Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
“Het julle al die nuwe juffrou ontmoet?” verander Georgina die onderwerp.
Jean knik. “Maar ons hou nie van haar nie. Sy is nes al die ander – lyk voor my pa so vriendelik, maar as hy weg is, is sy kwaai en nors. Jy was ten minste nooit voor hom vriendelik en agteraf kwaai nie. Jy was sommer met ons almal kwaai.”
Georgina kan net lag. Sy het nie antwoorde vir die dogtertjie nie. Al wat sy weet, is dat haar hart ook baie seer gaan wees as sy hulle die dag moet groet. Snaaks dat sy nooit daaraan gedink het dat sy dalk aan die kinders geheg sal raak nie. Sy het gehoop sy sal goed met hulle oor die weg kom, maar sy het nooit verder as daardie punt gedink nie. Miskien as die kinders nie so ’n vreemde lewe gelei het nie … miskien is dit wat haar so jammer vir hulle laat voel.
“Waaraan dink jy?” onderbreek Jean se stem haar gedagtes.
“Sommer aan julle. Ek is bly ons het vriende geraak. Dis vir my baie lekker om saam met julle te wees.”
“Dan kan jy mos bly. Asseblief, Georgie, jy kan met my pa trou – ek sal nie meer omgee as hy met jou trou nie. Dit sal baie lekker wees.”
“Jean,” Georgina se stem is skielik streng. “Ek wil nie hê jy moet sulke goed sê nie. Dis Kersfees en ons gaan ’n paar lekker dae hier hê en dan gaan ek nog vir die hele Januarie by julle wees, en teen daardie tyd sal julle al opgewonde wees om weer te begin leer.”
Die dogtertjie staan vinnig uit die stoel op en druk haar hande in haar sye. “Ek wil nie ’n ander juffrou hê nie!” En daarmee draai sy om en stap met ’n regop ruggie by die deur uit.
Georgina bly ’n oomblik sit voordat sy opstaan en die res van haar klere uitpak. Haar arms voel skielik moeg en swaar.
Daardie aand eet hulle om die ronde tafel in die televisiekamer. Die kinders is geselserig en selfs Jean lyk nie meer so kwaad nie. Hulle vertel vir hulle pa van alles wat hulle herontdek het. En Georgina luister stil na hulle vertellings. Hulle het haar in die tydjie voordat dit begin donker word het, die gronde gaan wys. Of soveel as wat hulle kon inpas. Die dam met die vet wit eende is duidelik Bertie se gunstelingplek. Georgina kon haar net verkyk aan die pragtige landskap. Sy weet nie hoe groot die grond is nie, maar sy het wel uitgevind dat daar nie regtig met iets geboer word nie. Daar word blykbaar groente verbou, maar dit klink vir haar ook net vir huisgebruik. Daar is wel twee perde. ’n Blou-skimmel merrie, Missy, wat André blykbaar vir sy tweede verjaardag gekry het, en ’n groot swart hings, Phantom, wat aan sy pa behoort en wat volgens die kinders kwaai is.
En nou sit hulle aan tafel en die kinders gesels met blink oë. En Georgina wonder vir die soveelste maal waarom sy jammer vir die kinders voel. Dis beslis nie of hulle gebrek ly nie. Dis ook nie asof hulle pa nie lief vir hulle is nie. Selfs sy moet erken dat hy baie erg oor sy kinders is. Maar êrens in die prentjie is daar iets wat weg is. En dan besef sy sy het dieselfde gevoel oor die huis. Dit is ongetwyfeld die mooiste huis waarin sy al was, maar dis ook asof daar tussen al die mooi iets kortkom. En dan tref dit haar. Daar is geen foto’s in die huis nie, niks regtig persoonliks nie. Miskien is dít waarom sy vir die gesin jammer is. Die prentjie van buite is volmaak, maar daar kort ’n warmte. Almal is so ordentlik met mekaar. Almal probeer so hard, maar in die proses kan hulle nie regtig hulself wees nie.
Na ete is Bertie baie vaak en Georgina stap saam met hom kamer toe. Op die trap keer André haar egter voor en sê sy pa wil haar sien as sy klaar is.
Die studeerkamer se deur staan oop, en sy klop liggies. Op sy antwoord stap sy huiwerig die indrukwekkende vertrek binne. En net vir ’n oomblik gaan sy staan om die prentjie voor haar in te neem. Chris Parker sit agter die groot lessenaar en ’n leeslamp gooi ’n ligkol op die papiere voor hom. Verder brand daar net twee staanlampe in die groot vertrek.
Georgina besluit dat die vertrek op daardie oomblik selfs mooier as in die dag lyk. Die hout en die boeke skep ’n ryk en warm agtergrond.
Chris Parker staan op, stap om die lessenaar en beduie na die gemakstoele en rusbank.
“Ons sit sommer hier.” Hy wys na die skinkbord met koppies en ’n glaskan met koffie. “Betsy het koffie gemaak.”
Georgina neem op die punt van die stoel plaas en op haar vraag of sy die koffie kan inskink, knik hy net. Terwyl sy daarmee besig is, lig hy haar in dat hy die volgende middag weer Londen toe vertrek en wil hy weet of daar iets is wat sy nodig het. Vir die eerste keer vandat sy hierdie vreemde man ontmoet het, ervaar sy êrens ’n roering van jammerte.
Toe sy opkyk en sien hoe hy oor sy oë vryf, laat sy stil hoor: “Ek sal mooi na die kinders kyk.” Sy het skielik die begeerte om hom gerus te stel.
“Daaroor het ek nie twyfel nie.” Hy rek sy bene lank voor hom uit en neem ’n sluk. “Kan ek jou ’n persoonlike vraag vra?” Sy oë gaan oor haar gesig.
Toe sy woordeloos knik, vra hy reguit: “Waarom is jy nie getroud nie?”
Georgina voel die bekende beklemming in haar keel en sit vir ’n oomblik sprakeloos na hom en kyk. Dan laat gaan sy haar oë na die rye boeke teen die mure. Iemand anders sou seker teen hierdie tyd al om verskoning gevra het vir die vraag, maar hy wag in stilte. Sy hande om die warm koppie geskulp.
“Ek is seker nie die troutipe nie.” Haar stem klink onnatuurlik in haar eie ore en sy kug.
“Is daar ook nie êrens iemand met romantiese verwagtinge nie?”
Sy weet nie of sy haar die verbasing in sy stem verbeel nie en sy skud haar kop.
“Maar ek neem aan dit ís deel van jou toekomsplanne?” Hy sit steeds onverstoord na haar en kyk. Sy verskuif op die sagte stoel, nie seker wat sy moet antwoord nie en ook nie lus om met hom hieroor te praat nie.
“Doktor Parker, ek is nie seker wat hierdie gesprek met my verantwoordelikheid teenoor u kinders te doen het nie.” Haar wange verkleur nou ligrooi.
“Dit het niks met my kinders te doen nie, ek is net nuuskierig. En jy het nog nie my vraag beantwoord nie.”
Sy sit haar koppie op die koffietafel tussen hulle neer en begin orent kom. “Nee, dis nie deel van my toekomsplanne nie.”
“Jy is baie goed vir die kinders. Baie dankie.”
Georgina sak weer in die stoel neer, asof die onverwagse opmerking haar vir ’n oomblik verlam het. Sy probeer aan ’n gepaste reaksie dink, maar haar tong is ook ver- lam.
“Jy weet seker hulle wil jou nie weer laat weggaan nie.”
Georgina kan net haar skouers optrek. “Seker maar omdat ons net saam vakansie hou. As ek die onderwyseres was, sou hulle nie so opgewonde gewees het nie.” Sy weet nie wat sy moet sê nie. Die atmosfeer is skielik te intiem.
Voordat hy iets kan sê, staan sy op en wens hom van die deur af ’n goeie nagrus toe.
Toe sy na ’n lekker lang bad in die groot bed klim en die spierwit lakens en donssagte komberse tot teen haar keel trek, wonder sy waarom hy vanaand vir ’n oomblik die skanse laat sak het. Miskien het dit met die rustigheid van die huis te doen, weg van die onmoontlike gejaag van sy stadslewe, en sy wonder waarom hy nie hier kom woon nie. Waarom so ’n plek besit en jy kan dit nie self geniet nie? Watter soort vrou was die kinders se ma dat sy nie van hierdie plek gehou het nie?
12
André is baie teleurgesteld toe hy die volgende oggend wakker word en sy pa is reeds weg.
“Ek wou saam met hom gaan perdry het!”
“Ek sal saam met jou gaan ry.” Georgina kan haar ore nie glo toe sy dit klaar gesê het nie. Sy het laas op die plaas perdgery toe haar ouers nog gelewe het. Voordat sy egter bedenkinge kan kry, helder die seunsgesig op.
“Kán jy perdry?”
Georgina kyk hom verontwaardig aan. “Ék het op ’n plaas grootgeword. Daar is baie dinge wat ek kan doen.”
En toe hulle pa daardie aand bel, vertel André met groot smaak hoe goed Georgina kan