Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
te antwoord nie, maar jy het ook nie ’n maand om daaroor te dink nie.”
Georgina se oë lig vraend.
“Trou met my.”
Haar mond gaan oop en haar oë staar onbegrypend na sy gesig. Sy was nie heeltemal seker wat die voorstel gaan wees nie, maar sy is seker dat sy nooit dít in gedagte gehad het nie.
“Georgina, ek het nie gevra dat jy uit die vliegtuig moet spring nie.” Sy stem dring van ver af na haar toe deur en sy knip haar oë moeisaam. Sy is seker as sy hulle oopmaak, sal sy wakker wees, maar toe sy hulle uiteindelik oopmaak, is die gryses nog steeds voor haar – hierdie keer net baie duidelik ergerlik.
“ ’n Paar vrouens het my die afgelope paar jaar nogal laat glo hulle sal nie te ongeneë wees om met my te trou nie, al was dit dan ook net vir die geld, en toe ek uiteindelik een vra, is sy tot stomheid geskok. Êrens moes ek die boodskap verkeerd verstaan het!”
“Dis ék wat nie verstaan nie. Waarom wil jy met my trou? Ons ken mekaar nie eens nie!” ’n Diep frons keep tussen haar donker oë.
“Ek is ’n sakeman en as ek ’n goeie belegging sien, sorg ek dat ek daarin belê.”
“En ek is ’n goeie … belegging?” Haar stem wil-wil wegraak.
“Seker die beste wat ek my kinders kan gee.” Sy stem is rustig asof hulle twee die weer bespreek.
“Waarom vra jy my nie net om hulle oppasser te wees nie – sal dit nie makliker wees nie?” Georgina kan steeds nie die verbystering uit haar stem weer nie.
“Hulle het nie nog ’n oppasser nodig nie. Daarvan het hulle al genoeg gehad. Hulle het ’n ma nodig.”
“Maar ek is nie hulle ma nie – ek ís nie eens ’n ma nie.”
“Maar jy is die naaste wat hulle nog aan een gekom het, en ek is bereid om baie te betaal vir daardie voorreg.”
Georgina draai haar kop en staar na die donker nag buite die klein venstertjie. Sy het al die afgelope paar jaar heelwat huwelikaansoeke gekry. Die meeste van die tyd kon sy dit aflag en afskryf as laataandpraatjies. Maar in hierdie nag, duisende meters bo die aarde, weet sy nie hoe om hierdie een af te lag nie. Want dis nie ’n huweliksaansoek nie, dit is … Sy weet nie wat dit is nie.
“Doktor Parker, geld kon nog nooit geluk koop nie.”
“Daardie les het ek lankal geleer en hou asseblief op om my doktor Parker te noem, dis uiters frustrerend.”
“Maar tog wil jy vir jou kinders ’n ma koop! Dis beslis nie hoe dit gedoen word nie. Jy het tog seker … vriendinne – waarom trou jy nie met een van hulle nie?”
“Ek het nie ’n vrou nodig nie; my kinders het ’n ma nodig.”
“Jy het miskien nie ’n vrou nodig nie, maar …” Sy bly verleë stil. Hoe op aarde kan sy met hom oor sulke dinge praat? Hulle is skaars op voornaamterme en nou moet sy sulke intieme vrae vra.
Sy hoor hom sag langs haar lag, ’n geluid wat sy nog nie baie gehoor het nie, en sy draai haar kop om te sien of sy reg hoor.
“Is jy bang ek verwag meer van jou of dat ek jou gaan gebruik om kos te kook en kinders op te pas, terwyl ek êrens ’n minnares aanhou?”
Die warmte begin in haar nek en sy voel hoe dit oor haar gesig sprei, en sy draai haar kop na die donker venstertjie langs haar. Miskien moes hy haar liewer gevra het om uit die vliegtuig te spring. Sy is seker dit sou makliker gewees het as om hierdie gesprek te voer.
“Harde werk is ’n teenvoeter vir baie dinge,” klink sy stem geamuseerd langs haar op.
“Waarom so haastig?” Sy kyk na haar eie profiel in die venster.
“As jy my aanbod aanvaar, gaan julle op die plaas bly en ek gaan die kinders by plaaslike skole inskryf. Daar is blykbaar ’n paar baie goeie skole in die omgewing. Net buite die dorp is ’n ou gevestigde seunskool, asook ’n meisieskool. Dis nie maklik om plek te kry nie, en die kinders sal die een of ander toelatingseksamen moet skryf.”
“Hoe weet jy al hierdie dinge?” Sy is seker hy maak nie sommer net ’n gewoonte daarvan om inligting oor skole te versamel nie.
“Ondanks wat jy van my as pa dink, het ek altyd geweet die kinders sal die een of ander tyd iets anders nodig hê. Dit was net nog nooit moontlik nie – tot nou.”
“En as ek nie kans sien nie?” ’n Beklemmende gevoel kom lê meteens oor haar bors. Asof daar deure agter haar toeklap en sy nie meer kan omdraai nie.
“Dan gaan ons eers aan soos tevore. Ek sal mettertyd ’n ander plan bedink.”
“En as die kinders nie meer ’n ma nodig het nie?” onthou sy skielik ’n moontlike probleem.
“Het kinders nie maar altyd ’n ma nodig nie?” omseil hy die vraag, maar toe sy net vraend na hom bly kyk, laat hy met ’n klein glimlaggie hoor: “Ek sal jou nooit dwing om te bly nie; jy sal vry wees om enige tyd die verbintenis te verbreek.”
Georgina wil hom vra of dieselfde vir hom geld, maar haar woorde het opgedroog.
Sy trek koulik die lugdienskombers tot teen haar keel en sy het al begin dink hy slaap, toe sy stem weer langs haar opklink.
“Nog net een ander saak. Niemand hoef die besonderhede van ons verbintenis te weet nie – dit sal die kinders net verwar.”
Sy antwoord nie. Hy praat asof sy reeds ingestem het en op hierdie oomblik voel sy ver van ja sê af. Op hierdie oomblik voel sy na spring. Sonder ’n valskerm.
Hier is nie sprake van liefde nie, maar die lewe wat hy haar bied, is seker in baie opsigte die beste waarvoor sy ooit kon hoop. Om deel van ’n gesin te wees. Haar eie gesin te hê.
“Dink jy iémand sal glo dat jy skielik halsoorkop op my verlief geraak het?” Haar stem hang in die skemerte tussen hulle.
“Ek sal seker nie die eerste man wees op wie jy daardie uitwerking het nie!”
Georgina voel hoe die warm gloed weer teen haar nek opskuif en sy byt haar tong vas. Sy moes geweet het hy sal met haar spot.
Georgina staan in die portaal van die klein klipkerkie. Haar oë op die tientalle groot wit kerse wat die skemerte verlig.
Sy voel hoe sy liggies begin bewe en sy moet keer of haar tande klap hoorbaar teen mekaar. Etiénne en Magriet trek aan haar rok en vee sneeuvlokkies uit haar hare. Hulle praat onophoudelik in sagte fluisterstemme, maar die meeste van wat hulle sê, gaan by haar verby. Jean trek haar warm jas uit en trek haar lang donkergroen rokkie reg. Sy kyk bewonderend na Georgina en vir die soveelste keer die afgelope uur laat sy opgewonde hoor: “Jy lyk verskriklik mooi!”
Georgina moet deur haar bewerasies glimlag toe sy weer aan almal se reaksies dink. Almal het haar probeer oortuig dat hulle dit geweet het, dat hulle van die begin af kon sien daar is iets tussen haar en haar werkgewer aan die gang. Sy kon net haar kop in stilte skud. As hulle maar kon weet. Die vorige keer toe sy sou gaan trou het, vir liefde, het die man koue voete gekry. Nou trou sy omdat sy ’n goeie belegging is.
Met Etiénne se hulp het sy genadiglik hierdie treffende goudroom rok raakgeloop en sy moet self erken sy lyk nie sleg nie. Die bostuk en lang moue is ryklik met klein pêreltjies versier en pas haar soos ’n handskoen. Onder die bostuk val die swaar brokaatromp regaf tot by haar voete. Sy het beslis enige vorm van sluier of sleep van die hand gewys. Haar kort donker hare is gewas en soos gewoonlik drooggemaak, maar die haarkapper het ’n fyn haarbandjie met piepklein rosies en fyn gipskruid versier en dit op haar kop gesit. Haar eerste keuse was aanvanklik om voor een of ander magistraat te trou, maar toe sy in Jean se oë afkyk en die opwinding en verwondering daarin sien, is sy bly sy het ingestem om vanaand in hierdie klein klipkerkie voor ’n handjie vol mense te trou. Dit sal altyd ’n mooi herinnering wees, ongeag hoe haar lewe verder verloop. Die ander herinnering wat haar altyd sal bybly, is die kinders se reaksie. Die nag voordat hulle dit vir die kinders vertel het, het sy nooit geslaap nie,