Wilna Adriaanse-omnibus 1. Wilna Adriaanse
het dit geraam. Dis mooi, nè?” laat Jean opgewonde hoor en al drie gaan staan agter hom en kyk oor sy skouer na die afbeeldings van hulleself.
Toe die grys oë weer opkyk, kan sy verbasing daarin sien. “Ek het nie geweet jy is ’n fotograaf ook nie. Ek dag jy teken net prentjies!” ’n Speelsheid lê in sy oë.
Georgina trek net haar skouers op. Dan begin die kinders weer deur al hulle geskenke kyk en op die ou end word daar eenparig besluit om die nuwe bordspeletjie wat André gekry het, te beproef. Die kinders wil niks daarvan hoor dat Georgina nie gaan saamspeel nie en na vele redenasies span sy en André saam teen sy pa en die ander twee. Kort voor lank stry en lag almal oor en weer en dis net voor middernag toe Bertie se oë begin toeval en Georgina opstaan om hom kamer toe te dra.
Hy sit sy arms om haar nek en toe sy hom op die bed neersit, laat hy met ’n dik slaapstem hoor: “Ek is lief vir jou.”
Georgina druk die seunslyfie vir ’n oomblik vas en druk ’n soen teen sy voorkop. “Ek is vir jou ook lief.” Sy trek die klere oor die slap bene en arms en uiteindelik kan sy hom toemaak.
Dis eers toe sy omdraai, dat sy Chris in die deur gewaar. Sy wonder hoe lank hy al daar staan, maar wil nie vra nie. Sy skakel net die lig af en trek die deur toe.
Tot haar groter verleentheid stap hy saam met haar na Jean en André se kamers en toe hulle klaar nag gesê het, en in die gang uitstap, sê sy haastig nag. Vir ’n oomblik lyk dit of hy iets wil sê, maar knik dan ook net en albei draai om en stap na die teenoorgestelde punte van die lang, breë gang.
Die kerkdiens is in ’n ou klipkerkie en Georgina is dankbaar sy het gekom. Om in die stilte te sit en na die orrelmusiek en koorsang te luister, is genoeg om haar rustig te maak.
Op pad huis toe, langs hom in die motor, kan sy nie help om ’n opmerking te maak nie. “Ek het nogal gewonder of u net helikopters en vliegtuie bestuur.”
Hy draai na haar en vir ’n oomblik is daar ’n spotlaggie op sy lippe. “Ek het my rybewys in Kaapstad gekry. Ek het hom nog as jy bewyse soek.”
Georgina glimlag net. Dit voel vir haar of sy in iemand anders se lewe vasgevang is, en nie seker is wat volgende van haar verwag word nie. Die hele week hier is soos ’n droom: die oorgawe waarmee die kinders haar deel van hulle lewe maak; die gevoel van huislikheid, en totale rustigheid wat sy ervaar. Miskien nie altyd so rustig wanneer die donker man in die geselskap is nie, maar selfs hy kan nie op hierdie dag haar vrede wegneem nie.
Hulle eet later ’n ligte middagete, maar toe die kinders haar wil saamsleep om by Peter en Maureen West by hulle naweekhuis te gaan koffie drink, skud sy net haar kop en moet hulle na ’n rukkie ingee en tevrede wees net met hulle pa se geselskap.
“My pa sê jy moet na sy studeerkamer toe kom,” kom kondig Bertie aan toe hulle laatmiddag terugkeer. Georgina wil haar eers vererg, maar die rustigheid van die dag lê nog in haar en sy staan van die rusbank in die familiekamer op.
Hy sit agter die groot lessenaar, ’n dik lêer lê voor hom oop. “Kom sit.” Hy beduie na die stoele oorkant die lessenaar. Hy kyk ’n oomblik ingedagte na haar en toe sy ongemaklik begin rondskuif, laat hy afgetrokke hoor: “Ons vlieg oormôre vir ’n week of tien dae Tokio toe.”
Die gevoel van rustigheid bars soos ’n seepbel in haar gesig. En voordat sy kan dink, begin sy praat: “Ek wil ’n guns vra. Kan die kinders nie vir die week saam met my Suid-Afrika toe gaan nie? Dis nou somer en Magriet-hulle is by die strandhuis en die kinders sal dit baie geniet, en ek sal baie mooi na hulle kyk en u kan sê wanneer ons moet terug wees.” Sy haal nie asem nie, uit vrees dat hy haar sal onderbreek en dat die plan wat sy op die ingewing van die oomblik gekry het, ’n vroeë dood sal sterf.
Hy sak agteroor op sy stoel en kyk met gesluierde oë na haar. Die stilte is skielik soos iets tasbaars tussen hulle en sy begin weer rondskuif.
“Verlang jy huis toe?”
“Ja … nee … Ek dink regtig net die kinders sal dit geniet om bietjie in die son te kuier.”
“Weet Leon en Magriet van jou planne?” Sy oë keep na mekaar toe.
“Nog nie, maar daar sal nie probleme wees nie. Die huis het genoeg slaapplek.”
“Het ons twee ’n kontrak rakende jou dienstydperk?”
Georgina kyk hom vraend aan. Hulle was die een oomblik nog besig om die moontlikheid van ’n week in Suid-Afrika te bespreek.
“Is daar ’n spesifieke datum wanneer jy terug by die huis moet wees?” hervat hy toe sy nie antwoord nie.
“Ek het geen planne nie. Ek gaan waarskynlik eers aanstaande jaar, so teen Junie, terug huis toe.”
“En wat doen jy intussen?” Hy speel met die silwerpen wat voor hom op die lessenaar lê.
“Gaan waar die gees my lei.”
“Hmm … Kan ek jou môre ’n antwoord gee? Ek wil eers met die kinders gesels,” knip hy die gesprek kort en Georgina staan op.
“Georgina …” keer sy stem haar by die deur. “Baie dankie vir ’n besonderse Kersfees.”
Sy knik net voordat sy uit die vertrek stap.
14
Georgina moet glimlag toe drie bruingebrande kinders tien dae later hulle pa in Londen op die lughawe tegemoet hardloop. En toe hulle almal ’n uur later op die vliegtuig sit, het die drie nog nie ophou praat nie. Hulle vertel van die strandhuis reg langs die strand en van Leon en Magriet se seuns, met wie hulle na die eerste swem in die branders ’n hegte vriendskap gesmee het. En van die aande om die vuur waar Leon vir hulle vleis gebraai het, en hoe Georgina hulle leer branders ry en strandtennis leer speel het.
As die een asem skep, val die ander een in en Georgina wonder later hoe sy ore dit hou. Hulle praat deur aandete, maar toe die kajuitpersoneel na aandete begin om komberse en kussings uit te deel, raai Georgina hulle aan om rustig te word en te probeer slaap. Die sitplekke in die luukse eersteklaskajuit is soveel ruimer en gemakliker, en sy strek haarself ook lui uit.
“Bertie, sal jy langs André gaan slaap? Ek wil graag hier sit.” Chris staan in die paadjie langs haar sitplek en beduie vir Bertie om op te staan. Die seuntjie wil eers beswaar maak, maar sy pa het hom reeds opgetel en op die sitplek agter hulle neergesit en met die sagte kombersie toegemaak. Dan skuif hy langs Georgina in.
“Dankie dat jy my gered het. My ore kon dit nie meer hou nie, maar ek kan hulle ook nie kwalik neem nie; dit moes ’n heerlike paar dae gewees het.”
Georgina knik. “Hulle het wonderlik aangepas en jy kan baie trots op hulle wees.” Sy kom nie agter dat die formele aanspreekvorm onbewustelik verander het nie.
“Het jy al besluit waarheen jy die einde van die maand gaan?” Hy skakel die liggie bo sy kop af en die skemerte van die kajuit vou om hulle.
Sy skud haar kop. “Daar is nog baie tyd om te besluit.”
“Is ’n man die rede vir jou swerftogte?”
Georgina se keel word oudergewoonte droog. Sy het geen begeerte om dit met hom te bespreek nie.
“Hy moes besonders gewees het.” Sy stem is ’n diep fluistering in die geslote ruimte en vir ’n lang oomblik hang die stilte tasbaar tussen hulle.
“Hy was nie so besonders nie, ék was. Ek was vier en twintig en vreeslik naïef … en verlief. Ek dink in vandag se tye is dit nogal besonders.” Die stil, skemer kajuit skep skielik ’n intieme ruimte. “Hy het die oggend van ons troue besef hy is nog nie gereed vir die groot stap nie. Dis al wat gebeur het. Ek sou verkies het dat hy dit vroeër besef het, maar ek kan hom nie kwalik neem nie. Hy kon stilgebly het en ons al twee in ’n jare lange hel gedompel het.” Die woorde is lig, haar stem byna geamuseerd, maar haar keelspiere trek branderig saam.
“En toe gooi jy alle mans uit jou lewe?” Hy draai hom skuins in die gemaklike sitplek en sy grys oë rus nou op haar gesig.