Sondag van die silwersee. Maretha Maartens
Die regte lewe is ’n lekkende emmer, gate net waar jy kyk en nie kyk nie. Alles wat jou gelukkig gemaak het, kan by die gate uitsypel: liefde, sekerheid, ’n onderwyspos. Skielik is daar niks in die emmer nie en sien jy net ’n donker plas op die grond.
Ek sal nooit weer selfversekerd kan sê dat enige man wat my in sy arms hou en aan my ore knibbel – dit het my heimlik laat gril – werklik my trouman is nie.
As ek ooit weer iemand liefkry, gaan ek aalwynsap aan my oorlelle smeer.
Ek sal nooit weer ’n koopkontrak kan teken sonder om hartkloppings te kry nie. Ek sal die inhoud van sorgvuldig verseëlde dokumente nooit weer klakkeloos vertrou nie. Ek sal krities bly, al verskyn daar ook die interessantste briewe op my rekenaarskerm.
Ek het in één dag agt jaar ouer geword. Ek het my dertigste verjaardag vanoggend onbeplan en onfeestelik voor die ou meubelfabriek in Somerset-Wes gevier.
Ek sal nooit weer glo dat beroerte soos ’n verkoue kan opklaar nie. Omdat ek dit geglo het, het ek langer in Spanje gebly. Omdat beroerte nie verkoue is nie, sal ek nooit weer saam met Pa voëls kyk en lifers afmerk nie.
Dalk sal ek nooit weer met Pa kopstamp nie. Hoe het ons nie kopgestamp oor hierdie ou huis nie!
Dalk het ons te hard kopgestamp. Dalk was ons laaste argument té lank en té vurig. Dalk was dit ons laaste kopstamp wat hom die beroerte laat kry het.
Hy het gesê ek is impulsief en ek het gesê hy gaan nog eendag sy woorde sluk. Eendag sal hy nog sê hy haal sy hoed vir my af, want as ek ’n wilde perd opsaal, kies ek die regte perd.
Nou kan Pa nie eens praat nie. Of hy my herken, is ’n ope vraag. Dalk was dit ’n sug, sommer net ’n asemstoot, maar dit het vir my geklink asof hy my Ria noem. En dis Ma se naam.
Die laaste week in Barcelona was ’n fout.
Ek moes die eerste vlug huis toe gehaal en gaan vasstel het hoe dit regtig met Pa gaan. Maar ek was tussen twee vure en ek het gekies om vir die soveelste keer aan my en Andrew se stormagtige verhouding te werk. Asof dit ooit sou kon uitwerk, selfs in Spanje.
Ek moes teruggekom het Suid-Afrika toe. Ná die tyding dat Pa ’n massiewe beroerte gehad het, het Barcelona in elk geval vir my ’n dooie stad geword. En ek en Andrew het toe al heelwat tyd in die Güellpark deurgebring. Ons het van ons beste tye in Barcelona – en van ons mees stormagtige rusies – daar beleef.
Ek het tóg ’n kwartier lank in volkome vrede op my rug in die suilesaal gelê. Ek hét Joseph Maria Jujol se mosaïeksonne in die binnewelwing bo my met ’n nuwe rustigheid in my binneste lê en bekyk: keramiek, glas, bottels, oorblyfsels van poppe . . .
Andrew het ’n appel teen een van die pilare sit en eet, sy waterbottel se prop tydsaam afgedraai en water gedrink asof hy die water proe. Hy het vir my uit sy gidsboekie voorgelees en die mense om ons dopgehou: jong pa’s wat waggelende peuters tussen die pilare agternasit, paartjies wat pieniek hou in die hemelse onderdakkoelte, die tjellospeler wat die een klassieke melodie ná die ander langs sy tjellokas sit en speel.
’n Duif het hoog op die kapiteel van een van die suile sit en broei. Andrew het haar vir my gewys.
Later het ons ons dertig, veertig keer op die kronkelende keramiekbank op die omtrek van die openbare plein neergeplak, elke keer op ’n ander plek. Ek het uiteindelik een van Joseph Jujol se porseleinengel-skeppings en die misterieuse inskripsie Fora gelosia opgespoor.
“Down with jealousy!” het ek opgewonde uitgeroep. “Hier’s dit, Andrew: Fora gelosia!”
“Interessant,” het hy gesê. “Jy hou van Barcelona. Jy gaan nie gou uitgekuier raak nie. Maar as jy meer van die Güell-park wil sien, sal ek jou van hierdie plein af moet wegsleep.”
Hy het my hand gegryp en dit het gevoel asof ek vlieg, asof hy my weer uit die straat ruk, die taxi byna óp my. Ek was effens lighoofdig. Ons was op dieselfde golflengte; uiteindelik het Andrew iets van my siel verstaan.
Maar in die Wasvrou-arkade het hy weer die ou alles-of-niks-Andrew geword: Andrew wat my so byna-byna twee kunsvakke laat druip het. Die Wasvrou-arkade was vir hom soos die duine by Walvisbaai, soos die fynbosveld by Bettiesbaai, soos die Knysnawoud.
Ek was oorweldig deur die illusie van golwende rots aan die begin van die wandelgang en die klipmaalkolke in die tweede gedeelte daarvan. Ek wou foto’s neem, aantekeninge maak, sketse op papier kry.
Andrew wou kafoefel – duinestyl, bosstyl, fynbosveld-styl. Ek het vir hom gesê daar is ’n tyd vir elke ding. Ons het rusie gemaak.
“Dalk kom ons nooit weer hier nie,” het ek my man gestaan, natuurlik weer met ’n knieval om hom uit sy bui te kry. “Ons kan vanaand langs die see gaan stap. Of ons kan Place de les Olles toe stap en tapas gaan eet. Daar’s ’n tapas bar wat mossels en garnale –”
“Te hel met mossels en garnale,” het hy koud gesê. “Weet jy wat? Ek dink ek het genoeg hiervan gehad. Ons verhouding eindig dan in die Wasvrou-arkade.”
Ek het nie verskoning gevra nie. Ek het omgedraai en van hom af weggestap. Daar was ’n gesuis in my ore. Ek het soos Lot se vrou gevoel wat obsessief wou omkyk, maar ek het net aangestap. Ek was klaar met kruip, klaar met onredelikheid, klaar met Andrew die Paneelklopper.
Ek het hom in die Wasvrou se wandelgang gelos. Hy het hom nie verwerdig om agter my aan te kom nie, het seker aanvaar ek sal maar weer terugkom vir nog ’n duikklopsessie.
“Panelbeater!” het ek die swetswoord van alle tye uitgespoeg. Ek het my neus gesnuit en in Afrikaans gemompel: “Duikklopper. Panelbeat jouself; panelbeat jou kop. My pa was al die tyd reg, Andrew Scott. Jy mag briljant wees, jy mag alles in jou guns hê, jy mag alles van suierpenne en klepgeleiers weet, maar in die wêreld buite die motorenjin máák jy dit nie. Jy slaag nie daarin om situasies te lees nie. Jy . . .”
Ek het alleen in die winterwind opgeklim na die drie kruise op Turó de les Menes en seker ’n uur lank daar bly sit. Om my het toeriste soos klipdassies en koggelmanders rondgeklim, in al die tale van die wêreld gepraat, oor en weer foto’s van mekaar geneem en ander toeriste gevra om hulle af te neem terwyl hulle mekaar liefdevol omhels. Toeriste het op my vingers getrap en ’n kind het koeldrank op my kop gestort. ’n Man met ’n weemoedige monnikgesig het my droefheid raakgesien en ’n traktaatjie in Spaans by my neergesit. Gewag dat ek hom met euro’s daarvoor moes vergoed.
Ek het afgekyk na die torings van die Sagrada Familia-kerk in die verte en my woedende, deurmekaar gedagtes probeer ontleed. Ek het al hoe kwater geword. Dit kon nie só aangaan nie. Toe dit nog net ek en Pa was, was ek iemand anders. Van dáárdie Farah het ek gehou.
Die Farah wat ek intussen geword het, het ’n lamlendigheid in haar waarmee ek nie onbepaald kon saamleef nie. Die ou Farah wou iets betekenisvols met haar lewe doen. Die nuwe Farah het aanmekaar vure doodgeslaan.
Driekwart van die tyd het ek egter net verstorwe daar bo gesit: houtvrou tussen die klipkruise, pateet wat haar selfoon vasklem. Die Farah wat ek geword het, het angstig gewag op die gebruiklike wil-jy-vrede-maak-SMS.
Daar het geen vredesvoorstel van Andrew deurgekom nie. Die SMS wat ek daardie dag hoog bo Barcelona tussen die drie klipkruise ontvang het, was van Pa se jongste suster.
Jou pa met ernstige beroerte in hospitaal. Uit koma, maar regterkant verlam. Linkerkant ook baie swak. Lyk nie of hy wil hê jy moet vroeër terugkom, maar dis reg dat jy weet. Sal laat weet as toestand verander. Groete, Nelia.
3
Ek gaan klop uiteindelik liggies aan my bure se kamervenster. Dis nie ’n goeie oomblik vir ’n kloppery nie, want Barack Obama is in die middel van sy inhuldigingsrede. “As Americans,” hoor ek hom deur die hoë venster sê, “we cannot do as we please.”
“Verbeel ek my, of het ek iemand hoor klop?” vra my buurman aan die ander kant van die muur.
Ek klop weer. Woorde stroom deur die oop venster: “. . . the justness of our cause, the force of our example, the tempering qualities of