Sonpad na Zanzibar. Madeleine Malherbe
stel of twee afgetrap, maar meestal doen ons span goeie navorsing en kom ons darem solvent anderkant uit. Daar is ’n paar goed waaraan ek in hierdie ekonomiese omstandighede nie met ’n tang sal raak nie – ouetehuise, aftree-oorde.”
“O, en hoekom nogal nie? Dit lyk my die aftree-oorde vaar dan so goed. My ouma se plek is pragtig, en die mense kan daar nie wag vir een oumens om dood te gaan sodat ’n volgende een ’n aftreehuisie kan koop nie. En goedkoop is die plekkies glad nie.”
“Dis waarom: dit was ’n wenresep vir ’n hele paar jaar. Maar die mark is nou min of meer versadig. Toe was dit meenthuise en gholflandgoedere. Tot die huiseiendomsmark begin versadig raak het. Nou moet ons maar op ander dinge konsentreer. Ons moet baie goed kyk waar en wat ons ontwikkel.”
“Dis ’n fyn kuns, neem ek aan.”
“Baie dinge in die lewe is ’n fyn kuns,” lag hy en raak vlugtig aan haar wang, sodat sy met ’n skok opkyk na hom. Daar is ’n skielike vonk in die lug, asof iets amper vlamgevat het. Sy soek na sy oë, maar hy is klaar besig om die rekening by die kelnerin te neem en sy beursie uit te haal.
“Sal ons maar gaan?” vra hy saaklik. “Jy moet my asseblief net gou by my kantoor aflaai. Dis nie ver nie.”
“Is die motor wat ek leen by jou kantoor?” vra sy skielik dom. Sy begin verstaan dat hierdie duur klein sportmotortjie die voertuig is wat hy vir haar wil leen.
“Nee, dis sy hierdie,” wys hy ongeërg en maak vir haar die bestuurder se deur oop. “Bestuur sommer hierdie entjie, dan kan jy solank aan haar gewoond raak.”
“O nee, ek leen nie hierdie splinternuwe, duur motor by jou nie. Ek soek ’n skedonkie waarin iemand wat op ’n selfoon praat maar kan vasry.”
Hy lag haar uit, ’n borrelende lag van onder uit sy maag. “Jy het nou jou ongeluk gehad. Van hier af is dit eenstryk vorentoe.”
“Dis waar jy die fout maak,” sê sy skielik opstandig. “Ongelukke en ellendes daag sommer ongevraag op. Jy dink nog alles gaan goed, dan gebeur dit, en wéér en wéér. Sommer ’n paar na mekaar.”
“Glo my, jou deel is verby. Dit sal nou net beter gaan.” Hy klink sterk en seker.
Wat sou Louise hom alles vertel het? wonder Isabelle ongemaklik. Sy besluit sy sal nie nou verder stry nie.
Sy skakel dus die motor aan en ry met toenemende selfvertroue die paar blokke na sy kantoor toe.
“Draai hier voor regs, dan is ons daar.” Hy beduie na ’n groot kantoorgebou oorkant die straat.
“Die ratte en goed is soos my pa se motor s’n. En die flikkerliggies: dieselfde kant as syne,” sê Isabelle. Sy parkeer behendig waar hy vir haar wys om te stop.
Hy klim uit en kom troon hier by haar venster. “Geniet haar! Bel my as jy enige probleme het. Sy het nog ’n dienskontrak, maar niks behoort in elk geval nou al te lol nie. Sien jou weer.”
En voor sy ’n verdere woord kan uitkry, draai hy om en verdwyn in die gebou. Die laaste wat sy van hom sien, is ’n hand wat vinnig waai toe die groot glasdeur agter hom toeswaai.
Sy ken hom minder as ’n dag, besef sy. Sy ken hom eintlik glad nie. Sy weet nou waar hy werk en min of meer wat hy doen. Maar dis ook al. En tog voel dit vir haar of sy hom al jare lank ken.
Hy ook ken haar glad nie. Net die plek waar sy werk, en haar telefoonnommer. En nou leen hy vir haar sy pragtige motor, met ’n tenk propvol duur petrol.
Is dit sy tweede motor? wonder sy. Vanoggend se motor mag dalk sy werksvoertuig wees, sodat hierdie sy enigste eie motor is. Maar dit help nie om te bespiegel nie. Sy is ’n motor aangebied waarvoor sy op die ou end maar te dankbaar is. Dit verminder die ontwrigting wat die ongeluk veroorsaak het.
Nou na Rigardt toe, dink sy effens moedeloos. Rigardt met wie sy van plan was om te trou. Haar ridder op die wit perd, haar vriend, haar trouman – destyds toe Rigardt nog Rigardt was. Voor hy in ’n passiewe, stil, meganiese mens verander het. Die Rigardt van kort voor die ongeluk.
Sy haal haar verloofring uit haar handsak en glip dit aan haar vinger. Sy dra die ring al minder. Eers net nie by die werk nie, want dis in die pad as sy masserings doen; nou al minder ook buite die werk.
Sy kyk vir ’n oomblik na die mooi ring – die ring wat sy twee jaar gelede al vir Rigardt wou teruggee. Omstandighede het gemaak dat sy dit steeds dra.
Sy kry haar aanstaande skoonma in die sitkamer, waar sy blykbaar pas ’n koppie tee gedrink het. ’n Skuldgevoel prik deur Isabelle. Sy is gewoonlik heelwat vroeër ná werk hier, en dan drink almal saam tee of ’n glasie sjerrie voor hulle begin kosmaak.
“Hallo, Isabelle, hartjie. Hoe gaan dit?” Katarina draai ’n sagte wang om gesoen te word en pik self in Isabelle se rigting, versigtig om nie lipstif af te smeer nie.
“Goed, dankie, tannie Katarina,” antwoord Isabelle werktuiglik. “Jammer ek kom nou eers hier aan.”
“Dis in die haak. Ek wil nie hê jy moet verplig voel om elke dag te kom nie. Ek wil juis met jou daaroor praat.” Die ouer vrou beduie dat Isabelle moet sit.
“Waar is Rigardt?” vra sy nietemin.
“Sy pa stap met hom om die blok.” Katarina vee moeg oor haar oë, versigtig om nie haar maskara te smeer nie. “Kom sit hier by my. Koffie? ’n Glasie wyn?”
“Nie nou nie, dankie. Ek het pas koffie gedrink.”
“Ek het gewonder waar jy bly.”
Katarina klink nie verwytend nie, maar Isabelle kom agter dat daar tog ’n vraag in haar opmerking skuil.
“Iemand wat vanoggend in my vasgery het, leen vir my ’n motor,” verduidelik sy bondig. Sy verswyg die omvang van die skade, en Katarina vra gelukkig nie verder uit nie. Sy lyk afgetrokke en speel aanhoudend met haar swaar silwerarmband.
“Ek sal nie doekies omdraai nie, Isabelle. Ek en oom Walter het gepraat. Ons wil hê jy moet weet dat ons nie sal omgee as jy die verlowing verbreek nie. Om die waarheid te sê: ons dring daarop aan dat jy dit doen.”
Die woorde skok deur Isabelle. Dis nie heeltemal onverwags nie, maar noudat dit gesê is, voel sy tog skuldig. Sy het gehoop dit sal eendag gesê word, maar sy kan net dink wat dit vir Katarina gekos het om dit te moet sê. Net sy wat Isabelle is, weet dat sy twee jaar gelede al die verlowing wou verbreek – onder ander, vroeër omstandighede.
Maar vandag weet sy dat dit hierdie keer nie langer uitgestel mag word nie. Sy voel oud en moeg, baie moeg. Die afgelope jare het aan haar gevat. Dit het haar vreugde gesteel, haar lewenslus geblus. Sy het werklik langer aangehou as wat enigiemand van haar kon verwag.
“Soos Rigardt nou is, kan hy jou niks bied nie. Hy kan nie ’n werk doen wat julle sal onderhou nie. Hy kan nie vir jou vrolike, opgewekte geselskap wees nie. Hy kan jou nie op uitstappies neem en lekker vakansies bied nie. Hy is nie meer die man aan wie jy verloof geraak het nie. Dis ’n ander mens wat hier sit. As hy binnekort begin werk by sy pa se fabriek, sal hy onder iemand se toesig ’n outomatiese werkie moet doen. Dit sal hom iets gee om besig te bly, mense en gesigte om te sien. Ons is natuurlik baie bly oor die geweldige verbetering wat daar die afgelope tyd was, maar dit kan nog jare duur voordat hy weer die mens is soos wat ons hom geken het. Indien ooit.”
Isabelle bly kop onderstebo sit. Sy weet nie wat om vir hierdie trotse, deftige vrou te sê nie. Sy weet dat die laaste twee jaar ook vir Katarina geknak het. Geen ma kon haar seun soveel sien deurmaak en onaangeraak bly nie. Sy het, net soos Isabelle, gejuig oor elke klein vordering wat daar intussen te bespeur was. Aanvanklik elke klein beweging raakgesien, elke oomblik van waarheid beleef en bespreek. Vir almal wat belanggestel het, alles vertel.
“Ek sal daaroor dink, tannie,” stel Isabelle die oomblik uit. Maar sy weet sy het klaar besluit. Wat sy nou gevra word om te doen, is net die vooraf uitgemaakte slot van ’n baie lang, baie treurige verhaal.
“Daar is nie ’n ander antwoord nie.”