Margot en die meerman. Anita du Preez
swart ogies en die string onverstaanbare skelwoorde in Swahili maak dit tog baie duidelik dat sy hulle uitjaag. Hy gryp Margot aan die arm en trek haar tot buite in die straat.
“Los my of ek gil!” sê sy en ruk los.
Hy vat haar skouers liggies vas. “Asseblief,” pleit hy ernstig, “jy hoef werklik nie vir my bang te wees nie. Ek sweer ek sal jou niks aandoen nie. As jy nou gil, beland ek dalk in groot moeilikheid. En vir ’n tronksel op hierdie eiland sien ek regtig nie kans nie!”
“Verduidelik dan op die daad wat jou storie is,” sis sy.
Miskien moet sy liewer net stil staan. Haar asem jaag. Mense stamp teen hulle. ’n Man wat by sy familie onder ’n sambreel vlak by hulle sit en eet, kyk op met sy vurk halfpad mond toe.
“Kan ons net uit die pad staan?” Sy oë vra mooi.
Toe sy nie antwoord nie, lei hy haar na ’n wankelrige tafeltjie eenkant onder ’n sambreel en trek vir haar ’n stoel uit. Hy gaan sit oorkant haar, haal ’n wit koevert uit sy hempsak en stoot dit stadig oor die ruwe blad na haar.
Margot se ore begin rooiwarm gloei. As sy net in die grond kan wegsak! Dis haar uitslae. Me. M. Lombard staan buite-op die koevert getik.
“Waar het … ?” Daar is ’n obstruksie in haar keel. Sy klink soos ’n hees makou.
“Jy het dit gister op die kroegtoonbank laat lê.”
Wat moet sy nou daarop antwoord? Haar brein laat haar skandelik in die steek. As sy net aan iets skerpsinnigs kan dink!
“Is jy altyd so paranoïes?” vra hy fronsend en wink die kelner nader met ’n ergerlike, gebiedende handbeweging. “Om van verstrooid nie eens te praat nie!”
Margot het laas so simpel gevoel toe haar ma haar in die kombuis betrap het met die krummels van omtrent die helfte van haar baksel basaarfudge om haar mond.
“Ek is jammer,” mompel sy, maar hy hoor haar skynbaar nie eens nie. Hy is besig met die kelner. Dan draai hy terug na haar.
“Baie geluk met jou akademiese prestasie, me. M. Lombard,” sê hy. “Dis tog jammer dat ’n intelligente vrou soos jy se mensekennis haar so droewig in die steek kan laat.”
“Hoe moes ek weet jy is nie ’n sluiper of ’n reeksmoordenaar of ’n ding nie?”
“Miskien omdat ek nêrens gesluip het of bultende sakke vol wapens ronddra nie?”
“Ek het jammer gesê. Wat wil jy meer hê?” Die vent moenie dink hy kan met sarkasme begin nie.
“Ek loop nou. Dankie vir my pos.” Sy prop die koevert driftig in haar sak.
Hy gryp haar liggies aan die pols. “O nee, juffroutjie. Jy skuld my. Ek gaan jou beslis nie die res van jou vakansie probeer misloop nie, die ganse eiland is net 80 kilometer breed. Kalmeer nou maar en sit. Ek het klaar vir ons kos bestel,” beveel hy ferm. “Dit sal snaaks lyk as ons die tafel annekseer en dan niks eet nie.”
Hy het seker ’n punt beet. Hulle is tog omring deur mense. Sy skud haar arm los. Sy kan net sowel sit. Sy moet tog immers een of ander tyd eet.
“Kom ons begin oor, hmm?” stel hy voor en steek sy hand uit. “Konrad Lemmer,” sê hy met ’n spierwit tandepasta-advertensie-glimlag.
“Margot Lombard,” antwoord sy en vat sy hand vir die tweede maal.
“Glimlag tog nou maar,” beveel hy aan. “Die son skyn en hier is ons kos.”
Dit raak nou ’n gewoonte, hierdie besigheid dat sy maak soos hy sê. Sy dwing haar mondhoeke boontoe. Hy mag dalk duistere motiewe hê, maar hy hét darem haar uitslae vir haar gebring. Sy gaan dit nog nodig kry.
Hy skink vir hulle elkeen ’n glas vol uit die bottel yskoue witwyn wat die kelner voor hulle neergesit het saam met die kos. Hy neem ’n slukkie en wys met sy oë na hare. Die koel vloeistof laat die knoop in haar maag darem so effens verslap. Sy proe versigtig aan die rys en speserygegeurde hoenderkonkoksie. Dis vrek lekker en sy besef sy is rasend honger. Hulle eet in stilte.
“Ek weet nie van jou nie, maar ek twyfel of ons vir Oscars in aanmerking sou kom vir ons twee se weergawe van die spioenasiefliek Mr and Mrs Smith!” Hy loer na haar om haar reaksie te toets. Sy oë is ligblou in die son en sy een mondhoek lig hoër as die ander in ’n fyn glimlag.
“Eet liewer jou hoender, meneer Lemmer. Dis ’n teer onderwerp.”
Hy kan mos sien sy is nog taamlik omgekrap oor die hele vervlakste episode. Buitendien vertrou sy hom net so ver as wat sy hom kan gooi.
“Dan sal ek dit maar as my plig moet beskou om jou eerste indrukke van ons eilandjie uit te wis,” sê hy en neem smaaklik nog ’n happie.
“Woon jy permanent hier?” vra sy verbaas. Sy sou hom eerder as die trekvoël-tipe kon sien.
“Soort van. Maar noem dit eerder ’n lang vakansie.”
Hmmm, so gedink, mymer Margot. Sy lig haar wenkbroue vraend vir hom. “The rolling stone that gathers no moss?”
Hy haal sy skouers op. “Ek duik vir ’n lewe. En jy?”
“Niks so eksoties nie. Ek gee musiek.”
“Eksoties genoeg, sou ek sê,” sê hy en kyk haar opsommend aan. “Ek wou mos sê jy is nie jou gemiddelde sterfling nie.”
“Ek is doodnormaal,” antwoord sy skerp. Hy moenie Wikus se streke uithaal nie. Sy is moeg daarvoor om te hoor dat sy anders is.
“Agge nee,” spot hy, “ek het juis so ’n hekel aan normaliteit.”
Iets omtrent die sangerige ondertoon van sy spraak bly haar steeds pla. Hoe kan sy oë so ’n besonderse kleur wees? Dit pas mos nie heeltemal reg by sy soel vel nie? Al is die kombinasie ’n reusesukses. Die langerige swart hare wat net onder sy ore teen sy nek lê en die vorm van sy sexy mond lyk dan na dié van ’n kontinentale eerder as ’n Suid-Afrikaanse man.
“Bietjie van ’n baster,” sê hy.
Sy kyk weg. Sy het sowaar al weer gestaar. Hy weet dit duidelik ook. Sy oë het gewys hy weet presies wat sy dink. Sy bloos diep uit haar nek by die gedagte dat hy weet dat sy hom aantreklik vind. Dis ongelooflik irriterend dat hy haar heeltyd een voor is. Hy is tog immers ooglopend jonger as sy.
“My ma is Spaans,” beantwoord hy die vrae in haar kop. Hy stoot sy bord agteruit en vryf met ’n oordrewe gebaar genotvol oor sy plat maag. “My pa ’n Boer,” voeg hy by en rek sy lenige lyf uit.
Die vent is so gemaklik in sy vel soos een of ander eksotiese soort kat, dink Margot.
“My kat se naam is Petrus,” sê sy.
Nou waar het dít nou vandaan gekom? Sy kan haarself skop! Die man weet goed watter effek hy op haar het. Jy kan dit sien aan die manier waarop hy sy onderlip liggies tussen sy tande vasbyt net voordat hy sy hand voor sy mond sit. Hy vergeet hy kan nie sy geamuseerde oë wegsteek nie. Hy speel met haar. Die blikskottel!
“En jou papegaai s’n?” Die puntjie van sy tong is sigbaar tussen spierwit tande.
Sy skuif haar stoel driftig agteruit.
“Jammer … jammer! Dit was ongevraag.” Hy hou sy hand uit om haar te keer. “Simpel grappie, ek weet.”
Sy gluur hom boos aan. Dié soort ding het sy nou regtig nie nodig van ’n japsnoet nie. “Ek word vier-en-dertig, meneer Lemmer, nie vier-en-tagtig nie. Nou weet jy.” Sy het geen idee hoekom sy die paar maande weg lieg nie.
“En ek word een-en-dertig, juffrou Lombard.” Hy kyk haar onverstoord oor sy glas aan. “Dus is ons albei mooi verby die gevreesde syfer dertig. Nie dat dit ter sake is nie. Ek is nie bewus van enige wet wat sê dat mense wat saam iets eet presies ewe oud moet wees nie.”
Hy leun oor en skink vir haar nog wyn in haar glas. Sy bly huiwerig sit. As sy nou loop, plaas dit