Luistervink. Madré Marais
Dié blomme het hy van tannie Harrington afgesmeek toe sy dit spesiaal laat aanry het om die kerk se tuin oor te doen. Gelukkig was sy so in vervoering oor haar “angel trumpets” en hoe dit die simbool van die blye tyding in haar tuinuitleg verteenwoordig, dat sy eindelik toegegee het toe hy sê dis vir Emmie. Hy wou haar iets vlekkeloos gee. Dit was kort nadat sy by hom ingetrek het op die groot meent by die ingang na die dorp. Daar het hy self maar nog net ’n jaar gewoon. Hy het die varkore as ’n verrassing geplant terwyl sy eendag Port Elizabeth toe was vir inkopies.
Die blomme was in sy en Emmie se tuin ook soos boodskappers uit ’n ander wêreld, heel anders as die harde veld aan die ander kant van die heining, en die getande aalwyne en naboom wat wild hier groei.
Dalk is dit wat Emmie vroegoggend daar tussen hulle gaan soek het: ’n boodskap.
Die son was nog nie uit bo die rif rante wat anderkant die stuk veld agter die dorp verby sny nie en die lug was wit met ’n wasige pienk vlies oor, die lyfwarm binnekant van ’n afgeslagte vel.
Hy het tot by haar geloop en hy kon sien sy weet dat hy agter haar staan, maar sy het haar tyd gevat om iets te sê.
“Net omdat die goed nie vrek nie,” het sy eindelik die woorde uitgewurg, tussen die tuingrafie se knarsende gespit deur, “beteken dit nie hulle is gelukkig hier nie.”
Hy het besluit om niks hierop te sê nie. Hy sou veel eerder iets wou sê oor die krul van haar hare wat oor haar skouers val, en langs haar gesig, terwyl sy vooroor buk om die plante raak te vat; iets oor haar rug, en haar bene wat uitsteek onder die blou rok wat sy altyd eenkant hou vir dorp toe gaan. Hy probeer nog elke dag verwoord hoe hy voel, van die oomblik dat hy haar ontmoet het in haar en Koen se kombuis waar die twee mans gaan sit het om besigheid te praat toe Koen die jakkalsproef laat span het.
Hier in sy tuin, op die werf wat hy so versigtig vir haar omskep, beweeg sy met selfs nog meer selfversekerdheid. Met die een hand het sy vanoggend die grond om die plante se stingels losgemaak, en met die ander die varkore met bol en al uit die grond geruk. Sy het nie na hom toe omgedraai nie. By sy voete, aan die rand van die bedding, het die blomme op die natgedoude gras gelê soos knolgroente wat te vroeg geoes is.
“Ek sal weer kyk, in die dorp rond, op pad na Davies toe en terug. Sal jou laat weet as iemand iets gesien het.”
Sy het regop gekom, asof sy nog iets wou sê, maar toe net gelag en verder gewerk.
Die omgekraptheid sou haar nie vinnig los nie, het hy al geleer. Dit kan dae lank aanhou. Eindelik is dit vir hom wat sy straf, veral as hy iets doen wat hy dink haar sal laat beter voel.
Terwyl hy oor die grasperk teruggestap het na die huis toe, het hy gedink aan hoe die omgekarringde grond en die water van die sementdam en die vroegoggend ruik soos planttyd op die landerye waar hy twee seisoene gelede nog mielies en sonneblom help saai het.
Hy sou vir haar irisse plant waar sy die varkore uitgehaal het, het hy besluit. Hulle sou hoog groei van die oorloop uit die dam en geel en pers blomme uitstoot voor die grys sement.
Net voordat hy op die stoep was, het sy iets agterna geroep.
“Jy weet jy mors jou tyd, nè? Daardie klomp op die dorp het verleer om hulle oë te gebruik. Hulle bekke het heeltemal oorgevat.”
Hy weet wat sy bedoel. Die meeste mense dink nie eens regtig na wanneer jy uitvra oor ’n rondloperhond nie. Selfs die mense wat eerlikwaar wil help, is maar net te sigbaar verlig dat hulle ’n lewe leef waarin jou krisis nie bestaan nie. “Ai tog,” sê die mense graag, “sê as daar enigiets is wat ons kan doen, asseblief, hoor,” en dan draai hulle net daar om, dankbaar dat dit nie hul hond is wat weggeloop het of hul motor wat gestamp is of hul man wat suip nie.
Hulle vergeet van jou, tensy dit tyd is om nuus met mekaar uit te ruil oor hoe jy ’n vrou by jou laat woon wat nog met iemand anders getroud is, al is dit net op papier; en hoe daardie ander iemand verlede week die ongeluk op die grondpad uit plaas toe oorleef het, want ’n dronk man kry mos wonderbaarlik nie seer nie; en hoe die vrou nog steeds elke maand vir daardie man ’n deel van die geld stuur wat sy met die beskuitverkopery verdien om die rekeninge te betaal waarvoor sy altyd verantwoordelik was toe hulle saamgeleef het.
Koen het hulle nie eens een keer op die meent kom konfronteer of Emmie probeer ompraat of terugkry nie. Hy het blykbaar besluit sy is buitendien moeilikheid, gebreekte goed, en dis beter as sy voertsek; hy loop en vertel dit ook net so op die dorp rond. Snaaks, hoe Emmie se geld nog al die pad goed genoeg bly.
Hy het verwag dat Koen voor die dorpsmense grootmeneer sou speel as hulle mekaar raakloop, maar elke keer dat hy hom sien, is Koen aan die ander kant van die straat, of binne drie tree verby hom by die kafee se deur uit, of het hy skielik genoeg blokke soutlek gelaai by die koöperasie se stoor en trek hy pas daar weg.
Vanaand kan hy nie help om aan Koen te dink soos hy hom daardie dag in die stoel sien lê het nie. ’n Haelwolk hou jou aandag net só, jy bly vir hom kyk terwyl hy stil nader rol, juis omdat jy nie kan glo hy kan oor ’n rukkie alles om jou flenters slaan nie.
Nadat hy die geweer in die kluis weggesluit het, stort hy en trek skoon aan vir aandete. Hy sit die ganglig aan op pad terug kombuis toe om koeldrank uit die yskas te gaan kry en loop dan by die skuifdeur uit op die stoep.
Dit lyk vir hom die plan vir vanaand is ’n braai. Hy het die slaai in die yskas gesien, en die een hoek van die vadoek opgelig om seker te maak dis braaibroodjies op die tafel.
In die lig wat uit die sitkamer na buite val, pak hy ’n vuur in die buitebraai aan; die bedrading hier sal eers klaar gedoen word wanneer Emmie se kuier- en eethoekie ingerig is.
Eintlik stel hy opsetlik uit dat die stoepligte reggemaak word, want hy is besig om vir haar ’n kandelaar te bou om bo die houtbankies en koffietafel te hang. Hy het ’n ruk terug gesien hoe sy met ’n tydskrif sit en bly terugblaai na die dubbelbladfoto van ’n lang tafel waarrondom ’n klomp mense sit en kuier. Emmie het die krulle en patrone in die kandelaar met haar vinger nagetrek en toe aan van die gesigte geraak asof sy die glimlagte in die warm lig tel.
Sy het nie baie vriendinne nie, maar sy het ’n liefde daarvoor om te onthaal. Al is daar selfs net drie van hulle, sit sy ’n fees voor met dit wat sy het. Hy vermoed die meeste van hierdie vriendinne het ook maar genoeg te sê wanneer die tonge op die dorp klap. Hy vertrou hulle nie en glo Emmie weet ook van beter. Tog, sy is daaraan gewoond gemaak om juis dié wat haar verniel te bly versorg en vertroetel.
Hy trek die stoel uit waar sy tafel gedek het en draai dit só dat hy in die vlamme kyk wat hoog in die skoorsteen optrek. Dit was die moeite werd om dit oor te bou. ’n Mens wil nie met rook sukkel wat terugstoot en by die huis intrek nie.
Agter hom op die tafel staan ’n blompot met een van die varkore van vanoggend. Emmie het dit van die bol losgesny, maar nie die knak in die steel weggesny waar die groen vesels toegeknyp het nie. Die snywerk moes met iets stomps gedoen gewees het, want die onderpunt van die steel rafel, en van die repies het uitgeswel en na buitentoe opgekrul namate hulle al hoe verder losskeur.
Die twee honde kom uit die donker tuin aangedraf en sy Jack Russell gaan lê by sy voete. Die bokser kom druk vinnig haar snoet teen sy hand en spring ’n ent van hom weg, waar sy ook gaan lê en hom, soos elke keer, só aankyk.
Hy skep twee keer van die slaai in en eet die broodjies sonder dat dit ooit rooster toe gaan, terwyl hy kyk hoe die kole uitbrand en koud word.
Hy sal môre vir Davies laat weet hy gaan eers die kwesding haal voordat hulle met die werk kan aangaan. Hy weet mos teen dié tyd waar om te soek.
Sinker
Hulle het langpad gery, soos hulle maar elke Desembervakansie gemaak het vandat hy kon onthou. Hy wou nie meer hier wees nie. Dit was altyd een helse optog, die gepak vooraf, met sy ma wat karring oor genoeg pare sokkies en onderbroeke terwyl sy pa in die garage rondkrap en vloek as hy dink niemand hoor hom nie, totdat hy eindelik moeg gesukkel en moerig winkel toe gaan vir ’n klomp vislyn en kunsaas en hoeke en loodsinkers so groot soos hul rifrug, Spoed, se knaters. ’n Oom wat eenkeer