Sonpad na Zanzibar. Madeleine Malherbe
aangesien Louise dit vroeër genoem het, sien Isabelle dat hy werklik ’n merkwaardig aantreklike man is. Lank en goed gebou, sover sy kan aflei. Die pak sit aan hom asof dit stekie vir stekie om sy liggaam vervaardig is.
Die bruingebrande hande en gesig dui op aktiwiteit in die son. Sy sien ’n sterk kakebeen, donker oë, ’n netjiese haarsnit. Al wat effens uit plek is, is die kuif wat intussen oor sy voorkop afgesak het en aan hom ’n jeugdige en effens ondeunde voorkoms gee.
“Louise!” raas Isabelle kwaad. Dis nie nodig dat die vrou al haar persoonlike sake vir almal uitblaker nie. Sy voel weerloos genoeg oor haar ouers se egskeiding, oor Rigardt se toestand – al die dramas wat haar getref het die afgelope tyd. Sy is moeg van almal se bejammering en pogings om goed te wees vir haar. Sy wil eintlik net êrens in ’n stil hoekie gaan lê en haar wonde lek soos ’n diertjie wat seergekry het.
Sy wil vir niemand meer vertel hoe dit nou met Rigardt gaan en hoe min herstel en vordering daar is nie. Sy wil nie vertel van haar pa en ma en hulle dramas nie. Sy wil net ’n normale agt en twintigjarige vrou in die stad wees wat as fisioterapeut by ’n goeie praktyk werk en ’n verloofde en trouplanne het. Vooruitsigte op ’n klein huisie van hulle eie in ’n nuwe woonbuurt.
Sy wil net ’n normale mens wees sonder ’n honderd krisisse wat een vir een ongevraag opduik en niks met mekaar te make het nie. Is dit dan te veel gevra?
Sy kyk Ernst dus so stuurs moontlik aan. As Louise reeds alles uitgeblaker het, sal sy konsentreer op die transaksie om ’n motor by die man te leen.
“Dankie vir die aanbod,” sê sy bondig. “Wie se motor is dit?”
“Middag! Ek hoop jou dag was nie te stresvol ná die ongeluk nie.” Hy glimlag wyd en vriendelik, sodat sy nog suurder frons.
“Ek is steeds ongelooflik jammer oor die botsing,” sê hy. “Soos ek gesê het, ek het vir jou ’n motortjie. Dis myne: ek ry net so nou en dan oor naweke met haar … met hom? Wat ’n kar se geslag ook al is.”
Isabelle kry skaam dat sy hom nie eens gegroet het nie. Dis nou te laat om te groet, dus druk sy maar deur met die gesprek oor die motor.
“Wat van versekering? Netnou ry iemand met ’n selfoon weer in my vas.” Sy probeer kwaai klink, maar moet onwillekeurig glimlag toe hy skielik dawerend begin lag.
“Kom ons gaan drink koffie,” nooi hy. “Of is jy haastig huis toe? Wag Piet vir jou? Is hy jou man of is julle familie?”
Sy bly hom ’n antwoord skuldig. Hy hoef werklik nie te weet dat Pietman familie is nie.
Sy tel haar handsak op. “Ons kan miskien maar gou gaan praat.”
~ 2 ~
Isabelle sluit die voordeur van die praktyk agter hulle toe. Louise sal agter uitgaan en sommer die alarm stel.
Voor die deur staan ’n baie klein, baie plat sportmotortjie langs die hek geparkeer.
“Waar’s jou motor?” Sy kyk om die hoek straataf.
“Dis hy hierdie,” sê Ernst en maak die passasiersdeur oop.
“Jy kan nie eens alleen hier inpas nie,” protesteer sy. “Wat nog te sê twee van ons?”
“Ja, ek sien jy het ook lang bene.” Hy bekyk haar op en af. “Maar jy sal verbaas wees oor hoe ruim dit binne is.”
Hy hou vir haar die deur oop en sy laat sak haarself in die weelde van die pragtigste motor wat sy nog van binne gesien het.
“Sjoe, dis pragtig,” erken sy.
“Ja, jy pas regtig mooi in.” Hy gee haar ’n veelseggende kyk.
Hy stap om die motor en vou sy lyf dubbel om in te klim. “Sy’s groter as wat sy lyk, en sy ry soos ’n droom.”
Die motortjie is inderdaad ’n onwerklike ervaring van byna onhoorbare enjingedreun, luukse leer en pragtige lyne – ’n kunswerkie op wiele.
“Waar wil jy gaan koffie drink? Ek dink nie ’n drankie sal nou raadsaam wees so op ’n nugter maag nie. Netnou ry ek weer in iemand vas.” Hy lag weer sy aansteeklike, dawerende lag. “Tensy jy genoeg tyd het om rustig iewers iets te drink en dan sommer daarna te gaan eet?”
“Liewers nie, dankie.”
Sy is sommer weer bot as sy aan haar omstandighede dink, en hoe onvanpas ’n kuieraandjie saam met hierdie droom van ’n man sal wees. Hy dra nie ’n ring nie, maar vir al wat sy weet, is hy nog getroud ook, dink sy skielik bekommerd. Sy moet darem erken die man was tot nou toe onberispelik in sy gedrag en optrede. Bygesê, as jy die onwettige selfoonpratery buite rekening laat.
“Ek dink hier sal dit lekker wees.” Hy beduie na ’n gesellige koffiekroeg in ’n kleinerige winkelsentrum.
Sy loer gou in die spieëltjie en sien moeë blou oë wat na haar terugkyk. Haar hare in die poniestert moet ook maar net so bly. Dis makliker om met mense te werk as haar lang hare uit die pad is. En teen hierdie tyd van die dag is los hare by haar net lang blonde slierte sonder krul of beweging. Sy bind liewers soggens vas en kam saans uit.
“Kom sit, dan ontspan jy. ’n Mens is moeg hierdie tyd van die dag,” sê hy asof hy haar gedagtes lees en stuur haar gemaklik by die gesellige plekkie in.
“Iets om te eet?” vra hy. “Hier is biltongblokkies en lekker quiche op die spyskaart.”
Hy bestel vir hulle ’n pot stomende koffie en happies om te eet. Sy peusel net hier en daar, gedagtig aan die aandete wat vir haar wag.
“Hoe lank is jy al ’n fisioterapeut?” vra hy uit.
“So ses jaar lank. Eers vier jaar in Boston, en van toe af hier by Louw en Viljoen.”
“My tyd! In die VSA, nogal. Wonderlik dat jy uit Boston teruggekom het,” knik hy ernstig, “en nie permanent die groener weivelde opgesoek het nie.”
Sy noem nie die redes vir haar haastige terugkoms nie. Hy kan maar dink wat hy wil, besluit sy.
“En jy, wat werk jy?” vra sy. “Iets in ’n kantoor – definitief nie ’n ingenieur of ’n landmeter nie.”
Hy lag weer sy dawerende lag.
“En as ek nou vir jou sê ek is ’n ingenieur wat vandag spesiaal ’n pak aangetrek het om oor ’n nuwe kontrak te gaan onderhandel?” terg hy.
“Dan het ek dit nie geglo nie,” glimlag sy terug. “Selfs ’n ingenieur se kispak lyk nie só nie.”
“Jy klink of jy weet van ingenieurs en die buitelugberoepe,” hou hy haar nog aan ’n lyntjie.
“En jy is dus … ?”
“Nee, jy’s reg. Ek was nie goed genoeg vir wiskunde op universiteitsvlak nie. Maar geldsommetjies kan ek maak: ek is ’n ouditeur wat ontaard het in ’n sakeman. Ons doen eiendomsontwikkelings – meestal hotelle deesdae.”
“Dit klink interessant. Vertel meer.”
Sy moet hom aan die praat hou. Sy vind dat sy deesdae in haar gesprekke óf aanmekaar praat óf niks. Blaker alles uit of bly doodstil. En “alles” is ’n baie lang storie. Dus sal sy maar hou by die gemeenplasies en hóm uitvra om sodoende die gesprek aan die loop te hou. Eintlik moet sy ook nie lank sit nie. Hierdie veertig minute of wat in sy geselskap sal lank genoeg wees.
Sy kyk vraend dat hy moet vertel van sy werk.
“Eers het ons konsortium ’n hele paar privaat hospitale help bou, of aangekoop om te verbeter. Vir ’n mediese groep. Dit het toe oorgegaan in ’n hotelontwikkeling, wat gelukkig ook goed afgeloop het. Ons is nou met verdere onderhandelinge besig met die hotelgroep. Een hotel vir hulle hier in Johannesburg, een in die Kaap en reeds iets in die buiteland. Alles in verskillende stadiums van ontwikkeling.”
“Is dit ’n baie riskante beroep? Almal wat ek ken, het meer definitiewe werke. Dokters,