Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
nie.
“Plaas toe … Ons gesprek van die ander aand?” Daar is ’n effense spotklank in sy stem.
“Ja, dit sal goed wees. Ek sal inpak.”
“Ek hoop nie jy wil ’n week lank inpak nie, want dan het ons ’n vragmotor nodig om julle te neem.” En daarmee draai hy om en verdwyn weer in sy werkplek.
Georgina beduie vir die kinders om haar te volg en sy gaan sit met hulle in die vertrek verste weg van die studeerkamer wat sy kan kry. Sy wens sy kan net een keer vir hom sê wat sy van hom dink.
Miskien net voor sy weggaan. As sy hom groet! Miskien as sy met haar een voet op die vliegtuigtrappie staan …
9
Etiénne bel die Dinsdagoggend. “As ek drie kaartjies kry, kan ek saamgaan?”
“Natuurlik! Maar ek dog hulle is so skaars soos hoendertande.”
“Dit wys jou net wat ek vir jou sal doen. Julle moet aantrek – dis vanaand.”
Georgina gee ’n uitroep van blydskap. “Ek glo dit nie! Jy is ’n skat! Wat skuld ek jou?”
“Wil jy rêrig weet?” Sy kan hoor hy glimlag.
“Jy het so ’n groot mond! Ek is seker jy skrik jou boeglam as ek eendag een van hierdie uitnodigings van jou aanvaar!”
Die diep lag laat haar ook onwillekeurig glimlag. “Georgie, my skat, waarom toets jy dan nie jou vermoede nie!”
“Hoe laat moet ons jou daar kry?” ignoreer sy die opmerking.
“Jy gaan my tog seker toelaat om julle te kom haal? Wanneer dink jy gaan ek weer die kans kry om in daardie huis te kom?”
“Nou goed, kom tot hier, dan gaan ons saam.”
Toe sy die telefoon neersit, tel sy dit weer op en skakel die kantoornommer. Sy vra om met Mark te praat.
“Georgie! Jis, dis lekker dat jy my bel. Ek verlang na jou ook!”
“Mark, ek wil graag vanaand vir Jean ballet toe neem. Wil jy nie asseblief vir jou baas vra of dit reg is nie? Dan bel jy my terug.”
“Waarom praat jy nie sommer self met hom nie? Ek sit hier by hom in die kantoor.” Sy hoor hoe hy aan die ander kant met iemand praat en voor sy kan keer, klink daar ’n ander bekende stem in haar oor op.
“Is iets verkeerd?” Sy hoor die bekommernis.
“Nee … nee, niks is verkeerd nie. Ek wil net weet of ek miskien vanaand vir Jean na die ballet in die operahuis kan neem. Betsy sal na die seuns kyk.” Sy staan op en loop met die koordlose foon tot by die venster. Haar ander hand is in ’n vuis gebal.
“Hoor net by Ann of daar vanaand plek is.”
Georgina kyk fronsend na die instrument in haar hand. Waarom moet sy vir Ann vra of daar plek is? Miskien het hy haar verkeerd verstaan.
“Ek hét kaartjies.”
“Dan is dit goed. Ek het net gedink die losie is dalk al vol. Sê dan net vir Ann hoe laat Edward julle moet oplaai.”
“Ek het gedink ons ry sommer met ’n huurmotor.” Sy vryf met haar hand teen die dik geweefde gordyne.
“Edward kan julle neem en gaan haal.”
Sy stem in en groet haastig.
Jean is eers uit die veld geslaan, dan kan Georgina die opgewondenheid in die bruin oë sien. Hulle stap saam na haar kamer en die volgende halfuur word daar deur die kas geblaai op soek na ’n geskikte uitrusting. Hulle besluit later op ’n swart fluweelrokkie.
Georgina se probleem is groter, want sy besit nie aandrokke nie. Die enigste geskikte uitrusting wat sy het, is ’n wynrooi satynbroek met ’n bypassende loshangende jas. Daarby sal sy ’n swart toppie aantrek. Dit sal vanaand moet doen. Etiénne sal seker baie te sê hê, maar sy gaan beslis nie ’n aandrok vir een aand koop nie.
Georgina het net uit die bad geklim toe André kom sê daar is telefoon vir haar. Dis ’n saaklike Ann Meyerson.
“Juffrou Walters, ek dink daar was ’n misverstand. Daar is nie vanaand plek in die losie nie. En ek is seker u het my ook nooit gevra om plek vir u en Jean te hou nie.”
“Watse losie?” Waarom verwys almal na ’n losie?
“Doktor se losie in die operahuis. Al die kaartjies vir vanaand is alreeds maande gelede uitgegee.”
“Mevrou Meyerson, ek hét kaartjies. So u hoef nie bekommerd te wees nie.”
“Vir vanaand?” Sy kan die ongeloof in die koel stem hoor.
“Ja. En nou sal u my moet verskoon, ek moet aantrek.”
Soos Georgina verwag het, is Etiénne uiters smaakvol geklee in ’n moderne swart aandpak met ’n wit strikdas. En vir ’n oomblik wonder sy waarom sy nog nooit meer vir hierdie mooi man gevoel het nie.
Sy wenkbroue lig toe hy haar van kop tot tone bestudeer. “Nie wat ek verwag het nie, maar jy lyk steeds verruklik, my skat.” Dan draai sy blik na Jean wat skaam eenkant staan en hy gooi sy hande in die lug. “Nou dít is wat ek asemrowend noem!” Jean se wange word pienk van plesier en haar glimlag verlig haar andersins somber gesiggie.
Etiénne se blik dwaal van meubels na skilderye en dan laat hy sag in Frans hoor: “Kan ek jou werk kry as jy teruggaan? Hieraan sal ek gewoond kan raak! Is Sy Hoogheid hier?”
Georgina skud haar kop en beduie na die sitkamer. “Kom binne, ons is effens vroeg.”
William kom verneem of hulle ’n drankie sal drink en Georgina kan haar lag nie vir Etiénne hou wat sy oë vir haar rek nie. Albei sê hulle sal ’n sjerrie neem en toe die seuns die vertrek binnekom, staan Etiénne op en groet vrolik. William bring die twee glasies en dis as hy omdraai en “Naand, doktor” sê, dat die ander eers opkyk en die man in die deur gewaar.
Al vyf van hulle staan op. Die kinders om te gaan groet en Georgina omdat sy skielik uit die vertrek wil wegkom. Hy groet die kinders en dan kyk hy na Etiénne wat besonder stil langs Georgina staan. Dis eers toe Etiénne vorentoe tree en sy hand uitsteek dat Georgina haar stem vind.
“Doktor Parker, dit is Etiénne Druléz, ’n vriend van my.” Die twee mans skud vlugtig hand en dan kyk die groot donker man na sy dogtertjie. “Jy lyk baie mooi.”
Sy glimlag. “Ek is baie opgewonde!”
Hy knik en beduie vir Georgina en Etiénne om te sit en op William se vraag of hy iets sal drink, wys hy na die glasies in die ander twee se hande.
Bertie klim op sy pa se skoot. “Waarom kan ons nie saamgaan nie?”
Die groot hand rus op die blonde koppie. “Want ons drie is nie saamgenooi nie, ons sal maar iets anders moet doen.”
Georgina neem ’n groot sluk van haar sjerrie en vir ’n oomblik is sy seker sy gaan begin stik. Dan kry sy gelukkig weer asem, maar met haar oë probeer sy vir Etiénne beduie dat hy vinniger moet drink.
“Ek het jou nog nooit persoonlik bedank vir die twee mooi skilderye wat in my kantoor hang nie. ’n Mens kry nie meer aldag sulke besonderse werke te koop nie.” Chris Parker kyk na die man oorkant hom, ’n klein glimlaggie om sy mond.
Etiénne is vir ’n oomblik sigbaar sonder woorde, voordat hy breed glimlag. “Dit was my plesier. Ek self het nogal gedink dis besonderse werke.”
“Ek sal graag nog van sy werk wil aanskaf as jy weer daarvan in die hande kry.”
Etiénne se glimlag verbreed nog meer. “Ek sal my bes doen, maar het u al van Georgie se werke gesien?”
Georgina spring haastig op. “Ek dink Edward wag al vir ons.”
Chris draai na Jean. “Ek hoop jy geniet dit baie.”
Haar