hominum vita</h6>
Op die plein tussen die vyf koshuise is daar nog ’n mangat waar een van die waterafvoerpype verbyloop. Dit is hierdie ysterdeksel wat Kwanele nou oplig. Die metaalgeluid galm deur die nag. By die koshuisvensters staan die ander ouens en kyk. Hulle weet wat aan die gang is, want hulle is ook al daardeur.
Ek raak bewus van Eckardt, iewers tussen al die ouens, terwyl ons wag vir die Trappers. Hy staan hier tussen ons, maar op ’n manier is hy eenkant. Arms gevou. Sy oë vasgenael op die donker gat in die grond.
Skaduwees trek lang swart strepe oor die plaveisel. Stemme slaan vas teen die geboue.
Ons wag, asems opgehou totdat … die eerste bleek vingers oor die rand van die mangat vou. ’n Kop verskyn. Kwanele hou sy hand uit, vat die Trapper s’n vas, trek hom uit. Die jong seun kom staan voor my en vir ’n oomblik lank kyk ek hom vas in die oë. Dan gee ek hom die geheime Lawson Kollege-handdruk. En uit die Trapper se sak haal ek die klein flitsliggie. Die een wat ons in al die Trappers se sakke sit as hulle geblinddoek en in die rondte getol word, voordat hulle in die mangat wegsak. Maar op daardie stadium is jy so gedisoriënteerd en bang dat jy dit nie eens agterkom nie. Jy word in die donker tonnels losgelaat, maar jy word die gereedskap gegee om jou te help om jou pad te vind.
Die verbasing op die Trappers se gesigte is een wat hom daarna herhaaldelik gaan afspeel, weet ons almal. Ek glimlag. “Lux hominum vita,” sê ek. “Lig is die lewe vir die mensdom.” Toe haal ek die doek wat om die Trapper se oë vasgebind was en wat nou los om sy nek hang, af. Ek vou dit op en sit dit in die Trapper se ander hand. “Om te onthou dat ons hier is om mekaar te help. Nou en in die toekoms.”
Toe begin die seuns wat by die vensters uithang die skoollied te sing. Die klanke van hulle stemme laat die hoendervleis op my arms uit-
slaan.
Een ná die ander verskyn die res van die Trappers; die ritueel wat hom herhaal. Groep vir groep. So word hulle deel van ons.
Maar nie almal vind hulle pad nie. Toe die son die rand van die berg in die ooste begin omlyn, is daar ses seuns kort.
“Ek sal hulle gaan soek,” sê ek.
Ses seuns wie se lot vanaand bepaal is. Hulle het nie hulle pad gevind nie. Hulle sal ook nie die jaar by Lawson uitsien nie. Daarvan sal ons seker maak. In die donker sal ek die verwarde siele se flitse uit hulle sakke haal en hulle sal dit nie eens weet nie. Die blinddoeke sal hulle self vir my gee. En hulle sal nie eens weet wat dit beteken nie.
Hulle sal die ouens wees wat gebrandmerk is. Hulle sal Trappers bly totdat hulle ouers hulle binnekort weer kom haal. Want om hier nie deel van die groep te wees nie, sal vir hulle hel word.
Ek sak in die donker weg, my armspiere dra my liggaamsgewig maklik. Toe ek die water onder my voete voel, en my asemhaling in die sementpyp na my toe terugkeer, hoor ek iets agter my. Nog iemand het saamgekom. Ek ruk my flits in die rigting van die geluid.
“Ek kom jou help,” sê die ou. Dis Eckardt.
Dae later, moeg van die atletiek en ’n vergadering met Dok Pienaar en meneer Andersen, is ek alleen in my kamer, sit ek voor die laptop. Langs my bed lê ’n klomp ongewaste skool- en atletiekklere. Ek moet hulle nog in die wasgoedsak