Voorskrif vir die hart. Kristel Loots
haar amper bang maak, maar dis veral die outoriteit van sy houding wat haar aandag trek: sy hoë voorkop, sy trotse neus, sy ferm mond en sy kragtige kakebeen.
Zoely hoor skaars hoe Hermien haar aan dokter Vincenzo voorstel. Hy blykbaar ook, want hy gaap haar skaamteloos aan.
Ag hemel tog, dink sy benoud. Waarom staar die man so na my? Is dit omdat ek lyk soos iets wat die kat ingedra het, of herken hy my dalk van die foto’s wat in die koerante was? Of van die televisiebeelde?
Sy het hard probeer om haar gesig onder ’n trui weg te steek toe die batebeslagleggingseenheid destyds saam met die media by hul huis opgedaag het. Sy was totaal ontredder toe sy die televisiekameras buite gewaar het, maar sy kon nie heeltemal daarin slaag om weg te kruip nie. Daardie aand het sy verstom na die televisienuus gestaar en haar eie doodsbleek gesig herken. En dit was nie die laaste keer nie. Daar is gereeld in die argiewe gedelf terwyl die bedrogsaak waarby Dawid betrokke was, ondersoek is.
Sy het sedertdien heelwat gewig verloor en haar haarstyl heeltemal verander. Ook het sy intussen ’n operasietjie aan haar oë laat doen sodat sy nie meer bril dra nie. Sy trek ook nie meer so lah-di-dah aan soos destyds nie. Maar dit kán wees dat haar gesig ’n klokkie by dokter Vincenzo laat lui, al eien hy haar nie dadelik nie. Dan is alles in elk geval verlore, want een of ander tyd sal hy onthou waarom haar gesig vir hom so bekend lyk.
Sy sluk swaar, soek na woorde om die oomblik te ontlont, maar niks kom in haar gedagtes op nie.
“Mmm,” brom die dorpsdokter uiteindelik. “Goeie beenstruktuur …” Hy skreef sy oë om haar beter te bekyk. “’n Lieflike mond ook.” Hy leun vorentoe, steek sy hand na haar toe uit en draai haar gesig skuins na hom.
Zoely is te verstom om teë te stribbel. Waar kom die man aan sy arrogansie? Wie gee hom die reg om haar te bekyk en te bevoel?
“Sterk profiel,” merk hy goedkeurend op. “Just what the doctor ordered.”
Zoely se mond is droog, haar kop heeltemal leeg. Maar dan is dit asof die lewe eensklaps na haar terugkeer. Sy was verniet bekommerd – die man wonder nie hoekom sy so bekend lyk nie, hy evalueer haar skaamteloos! Hy bekyk haar soos iets wat op skou is, wat te koop is, wat deur hom geweeg word sodat hy kan besluit of sy aan sy standaarde voldoen.
Iets in haar raak los, soos ’n rekkie wat tot sy uiterste beproef was en skiet gee. Sy is nie hier om op haar uiterlike beoordeel te word nie. Sy’s ’n gekwalifiseerde dokter, demmit, al is dit net ’n huisdoktertjie. Sy’t die sertifikate om dit te bewys en sy is hier om mense gesond te maak.
Kyk, hierdie derduiwel met sy vol, sexy mond is so aantreklik soos die sonde self, maar sy kan nie toelaat dat hy vir ’n oomblik dink sy is beskikbaar vir sy speletjies nie. Sy lig haar kop, draai die ander wang uitdagend na hom sodat hy haar profiel van daardie kant af ook kan beskou en klaarkry.
Sy hoor die goedkeurende geluid wat hy maak; ook daardie kant van haar gesig stel hom blykbaar tevrede. Nou toe nou! Skynbaar het sy die toets – wat hoegenaamd niks met haar bevoegdheid of bekwaamheid as dokter te make het nie – geslaag. Wel, daar wag ’n onaangename verrassing op hom!
Sy ruk haar kop op, kyk hom waterpas aan en staan toe ’n paar treë agteruit sodat sy ’n beter blik op hóm kan kry. Met haar kop skuins gedraai, kyk sy hom net so opsommend aan soos hy met haar gedoen het. Haar hart hamer wel op die maat van ’n oorlogsdans in haar bors en haar handpalms is sweerlik natgesweet, maar sy gee nie bes nie.
Die man is ongelooflik aantreklik, besef sy weer. Gevaarlik aantreklik met sy Atlasskouers en dik, donker hare. Maar sy sluk haar bewondering, draai haar kop na die ander kant toe en maak dieselfde geluide wat hy vroeër gemaak het.
“Mmm …” laat hoor sy met ’n kordaatheid wat sy nie werklik voel nie. “Nie sleg nie. Glád nie sleg nie. Sterk, Romeinse neus.” Sy staan nader, streel met haar vingerpunt oor die gleufie in sy ken. Sy voel die warmte van sy vel en snak innerlik na asem. “Sto- … storieboekduikie in die ken,” stamel sy effens. “Stewige kakebeen.” Sy knik haar kop. “Ja, nie sleg nie, heel gangbaar.”
Uit die hoek van haar oog sien Zoely die uitdrukking van stomme verbasing op Hermien se gesig. Die pasiënte in die wagkamer maak nie ’n geluid nie; dis asof die mure self asem ophou.
Dan bars dokter Vincenzo skielik uit van die lag. “En nog bekkig ook!”
Sy blik hou hare gevange en Zoely kyk nie weg nie. Dit vat alles in haar om nie verlore te raak in sy donker poele nie, maar sy hou haar kop hoog en kyk hom met net soveel arrogansie aan as wat uit hóm straal.
Sy weet dis nie hoe hierdie ontmoeting moes verloop het nie, sy weet sy is besig om haar kanse op ’n goeie werksverhouding met dokter Vincenzo te verbrou, maar dis of sy geen beheer daaroor het nie. Of daar ’n vreemde vrou in haar vel geklim het en haar optrede bepaal. ’n Vrou wat keelvol is vir mans en die manier waarop hulle vroue behandel. Hierdie Adonis voor haar verteenwoordig skielik vir haar Dawid en die vele ander mans wat roekeloos met vroue se harte en gevoelens speel.
Vaagweg hoor sy die telefoon lui en hoe dit beantwoord word.
“Dokter Vincenzo se spreekkamer. Hermien wat praat. Kan ek help?”
Selfs van waar Zoely staan, kan sy die ontsteltenis in die stem aan die ander kant hoor.
“O hel!” sê Hermien geskok. “Dis ’n gemors. Ek sal vir Dokter sê.”
Dokter Vincenzo draai onmiddellik sy rug op Zoely. “Wat is dit, Hermien? Wat’s fout?”
“Dis oom Jan Botha!” hyg sy. “Hy’t van die dak afgeval. Tant Sielie van langsaan is op die lyn, sy sê sy dink sy heup is gebreek.”
Hy neem die telefoon by haar. “Moenie hom beweeg nie, tant Sielie. Laat hom net so lê. Ek is nou daar.”
Hy skud sy kop toe hy die gehoorstuk terugsit. “Ou korrelkop. Ek het hom gewaarsku om nie self op die dak te probeer klim om sy lugdraad te verskuif nie. Ek sou dit vir hom oor die naweek doen, maar hy kon natuurlik nie wag nie.”
Hy ignoreer Zoely heeltemal. “Kry my tas, Hermien,” beveel hy kortaf.
Dan eers kyk hy terloops na haar. “Ons sal ons gesprek later voortsit, Dokter,” belowe hy. “Dan sal ek verduidelik waarom die vorm van jou gesig vir my enigsins van belang is.”
Zoely knik, nie in staat om iets te sê nie, maar oortuig daarvan dat sy sleg verbrou het en nie ’n goeie eerste indruk gemaak het nie.
3
Toe dokter Vincenzo by die deur uit is, besef Zoely dat sy nog steeds nie die sleutel vir haar blyplek gekry het nie.
“Ag, ekskuus tog, Dokter,” maak Hermien verskoning toe sy weer daarvoor vra. “Ek het nou skoon vergeet om vir dokter Vincenzo te vra.” Sy kry ’n kleurtjie in die gesig. “Met alles wat gebeur het …”
Oor haar dooie liggaam gaan Zoely verskoning vra vir háár deel van die vertoning wat Hermien en die pasiënte in die wagkamer so stomgeslaan het. As dit hulle ontstel het om die dorp se dokters so kinderagtig te sien optree, kan hul wonderlike dokter Vincenzo dit maar vir hulle verduidelik. Dis immers hý wat geheel en al teen protokol opgetree het. Tot op hede het hy hom nog nie eens aan haar voorgestel of haar welkom geheet of ’n ordentlike woord met haar gewissel nie. Al wat hy gedoen het, was om haar soos ’n skouperd te laat voel.
Zoely stry teen die ongeduld in haar. Sy’t nie tyd vir ’n gepoer-poer soos hierdie nie. “Kom wys vir my waar my spreekkamer sal wees,” stel sy voor. “Dan wag ek solank daar.”
Want sy sien nie kans om langer soos ’n rare vertoonstuk voor die wagtende pasiënte te paradeer nie. Teen dié tyd behoort hulle genoeg te hê om dae lank oor te skinder wanneer die nuwe dokter ter sprake kom. You ain’t seen nothing yet, wil sy vir hulle sê.
Sy krimp ineen toe sy die kamer sien waar sy veronderstel is om haar pasiënte te konsulteer. Dis ’n donker vertrek met toegetrekte grys gordyne. In so ’n plek sal ’n pasiënt elke keer die ergste verwag, en ’n