Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
moet wees.
Syself het ’n kort swart rok aan wat net bo haar knie sit. Die rok is baie eenvoudig, met ’n wye hals en kort moue wat om haar skouerknoppe vou, maar die snit is besonder elegant en sy voel goed daarin. Sy sou dit waarskynlik nooit gekoop het as dit nie vir Etiénne was nie, maar hy was baie beslis dat sy nie soos Aspoestertjie gaan lyk en haar werkgewer in die skande steek nie. Selfs haar swart sykouse en hakskoene is deur hom help uitsoek en al wat sy kon doen, was net aanpas en betaal.
Hulle trek hulle jasse in die portaal uit en lewer dit by die jastoonbank in en dan sien Georgina vir Mark wat deur die mense vleg op pad na hulle toe.
Hy groet die kinders met ’n onderlangse fluit en dan kyk hy na haar. En toe hy praat, is sy stem net vir haar ore bedoel. “Ek het so pas al my goeie voornemens laat vaar. Van nou af is dit ’n geval van All is fair in love and war!”
“Waarvan praat jy?” Sy kyk vraend na hom.
Maar hy neem net haar arm en beduie vir die kinders om hulle te volg. “Julle sit by ons aan tafel.”
“Wie is julle? Ek dag jy het gesê die organiseerders sal êrens vir ons ’n plek gee om gedurende die oorhandiging te sit.”
“En dis wat hulle gedoen het – by ons aan tafel. Dis net die gewone klomp. En Peter en Maureen West, Chris se beste vriend en sy vrou. Hy is ’n dokter – jy sal van hulle hou.”
Tot haar verbasing sit hulle redelik voor in die saal en sy kan net sien hoe die koppe draai toe Mark met haar en die drie kinders by die tafel tot stilstand kom. Sy herken vir Ann Meyerson en Alice Smith – vanaand in ’n nousluitende koningsblou minirok. Sy knik net koel en kyk dan weer weg. Soos Mark, lyk Harry ook baie aantreklik in ’n aandpak. Dan gaan haar blik na die lang blonde man wat opgestaan het en sy hand na haar uitsteek. Mark stel haar voor aan Peter en Maureen West, en Georgina steek haar hand na die kort donkerkopvrou ook uit. Sy skat Peter vroeg veertig, maar dis moeiliker om sy vrou se ouderdom te skat. Sy het ’n jong gelaat, en net die fyn plooitjies om haar vriendelike oë is ’n teken dat sy miskien ouer is as wat sy lyk. Nadat die kinders almal gegroet het, wil Maureen dadelik by die kinders weet waarom hulle so lanklaas kom kuier het. Mark trek vir haar ’n stoel langs hom uit en sy neem tussen hom en Bertie plaas. Jean en André sit aan Bertie se ander kant. Die kinders kyk afwagtend in die rondte. Dan voel sy Bertie se hand op haar arm en toe sy na hom kyk, beduie hy met sy vinger. Georgina sien Chris Parker, waar hy saam met ’n groepie baie deftige mans en vroue deur die saal aangestap kom en by die voorste tafel tot stilstand kom. En selfs sy moet erken dat hy uiters aantreklik in sy swart aandpak en spierwit hemp lyk. Maar dit is die skraal vrou met die lang rooibruin hare langs hom wat haar twee keer laat kyk. Sy dra ’n kort, nousluitende groen aandrok, wat baie styf om haar borste vou en haar rug kaal laat. Georgina kan sien hoe sy na hom opkyk toe hy ’n stoel vir haar uittrek, en dan glimlag hy en knik sy kop. Wat ’n besonder mooi paartjie. Sy wonder wie die vrou is, maar sy wil nie vir Mark vra nie. Sy sien hoe Alice oorleun en iets vir Harry sê, en Georgina kan nie help om die ontevrede trek om die meisie se mond op te merk nie.
Asof Mark haar gedagtes lees, buk hy oor en laat sag by haar oor hoor: “Die grootste doring in Alice se vlees …” Hy beduie met sy kop na die tafel waar Chris en sy metgesel plaasgeneem het.
“Wie is sy? Sy is pragtig.” Georgina se oë draai weer na die vrou met die rooibruin hare.
“Emily Ferris. ’n Baie suksesvolle advokaat in Manhattan en ’n ou klasmaat van Chris. En volgens die koerante die volgende mevrou Parker.”
“Hulle lyk beslis meer as net vriende.” Georgina sit ingedagte na die paartjie en kyk.
“Ons weet nie, ons kan ook maar net bespiegel. As ons hom uitvra, haal hy net sy skouers op en sê ons moenie so nuuskierig wees nie.”
“Waarom trou hy nie maar met haar nie?”
Mark skud laggend sy kop. “Kan jy haar en die kinders in een huis sien? Ek dink beslis nie sy is die moederlike tipe nie!”
Voordat hulle verder kan gesels, begin die seremoniemeester die gaste verwelkom en kan Georgina net stil sit en luister en haar verkyk aan al die deftige mense. Daar volg ’n paar toesprake en nadat die voorsitter die oorhandiging gedoen het, word Chris aan die woord gestel. Terwyl die gaste almal hande klap, kyk hy oor die gesigte voor hom. En vir ’n oomblik rus sy blik op sy kinders voordat dit na haar aanskuif en sy kan sien hoe sy wenkbroue effens lig. Die kinders glimlag egter so breed dat daar vlugtig ook ’n glimlag om sy mond kom lê en hy liggies sy kop in ’n groet knik.
Hy begin praat en die saal word stil en self Georgina kan nie help om te luister nie. Hy bedank die persklub vir die toekenning en vertel die een en ander oor die jaar wat verby is en die uitdagings vir sy beroep in die nuwe jaar. Hy vertel selfs ’n staaltjie en die mense reageer met ’n luide gelag. Dan raak hy weer ernstiger as hy oor die pers en hulle verantwoordelikhede in die moderne tyd praat en Georgina kan sien hoe daar aandagtig geluister word. Sy het vir die eerste keer ’n mate van begrip vir die manier waarop hy die mense rondom hom hanteer. Hy is gewoond daaraan dat mense luister as hy praat. En dan besef sy ook dat hy waarskynlik niks van ander verwag wat hy nie van homself sal verwag nie – vandaar sy ongeduld as mense hom in die steek laat.
Aan die einde van sy toespraak huiwer hy net ’n oomblik, dan kyk hy na sy kinders. “Ek is seker u sal my toelaat om net kortliks ’n meer persoonlike opmerking te maak. Ek wil graag hierdie toekenning aan my personeel opdra. Sonder hulle harde werk en toewyding sou ons nie hierdie jaar ons doelwitte kon bereik het nie … en dan ’n spesiale woord van dank aan my kinders. Vir baie ure wat hulle in vreemde stede moet deurbring, vir lang aande alleen by die huis.” Hy lig die besonderse trofee effens, terwyl hy stip na die drie gesigte kyk. “Baie dankie.”
Georgina kyk na die drie paar blink oë en sy moet haastig aan die knop in haar keel sluk. En sy wens meteens sy het nie hierdie toespraak vanaand gehoor nie. Dis makliker om nie van hom te hou nie.
Soos een man staan die gaste almal op om hande te klap. Hy neem weer sy plek by die voorste tafel in en die seremoniemeester bedank hom vir die toespraak en kondig dan aan dat die kos nou bedien sal word.
Georgina kyk na Mark toe almal begin gesels. “Ons kan seker nou maar stil uitsluip. Baie dankie vir jou moeite.”
Hy skud sy kop. “Julle kan nie nou loop nie, julle moet eers eet!”
Sy kyk na die kinders en hulle knik opgewonde en Bertie laat in ’n harde fluisterstem hoor: “Ek wil asseblief hier eet, ek is baie honger!”
Peter en Maureen West begin lag en Georgina kan ook net lag. En dan meteens staan Chris by hulle tafel en kyk hy met ’n vreemde glinstering in sy oë na die kinders.
“Ek het eers gedink dis dalk my kinders wat ek hier sien sit, maar ek dink nie ek ken sulke deftige kinders nie.” Jean en Bertie giggel plesierig. André se oë rus bewonderend op sy pa en die groot man laat ongemerk sy hand op die seun se skouer sak. “Hoe het julle hier gekom?”
Die kinderoë draai na Georgina en vir ’n oomblik wil sy eers wegkyk, maar dan lig sy haar kop en kyk stil na hom. Nie uitdagend nie, maar ook nie verskonend nie, steeds oortuig daarvan dat sy die regte ding gedoen het.
Maar dit is tog sy wat eerste wegkyk.
Hy groet die ander en dan tel hy Bertie op sy skoot en gaan sit langs Georgina om ’n paar woorde met Peter en Maureen te gesels.
Georgina is baie bewus van die forse gestalte langs haar, en bly roerloos sit, skielik ook bewus dat Alice na haar staar. Sy is bly toe die man langs haar opstaan en na nog ’n paar woorde met die ander om die tafel, weer na die tafel voor hom in die saal terugstap.
Die kinders lyk verlig toe die borde met die eerste gereg voor hulle neergesit word, en Bertie laat sag hoor: “Dis baie min kos – ek is baie honger!”
“Dis net die voorgereg,” laat Georgina glimlaggend hoor. “Jy sal nie honger ly nie.”
Hy knik tevrede en begin versigtig eet.
Peter en Maureen West begin Georgina uitvra oor haar verblyf in