Fees van die ongenooides. PG du Plessis

Fees van die ongenooides - PG du Plessis


Скачать книгу
selfde ou Kruger kan betaal. Maar het ék regte? Kan ék, Joey Drew, ’n geleerde man van Somerset, Engeland … al sê ek dit vandag self … Kan ék, Joey Drew, wat hulle goud vir hulle uitgrou en hulle swart tjommies se gatte vir hulle warm skop, iemand kies om my te verteenwoordig? Nee, sê daardie ou dom donner van ’n Boer, Paul Kruger … Verskoon my, Hans, geen belediging bedoel nie, niks snaaks teen jou bedoel nie … maar die waarheid is die waarheid … En elke dom Boer wat skaars ’n letter kan lees en daardie skraperige taal praat soos Hans hier langs my, dié kan stem tot oormôre toe! Ek bedoel nie om jou te beledig nie, Hans, my vriend, glad nie, want jy’s my vriend, my beste vriend, as Corky nie omgee dat ek dit sê nie. Ek weet ’n man kan nie help in watter nasie jy gebore word nie.”

      Die stroom woorde was te vinnig vir Hans Bester. “Jis,” bevestig hy dus maar.

      “Daar’s hy, my vriend! Daar’s hy!”

      In daardie oomblik van kameraadskap het Joey uiting gegee aan sy diepgevoelde toegeneëntheid en Hans met die plat hand op die rug geslaan.

      Die klop op die rug was hartlik en net te veel vir Hans Bester se dun ribbekas en half-versteende longe. ’n Hoes het uit hom geskeur – droog, en luid, en onkontroleerbaar. Sy hoes het bo die gesellige dreun van die kroeg uitgekrys. Dit was asof die geluid uit ’n leë blik, ’n trommel, ’n hol konka kom; asof dit ’n soort amper-laaste protes van sy verhardende longe was wat uit die papierdun blikkerigheid van sy ribbekas eggo. Die eerste hoes het die dreun van die kroeg se roesemoes stilgemaak. Die vertrek het ’n holte vol asem-ophou geword. Hans het voortgehoes in ’n swye van onderdrukte klank, van gestolde beweging, van aangeraakte siele. Dit was ’n stilte van simpatie en gedoofde blymoedigheid waarin Hans Bester se hoes resoneer. Want almal het geweet Hans hoes die hoes van die kwaal met die baie name: tering, galop-tering, myntering, silikose, kliplong, en in ander veraf myne “die swart-long”. Almal in die kroeg het geweet Hans hoes nie net vir homself nie, hy hoes ook namens hulle, en hy maak die stiltes van hulle ontkende vrese hoorbaar. Die blik van elke oog het gefokus op die lang maer man wat oor die onbeheerbare stuipings van sy hoesbui buk – terwyl hy die hoes probeer stilsmoor met ’n vuil sakdoek wat reeds bruin gevlek is deur die bloed van vroeëre hoesbuie.

      Toe die aanval verby was, het Hans nog amper ’n volle minuut geboë bly staan. Hy moes wag dat sy longe klaar hyg na die suurstof wat so min geword het, en totdat die laaste stuipinge wat kort-kort weer deur sy lyf wou sidder, bedaar het. Hy het na die vloer gekyk, verleë en roerloos, en hy het eers orent gekom nadat hy half skuldig met sy skoen oor die twee druppels bloed op die vloer, dié wat die sakdoek nie gekeer het nie, kon vee.

      Joey het begin loop terwyl Hans wag dat sy lyf tot bedaring kom, maar by die deur het hy omgedraai en in Hans se stilte ingeskree: “Ons kry myntering vir hulle! Ons longe word klip vir die bliksems, en wat kry ons? Nie eens ’n stem om dié plek reg te kry nie. Ons vrék vir hulle, verdomp!”

      Joey het deur die swaaideure gestruikel. Buite het hy tot stilstand gekom en na die uitsmyter gestaar asof die arme man verantwoordelik was vir die kraaines woede-en-vrees op die krop van sy maag. Toe het hy die kamera onthou en aangestap.

      Binne die kroeg het Hans Bester die bietjie asem wat die tering hom nog gun, teruggekry. Corky was bly om te sien die oë rondom hulle begin wegdraai van Hans en sy toestand af. Die stemme agter die oë het weer begin klink. Vyf minute later het die kroeg sy verligting uitgedreun dat die geluid wat so onverwags stem gegee het aan hulle onderdrukte bekommernis, stilgeraak het.

      Corky het salwend, en stadig sodat Hans kon verstaan, gelieg: “Dis nog nie te sleg nie, maar jy moet onder die grond uitkom.”

      Hy het in die Boer se oë gekyk. Hulle was effens bloedbelope van die aanval, maar agter die grys kykers het ’n redelose verwagting geroer. Hans Bester se lang dun vingers het gemaak asof hulle sy hol wange onder die volbaard vryf, maar eintlik was die handpalms besig om seker te maak dat daar nie weer bloed aan sy mond agtergebly het nie. Hy het rondgesoek tussen die hopies Engelse woorde wat hy in die myn bymekaargeskraap het, en aan Corky probeer verduidelik: “Ek werk dubbelskof. Ek wil goed koop. Vir ’n plaas.”

      “Joey het gesê hy sal jou help om by jou mense uit te kom,” het Corky stadig, en weer baie nadruklik, probeer troos.

      En Hans moes verstaan het.

      “My mense …” het hy herhaal.

      Hans het nie ’n Engelsman nodig gehad om hom by sy mense te kry nie. Sy kar en perde en sy grootword in die land was genoeg. Dit was sy wil en een of ander strewe wat hom by sy dubbelskofte laat hou het. Miskien kon hy nie genoeg uitlandse woorde bymekaarmaak om iets te sê oor die twee woorde wat hy té goed verstaan nie. Want hy’t by Corky verbygekyk na die rye bottels op die rak, en dalk ver by hulle verby na iets ánderkant – en dus ook bínnekant. Corky het gedink die Boer se oë is seker nog maar nat van die hoesbui. Bester het niks bygesê nie, nie eens “Jis” nie.

      Elke keer wanneer Joey Drew iemand vertel van hoe hy teruggegaan en die halwe bottel vir die kamera verruil het, het die storie ’n ander kinkel gehad. Partykeer was die eienaar van die kamera nog heeltemal by sy positiewe toe die transaksie beklink is. In daardie weergawe het die man sy goedkeuring duidelik met ’n hoofknik te kenne gegee toe Joey hom “volgens die vroeëre ooreenkoms” die brandewyn in die hand stop en die kamera vat. Ander kere het Joey beweer dat hy “volgens die vroeëre ooreenkoms” wat hy met die man aangegaan het toe dié nog helder van verstand was, die ruiling uitgevoer het. In albei gevalle het Joey kort-kort daarop gewys dat alles wettig en ordentlik daaraan toegegaan het. Want in albei weergawes van die storie het hy beklemtoon hoe hy die man vir sy eie beswil uit die pad gesleep en netjies teen die muur lêgemaak het. Verder het hy die besopene tegemoet gekom deur die bottel, behoorlik gekurk, tussen die liggaam en die muur weg te steek, want almal weet tog dat daar ’n oneerlike soort mens is wat ’n ander se dronkenskap sal uitbuit in plaas daarvan om dit na behore te respekteer. Sou iemand waag om te skimp dat Joey dalk ’n afskeidsteugie uit die bottel gesuig het, het Joey hom bestaar totdat sy oor behoorlik kriewel, want dit sou steel wees. Steel! Hy steel nie. Vat nou byvoorbeeld die trommel wat by die kamera gestaan het. Dit was tog duidelik dat dit deel van die kamera was, want dit kon tog niks anders bevat het as die chemikalieë en die ander goed wat by die kamera hoort nie. “Sê jy my,” het Joey betoog, “wat maak jy met die chemiese stowwe en goeters as jy nie ’n kamera het nie? Of met die kamera sonder daardie goed? Nee, toe sê my!” En daar wás kamera-toebehore in die trommel toe hy die slot die aand by die huis oopbreek. Hoe moes hy weet die man het ook ’n goeie skeermes en ander toiletware saamgedra in ’n ding waarin hulle nie hoort nie? En as hy, Joey Drew van Somerset, Engeland, ooit weer die man raakloop, sal hy sy skeergoed vir hom teruggee. Hulle nooit gebruik nie. Nooit! Dit sou steel wees. En jy kan sê van Joey Drew wat jy wil, maar sy eerlikheid is verhewe bo enige suspisie.

      “Nog nooit in my hele lewe het ek ’n onderduimse transaksie aangegaan nie. Ek is nie grootgemaak om te steel, te lieg, of te verneuk nie.”

      So is Joey Drew se longe dan gered deur Hans Bester se hoes en deur ’n slim jong apteker wat ’n apteek kom oopmaak het naby die hoek van Commissioner- en Eloffstraat. Die apteker was vars uit Europa en het alles geweet van die kamera en die duistere chemiese prosesse wat die beelde na vore bring. Hy het Joey geleer hoe die pragtige bruin kissie met sy swart ogie werk en waarvoor al daardie pannetjies en plate en chemiese stowwe daar is. Hy wou selfs die kamera by Joey koop, maar elke keer wanneer Joey na die kamera kyk, het daar ’n gevoel van vryheid deur sy are geskiet en in sy hart begin bons. Dit was dan asof sy longe skielik makliker asemhaal. Die kamera, selfs teen die hoë profyt wat aangebied is, en bereken teen hoeveel bottels met so ’n wins gekoop sou kon word, was nie te koop nie. Joey en die apteker het saam geëksperimenteer en sommer gou het die man van Somerset, Engeland, nie meer koppe en voete afgesny nie. ’n Geleerde man leer vinnig, al moes Joey dit self sê.

      Skaars twee weke later het Hans Bester se kar en perde vir hom en Joey die skoon lug van die Vrystaat ingedra. Die fotograaf van Somerset, Engeland, se nuwe loopbaan het begin, en so ook dié van sy tolk, drywer, gids, en moontlik later selfs aandeelhouer in sy fotografiese onderneming. Vir eers sou Hans Bester die kuur en kos as ’n soort betaling beskou. Die kar en perde en die versorging van die diere is voorlopig


Скачать книгу