Fees van die ongenooides. PG du Plessis
die seer knie waarop hy geland het, het hy eers oorweeg om sy struikelblok ’n skop in die ribbes te gee, maar hy bedink hom, want die man wat met sy uitgestrekte bene in almal se pad en met sy rug teen die muur sit, was kennelik alreeds deur vele stasies. Nie dat Joey hom nie gesê het nie. Hy’t hom duidelik laat verstaan dat hy vir hom ’n meer geskikte plek moet soek om te loop dronklê, want waar hy nou sit, is sy paar pote oor almal se pad en gaan hy die verbygangers die een na die ander pootjie – en nie almal gaan so gaaf opstaan en sy dronkenskap so respekteer soos hy, Joey Drew, nie.
Maar die man het nie geluister nie, want wat sy oë nog aan fokus oorgehad het, was, ietwat swewend maar tog redelik stip, gerig op Joey se baadjiesak. ’n Brandewynbottel het daar gebult en aan die boonste deel wat uitgesteek het, kon jy sien hy was nog nie behoorlik half nie.
“Net ’n lekkie, ’seblief-seblief,” het die man in nog verstaanbare maar slepende Engels gepleit. Vir Joey was elke mens wat in dié land ’n woordjie Engels kon praat ’n gewaardeerde aanklank, en sy berisping van die dronke was dus sonder angel: “Jou paar pote het amper gemaak dat hierdie bottel nou aan skerwe lê op die sypaadjie, my vriend! Nie ’n druppel meer vir jou nie.”
Dit was tóé dat die man sy stewels aangebied het vir wat ook al in die bottel oor was.
“En dit was goeie skoene, my maat! Oprygers en blinkgepoets. Jy’t nie baie blink skoene in Johannesburg gesien nie – nie eens op Saterdae nie.”
Maar niemand by sy volle verstand neem op ’n Saterdag afskeid van ’n driekwart-bottel nie, en Joey was besig om dié waarheid aan die verstand van die dronkie te bring toe die man die kamera aanbied vir die bottel en sy inhoud.
Die instrument het langs sy desperate eienaar op ’n driepoot gestaan. Daar was ’n doek oor hom. ’n Swarte. En toe die man nou so voortpleit en in die rigting van ’n ruiling praat, het Joey die doek afgehaal. Die kamera was ’n pragtige ding om te aanskou. Die bruin mahonie-kissie het gegloei van in- en opgevryfde skellak en in die lig van die middag het sy lens-ogie swart en goud geglinster. Dit was iets om te sien, dié meesterstuk van Victoriaanse tegnologie, en die ding was vir Joey mooier as ’n gewillige vrou, selfs op ’n leë Saterdag in die vreemde. Uit pure waardering het hy die bottel vir die man aangegee, maar hy moes sy drank vinnig van die dors lippe af wegskeur, want die adamsappel het gewip soos hy pomp.
Joey het vir die man gesê hy’s ’n gulsige vark, sy bottel weer gekurk, sorgvuldig in sy baadjiesak gesteek, en geloop.
By die swaaideure van The Frenchman’s Eye was die bottel in sy baadjiesak ’n verdere belemmering. Die uitsmyter voor die kroegdeur het Joey aangesê om hom uit die voete te maak. Wat ook al in die betrokke onderneming gedrink word, het die man gesê, moet in die onderneming gekoop word en in die onderneming gedrink word. Die onderneming kan nie toelaat dat mense soos Joey hulle eie drank in die onderneming indra en daar sit en uitsuip nie, want die onderneming is juis opgerig om dusdanige drank te voorsien.
Joey het die man verseker dat hy die woord “onderneming” en enige ander stukkie hoogpraat so goed ken soos die beste onder die hoogste stand, want hy, Joey Drew, is ’n geleerde man van Somerset, Engeland, maar sy hartmedisyne wat hy altyd by hom moet hou, net vir geval, bevat ’n bietjie alkohol en hoe sal die uitsmyter voel as hy wat Joey Drew is in die onderneming moet omkeer en sterf, en … Joey het sy betoog nog ’n rukkie volgehou terwyl hy en die man mekaar verbete in die oog kyk.
Vir omstanders sou dié wedersydse gestaar na ’n ongelyke stryd lyk. Die uitsmyter het van ses voet hoog uit die twee-eenheid van ’n dik nek-en-kop op Joey neergekyk, en Joey moes van vyf voet vyf af uit sy skraalte opkyk in die man se oë. En tog het niemand ooit vir Joey kon staar totdat hy eerste wegkyk of ’n oog knip nie.
Want Joey was skeel. Sy bestaring van ’n teenstander was dus ongewoon. Sy linkeroog – klein, swart en blink soos die lensie van die begeerde kamera – het op sy teenstander se linkeroog gefokus, maar die geheim het in die regteroog gelê, want dié se blik was onwrikbaar vasgenael op die teenstander se regteroor. Toe die uitsmyter dus aan die kriewel in sy regteroor begin vryf, het Joey besef dat die stryd soos gewoonlik gewonne is en het hy die kroeg binnegegaan. Al wat die uitsmyter vir die kroegdeure wat al agter Joey toegeswaai het, kon sê, was: “Ek hou jou dop! Een suig aan daardie bottel en jy’s uit!”
Die kroeg, het Joey met die binnestap aangevoel, was nog in sy luidrugtige bui. Joey het vas geglo dat kroeë dronk word soos mense. Hulle begin in die middag deur uitbundig te lag vir elke flou grappie, en dan het hulle die tyd van grootpraat en spog net ná die oorgeslane aandete-tyd. ’n Bietjie later begin die geredekawel. Dis die tyd wanneer verskille oorgaan in beledigings en die beledigings handtastelik raak in stampe en stote – tot die eerste van die aand se rusies oopbars in ’n behoorlike geveg. So ’n uur of wat later kom die tyd van weemoed, wanneer elke deeglik beskonke man sal begin praat oor die leed in sy lewe. Dan sal sy self-bejammering en sy spytgoed uit die diepste putte van sy siel opwel boontoe en soms by sy oë oorloop. Dis net voor toemaaktyd dat daardie selfde kroeg wat hom die middag simpel gelag het vir omtrent enigiets en gedreun het van broederskap, sy stem sal laat sak en begin fluister dat die tyd vir trane gekom het. Dis dan wanneer jy jou kroegstoel omskop en probeer huis toe struikel … en die pad daarheen sal aflê so ver as wat jy nog kapabel blyk te wees, en dalk daar sal uitkom. Maar meestal sal jy die volgende oggend eers die diepte van jou toestand die vorige nag kan meet aan jou wakkerwordplek, want aan hom sal jy kan sien hoe ver jy in staat was om te vorder.
“Het jy al ooit,” het Joey dikwels gevra, “iets treurigers gesien as ’n man wat gevou en bly lê het? … of ’n oog wat met donker vensters blind in die nag probeer inkyk – toegetralie soos ’n bandiet?” Wat Joey probeer sê het, was dat kroeë nie toemaak nie, hulle kry net die floute. Soos mense.
Maar ’n kroeg was geselskap. Joey het vir hom ’n kroegstoel uitgesteel onder die bas van een van die aanwesiges wat hom ’n oomblik van sy stoel gelig het om ’n debatspunt te onderskraag, en by sy vriende aangesluit:
Hans Bester was lank, maer tot byna in sy gebeente, en ’n Boer. Hy’t nie baie Engels geken nie en dit was normaalweg vir Joey ’n tekortkoming wat enige moontlikheid van vriendskap sou uitsluit. Maar Hans Bester was die eienaar van ’n kar en perde en Joey het besef dat daar tye kom wanneer ’n man vervoer van node het. ’n Mens weet nooit. En waarvoor is vriende in elk geval daar?
Corky, die Engelsman wat links van Joey gesit het, was nuut by die myne, maar dit was maklik om Corky te bevriend, want hy het met alles saamgestem wat jy sê. Joey kon dus sonder teenstand sy sê sê: “Nou is dit so, of is dit nie so nie? Sê my. Sê my, sê my nóú!”
Joey het beurte gemaak om sy gespreksgenote met sy ogies vas te pen. Sy blik het hulle uitgedaag om hom te weerspreek. Hy het gewag vir instemming tot Corky hom tegemoet kom: “Dis nes jy sê, Joey. Nes jy sê.”
Joey het omgedraai na Hans Bester toe en sy oorkruis blik het ingeboor in Hans se linkeroog en regteroor: “Is dit nou so, Hans? Moenie net daar sit nie, sê my.”
Hans het nie mooi kon volg wat die Engelsman van hom wou hê nie, maar die aard van die kyk wat Joey uitgemeet het, het duidelik beteken dat een of ander reaksie van hom verwag word.
“Jis,” het Hans gesê en sy regteroor so onopsigtelik moontlik gevrywe.
Joey het omgedraai en die onskuldige beskuldig: “Hóór jy nou, Corky? Tot hierdie Boer stem saam! Geen belediging bedoel nie, Hans, maar jy is tog ’n soort Boer, is jy nie? Ek bedoel, jy praat tog hulle taal, praat jy nie?”
Selfs as Hans behoorlik kon verstaan wat die Engelsman in sy kop gehad het, sou hy dit nie as ’n belediging beskou het om ’n Boer genoem te word nie, maar aangesien hy nie agter die kap van die byl kon kom nie, het hy maar gesê: “Jis.”
“Hóór jy nou, Corky? Tot dié Boer stem saam ou Paul Kruger is ’n dom donner. Maar het ék regte? Het ék wat Joey Drew is – ’n geleerde man van Somerset, Engeland – het ek regte? Het ek, die man wat ure der ure in daardie stof-hel onder die grond vir hulle swoeg, regte? Vir wat werk ek? vra ek jou. Vir wat werk ek?”
Die gekruiste blik pen hulle weer om die beurt vas, tot Corky