Glimlag van die sekelmaan. Elize Mitchell
Glimlag van die sekelmaan
Elize Mitchell
Die nag toe Nina Immelman se man in ’n motorongeluk sterf, kom nie net haar veelbewoë huwelik tot ’n einde nie, maar vind sy ook uit dat die boedel bankrot is en dat sy alles verloor het. Toe sy dus die pos as huishoudster op ’n luukse landgoed aan die Mosambiekse kus aangebied word, gryp sy dit met albei hande aan.
Sy word egter gewaarsku dat haar werkgewer, Charl Beaumont, ’n moeilike man is. Verder het hy ’n seun, Ludwig – wat tot Nina se skok glad nie meer ’n kind is nie, maar ’n jong man wat hard probeer om haar guns te wen. Toe die eienaar van die buurplaas boonop sy flikkers vir Nina begin gooi, is die gort behoorlik gaar!
~ 1 ~
Nina Immelman lê met oop oë en staar nikssiende na die plafon. Onrustig draai sy om en sien dat dit reeds drieuur in die oggend is. Waar bly Leon vannag so laat? Sy het deur die jare al gewoond geraak aan die baie aande se alleenwees, maar gewoonlik is hy darem vroeër terug.
Sy hoor ’n voertuig in die straat afkom en sit regop. Dit beweeg al stadiger, totdat dit in hulle oprit tot stilstand kom. Haar hart begin woes klop. Sal hy vanaand weer in die gang afstrompel en hom met sy mislike drankasem aan haar opdring?
Liewer as om sy woede te trotseer, het sy lankal geleer om dit gelate te aanvaar, bloot af te skakel en haar gedagtes te verplaas na waar sy ook al in die wye wêreld wil wees. Sy ril. Miskien is hy vanaand só besope dat hy van haar vergeet en sommer net aan die slaap raak.
Sy luister na die voetstappe op die sementpaadjie en wag vir die geknars van die sleutel in die voordeur se slot. Maar in plaas van die gewone geraas en growwe taal, is daar ’n harde geklop aan die deur. Liewe vader, is hy vannag so besope dat sy vriende hom moes huis toe bring?
Sy sukkel om haar kamerjas aan te trek terwyl die geklop al dringender word. Sy maak met bewende hande die voordeur oop en verwag om hom met ’n slap liggaam tussen sy ewe dronk vriende te sien hang, maar voor haar staan twee polisiemanne in uniform.
“Goeienaand, mevrou. Jammer om u op hierdie ontydige uur te moet steur, maar is dit die huis van meneer Leon Immelman?”
Nina trek haar asem in. “Ja, ek is sy vrou.” Dit ook nog! dink sy kwaad. Hulle kom haar seker sê dat hy vir dronkbestuur opgesluit is. “Waar is my man?”
Die polisieman vermy haar blik. “Ek is inspekteur Bezuidenhout, en hierdie is sersant Malloyi. Mevrou, jy moet sterk wees, daar was ’n ongeluk. Ek is jammer dat ek die een is wat hierdie tyding moet bring, maar jou man het op slag gesterf.”
Nina voel hoe sy lighoofdig raak. Haar verstand weier om te aanvaar wat sy so pas gehoor het.
“Wat bedoel jy met ’n ongeluk? Daar moet ’n fout wees. My man is saam met sy vriende uit!” ’n Skielike duiseligheid oorval haar en sy hou aan die deur vas om te keer dat sy val.
“Hy het beheer oor die motor verloor, mevrou, en reg van voor teen ’n vragmotor gebots. Daar is nie ’n fout nie. Voordat ons hierheen gekom het, is die nodige verifiëring eers gedoen. Sy lyk is na die lykshuis geneem, waar dit uitgeken moet word. Is daar iemand wat ons kan kontak om jou by te staan?”
“Nee, baie dankie. Ek kan dit steeds nie glo nie. Dis die laaste ding wat ek verwag het om te hoor. Wie moet ek kontak?” Sy kyk hulpsoekend na die man in die blou uniform.
“Maar hoe seker is julle hiervan? Is daar nie iewers ’n fout nie?” vra sy weer. Sy weet sy praat onsamehangend, maar sy is so verward dat niks sin maak nie.
“Nee, ongelukkig nie, mevrou. Hier is my kontakbesonderhede. Skakel gerus as daar enigiets is waarmee ons behulpsaam kan wees, en aanvaar asseblief ons medelye.”
Nina loop strompelend terug na die sitkamer nadat sy die deur agter die mans gesluit het. Sy ervaar ’n onbedwingbare drang om histeries aan die lag te gaan. Medelye met wat? Dat sy uiteindelik bevry is van die aanrandings, beledigings en afjakke wat deel van haar daaglikse bestaan was? Nee, inspekteur, jou medelye moet wees met daardie armsalige skepsel wat sy hele lewe voor die swyne gewerp en alleen in sy ellende gesterf het.
Sy skud haar kop driftig. Kry beheer oor jouself, Nina, probeer om helder te dink. Wie is daar wat sy moet laat weet wat genoeg sal belangstel in sy afsterwe? Hulle het lankal geen vriende meer nie, en vandat sy ouers hulle destyds die plaas belet het, is alle kontak met die familie verbreek.
Sy maak koffie en gaan sit in die skemer sitkamer. Wat sou laas nag gebeur het? Wie was verantwoordelik vir die ongeluk? Met Leon se onbeheerste drinkery moes so iets seker een of ander tyd gebeur het. En al het sy hoe hard by hom gesoebat om nie te bestuur wanneer hy besope is nie, was dit asof hy haar wou uittart en wys hoe min haar oordeel beteken het.
Die werklikheid van Leon se dood dring drupsgewyse tot haar deur terwyl sy gekonfronteer word met die implikasies van die nag se gebeure. Sy kyk om haar rond na die karige meubels, sien die afgeleefde sitkamerstel en die sonverbleikte gordyne wat plek-plek deurgeskif is, die mat met die lelike vlekke waar Leon sy glas drank laat val het. Sy is bly dat niemand hulle meer kom besoek nie, want ten minste is dit net sy wat elke dag daarin moet vaskyk.
Hoe het dit gebeur dat hulle so verarm het? Maar sy ken die antwoord alte goed. Leon se drank en dobbellus was veel groter as sy inkomste en het alles voor die voet opgeslurp. Sy het geen benul wat hulle finansiële posisie is nie, maar sy troos haar daaraan dat hy voldoende voorsorg getref het deur die baie versekering wat hy uitgeneem het. Hy kon nooit ophou spog oor hoe welaf hy gaan wees die dag wanneer sy polisse uitbetaal nie, dan kon hy ophou werk en die wêreld deurkruis soos wat hy nog altyd wou doen. Sy glo nie vir een oomblik dat sy planne háár ingesluit het nie.
Sy weet nie eens waar Leon se dokumente is nie, dink sy paniekerig. In een van die min oomblikke toe hulle nog ’n sinvolle gesprek gevoer het, het hy laat blyk dat sy testament en al die polisse by die bank is, en sy neem maar aan dat hulle ook die eksekuteur van sy boedel is. Ook maar goed so, want Leon was nooit juis gesteld op die veilige bewaring van dokumente nie.
En nou is dit neusie verby vir hom. Hoe ironies dat hy, weens sy roekelose leefwyse, niks van daardie rykdom gaan hê nie. Deur sy jaloerse obsessie met haar het hy seker gemaak dat sy niks anders as ’n kluisenaarsbestaan gevoer het nie. Maar die wiel draai, stadig maar seker. Nou is dit sý wat die vrugte gaan pluk van al sy geld en wat gaan geniet wat hy haar deur die jare ontsê het. Hoe wonderlik sal dit nie wees om vir die eerste keer in haar lewe finansieel onafhanklik te wees en ook ’n sinvolle lewe te kan lei nie!
Sy sal nooit weer aangewese hoef te wees op die aalmoese wat hy na haar kant toe laat val het nie. Daarmee moes sy die huishouding aan die gang hou en ook probeer voorsien in die behoeftes van haar ma. As dit nie was vir die goedhartigheid van die matrone van die tehuis waar haar ma is nie, sou sy nooit die geleentheid gehad het om ’n paar rand te verdien om in daardie broodnodige ekstratjies vir haar ma se versorging te voorsien nie. Betsie Smit het goedgunstig toegelaat dat Nina somtyds as kok in die kombuis werk, wanneer daar ’n personeeltekort was.
Nou sal sy kan bekostig om haar ma in ’n inrigting te sit met voldoende fasiliteite, sodat sy kan ophou om haarself te verwyt oor haar ma se versorging. Daarna sal sy besluit wat sy gaan doen, want sy sal sekerlik nie hoef te werk nie. Haar hartsbegeerte is om haar studies te voltooi en haar te bekwaam in ’n rigting waarin sy haarself sal kan uitleef.
Skaam jou, Nina! Jou man is laas nag dood, en hier maak jy al klaar planne vir die toekoms en hoe jy sy geld gaan bestee, raas sy met haarself. Maar sy kan nie langer huigel nie. Daar was niks meer tussen hulle as die dag toe hulle getroud is nie – nie eens respek nie, verdedig sy haarself. Hy alleen is die oorsaak daarvan dat sy dood vir haar ’n verlossing uit hierdie ellendige huwelik is. Die eerste ding wat sy moet doen, is om reëlings te tref vir sy verassing, en daarna sal sy rustig oor haar toekoms besluit.
Sy sluit haar oë en wag vir die dag om te breek, want buite is dit vinnig besig om lig te raak. Sy staan traag op. Daar sal gewis nie veel mense wees wat in die verassing belangstel nie, maar sy sal die familie moet laat weet.
Sy glimlag hartseer terwyl sy botter op ’n stukkie roosterbrood smeer. Miskien