Sondag van die silwersee. Maretha Maartens
buk onder my arm deur, in my sitkamer in. Hy gaan op die mat sit, want die enkele sitkamerbank is toe van die wintersklere wat ek vanoggend uit een van die bokse gepluk het. Hy trek sy knieë op en klap met sy plathand op die mat, soos vir ’n meestal gehoorsame troeteldier.
“Kom sit hier,” sê hy. “Jou situasie is te benard vir speletjies. Ek is hier om jou te help. En omdat ek lief is vir jou, verdomp. Ek wil hoor wat gebeur het, van begin tot einde.”
“Jy kan niks aan my situasie doen nie,” sê ek en begin huil.
Ek gaan naby hom op die mat sit. Om te stáán en huil terwyl jou gewese trouman op die mat met sy rug teen jou beklotterde rusbank sit, is vernederend. Daar is nie ’n sakdoek of sneesdoekie in sig nie; ek bewerk my lopende neus met die agterkant van my hand.
Andrew gee vir my ’n flambojante rooi sakdoek aan. Ek het dit vir hom in Barcelona gekoop. LE AMO, sein die sakdoek die liefdesverklaring wat ek in gelukkiger tye gedoen het vir my terug.
Ek snuit my neus in die sakdoek. No le amo – kry dit in jou kop, renoster! En ek huil voort, verward en bang. Le amo, le amo, maar hoekom voel dit dan asof ek die enigste vrou op aarde is wat so gereeld onder die duikkloppershamer moet deurloop?
Die merkwaardige Andrew Scott is ’n duikklopper wat te dikwels Andrews met my praat. Maar gestel ek is te liggeraak, gestel ek . . .
Die merkwaardige Andrew Scott trek my nader en vou my in sy arms toe.
“Ek staan by jou,” sê hy. “Jy gaan ander werk kry; ek sal jou help. Ons gaan hierdie bokse uitpak; dit gaan húis word. Gee my tien minute – ek gaan vir ons kos koop. Soos wat ek jou ken, het jy vandag nog nie nat of droog oor jou lippe gehad nie.”
Nee, wil ek sê. Dis mý lewe; jy het joune, elders.
Maar hy het reeds opgespring, my lenige, topfiks eks.
“Hoender, vis, hamburger, tjips?” vra hy. “You say, I do.”
Ek besef hoe honger ek is. “Hamburger met kaas,” verkrummel my weerstand. “Maar jy moenie –”
“Ek’s nou terug,” sê hy. “Gaan was jou gesig. Nóú gaan ons hierdie ding fight.”
Hy verdwyn by die voordeur uit. Ek gaan was my gesig en ek weet: vanaand het ek twee groot probleme. En ek het hulle oor myself gebring.
Ek skakel die hospitaal en vra hoe dit met Pa gaan.
“Sy toestand is onveranderd,” sê die stem aan die ander kant. “Serious, but stable.” En soos ’n nagedagte: “Are you Ria? He asks for someone called Ria.”
“Ek verstaan jou nie,” sê Andrew.
“Dis die probleem,” sê ek, maar ek eet nogtans hongerig aan my kaasburger. Tussen die happe deur sluk ek lemoensap soos wat die man van die papierlose omgewing water uit sy waterbottel gedrink het.
“Farah,” sê Andrew, “as jy kinderagtig wil optree, gaan ons nêrens kom nie.”
Ek lek my vingers af en drink die laaste bietjie lemoensap.
“Dan moet ek ophou met my kinderagtigheid,” sê ek. Ek voel weer méns; ek het geëet. “Ons moet by die voordeur kom.”
“By die voordeur?”
Ek mag nie ingee nie. “Sodat jy kan uitgaan.”
Hy word nie kwaad nie. “Jy’s ’n stunning girl,” sê hy. “Van binne en van buite.”
“Maar?” Die stunning girl skrik vir die bitterheid in haar eie stem.
“Maar jy kan nie opbouende kritiek vat nie. Ons het almal foute, Farah. Ek het foute, jy het foute –”
“Land Rovers het foute, Jeeps het foute, foksterriërs het foute . . .”
“Jy kan probeer, maar jy gaan my nie kwaad maak nie,” sê hy.
Ek frommel die waspapiersakkie op en bly daarmee in my hand sit. Elke vertrek in die huis moet nog sy snippermandjie kry.
“Jy dink ek probeer jou kwaad maak,” sê ek vir hom. “Jy misgis jou.”
Hy bestudeer die tekstuur van die vleiskoekie in sy hamburger, sy energiedrankie nog onaangeraak.
“Jy,” sê hy oplaas, “is kwaad omdat jy één enkele ding nie verstaan nie. In ’n verhouding slyp mense aan mekaar. Elkeen van die twee partye het die reg om vir die ander party te sê hoe hy of sy voel. Dis ál wat ek gedoen het, Farah. Wanneer ek voel daar’s nie vibes nie, sê ek dit vir jou.”
“Vibes in die Wasvrou-arkade, vibes in die mall, vibes in die môre, vibes om middernag.”
Sy lippe word styf. “Wanneer ek voel die fokus verskuif, vestig ek jou aandag daarop. Dis wat ’n verhouding laat werk: vibes, commitment, prioriteite.”
“Prioriteit nommer een: Andrew. Prioriteit nommer twee: Andrew. Prioriteit nommer –”
“Nou bly jy stil,” ontplof hy skielik.
“Sjuut! Die bure hoor jou!”
“Hulle het al erger dinge gehoor.”
Hy kyk in my oë. “Ek wil nie tweede viool speel nie, Farah. Ek wil nie die gevoel kry dat alles vir jou belangriker is as ek nie – jóú foto’s, nooit myne nie. Wat sal die mense sê, vorms, mail, jou tante se probleme, jou pelle . . . ’n bleddie roomys wat in die son smelt! Jy vlug vir die liefde, en ek weet nie waarom nie. Ek is lief vir jou. Maar nes ek dit begin wys, het jy een van jou verskonings of kies jy die hasepad.”
Hy sal my die roomys-episode in Barcelona nooit vergewe nie.
“Andrew,” sê ek, “kom ons doen twee dinge. Jy gaan huis toe, want vanaand gaan ons net rusie maak. Ek –”
“Wat is nommer twee?”
“Dat ek ’n belofte aan jou maak. Ons sal weer praat.”
“Waaroor?”
“Oor ons. Maar vanaand het ek alleentyd nodig. Vanaand moet ek probeer uitpluis wat ek omtrent my geldsake . . . omtrent wérk gaan doen. Dis die verkeerde aand vir –”
“Die man in jou lewe. Vanaand is géld prioriteit nommer een vir jou. Kom ons raai wat nommer twee is: dalk jou werk? Prioriteit nommer tagtig: ons verhouding.”
Ons het nie meer ’n verhouding nie! wil ek dit uitskree. Maar ek het bure, ek het genoeg gehad, en ek het net een begeerte: om alleen te wees.
“Jammer as ek jou pas in die gesig gevat het,” sê ek dus. “Maar nou moet jy my regtig verskoon.”
Hy eet sy hamburger eers klaar. Daar is aggressie in elke hap. Hy frommel die waspapiersakkie op, soek na ’n vullisdrommetjie en gooi dit uiteindelik in ’n oop boks.
Ons sluit die voordeur oop; hy loop die winderige nag styweskouer-styweskouer in, geriefsbottel met die energiedrankie in sy hand vasgeklem. Ek druk my probleemdeur van binne af weer op knip voordat ek die ganglig afskakel.
Andrew Scott, ses voet twee sonder skoene, universiteitskoorstem, Midmar-swemmer, lenige lyf en boonop geseën met rookgrys oë onder interessante swart wimpers, is – of was – die derde man op wie ek my hart verloor het.
Koot het ’n hart van goud gehad. Hy was opmerklik goed vir my, aanvoelbaar goed. Koot se tweede naam was Meneer Behulpsaam. Koot was ’n luisteraar, ’n vaal engel. ’n Liewe, beskadigde blondine wat van vaal engele hou, het ingezoem op sy bereidwilligheid om na afvlerkmense te luister. Ek het Koot verloor.
Barry, die tweede man in my lewe, was intelligent en musikaal: hy was die marimbaspeler in die universiteit se slagorkes. Hy het dikwels marimbamusiek vir my gemaak: wonderlike, vreemde Afrikamusiek.
Maar sy maag het my gepla, van die eerste dag af. Ek het myself keer op keer streng vermaan: die uiterlike maak nie saak nie; goeie mans kom in elke vorm en fatsoen. Jy kry langes en breës, jy kry