Roep van die woestynwind. Malene Breytenbach
totdat die Switserse ontdekkingsreisiger Johann Ludwig Burckhardt dit in die negentiende eeu herontdek het.
“Heelwat argeologiese uitgrawings is reeds deur die Jordaniese Departement van Oudhede in samewerking met oorsese argeoloë onderneem. Daar is nog net ’n minuskule persentasie opgegrawe van die stad waarvan die antieke naam Rekem is. Die Groot Tempel – wat indrukwekkend groot is – is eers vanaf 1993 opgegrawe. Ek gaan aanstons help met verdere uitgrawings van die Tempel, wat nog lank nie voltooi is nie.”
Dit klink asof jy lank gaan wegbly, dink Denise vervaard. Sy luister verder hoe hy die uitleg van die antieke stad beskryf. Sy wou al self soontoe gegaan het, maar sy het nog nie die geleentheid gehad nie.
“Daar is ’n groot aantal tempels, grafte, teaters en ander geboue wat uit die rooi sandsteen gekerf is. Dié dramatiese, monumentale geboue strek oor vierhonderd vierkante kilometer en word deur karavaanpaaie verbind. Tans werk ongeveer vier-en-twintig argeologiese spanne in dié gebied.
“Petra is in 1985 tot ’n Unesco Wêrelderfenisgebied verklaar. Die Bedoeïene wat steeds daar tussen die monumente en in grotte gewoon het, is verskuif na ’n dorp genaamd Um Sayhun, waar daar skole, elektrisiteit en gesondheidsdienste is. Hulle werk steeds vir die argeoloë en verkoop hulle ware aan toeriste. Hulle dra daartoe by om die omgewing kleurryk te maak vir die duisende toeriste wat Petra deesdae besoek. Dis hulle wat mense met kamele en perdekarre vervoer as hulle nie kans sien om na die vele besienswaardighede te stap nie, want die afstande is nogal groot.
“Ek gaan nou ’n film vertoon en ek sal kommentaar lewer soos ons aangaan.”
Denise kyk na die beelde van okergeel en rooskleurige rots, geboue met suile, Bedoeïene op donkies en kamele. Sy wens sy kon saam met Dale gaan, maar om te vra of sy kan, sou die opperste dwaasheid wees. Dit sou buitendien vernederend wees. Net as Dale sou aandui dat hy haar daar wil hê, sal sy gaan.
Hy sluit sy lesing af deur te sê: “Die woestynwind roep my, dames en here, en ek moet weer na die roosrooi stad ouer as tyd gaan.”
Die applous is oorverdowend. Denise klap meganies saam.
“Wanneer is jy van plan om te gaan?” vra sy die volgende oggend in Dale se kantoor.
Hy is besig om kaarte op te rol en te bêre, en hy kyk nie na haar nie.
“Oor ’n week.”
Denise staan botstil. Sy gaan nie “So gou?” vra nie. Haar trots verhoed dat sy hom wys hoe verpletter sy voel. Hy moet hierdie reis lankal begin reël het, maar hy het dit geheim gehou.
Dale kan blykbaar haar ontsteltenis aanvoel. Hy los die kaarte en kom staan voor haar. Sy ruk effens toe hy sy hande op haar skouers sit en sy verplig is om op te kyk in sy diep, donker oë, wat haar met onverwagte teerheid aankyk. Hy kry my jammer, dink sy opstandig.
“Ons twee se verhouding werk nie uit nie, Denise. Jy is ’n pragtige vrou, en boonop intelligent en interessant, maar ons is gedurig haaks. Twee klippe wat mekaar fynmaal. Jy verdien iemand wat beter by jou pas as ek. Iemand wat jou op die hande sal dra en behoorlik sal waardeer. Ek het gedink dis beter as ek my uit jou lewe verwyder, in elk geval vir ’n ruk. Sodat ons die verhouding tussen ons objektief kan beskou.”
Sy draai onder sy hande uit, al smag sy daarna om haar teen sy bors aan te druk. “As dit is hoe jy voel, dan moet dit so wees, Dale. Ek hou jou nie vas nie en ek plaas geen druk op jou nie. Ek hoop jou opgrawings sal baie suksesvol wees.”
Hy lyk byna bedroef. “Dankie. Ek het verwag dat jy toegeeflik sal wees al krenk ek jou, want jy is nie een wat sommer wys jy kry seer nie.”
Hy draai weg, maar kyk oor sy skouer na haar. “Daar is ’n geheim wat ek jou wil vertel. Ek het in my navorsing op iets afgekom wat ek wil gaan ondersoek.”
Sy kyk verbaas en agterdogtig na hom. “Watse geheimenis is dit?”
“Ek vermoed daar is iewers in Petra – ek vermoed diep in die Wadi Siyagh – die graftombe van ’n Egiptiese prinses uit die tyd van die Ptolemeïese dinastie. Haar naam is Sosostris en sy het met die Nabatese koning Aretas III getrou. Sy is ’n halfsuster van die beroemde Cleopatra VII en ’n dogter van Ptolemeus XII Auletes by sy onbekende tweede vrou. Die tombe is nog nooit ontdek nie en ek wil daarna gaan soek. Die meeste Nabatese graftombes is lankal beroof en gestroop, maar moontlik het hare behoue gebly. Haar graf is nie naby die ander koninklike grafte nie. Dalk is dit bo-op ’n hoogte soos die Deir – die klooster. Dalk wou die koning dit juis iewers wegsteek.”
In normale omstandighede sou Denise dadelik van opwinding gevlam het, maar nou kyk sy Dale net kalm aan.
“O, nóú vertel jy my. Wel, ek hoop jy kry jou Sosostris met al haar skatte ongeskaad. Ek wens jou alles van die beste toe.”
Sy draai om en loop. Agter haar hoor sy nog hoe Dale na haar roep, maar sy ignoreer dit. Sy maak dat sy wegkom sodat hy nie die trane moet sien in die oë van die vrou wat nie maklik huil nie. Hy wou nie eens dié opwindende ontdekking vroeër met haar deel nie.
Dale kyk haar agterna en swets onderlangs. Hy slaan met sy een hand in sy ander handpalm. Dit was swaar. Aaklig!
Denise was baie seergemaak. Haar gesig was bleek en in haar helderblou oë, haar mooiste gelaatstrek, het die pyn vlak gelê. Hy het amper ingegee, maar hy is bly hy het nie. Hulle verhouding is net nie van so ’n aard dat hy dink dit lei iewers heen nie.
Vandat hy haar die eerste keer gesien het met haar slanke lyf, goudblonde krulle en hemelsblou oë tussen lang, donker wimpers, was hy fisiek tot haar aangetrokke. Hy wou haar egter eers deurgrond en goed uitkyk – hierdie uitsonderlike Suid-Afrikaanse vrou. Sy is duidelik ’n komplekse mens.
Hy het voorheen ’n verskriklike fout begaan toe hy op blote fisieke aantrekking staatgemaak het en met ’n vrou deurmekaar geraak het. Dit was vir hom rampspoedig verkeerd en sy het hom amper voor die kansel gehad. Teen die tyd dat hy sy fout agtergekom het, was dit byna te laat en moes hy haar brutaal en genadeloos afsê. Sy gewete pla hom nou nog daaroor.
Denise is geen swakkeling nie – dit het hy gou besef. Sy sal nie met haar laat speel nie, en hy weet ander mans stel ook in haar belang. Maar hy sou hom moes verbind en dan was daar geen omdraaikans nie. Al is sy hóé aantreklik en intelligent, as hulle persoonlikhede aanhou bots, lê daar net swarigheid voor.
Nee, dis beter dat hy gaan en dinge in sy gemoed uitsorteer. Hy kan in elk geval nie wag om na die graf van die geheimsinnige Egiptiese prinses te gaan soek nie.
2
“Ek beplan ’n besoek aan Petra,” sê professor Julie Maastricht toe sy een oggend by Denise se kantoor instap. “Wil jy nie saamkom nie? Arend Smalberger, ons studente-assistent, kom saam, want hy doen navorsing met die oog op ’n proefskrif oor die Nabateërs. Hy wil Dale gaan help soek na ’n graf en hy is van plan om daar agter te bly en te help met die opgrawings. Ek wil die plek net weer ’n slag behoorlik gaan bekyk. Jy was nog nie daar nie en ek is seker jy sal dit fassinerend vind. Min plekke is so aangrypend soos Petra.”
Denise is onkant gevang en huiwerig. Sy het twee briewe van Dale ontvang wat skaars as minnebriewe geklassifiseer kan word, maar sy dink nog heeltyd aan hom. En sy verlang teen haar beterwete na hom. Hoe kan sy egter nou na hom toe gaan asof sy agter hom aanloop? Haar trots laat dit nie toe nie.
“Jong, ek weet nie, al klink dit aanloklik …”
Julie is nie een wat maklik nee vir ’n antwoord neem nie, en sy sit haar voet neer. “Kom saam. Jy sal vir my lekker geselskap wees. Ons twee moet gaan kyk wat Dale soek – of vind.”
“Jy stel my in die versoeking, Julie. Ek smag daarna om die fabelagtige Petra te sien, maar jy weet ek en Dale is … e … taamlik kil uitmekaar. Wat sal hy dink as ek skielik daar opdaag?”
Julie frons en sê kwaai: “Jy gaan nie soontoe bloot oor hom nie, maar oor die plek wat elke historikus wat sy of haar sout werd is, behoort te sien. En om mý geselskap te hou. Hy hoef nie te dink jy gaan agter hóm aan nie. Die man is in elk geval gans te gewoond daaraan dat al die vroumense