Altyd die verkeerde man. Elsa Hamersma
jonk genoeg is om ander mans te ontmoet. Dink nou as jy eers oor nog vyf jaar jou fout agtergekom het. Jy kon jou hele jong lewe op hom gemors het. Terloops, wat het jou uiteindelik die moed gegee om hom onder sy jêk te skop?”
“Hy’t my verjaarsdag vergeet. Planne gemaak om in dié tyd sonder my vir ’n paar dae in die berge te gaan kamp saam met sy pelle. Toe ek hom daaraan herinner, het hy net sy skouers opgetrek. Gesê hy’t vergeet en wat daarvan? Net kinders raak opgewonde oor verjaarsdae en Krismis.” Sy snuif weer by die herinnering. “So asof ek nie vir sý verjaarsdag dertig mense in die woonstel moes onthaal en dae lank daarna skoongemaak het nie.”
“Maar girlie, wil jy vir my sê jy’t nooit agtergekom dinge loop skeef nie?”
“Natuurlik was daar lankal ander tekens, maar ek het dit geïgnoreer en gehoop dat dit weer beter sal gaan. Maar toe hy my so op en af staan en kyk asof ék die een is wat onredelik is, het ek besef dat my suster al die jare reg was. Toe stel ek vir hom ’n ultimatum: óf ons trou binnekort óf hy trek uit. Het hy dít nie vir jou vertel nie?”
“Nee. Dalk nie gedink dit was belangrik nie. Maar ek is seker jy’t geweet hy gaan nie trou kies nie.”
“Ja. My hart wou dit nie glo nie, maar my verstand het gewéét.”
Sy glimlag baie effentjies. “Hy’t vir seker nie verwag dat ek hom sommer sou uitgooi nie. Beslis nie dat ek hom dieselfde dág nog uit my huis sou wou hê nie. Weet jy, ek was so kwaad, ek het sy tennisrakette uit die gangkas geruk en een vir een by die voordeur uitgesmyt terwyl hy soos ’n standbeeld bly staan het, te geskok om te reageer.”
“Ek begin die man amper jammer kry,” antwoord Koot droogweg. “G’n wonder hy’t so half in ’n dwaal gelyk nie! Waarnatoe is hy met al sy goed?”
“Glo sommer by die hotel om die hoek ingetrek en vinnig gereël om sy besittings te stoor. Al sy tente, kampeergoed, tennisrakette, gholfsakke, visstokke. Daai blerrie kano wat hy aan die motorhuis se dak vasgemaak het en wat my altyd laat voel het ek moet koes,” sê sy met gevoel. “Skielik lyk my huis soos ’n woonplek en nie meer soos ’n sportwinkel nie.”
Koot vat haar hand oor die lessenaar. “Van hier af kyk jy vorentoe en vergeet van hom. Ek en Linda het juis ’n baie oulike kêrel ontmoet wat ons graag aan jou wil voorstel.”
“Koot, nee! Asseblief tog nie nou al nie. Ek wil nie ondankbaar klink nie, maar ek is op die oomblik emosioneel nog heeltemal te rou.”
“Hoe nou, girlie? Jy wil mos trou?”
“Ja. Wanneer ek eendag oor hierdie ding is, ontmoet ek dalk iemand wat vir my bedoel is.” Sy kyk in Koot se oë. “As daar iemand vir my is, ’n man wat my drome deel, sal hy na my gestuur word. Dis so opgeskryf in die groot boek daarbo. Of dit is nie. En as daar ’n man kom, sal ek dié keer baie mooi kyk om nie weer dieselfde foute te maak nie, dit belowe ek jou.”
“Vergeet net so vinnig as moontlik van Thys.”
“Makliker gesê as gedoen,” sê sy stram. “Dis die gewoontes van sewe jaar wat moeilik is om te laat vaar. Dis skielik so stil, weet jy? Maar ek sal dit mettertyd seker gewoond raak.”
“Wees liewer dankbaar dat jý hom uit die huis kon gooi en dat dit nie andersom was nie.”
“Jy’s so reg. Ek sal jou ewig dankbaar bly dat jy my destyds die raad gegee het om die woonstel te koop.”
“Ja. En dáár’s die silwer randjie om die donker wolk. As Thys daardie tyd die woonstel om die helfte saam met jou gekoop het, was dit nie so maklik om hom uit te gooi nie.” Hy sug. “Ja, my girlie, hindsight is ’n wonderlike ding.”
Sy snuif en sit Koot se sakdoek in haar handsak om by die huis te gaan was. “Genoeg van my persoonlike dinge. Om terug te keer tot ons gesprek vroeër: kan At of Piet nie maar in jou afwesigheid met die stoomrollende, amorele Liam Murray onderhandel nie? Jy sien mos ek is broos op die oomblik.”
Dit lyk amper asof Koot skrik. “Magtag, girlie, dis darem nie só erg nie! En toe ek vir Liam sê dat ek met verlof gaan, het hy spesifiek gevra dat jy dan die projek moet oorneem.”
“Hoe so? Wat weet hy van my af?”
Koot haal sy skouers ongeërg op. “Hy sê hy’t na die rekord van oordragte en kontrakte van Crystal Bay gekyk en jy het baie goed gedoen. Die ander eiendomsagente het glo nie een naastenby soveel erwe verkoop of soveel lenings gereël nie.”
“Is dit so?” vra sy ingedagte. “Ek het dit nogal nie besef nie, maar ek weet wel ek het goeie besigheid daar gedoen.”
“Jy’s ’n goeie agent. Dis hoekom ek jou saam met my gebring het toe ek Erlank Eiendomme begin het.”
Sy dink ’n bietjie na. Besef dan dat sy nie eintlik kan weier nie, veral in die lig van Koot se operasie.
“Koot, as ek nie so lief vir jou was nie, het ek wraggies nee dankie gesê vir hierdie opdrag. Maar nou ja, dalk lei dit my gedagtes af. Wanneer moet ek met die man gaan praat?”
“Hy het gevra dat jy hom halfeen by The Pink Pomegranate ontmoet.”
“The Pink Pomegranate, nogal?” Ebbie is beïndruk. “Ek lees gewoonlik net in die tydskrifte en koerante van sulke eetplekke. Ek kan nie bekostig om daar te eet nie, en Thys …” Sy besluit om liewer nie verder uit te wei nie.
“Nou ja, dis jou kans. Vra net by die kelner vir meneer Murray se tafel en dan gaan doen jy jou ding.”
Ebbie staan op.
Die telefoon begin skel lui op Koot se lessenaar en hy wys met sy hand in die lug vir haar om te wag. Die oproep moet belangrik wees, want hy laat sy stem sak, druk dan die gehoorstuk toe en sê vir haar: “Sal later weer met jou praat. Kom rapporteer terug ná die middagete.”
Wit marmer en swart graniet is gebruik om ’n elegante voorkoms in The Pink Pomegranate te skep, en wit blomme in swart vase onderskryf die tema. ’n Kelner in ’n spierwit hemp neem Ebbie se baadjie terwyl nog een haar na die tafel begelei.
Sy voel ’n bietjie oorweldig deur die deftigheid, maar sy stap saam asof sy gewoond is aan duur, luukse restaurante. Met ’n swierige swaai van die hand beduie die kelner vir haar dat hulle by meneer Murray se tafel is en trek dan vir haar ’n stoel uit.
Die tafel is effens eenkant in ’n alkoof en sy het skaars gesit toe ’n groot man langs haar verskyn. “Ek’s Liam Murray,” sê hy glimlaggend en steek sy hand na haar uit.
“Ebbie Basson,” antwoord sy.
Sy is beïndruk, want sy kan nie onthou wanneer laas sy ’n man ontmoet het wat ’n kraakwit hemp, das en strepiespak dra vir middagete nie. Thys, dink sy onwillekeurig, besit nie eens ’n pak nie.
Die man wat oorkant haar gaan sit, het taamlik growwe gelaatstrekke, maar sy helderblou oë trek dadelik haar aandag. Vasberadenheid word in sy vierkantige ken en die lyn van sy kaak weerspieël en sy verstaan sonder meer dat hy hom nie maklik sal laat stuit nie. Sy sandkleurige hare begin net-net grys wys by sy slape, wat verraai dat hy nie meer so jonk is nie. Maar om ’n onstuitbare, stoomrollende ontwikkelaar te word, gebeur seker nie oornag nie, besluit sy sinies.
Die kelner is dadelik by met ’n wynlys en ’n spyskaart, wat hy eerste vir Ebbie aanbied. Daar is nie pryse op die spyskaart nie, sien sy. Miskien beter so, want sy weet sommer dit sal haar eetlus bederf.
Eers toe die besigheid van wyn-, water- en kosbestellings afgehandel is, leun Liam Murray vorentoe en kyk indringend na haar asof hy haar beter wil sien.
“Dan is jy nou Ebbie,” sê hy en sy blik gly oor haar gesig asof hy elke detail in fyn besonderhede inneem.
“Ja,” sê sy ongemaklik onder sy bestuderende blou oë. Dit kan tog beswaarlik iemand anders wees.
“Nou kom, laat ons besigheid praat. Laat ek jou van my voorgenome ontwikkeling vertel,” sê hy. “Vanweë die wonderlike uitsig het ek besluit om die landgoed Panorama te noem. Die grond wat ek